Pages

6.1.12

Tyd van verhuising

Ek het gister getrek – nie ons nie, ek; nie uit die huis uit nie, na 'n ander klas toe.

So moes ek al 'n paar maal in my lewe trek.

Die eerste onthou ek soos gister. Dit was soos nou – oor 'n Desember-vakansie. En toe ek Januarie, twee dae of so voor die skool begin, in my nuwe klas inkom, is die stoele en tafels mooi gestapel, die vloere gepolitoer en die arbeiders het elke, elke maar elke, liewe plakkaat van my, de leste een wat ek soveel sorg van die ou klas se mure afgehaal en persoonlik na die nuwe klas aangedra het, oor die loop van die vakansie weggegooi.

Dit was die naaste wat ek nog ooit aan moord en gebarste are in my kop gekom het.

Enige onderwyser wat sy sout werd is (en skielik onthou ek waar hierdie uitdrukking vandaan kom) heg meer waarde aan, en het 'n groter trots in, sy of haar plakkate, as aan en in sy of haar lêers.

'n Liasseerstelsel het in my ganske onderwysloopbaan nog nooit vir my iets beteken nie, maar sonder my plakkate is ek net 'n stoffie, 'n skaduweetjie in ‘n klas.

Dan is ek ook een van daardie onderwysers, hulle is so skaars dat ek nog net een ander een van hulle teëgekom het, wat, is die betrokke klas se muurspasie beperk, selfs plakkate teen die dak opsit.

Ek het een naweek vriende se huis moes oppas en het helder kleure geneem, my deur die gees laat lei en deur Walter Battis laat inspireer, en self my eie plakkaatreeks rondom beeldspraak of stylfigure daargestel. Ek is al die pad deur na Pote se mediasentrum toe, dit was daardie jare die enigste plek waar jy sulke groot goed teen 'n bekostigbare prys kon laat doen, en het my plakkate, elke een, laat lamineer.

En toe gooi Johannes (ek sien hom ongeveer 20 jaar later steeds voor my staan, en as ek hom ooit weer moet raakloop, hoop ek daar is plasse water in die pad want ek sal doelbewus so ry dat ek hom drenknat agterlaat) hulle elkeen weg, nie 'n week gelede en ek kan dit uit die asblikke gaan red nie – aan die begin vakansie, die asblikke is al twee keer daarna weggery!

My huidige hoof en sy skoolbeleid (so omvangryk dat hulle al vir meer as 10 jaar nie eers meer die moeite doen om ons dit afgerol of gefotostateer in 'n lêer te laat inbind nie – dis op die skool se rekenaarstelsel toe- en vas- en op- en ingesluit, én -gemessel) maak 'n groot gewag van die feit dat ons onderwysers tog nie ou plakkate teen die mure moet hê nie – ons departementshoofde word elke twee jaar of so die skool en klasse ingestuur om tog toe te sien dat daar nie stokou vergeelde plakkate teen die onnies se mure is nie.

Ek roem my op 'n reeks muurversierings wat van circa 1993 dateer. 'n Vriendin van my gee my die einde van die vorige jaar 'n klein maar baie kleurvolle kalender wat pas klaar sy werk teen haar kantoormuur verrig het, present – elke prentjie, maak ek my hand voor my reguit en oop, pas in my hand, van vingerpunt tot palmbegin, so klein is dit.

Ek kry 'n toepaslike Spreuk van Langenhoven (elke Afrikaanse taalonderwyser, nee, elke onderwyser, wat sy sout werd is...) by elke prentjie en vra 'n lieflingsdogter met 'n mooi handskrif om te voltooi.

Raai watter goedjies, van die letterlik bykans 'n honderd wondergom-geplakte en geduimdrukte goedjies in my klas, het ek vandag, heel eerste, met die grootste sorg, van die aansteekbord losgemaak? Die twaalf het oor die jare heen al agt geword, ek moes van 'n treffer ontslae raak, maar daar gaan nie 'n jaar verby dat ek die leerders nie bewus maak van, onder andere, “dis van te veel mooiweer dat die woestyn onvrugbaar is” en “die sonskyn sal jou nie beskadig omdat jy jou reënjas en sambreel verniet saamgeneem het nie.” En wat van “pasop vir 'n kortpad wat dikwels so kort is dat dit 'n ompad word,” (of iets in dier voege)?

En toe bring ek ook vandag besoek aan Ernst van Heerden se Aan die verhuisingsmanne:

Dra sagies, vriende,
Want sierpotte en erdewerk,
Keurborde en fyn glas
Sluit ’n hele lewe
Met sy drome
En verlangens in;

Dra saggies, mededraers,
Want die drag,
Van veerbed,
Tafels,lessenaar,
Druk teen die bors
Se dun skelet;

Dra sagies, regters
Want die oordeel
Oor my klein bedryf
Lê vasgevang
In prente, boeke
En ’n eie ou gemakstoel;

Dra sagies, Gode,
Want die hart se porselein
Is broos en tot veel seer
En kwesbaarheid geneig:
Die kratte van ’n lewe
Kan so maklik breek

Maar gelukkig was dit ‘n anderste, meer letterlike verhuising as waarvan daar hier sprake is. Tog ook met meer as genoeg raakpunte toe ek Judy eers moes afhaal, oprol en saamtrek.

Sy kon regtig mooi skryf – as sy 'n tjek en die teenstrokie ingevul het, dan was dit mooi om te aanskou en iets om huis toe oor te skryf.

Had ek tog maar haar hand geërf, dan was dit nie nodig nie, maar toe moet ek mos nou opsluit op my pa en sy dronk krapstrepies trek.

Ek het dat Judy oor die jare heen seker so tien kalenders se plakkate vir my skryf.

Die eerste keer was knap na die arbeider die hele stapel plakkate wat ek met groot versigtigheid op die onderwyserslessenaar plaas gemaak het, oor die vakansie weg gaan staan en gooi het.

Die laaste keer was sy al diep in die sewentig en ek het destyds met 'n skok besef dat die hap wat ek haar nou wil laat afbyt, inderdaad vir haar te groot geword het.

Die heel laaste mooi-mooi wat Judy vir my geskryf het was toe ek haar voor in 'n boekie wat ek kamma-kamma van Ouma Nooi vir Klaradyn gekoop het, laat skryf het...

O, die sorg, die omsigtigheid, die versigtigheid. Jy skryf nie sommer voor in 'n boek nie – jy het 'n liniaal nodig, om reguit te skryf, 'n potlood, skerpmaker en wisser – sy het nooit van 'n uitveër gepraat nie – en dan die ink- of viltpen, vir aan die heel einde.

Maar miskien sal ek self beter deur my oë begin sien as ek ophou om haar nou die heeltyd hier in my geestesoog te wil sien, en gou eers vertel waar ek dink die uitdrukking om jou sout werd te wees vandaan kom.

Ja, nie net het sout (sal) en salaris (salarium) dieselfde oorsprong nie, maar wil dit voorkom asof selfs soldaat (sal dare) sy begin aan dieselfde basis te danke het. Dis Plinius (die ouer een van die twee bekendes) wat ons op die spoor (of dan nou dwaalspoor) bring om iewers voor 79 nC reeds te wil reken dat Romeinse soldate in sout vir hul dienste betaal is. Daarom, as jy jou sout werd is, verdien jy uit en uit die salaris wat jou toekom.

(Dis nou behalwe as jy 'n onderwyser van Hans Moolman se kaliber is – dan verdien jy eintlik baie meer sout as die bietjie wat die keiser jou gee, sommer sewe sakke se sout, vir al die sakke sout wat jy saam met die kinders opeet.)

Maar ek was by Judy.

Ek het al van baie reekse ontslae moes raak – die son verbleik die goed, dit verrinneweer en raak so gaar gesteek van die duimdrukkers en spelde dat 'n mens later nie nóg kleiner kan sny aan die goed nie. (Ja, ek raak gou uitgekuier met hoe die goed in die klas opgesit is, ek hou daarvan om die goed elke ses maande of so te “verhang.”

En dan het dit al ook gebeur dat die onderwerp wat deur 'n betrokke plakkaat aangespreek word, bloot uit die sillabus weggeval het. So het hele reekse al letterlik uitgedien geraak.

Op die oomblik het ek nog twee reekse in my besit wat die ou vrou vir my geskryf het – beeldspraak en stylfigure.

Ek het vroeër twee ander reekse op die onderwerp gehad, maar dit was verwarrend.

KWV het elke jaar 'n kalender van hoogstaande gehalte aangestuur. Die een jaar was dit Irma Stern, die ander jaar Maggie Loubser. En toe span ek hierdie twee Suid-Afrikaanse ekspressioniste in om die beeldspraak en stylfigure in die sillabus te dek.

Maar ek maak dit deurmekaar – eintlik omdat daar meer stylfigure as voorbeelde van beeldspraak is – en Tannie Maggie dek van altwee, én Irma se oeuvre  spreek beide aan. En my oog sal my nie toelaat om van Maggie Loubser se goed tussen Irma Stern se goed (en andersom) te hang, net om beeldspraak by beeldspraak en stylfigure by stylfigure te kry nie.

Toe doen ons dit twee jaar later oor – soort by soort en kunstenaar by kunstenaar.

En dan wil die hoof en sy skoolbeleid hê dat ek hiervan ontslae moet raak! Daar is nie 'n manier nie! Ek sal eendag aftree met een of twee van daardie plakkate teen my mure.

Gelukkig weet ek darem daardie plakkate is nie die tipe plakkate waarna die beleid verwys nie.

Toe Judy nie meer vir my kon skryf nie, het ek my eie begin maak. Maar dit was minder suksesvol.

Ek het nou nog, seker al tien jaar, die laaste KWV-kalender – Vader Claerhout – ongebruik en opgerol in die kas.

En ek vermoed, nee, ek weet dit nou al – iemand gaan na my dood die kaste moet opruim en daarvan ontslae moet raak, want ek sal dit lewenslank hou, met die gedagte dat ek nog eendag 'n plakkaatreeks daar rondom gaan skep.

Na die minder suksesvolle eie eksperimente met plakkate, het ek die wonders van die digitale eeu aangegryp. Die probleem is net dat dit onbekostigbaar duur is om 12 of meer A1-, of selfs A2-pkakkate in volkleur uit druk. En dann het jy dit nog nie laat lamineer nie!

Die A3-reekse wat ek in my klas het, is lieflik (trouens meesterlik daarby) maar dis net te klein om 100% effektief en van waarde te wees.

Dis heerlik om die goed uit dink:  jy soek vir jou 'n spul mooi prentjies en dan dink jy sinnetjies by elkeen uit wat sal pas by die opskrif wat jy die prentjie van voorsien het.

Of jy werk andersom:  jy kry jou woorde in die gereedheid (opskrif/onderwerp en ondersteunende sin) en dan gaan soek jy prentjie wat daarby aanpas.

Met die dat ek nou al 'n plakkaat (dikwels meer as een) vir bykans elke ding in die stelwerk-, letterkunde- en taalleersillabus het, het dit lankal nóg makliker geword: jy kry 'n mooi prentjie en soek 'n mooi aanhaling daarby, of jy kry 'n spul mooi aanhalings en dan soek jy bypassende prentjies.

Te lekker, en al te kreatief! Ek het al die punt bereik dat ek plakkate vir kollegas uitdink, vir presente saamslaan, en wens ander kontrakteer my om die plakkate te ontwerp, dan druk hulle dit uit en laat dit self lamineer.

Die klas waarin ek die laaste drie of vier jaar was, was heerlik – dit had nie 'n enkele venster nie en ek het, met die uitsondering van 'n deur en 'n wit bord, vier vol mure gehad om toe te plak! Wat 'n fees!

Die klas waarin ek ingaan, het vensters links en regs, en dan skryf ek bykans die hele voorste muur af aan 'n ingeboude kas, 'n witbord, 'n groen swartbord, én 'n ander belaglikheid wat muurspasie opvreet.

As ek alles wil oordra wat ek in my klas had, dan moet ek dak, en selfs vloer toe óók gaan -  en dit nog voor ek iets nuuts vir die nuwe klas gekry het! En dit sal nie deug nie.

Nou fokus ek maar op gordyne om iets te hê om na uit te sien.

Ek weet wat ek soek:  Nataniël en sy Kaalkop het sulke lieflike materiaal met nog liefliker Afrikaanse woorde op! Sal dit nie wonderlik wees nie! 'n Afrikaanse klas met die mooiste poëtiesste woorde. In die mooiste lettertipe daarby!

Ek dink nie eers ek sal 'n runner vir my tafel kan bekostig nie.

En mans doen nie juis tafeldoeke nie – ek en my lewenstyl die minste van almal.

Miskien dan maar 'n enkele wit servetjie met 'n Afrikaanse woordjie of wat op.

Dan hang ek dit voor in my klas, onder die bord, aan daardie spykertjie, die een waaraan party onderwysers voorste jare gelede hulle geel stoflappe gehang het.

Net vir die effek.

Ek sien uit na my nuwe klas en om uiteindelik weer tussen my kollegas te wees.

Al gaan ek die baie mure (en lugversorging om op te maak vir die gebrek aan vensters) en Annieka in die kantoor net langs my klas, baie mis.

No comments: