Pages

1.1.12

Hans Moolman II se annual New Year's address to the nation

('n Baie beter een is die Koningin se jaarlikse Kersfees-boodskap, dis hier beskikbaar en die moeite werd om te volg, selfs al is jy nie 'n hanskakie nie - of, soos ek, 'n hans Hans, maar nie 'n kakie nie.)

Annieka se oupa had blykbaar die gewoonte om 'n prys te wil toeken aan die een wat eerste nodig had om die nuwe jaartal in 'n datum aan te teken.

Ek vermoed die eerste een om 'n tjek of 'n brief met die datum daarby te skryf. Of straks 'n dagboekinskrywing of logboek of reënvalverslag (die man was immers 'n boer) of so iets.

Ek het maar met 'n halwe oor geluister, die een wat 100% by was, was Klaradyn, want sy het dadelik belangstellend gevra watse prys die wenner gekry het – as daar iets te wen is, neem sy deel.

Die eerste wat toe nou vanoggend, die eerste dag van Jannewarie, deur my gedagtes gaan toe ek wakker word, is: “Watter prys het ek vir Jan Opperman, my skoolhoof van 1996, omdat hy dan nou duidelik die eerste persoon is van wie ek met sekerheid kan sê dat ek die Nuwejaar in van hom gedroom het.”

Waar en hoe die man in my droom ingeval het, weet ek nie.

Daar was gisteraand 'n Nuwejaarswens van my huidige skoolhoof.

Maar dié het ek, saam met al die ander, nie eers gelees toe ek by die foon uitkom voor ons in die bed geklim het nie.

Met die dat Annieka en Klaradyn vakansietye heeltyd by my is en die ouetehuis my in elk geval nooit weer in nood sal hoef te bel om dalk iets oor Judy aan my oor te moet dra nie, leef ek en my selfoon regtig nie naby mekaar nie – ek los hom, sy battery afgeloop, in die motor, of iewers elders waar hy my nie kan pla nie.

Ek verpes die blote gedagte daaraan dat 'n telefoon nie meer aan 'n adres gekoppel is nie, aan 'n instrument iewers op 'n lessenaar in 'n studeerkamer of op 'n kassie langs 'n bed in 'n slaapkamer nie, maar aan 'n mens, 'n mens van vel en bloed en been. Ek verpes daarom ook die gedagte dat 'n sterfling nie meer van 'n ding soos 'n telefoon kan wegkom nie. Die nosie van 'n telefoon (en die werk en die buitewêreld) waarvan jy kan wegkom as jy met vakansie gaan, bestaan van 1993 nie meer nie – jy dra die donderse ding in die strandsak saam met jou af see toe as jy gaan swem.

Nie ek nie – as ek nie vrou en kind en kraai gehad het nie, dan had ek waaragtig nie iets soos 'n selfoon nie – ek het my foon hoogstens gistermiddag laat by 'n battery-opwekker uitgekry vir ingeval my broer miskien die lawwe gedagte in sy kop sou kry om sy broer te wil bel as hy daaraan herinner word dat hierdie die eerste Nuwejaar in sy lewe is wat hy, op twee of drie of vier en sestig, as weeskind instap.

Maar óf hy het nie aan sy oorlede mammie gedink nie, óf hy het, maar dit het hom nie genoeg geraak dat hy summier behoefte getoon het om met sy boetie in kontak te kom nie. (Ek kon hom ook nie bel nie – my lugtyd is verstreke, ek kan nie eers 'n dankie SMS op al die mooi boodskappe wat ek gekry het nie.)

Maar, ja, ek hét gisteraand met my selfoon, daardie onwegdoenbare ergernis, in hand, my huidige hoof vir 'n vlietende oomblik voor ons gaan slaap het, in my gedagtes gehad.

Maar in my droom het ek op 'n fiets (eintlik 'n uni-cycle of eenwielfiets soos in die sirkus) na oud-hoof, Jan Opperman, se vorige skool – die een waar hy onderhoof was, voor hy hoof by ons geword het – gery.

En dit om 'n dagboek van Annieka, wat sy by hom vergeet het, op te tel.

Speke, of spykers, of drade (ek dink die drade van die voëlhok wat my bene gekrap het toe ek Klaars se hok gebou het, en my bene Oujaarsaand vreeslik laat jeuk en rowe krap het) het my bene in my droom laat bloei, en dit was met rooi gevlekte broekspype dat ek in Joost van der Westhuizen se ou hoërskool se gange afgestap het op soek na die skoolhoof wat al meer as 20 jaar gelde uit die diens van die onderwysdepartement getree het.

Toe ek Jan Opperman uiteindelik opgespoor het – in daardie stadium het hy baie aan Jack Parrow, die seerowerkakter wat Johny Depp vir ie Pirates of the Carribean-flieks geskep het, herinner – kon hy die dagboek nie opspoor nie en ek is onverrigtersake en bebloed daar weg.

Gelukkig het goeie vriendin en kollega, Marieta, ook vroeg voor skool na dié skool gekom om Annieka se dagboek vir haar op te kom tel; toe kon ek my eenwielfiets in haar motor se kattebak laai en saam met haar werk toe ry.

Maar voor ek dit kon doen, toe word ek wakker en wonder oor Jan Opperman se prys - oor hy toe mos nou die eerste een is waarvan ek in die nuwe jaar gedroom het.

Behalwe vir die konneksie met my huidige skoolhoof (aan die hand van die selfoonboodskap) is die enigste ander raakpunt met 'n skoolhoof (weliswaar steeds nie Jan Opperman nie) die vrou met die grys hare, gister in Spar. Ek het hierdie vrou gesien, en geweet ek ken haar. Vir 'n oomblik het ek gedink dis 'n tannie van Alberton wat ek laas in 1979 gesien het, maar dit sou beteken het dat sy in 32 jaar nie 'n dag ouer geword het nie – en so iets is nie moontlik nie. As sy daardie jare 'n konserwatief geskatte 70 was, dan moet sy nou 102 wees – en daardie vrou saam met my in Spar is beslis nie 102 nie, sy lyk trouens jonger as 70.

Maar die vrou, haar hare, haar gesig en haar lyftaal het my bly pla.

Ek het my gedagtes, baie later gisteraand, toe sy my steeds pla, stil probeer maak met die slotsom dat sy Wouter Kirstein, 'n ander vorige skool se ander vorige skoolhoof se vrou kon gewees het.

Ek het duidelik nie daarin geslaag om my gedagtes rondom die vrou stil te kry nie, want toe droom ek vanoggend van nog 'n ander vorige skoolhoof.

Die ontstellendste van dit alles is die feit dat ek nie sommer uit die droom geword het nie – nee, ek is 'n baie ligte slaper, en het myself uit die droom wakker GESNORK!

Is dit nie vreeslik nie! Behalwe dat ek deesdae in die middel van die nodig het om uit die bed uit op te staan (en dan is dit nie om my sleutels te kry en huis toe te gaan nie, maar om te gaan pie-pie) snork ek myself nou die afgelope ruk van tyd tot tyd  nog wakker ook.

En dan gaan pie-pie ek maar. Want netnou is ek wel gelukkig genoeg om weer aan die slaap te kan raak, en dan slaap ek net, en dan word ek weer wakker – daardie keer om te gaan pie-pie. Daar is nie 'n manier nie. Dan slaan ek eerder twee vlieë met een klap van 'n windmeul dood.

Maar toe ek vanoggend eers klaar gesnork en klaar gepie-pie en klaar droompryse as oudskoolhoofde uitgedeel het, toe was daar van weer aan die slaap raak, geen sprake nie.

Lees kan ek nie lees nie – daarvoor moet ek lig aansit – en van al my snork slaap Annieka klaar onrustig, ek wil haar nie verder pla nie. Die lig sal my vrou dadelik pikwakker hê – en ek wil nie die nuwe jaar ingaan met 'n bemoerde vroulief nie.

Dit was erg genoeg om die ou jaar met 'n bemoerde vroulief uit te moes gaan (stukkende oonde en sulke goed, maar dis ou koeie en ek hou in elk geval nie boek van die kwaad nie).

In die bed bly kan ek ook nie – dan skarrel en vroetel ek haar binne 10 minute pikwakker, en ek sal dalk gewild wees as ek dit 08:00 met 'n warm koppie koffie langs die bed neergesit, doen – maar nié as ek dit met koue voete en skuwe hakskene om 03:55 doen nie.

Veral nie na ons gisternag vir ure lê en luister het na drie histeriese patryshonde wat in sirkels al om die huis hardloop op soek na die oorsprong van al die vuurwerke, sis-, klap-, kunsmatige donderweer- en weerliggeluide om en oor die huis nie.

Ja, ons gebede vir 'n drie-uur-lange deurdringende Hoëveldse donderstorm rondom middernag is toe nie hierdie jaar bewaarheid nie.

Die vorige twee jaar is wel deeglik ag op daardie gebede van ons geslaan – maar om almal rondom Nuwejaar gelukkig te hou was die aand van 1 Januarie toe windstil en lieflik – toe klap en skiet en steek almal alles wat hulle nie die vorige aand kon skiet en klap en aan die brand steek nie.

Toe kom lees ek maar die koerant op die internet – net om agter te kom dis Sondag en daar is geen nuwe nuus by Beeld nie – nie eers nuwe lesersbriewe nie.

Toe knoop ek maar hierdie geselsie met my aanlyndagboek aan.

Behalwe vir die wakker snork, en die middernag-pie-pie, en die oujaarsaand-21:00-al-aan-die-slaap-val-voor-die-TV, was ek gister op grond van 'n gans ander rede ook heeldag bewus van ouer word, oudword, jare wat aanstap.

Hier in standerd 6 of 7 of 8 was ek by 'n maatjie se ouer boetie se tienerpartytjie en die allervreeslikste, allerwildste, aller-rock-&-roll-ste, aller-van-die-duiwelste (alias my ouma wat toe nog geleef het – en vir haar was alles wat jy nie in 'n kerk gekry of in 'n kerk kon doen nie, van die duiwel) liedjie waarop ons hierdie aan gedans het, was Great Balls of Fire.

Ek onthou hoe nat gesweet ons ons ledemate rondgeswaai en rondgeruk en uit lit uit rondgerol het – te allervreeslik, dit het aan 'n Middeleeuse St Vitus-dans, die soort waarvoor jy daarna op die brandstapel sou sterf, herinner.

En as ek die liedjie vandag luister, dan klink dit nie eers na iets waarop 'n mens los dans nie, eerder iets vir 'n lekker rustige binneboud-langarm-skoffel.

Ons kuier eergister by 'n universiteitsvriend van my – en die fout wat ons nou al vir jare maak, is om net een keer 'n jaar, rondom Nuwejaar, saam te kuier; elke keer, die enigste kere wat ons mekaar sien, is wanneer ons mekaar vir 'n jaar lank nie gesien het nie... en gevolglik 'n hele jaar ouer geword het.

Die eerste wat toe deur my gedagtes gaan, die oomblik toe ek my vriend wat ek twee maande na ons matriekeksamen leer ken het, sien, is:  “O, my magtig, dan het jy nie net oud geword nie, maar nog gewig ook opgetel.”

Die tweede wat deur my gedagtes gaan, is dat ek eintlik in 'n spieël kyk – hy sien dieselfde (en erger en meer) in my raak en dink tien teen dieselfde.

Ek vermoed dan nou ook dat ons vriendskap na 29 jaar die punt bereik het waar ons nooit ooit weer, nie eers een keer 'n jaar, of selfs vyf jaar, by mekaar gaan kuier nie – dis te erg om op so 'n wrede wyse aan jou eie sterflikheid herinner te word.

Ons sal hoogstens een maal elke twee jaar missed calls op mekaar se selfone registreer – want oor die telefoon kommunikeer sal ons ook nie kan nie – daar is min dinge wat ouderdom, ek lieg, nie ouderdom nie, maar oud word, oud en der dagen sat oud word, so vinnig verklap soos bloot 'n tweejaarlikse gesprek met 'n baie goeie en getroue vriend of vriendin.

So vir solank ons rekenaars voortaan nog mekaar se e-posadresse wedersyds in hul rekenaargeheues gaan stoor (ons eie geheues lankal nie meer daartoe in staat om iets so kompleks soos 'n e-posadres te onthou nie) sal ons, vermoed ek, hoogstens elke dan en wan aan die hand van die rekenaar se in-bus met mekaar kommunikeer.

Ewenwel, die man gee ons toe huis toe, musiek om na te luister – ure se musiek uit die 80’s.

Nog 'n dead give away, – jy raak nostalgies oor twee en drie dekades gelede se musiek!

En ek luister na hierdie dekadente wilde popmusiek van destyds, en al wat ek wil doen is om my vrou, iewers onder die maanlig op 'n stoep, in die arms te neem en op die maat van die musiek rustig met haar te close dance.

Close dance soos in die laaste uur of wat van skooldae se garage partytjies.

Nou is ons net groot en oud en volwasse – ons sal eintlik maar net in mekaar se arms wieg, haar kop op my skouer, maanlig op die water.

Die wyse waarop onrustige musiek met verloop van tyd rustig word, was nog altyd vir my 'n barometer van oud word. Great Balls of Fire het dit eerste vir my gedoen. Toe die musiek wat ek as regisseur in studenteproduksie gebruik het om die hoofkarakter in die drama tot die hel te verdoem. Toe ek die teks 10 jaar later met skoolkinders opvoer, toe doen ek vreeslik baie moeite om dieselfde musiek weer op te spoor het. En toe ek die musiek uiteindelik weer in die hande het, toe klink dit rustiger as die tipe liedjies wat ons in daardie tyd op begrafnis-eredienste gesing het.

En toe nou weer die afgelope naweek se herkennismaking met die wonderlike musiek uit die eighties.

Dis wat oud word en ouer word is – her-ervarings van die verlede is nie bloot meer 'n her-ervaring nie, maar 'n totaal en gans en al piksplinternuwe ervaring – die musiek het dieselfde gebly – dis immers geblikte klank – maar jý ervaar dit anders omdat jy die een is wat nie stilgestaan het nie.

Ons is na al die jare weer terug op Ouma Pollie se plaas (in aansluiting by 'n Pappa-Mamma-en-Klaars-inskrywing van vroeër verlede week) en Kersfees is nie meer dieselfde nie – Kersfees, én óns, is nie meer dieselfde nie.

Dit alles bring my uit by die boodskap wat Klaradyn se graad O-onderwyseres gisteraand vir ons stuur:

From all of us here @ Sterkfontein mental hospital – we wish you a very happy Easter & a prosperous 1983. We miss u all.

En dan is dit ook nie net julle almal of u all wat ons mis nie, maar al meer en meer ons goeie ou selwerse ook daarby.

Die meeste van alles en almal wat ek vanoggend mis, nie my mammie nie – sy is, saliger gedagtenis, doodveilig in 'n kissie in die kassie langs my bed – maar my en Annieka se liefiekind.

Die twee oues, en Annieka wat by die sameswering aan moes gesluit het, het dit toe in die kop gekry dat ons kind die Oujaar by hulle moet uitsien en dan brunch ons vandag by hulle.

Ek het lus en verander daardie brunch in 'n dou-voor-dag-hanekraai-vroegoggend-ontbyt.

Ek heg hoegenaamd geen maar geen emosionele of simboliese betekenis aan Ou- en Nuwejaar nie, maar tog voel ek, heel paganisties, dat dit nou moeilikheid soek is om 'n gesin op so 'n nag soos Oujaarsnag in twee te wil skeur.

En dís éintlik die rede hoekom ek die selfoon gistermiddag aan die dood ontruk het – netnou wil my kind knap na middernag bel om haar te kom haal en na veiligheid te bring, en dan antwoord ek nie die foon nie omdat ek die ding nie terug in die lewe gekry het nie.

Maar dis verniet – die merrieperd het weer, soos altyd, haar gate uit by Ouma en Oupa geniet, en nie eers een keer aan ons gedink nie, wat nog te sê behoefte getoon om ons te wil bel.

Maar wag, ek moet afsluit, kyk net waar stap die tyd met ons – dis ook al amper 06:00, al amper 2 Januarie, en tyd vir 'n ligte Nuwejaars-brunch by my skoonouers aan huis.

Mag elkeen wat oor wederhelf of kind beskik, of, soos ek, gelukkig genoeg is om én oor wederhelf én oor kind te beskik, vanjaar by hul wederhelf en/of kind(ers) uitkom.

En as jy besonders gelukkig is om, anders as ek en my broer wat vanjaar wees gelaat is, nog 'n ouer ook te hê – sorg dat jy by hom of haar, of hulle, ook uitkom – dis alles voorreg en goed wat ons nie gegee is nie, maar geleen is.

Onthou, en ek is so geneig om dit te vergeet, skoonouers is ook ouers, daar is niks vuil aan hulle nie. (Dankie Ma, dankie Pa.)

Pas jou geliefdes mooi op, kyk goed na hulle en versorg met liefde – dan sál 2012 'n verruklike jaar wees, maak nie saak wát ons tref nie – nie eens 'n ander planeet wat uit sy baan geruk is, of die een of ander Mayan- (Majaanse, Maiaanse, Maja-die-By-se?) kalender nie.

No comments: