Ek verbeel my ek het in die laaste jaar al vertel van my Ouma van Wyk wat in haar sewentigs een van die eerstes geword het om kontaklense te kry toe dié Suid-Afrika eers tref.
Ouma was ‘n groot vrou, ‘n Boervrou met breë betroubare hande (soos die een of ander Afrikaanse digter uit my kinderdae haar oorlede ouma se hand allitererend beskryf het). G’n katarak of groeisel kon op enige enige oogbal van hierdie vrou vatplek kry solank sy van soggens vroeg tot sawens laat daar gefroetel en gevryf het om dié verlengstukkie van haar oog, in, of uit, of op sy plek, of gerieflik, of minder krapperig, of meer sawwerig te kry nie.
Dis nou so lank die goed in haar oë was, wat nie al te gereeld was nie. Daar is meer na die lense gesoek as wat daar met hulle gekyk is; daar is meer in die oogkaste en agter die oogballe gekrap om te kyk of die lense iewers in Ouma se kop sit, as wat daar gekrap is om die lense in of uit te kry. Dis seker 40 jaar later en ek gril steeds as ek in my gedagtes oproep wat Ouma se vingers aan haar ooglede aangerig het – sy het dit heen en weer soos ‘n konsertina se voue heen en weer omgedop soos geen stout seun wat die meisies die grillings met sy ooglede wou gee, haar dit kon nadoen nie.
Wat natuurlik nie in Ouma se guns getel het nie, was haar mat – heavy floral en heavily embossed.En dan was dit nie ‘n effekleurige blommetjie wat die mat plek-plek van ‘n spatseltjie kleur voorsien het nie – dit was ‘n malse ruiker van ‘n bonte roesemoes kleur en vorm. En tekstuur.
As Ouma dan nou klaar haar harsings deurmekaar gekrap en sommer haar ore van binnekant haar kop skoongekrap het, en sy steeds een of beide lense gesoek het, is die buurvrou (Ou Buur, soos Ouma haar genoem het), die kerk se orrelis in nommer 3 en die vrou van bo se hulp en knieë ingeroep om te kom help soek na Ouma se ogies. (En omdat ek eers groot en op Universiteit moes kom voor ek ingelaat is op presies watter toonhoogtes die Dominee so knaend by die dranksugtige orreliste kom soek het, was dit ook nie vreemd, teen die tyd wat ons daar aankom om te kom help soek, om Dominee ook op sy knieë, kruipend deur Ouma se huis , partykeer ook net sy netjiese pak se broek wat gat in die lug iewers onder ‘n bed uitsteek, op te spoor nie.
Die kere wat ons nie self die ding in Ouma se oog, of hare (verstrengel in ‘n haarnetjie van ouds) opgespoor het nie, het ons die ding óf nooit, óf stukkend en aan skerwe opgespoor.
Iemand het met die raad gekom dat ons die mat moet stofsuig en dan net deur die binnewerkinge van die ding se sak moet gaan om die verlore oog op te spoor – en dit het nogal gewerk.
Daarom seker ook dat haar dogter, my ma, nooit kontaklense gekry het nie. (Selfs ek, tot in die derde geslag, oorweeg nie kontaklense nie – wat ek kleintyd opgedoen het, is wonde met letsels wat nooit genees nie.)
Maar Ma se bril (en ons het soos die meeste Afrikaanssprekendes van brille gepraat) Ma se brille was aldag en heeldag soek. Veral in die jare voor sy multi focals gekry het, want dan het sy die ding afgehaal as sy hom nie nodig had nie nie. En kry sy hom weer nodig, kon sy nie onthou waar sy hom neergesit het nie. En sonder hom op haar oë, kon sy ook nie sien waar sy hom neergesit het nie. So dit was byna daagliks ‘n nagmerrie.
Soos wat ek sleutels soek, het Judy haar bril gesoek – nie een maal ‘n dag nie, ook nie twee maal nie, maar die héle dag.
Ek het hom meesal gekry waar Ma hom nie kon sien nie – in die hangkas tussen haar panties. Daar was ‘n spieël teen die hangkas se binnekant, en op die rakkie net bo (of net onder – hoe sal ek nou weet) het Ma haar grimering gehou.
Nou om te grimeer het Ma hierdie leesbril van haar nodig gehad – om naby te kan sien. (En die hangkas was myle van ‘n venster en daar was ook nie ‘n lig naby of reg van agter om dinge makliker te maak nie!)
Maar nou kon Ma nie alles wat vrouens met hulle oë doen, aan háár oë doen, solank sy die bril op had nie – dan haal sy hom af sit hom op of tussen die panties neer.
En dis waar die nagmerrie begin – want nou kan sy by haar oog uitkom; sy kan net nie sien om iets aan die oog te doen nie.
Dan is sy so gefrustreerd as sy uiteindelik daar so soorts van klaar is, dat sy sommer net wegstap.
Ook eers ‘n uur, of langer, later dat sy weer haar leesbril nodig het, maar teen daardie tyd het daar al so baie gebeur, dat sy nie kan onthou waar sy die bril laas gehad het nie. En selfs staan sy met haar neus in die donker kas, sonder haar bril, sal sy hom nie sien nie, selfs al sou hy haar kon pik, was hy net ‘n slang.
Daarom dat, spoor Ma wél die bril op, sy hom nie raakgesién het nie, maar eerder raakgevát het.
Natuurlik het sy hom toe aan ‘n ketting om haar nek gedra, maar dit was nog erger – nou kon sy hom nie raaksien óf raakvat nie, sy moes wag tot iemand lostrek met: “Maar my magtig, Judy, daar hang die bloody ding dan om jou nek!”
Maar ek het 1982 al matriek geskryf, ek is uit die huis uit, universiteit toe, weermag toe en het ‘n lewe, elders, begin. Toe vir baie jare daarom hoogstens een keer ‘n maand as ek, en later óns (eers ons twee en nog later ons drie) gaan kuier het.
Van die woonstel, na die huis, na die meenthuis... na die ouetehuis (eintlik maar hospitaal vir verswakte bejaardes). Na die Altzheimer-versorgingseenheid.
By die ouetehuis het Ma later nie meer regtig idee gehad waarvoor sy die bril had nie. Nou het sy orals saamgedra en in ander mense se kamers (of woonstelle op die terrein) vergeet. Partykeer is hy dae weg, ander kere weke. Dan is hy een oggend weer daar. En vra ek waar hy vandaan kom, dan kan sy nie onthou dat hy weg was nie, laat staan nog waar sy hom gekry het.
Die laaste keer wat ek haar by ‘n oogarts had, het die man gesê daar is soveel katerakte dis ‘n eintlik ‘n aardigheid, maar dit help nie hy opereer nie.
Later van tyd was ek nie seker of sy beter prentjies gekyk het met haar bril óp, of met haar bril áf nie. Ek het gevra en getoets. Maar sy kon my nie sê nie.
Ek het daarna opgesien om die verlamde in die rolstoel oogarts toe te neem. Maar ek het geweet ek moet dit doen. My gewete het my aangekla. As dit haar lewenskwaliteit enigsins kon verbeter kon ek die moeite nie ontsien nie. En ek wóú nog, ek hét beplan om ‘n afspraak te maak...
Toe ek klaar van haar liggaam afskeid geneem het en uitstap, het ek vervaard in die deur omgedraai om seker te maak dat Ma haar bril op het. Hy was daar, ek het om twee dae vroeër in haar kamer gaan haal en afgebring siekeboeg toe.
Maar natuurlik het sy toe nie meer ‘n bril nodig gehad nie, nie dié een, of enige van al die baie voor hom, wat soveel donderse kere soek was nie, en ek het hom saam met my opgeneem na haar kamer toe, waar ek die deur gaan sluit en die nuus oorgedra het dat die ou vrou nie sal terukom na hierdie kamer toe nie.
Op ‘n manier moes die bril en 47 jaar se herinneringe rondom hom, én die baie ander soos hy (ook nie net Judy s’n nie, maar ook háár ma s’n) in ‘n groen skoendoos beland het. ‘n Skoendoos wat sy en die arbeidsterapeut groen geverf het en met skoenlappers versier het.
Die vakansie soek ons die kragkabel van Ouma se radio wat ek so twee jaar voor haar dood vir haar gekoop het. Ek gaan krap in die garage waar die goed nog net so onaangeraak staan en ek maak die bliksems vervloekte groen boks oop. En daar lê die bril vir my en kyk. Saam met die twee of drie tissues wat ek die oggend vir haar gevat, en later weer saam met die bril opgeneem het kamer toe.
***
Toe ek uiteindelik dink ek is nou reg om uit die garage terug in die huis te gaan met die nuus dat ek nie die kragkabel gekry het nie, is ek die huis in.
Maar ek het my misgis, ek het hoogstens gedink ek is reg om die huis in te gaan.
Klaradyn het vir my ‘n kaartjie gemaak wat ek by my plek aan die etenstafel gekry het.
Ek wou dit nou inskandeer (aftas?) en hierdie stukkie onthou/gesels daarmee afsluit.
Maar hierdie kaartjie is nou soek, ons weet hy is gebêre, maar waar hy gebêre is, weet ons nie. Hy is tien teen een só gebêre (want dis nie ek wat hom gebêre het nie – as ek tog maar net wil leer om my goed te bêre) dat ek hom eers weer skielik, terloops, op sal spoor die dag as Klaradyn klaar op universiteit/in die buiteland/getroud sit.
En dan doen hy aan my en maak hy van my wat die elendige bril in sy ewe elendige groen boks aan my gedoen en van my gemaak het.
Want my lewe met die drie vrouens wat my lewe vul en gevul het, is ‘n wonderlik ryklik geseënde een – ek is ‘n gelukkige man.
Hopelik het ons voor dan al die radio se kragkabel gekry; dié is nog steeds soek.
No comments:
Post a Comment