Pages

5.1.12

Van viskoekies en 'n reënwoudpapegaai

Aan die een kant wil ek Annieka se piepie bottel en as naskeermiddel bemark, aan die anderkant wil ek vertel van die lekkerste viskoekies ooit, en dit alles terwyl ek nie weet wat om eerste te doen nie:  die legkaart wat wag, die video’s wat al moes terug wees.

Of sal ek gaan stort?

Van die viskoekies kan ek in elk geval net vertel, 'n resep kan ek nie gee nie – hoogstens enkele padpredikante.

Want die arme Klaradyn! Deon Meyer noem in die kookboek wat hy en sy vrou saamgeslaan het dat die lekkerste van die hele projek, die feit is dat hy uiteindelik sy ma se viskoekieresep het. Klaradyn sal so iets nooit kan sê nie – in haar gesin loop daar nie 'n viskoekieresep nie. Ons kry bloot viskoekies van dit wat daar ook al in die kombuis is.

Of omdat ek met ordentlike oorskiet vis in die yskas sit, snuffel ek deur die kookboeke om te kyk wat 'n mens alles kan doen om 'n viskoekie op jou bord te kry.

Dis hoe ek dit reg gekry het om gister, nadat ek eers 'n glas wyn in die hand had, kort voor lank met ses kookboeke op die kombuistafel oop, gesit het.

En toe op die ou einde in elk geval my eie kop gevolg het en gedoen het net wat ek wou, sonder dat ek dit ooit weer na sal kan doen.

Deon se storie oor sy ma se koekies, glo ek nie. Die resep vra vir 6 snye brood, maar is besonder spesifiek oor watter tipe brood dit moet wees. En daardie tipe brood het eers hoogstens twee jaar gelede, toe Mamma se Deon-kind al 'n goeie vyf en dertig jaar uit die huis uit is, op die mark gekom.

En hy laat dit klink of dit oor jare heen 'n ou familiegeheim en gesinsgunsteling was.

Miskien het die broodmaatskappy die foto’s of die glans buiteblad geborg. Ek sal nie weet nie.

Dit laat my nou onwillekeurig dink aan 'n grappie wat ek 'n goeie een en dertig jaar gelede, toe Hans-kind nog by Mamma-lief viskoekies aan huis geniet het, gehoor het. Dit kom daarop neer dat een van die Kardinale by die Pous wil weet hoe lank dit nog is voor die Kerk se kontrak met die Koringraad verstryk, want die Suikerraad het nou met so 'n lieflike aanbod gekom, dat daar in herdrukke voortaan “en gee ons vandag ons daaglikse suiker” sal kan staan.

Maar dit wat as Deon se mammie se viskoekieresep voorgehou word, is nie te versmaaie nie – sy het my geleer dat 'n mens naeltjies en koljander in viskoekies ook kan bywerk. Haar resep vra vir 'n kwart teelepel van elk. Ek kan my vir al die geld in die wêreld nie indink hoe enige resep, allermins nie een wat wegtrek met 750 gram se visvleis nie, vir 'n kwart teelepel van enige iets kan vra nie.

Vir 'n kwart teelepel doen ek nie die moeite om af te buk en in die kas te loop krap agter 'n teelepelmaat wat ek miskien nog in die laai oor het, oor dit destyds saam met die stelletjie moes gekom het, maar ek dit in geen jare gebruik het nie.

Ek gooi toe 'n gesonde teelepel, weliswaar darem nie een wat soos 'n Bybelse berg Ararat opgehoop is nie, van beide by.

En die fyn koljander herinner my toe aan die vars koljander wat ek in die yskas oor het. En ek laat my nou nie vertel dat 'n resep wat mans genoeg is om gemaalde koljander in te kry, nie lankal droog genoeg agter die ore is om 'n hand vol koljanderblare ook in te kry nie!

Want hulle het toe mos nou ons Checkers (of ons OK Bazaar, of so iets) teen 'n paar honderd duisend rand, straks 'n miljoen of meer – teen die koerse waarteen dinge deesdae gaan, van 'n verjongingskuur voorsien. En nou noem ek dit 'n verjongingskuur, dis eerder 'n volskaalse reïnkarnasie, 'n opwekking uit die dode in 'n totaal en al nuwe gedaante. Die ding was enkele maande net 'n dop, daar was van iets wat aan 'n kettingwinkel herinner, net mooi niks oor nie, en toe is daar een mooi dag baniere wat luidkeels aankondig Lazarus ontwaak net mooi die oggend wat ons vir die troue afvlieg Kaap toe.

En daar word die trippie af Kaap toe, toe nóg duurder, omdat ons uitmis op al die spesiale openingsaanbiedings ook!

Toe ons terug is van die Kaap, jy in waar nooit 'n enkele deur was nie. En waar vroeër die deur was, is nou net muur.

En soos so dikwels al van te vore in ons omgewing gebeur het, het die nuwe ontrimpelde botox-kettinghandelaar sy deure op, onder andere, ook 'n nuwe vars-vis-afdeling geopen.

Vars-vis-afdeling dan ook soos ons dit in die breër Pretoria-kettinghandel verstaan: vis wat, definitief wat tongvis betref, neerkom om onlangs ontdooide bevrore vis, maar darem heel interessante visse en dinge uit die see wat op sulke gestampte brokkies ys uitgepak word.

Wat meer dikwels in ons omgewing gebeur, is nie die oopmaak van vars-vis-toonbanke in kettingwinkels nie, maar enkele maande later, die toemaak en van die aardbol af verdwyn van daardie lankal-nie-meer-so-vars-vis-toonbanke. En dan is dit weer ses dagreise te perd vir my om ons gesin 'n varserige tongvissie op die bord te kry.

So toe ek hier knap na Nuwejaar vir die eerste keer in die nuwe winkel instap – watse haas kon ek nou hê, ons klaar die openingsaanbiedings verbeur – is ek dadelik spyt oor die R400-00 se garnale wat ek vroeër die oggend vir ons jaarlikse aandete-afspraak later die aand met baie goeie vriende aangekoop het.

Ek sou moes wag tot die volgende dag voor ek hul toonbank op die proef kon stel.

Gelukkig was die toonbank nog in die lewe toe ek twee dae later met nie te veel hoop in my oor daar instap nie, en is ons daar uit, nie met stokvis nie, maar koningklip, stewig in die hand geknyp. (Jy moet dit stewig in jou hand toeknyp – daardie bietjie vis in jou hand se prys het vroeër jare 'n hele mielieland tot jou plaas toegevoeg!)

Natuurlik was my oë weer groter as my en Annieka en Klaradyn en Martha (wat vir ons was en stryk, en kombuis opruim waar ek gekook het as Annieka nie daar is nie) se gesamentlike mae. Daar het meer as genoeg oorgeskiet om vir een maal in jou lewe viskoekies van iets beters as twee blikkies pilchards in tamatiesous te maak.

Daarom dat ek, glas wyn in die hand, so deur al die kookboeke is. Dis verbasend hoeveel mense die twee of blikkies pilcahards in tamatiesous eenkant toe skuif en die smakelose, geurlose blikkies salm naderskuif.

Egter nie Deon se mammie nie – sy gebruik oorskiet vis en omskep dit in 'n nuwe dis – presies dit wat ek wil doen. Die geneuk is net, sy doen dit met ses snye ontwerpersbrood, en ek het nie eers styl ou gewone brood in die broodblik nie, wat nog te sê haar nuwerwetse heuning-gegeurde, hawermout-bestrooide en –verrykte, ontwerpersbrood met 'n laer as die gewone glukemiese lading en indeks!

En dan is daar nie 'n enkele mens (en glo my maar – ek is deur twee glasies wyn en veel meer as net die ses kookboeke wat op die rak agtergebly het teen die tyd wat Annieka daar aankom en histeries raak oor wat dan nou van kombuis geword het wat 'n uur gelede nog so netjies en skoon soos Martha dit gelos het, was) wat saam met die oorskietvis, enige vis, ontslae wil raak van al die halwe kannetjies room in die yskas nie.

Ek het poeding gemaak, Annieka het poeding gemaak, Annieka het tert gemaak, Iemand het room in plaas van karringmelk hier aangebring, en as ons nie dringend begin uitdun (omgewingsbewustes praat van cull) onder die halfklaar, halfleeg, halfvol kannetjies room in die yskas nie, sit ons kort voor lank met 'n omgewingskrisis in ons yskas.

So toe verryk ek ons viskoekies met room. Toe verdik ek ons viskoekies weer met kapokertappels. Toe balanseer ek die minder gesonde, meer lekker, room, uit met meer gesonde, minder lekker (maar vir my steeds heerlik) hawermout. Gedagtig ook aan Deon se mammie se spoggerige brood wat hawermout in plaas van allerhande saadjies oorgestrooi kry.

Toe raak ek ook ontslae van die sprietuie in die yskas.

Annieka het ook ingekoop – sy het nader gestap gekom met een van haar vroue tydskrifte, die Rooi Rose of Sarie Marais (hulle kan gerus maar amalgameer en uitkom met 'n baie dik Rooi Marais of Sarie Rose). Daarin is vandeesmaand 'n resep vir viskoekies met 'n korsie van broodkrummels in.

Ons het weliswaar nie eers broodkrummels in die huis nie.

Maar dis by hulle wat ek gelees het van die gerasperde suurlemoenskil in die beslag. Dis eintlik ook nie die beslag nie, maar die kors. Maar omdat my koekies toe nie 'n kors kry nie, toe moet die gerasperde skil maar in die beslag in gaan.

Hulle koekies kry gerasperde parmesaankaas ook.

Toe kry ons koekies ook. Ek sit hoeka met die 30 maande oue wig kaas wat ek teen koningklip en 'n plaas se prys vir die Kersete aangekoop het, in die yskas.

Gelukkig, saam met al die room, ook nou nie meer nie.

Saam met dit alles, alles wat nuut en vreemd en enig en individualisties in al die ander viskoekieresepte is. Al waarvan ek weggeskram het, was die Thaise viskoekieresepte en die een of ander konkoksie, ek verbeel my dit was Jeremy Mansfield, in Kambodja afgekyk.

Toe ons eet, toe swymel my vrou en ek sien hoe haar hele wese vermurwe – sy sal skottelgoed was en werkoppervlaktes skoonvee tot al die velle van haar hande af is, as sy tog net weer eendag sulke lekker viskoekies kan eet. Want dit was, soos sy tereg gesê het, die lekkerste viskoekies wat sy, én ek, én die Britse koningshuis sedert die ontstaan van die monargie iewers kort na die val van die Romeinse Ryk, nog ooit in ons dag des levens geëet het.

Maar soos wat my kos haar die skottelgoed en vuil werksoppervlates laat vergeef, spoor haar komplimente en lekker eet my weer aan om kos te maak. Dit sin vir my lekker om kos te maak, vir myself seker ook, maar daar is niks so lekker om kos vir iemand anders te maak nie. En as daardie iemande anders jou vrou en kind kan wees, is dit nog soveel lekkerder.

Ek aanbid partykeer die grond waarop Annieka loop. En dis ook hoekom haar 'n botteltjie naskeermiddel met haar naam op sal aanwend.

My ma het altyd van tannies wat hulle self verbeel hulle is die kat se snorbaarde vertel dat hulle dink hulle is so fancy dat hulle selfs hul eie piepie sal bottel en verkoop as parfuum.

En dis wat ek met Annieka sal doen.

Soos eergister weer.

Maar dan moet jy seker 'n vrou wees om 'n vrou te verstaan.

Klaradyn het toe nou vir 6 maande gehuil oor sy nie 'n kat het nie. En toe sy uiteindelik ophou huil oor sy nie meer kat het nie, begin sy die volgende ses maande huil oor sy nog nie konyne het nie.

Toe bou ek die hok en kry drie konyne waarvan ons die geslag nog nie kon bepaal nie. En as dit 'n Kerspresent was (wat dit nie was nie) dan was die Kerspresent knap na die Kersete al stukkend gewees.

Maar dit nou daar gelaat. Ek gee nie om nie, ek wil hase en konyne en ganse en eende en hoenders op die werf ook hê.

Die geneuk is net dat sy, toe ek en sy nou die dag regmaak om nog duifies en ander welluidende saadvretertjies vir ons voëlhok te gaan soek, groot-oog en met veel opwinding by die ontbyttafel aankom met al ses haar spaarbussies, ook die een waarin die tandemuis se tandegeld gebêre word.

Sy is daarvan oortuig dat sy genoeg geld opgespaar het om 'n reënwoudpapegaai te kan koop.(Reënwoudpapegaai is haar mooi woord vir 'n McCaw.)

En dis ook nie lank nie, toe huil sy letterlik.

My uitgangspunt is eenvoudig:  as 'n kind dan nou duidelik rede soek om te huil, dan moet jy die kind rede gee om te huil. Want vir 'n kind wat sommer net huil omdat huil, huil is en sy lus het om nou sonder enige goeie rede te wil huil oor 'n donderse papegaai, dan sal ek haar van 'n ordentlike rede, 'n veel beter een as 'n papegaai, voorsien om te huil.

My invalshoek is dan ook simplisties en op die man af: “Jy het nou gehuil oor konyne, en nou dat jy konyne het, huil jy vir 'n papegaai! Waarvoor gaan snot en tjank en trane as jy die dag eers 'n R8 000-00-papegaai ook uit ons het!? 'n Fokken perd!”

Ek het dit darem nou nie heeltemal in daardie woorde gestel nie – ek verbeel my ek het heel beskaafd van 'n fokken ponie gepraat.

Maar ek het ook nie. Gelukkig nie.

Want voor ek die hele oggend, die hele dag, die eerste helfte van Januarie bederf het, beredder Annieka die situasie:  “Dis gaaf Sussie, doen nou net vir Mamma 'n gunsie en neem my spesiale handsakboekie en baie spesiale pen, wat jy nie moet weggooi nie, hoor! saam, en dan skryf jy vir Mamma neer hoeveel kos die papegaaie.”

En daar is Klaradyn stil, tjoepstil. Em orals waar ons stap (ons is na vier plekke met vogels) het sy soos wafferse joernalis of speurder die notisieboekie en pen in die hand, en sy neem inderdaad die pryse af.

Maar dis maklik om te onthou – die goedkoopste was R6 800 en die duurste was R8 600.

Jy kon my egter aan tafel al met 'n slap snoek omslaan.

My vrou het die insident wat tyd en plek gesoek het om te gebeur, afgeweer en op 'n irrasionele manier, ver onder en bo my vuurmaakplek, totaal ontlont.

Ek kon dit nie glo nie.

Ek het haar dit bewonder, en ek bewonder haar dit steeds.

Maar ek vermoed steeds dat jy 'n vrou moet wees om so met ander vroue te kan werk.

Dit sit beslis nie pappas en mans se broeke om vrouens dit na te wil doen nie.

So Annieka my liewe vrou, ek sal aanhou om my op te hou met dinge so prekêr soos viskoekies; hanteer jy net vir ons situasies van globale omvang en belang – soos die tranerige een rondom 'n reënwoudpapegaai.


No comments: