Pages

3.1.12

'n Lewensreis na die bron van alles

'n Skool en universiteitsvriendin, wat ek na universiteit nog net een keer en wel op ons twintigjaarreünie raakgeloop het, konfronteer my einde verlede jaar met hierdie foto van 'n linodruk wat ek in matriek moes gemaak het:


Dis 'n gedig van Uys Krige wat dan nou duidelik sedert skooldae tot my spreek.

Tien jaar later was dit steeds die geval.

Na meer as drie maande in Europa met rugsak en tent kom ons op Sorrento en daar verkoop hulle die mooiste teëltjies wat jou huis se naam of jou lewensmotto uit kan spel. Ek wou iets soos hier onder bou, maar daarvoor was my rugsak reeds hopeloos te vol en te swaar. En op 'n begroting van R100-00 'n dag, kon ek dit geensins bekostig nie.



Toe koop ek maar teëls vir die eerste drie woorde. Behalwe nou vir die son-metafoor wat in die slag bly, is dit immers die essensie van dit wat die man se woorde aan my kommunikeer.

Dit was nie dieselfde en het soos hierdie gevoel, maar dit was darem iets:



Ek het dit nie in 'n muur ingemessel nie, maar op 'n plank geplak en teen 'n buitemuur van my destydse verblyf hang gemaak.

Ek dink dit het sewe uur gehang toe verloor daardie jaar se hoofseun sy balans op sy fiets, leun teen die muur met sy hand en volle gewig... en breek die naambord wat ek al die pad vanaf die Amalfi-kus in 'n rugsak saamgedra het tot hier.

Nog tien jaar later, toe ek op Facebook registreer. vra die internettoepassing my, terwyl ek my profiel opstel, wat my gunsteling aanhaling is. As die meeste mense soos ek is, dink ek nie iemand lees ooit 'n ander mens se profiel nie. Tog het ek al by herhaling mense gehad wat my vra waar ek aan daardie aanhaling kom.

So, ja, vir meer as dertig jaar dan nou al, het ek 'n ding met daardie woorde, of dan nou my interpretasie van daardie woorde.

As jy my nou ooit moet vra wie ek is, waar ek vandaan kom en waarheen ek op pad is, dan was dit nog altyd my antwoord en, vermoed ek ten sterkste, sal dit ook altyd my antwoord wees.

Die woorde “na die bron” impliseer vir my 'n reis, 'n lewensreis, 'n op pad iewers heen, op pad na die bron van dit alles toe.

Maar ook nie suiwer 'n op pad na die bron nie, maar 'n op pad terug na die bron toe. Die woorde maak melding van “na die bron van alles.”

Ek is deel van daardie alles en het daarom my oorsprong by daardie bron, ek is van daardie een bron, ek is nié 'n ander dam se eend nie.

Ek kom van die bron, en is op pad bron toe.

Want stof is jy en tot stof sal jy terugkeer.

Jy was van ewigheid aan en sal tot ewigheid aan wees.

Behalwe vir die “na die bron” is daar nog die onvoltooide deelwoord “beurende” wat vir my op 'n durende reis, of dan nou beweging op pad iewers heen dui.

Die woord impliseer ook vir my dat dit nie 'n al te maklike reis is nie – daar word gebeur, gestu, gedu. (Maak dit dan maar gestoei.)

Ek is egter nie net 'n reisiger nie, ek dwaal en dool nie, ek is 'n pelgrim op reis. 'n Man (of net sowel 'n muis) met 'n missie.

Die goue verlang gee ook vir my te kenne dat ek terug verlang, terug gaan, terug keer – 'n mens kan immers net verlang na iets wat jy reeds geken het.

My hart kan beswaarlik na die Boland verlang, as my hart nog nooit die Boland leer ken het nie.

As een van Verwoerd se kinders – ek is in 1964 in 'n wit Afrikaanse huisgesin gebore – identifiseer ek ook ten sterkste met die idee van 'n enkele skeppergod – die (enkele) bron van alles, die son.

Is daar in vandag se tyd en dae nog iets of iemand, geloofsoortuigings of mense waarvoor 'n mens die woord politeïs sou kon inspan? Ek weet nie, ek glo nie. Maar dan is my kennis van die huidige wêreldgodsdienste (maak dit eerder wêreldgeloofsoortuigings omdat nie alle gelowe noodwendig plek inruim vir iets soos 'n god nie) uiters beperk.

Maar Krige se gedig is glad nie waarom ek hierdie gesels aanknoop nie, glad nie dit wat my vingers die grootste strooi aan die uitryg agter die rekenaar het nie; eerder een van die lieflike wense en in die besonder een van die mooiste sinne wat ek in 'n lang tyd gelees het:

"Laat ons onse stok vat en onse staf, en op onse Here se voetspoor aanstap na die Son...."

Dit het via 'n penvriendin se e-pos in my in-mandjie en in my lewe beland.

Ja, is dit nie wonderlik nie – ek, Hans Moolman, het iets soos 'n penvriend. Sedert laerskool was dit 'n romantiese begeerte van my wat nooit realiseer het nie.

In 1987 op die grens gewikkel (beurende) in die oorlog wat Jannie Geldenhuis en sy tydgenote vir my generasie uitgedink het, het een of ander klein plattelandse dorpie se beginner laerskoolonderwyseres dit goed gedink om haar klassie elkeen 'n briefie aan 'n troepie-dopeie op die grens te laat skryf.

Dit was vir my wonderlik – uiteindelik – 'n penvriend! Nou weliswaar nie van iemand oorsee nie, maar darem!

Hierdie vriendskap het ook net vier of vyf briewe lank geduur, toe is dit, soos enige een sou kon voorsien het, op die rotse.

Maar vandag het ek, na baie jare, uiteindelik iets soos 'n penvriend, weliswaar steeds nie op 'n eksotiese bestemming in die buiteland nie, maar, soos die kraai vlieg, nie 10 kilometer van waar ek bly nie.

Ons internet- e-pos-boodskappe gaan maak tien teen een darem elkeen eers iewers in Indië 'n draai voor dit in die elektroniese posbusse neerstryk.

En dié vriendin kom rui my toe op met:  "Laat ons onse stok vat en onse staf, en op onse Here se voetspoor aanstap na die Son..."

Ortodokse fundamentalisme sal nie my interpretasie van Krige se gedig deel nie.

Soos ek, na ek haar van die akuuttekens in één beurende drang en één goue verlang bewus probeer maak het, aan my penvriendin verduidelik het:

Vir my kommunikeer die woorde, onder andere, ook, dat alle mense se stap, ook alle gelowe en ongelowe en dogmas en gedekonstrueerde dogmas se stap, alles wat hier op aarde lewe en kan stap - ook die eensellige plant se stap, maar net 'n stap (in die aanhaling met die stok en die staf), 'n beurende drang en goue verlang (in Krige se woorde) na die Son, na God, na die bron van alle krag en lewe, is.

Waar sy aan die woorde kom, weet ek nie, ek sal nog uitvind.

Dit herinner aan Adam Small, maar ek dink nie dis uit sy pen nie - dan sou ek dit herken het.

Dit herinner, wat styl, maar ook inhoud en boodskap betref, eerder aan Hans du Plessis, en iets in die Griekwa-Afrikaans waarvoor hy so lief is.

Waar ons almal hierdie tyd van die jaar oorval is met versies en wense en aanhalings - party so oppervlakkig om van te kots - het hierdie woorde my aangegryp.

Dit spoor my sommer aan na die opruiendste van opruiende woorde wat hulle toe ooit destyds in die Bybel opgeneem het:  “...maar ek en my huis, ons sal die HERE dien.” (Josua 24:15)


Ek bly egter steeds die mening toegedaan dat, in ag genome die verskille, Josua en sy destydse volgelinge, die outjies hierdie kant, daardie kant, duskant én oorkant die Eufraat, ook die Amoriete en elke denkbare vorm van –teïs (a- ingesluit), ons almal, op dieselfde pad was, en is, elkeen beurend en stoeiend, op pad na die bron van alles – die son: één beurende drang, één goue verlang.

Ook die amoeba en die ligeen.

Daarom ook, daarom juis:



En geniet dit, die reis, medepelgrims wat elkeen besig is om 'n eie lewensreis te voltooi.

En as jy dan nou opsluit liewerster in Boeddha se skaduwee wil loop sit, misgun ek jou die oase ook nie.

As jy jou lokke ineen wil vleg met die van 'n Hare Krishna, is jy net so welkom.

Ek sal selfs terug staan dat jy verby kan gaan.

En wat Uys Krige van dit alles te sê het, sal ek nie weet nie.

Op 25 het ek ook al die antwoorde gehad.

Vandag probeer ek nie eens meer om die enkele vrae wat ek nog kan onthou, te verstaan nie.

En hoe mis ek nie nou, op hierdie punt, nie my ma nie. Sy sou gesê het, en sy is reg: “Agge nee man, Oubaas, kry nou end, ek rúik mos sommer wat jy nou daar praat.”

En dis nie suiwer my skuld nie, ook nie slegs maar my  penvriendin of enkel alleen die een wat einde verlede jaar die foto van die linodruk (na al die jare het ek daardie lino en sy tydgenote steeds in die kunskas) aangestuur het nie, nee: 

Ek het daardie teëltjies van Amalfi al Julie-maand aan honderde stukke gebreek, ook 'n stukkende antieke blompot en 'n goedkoop blou bord van my ma wat jare gelede aan skerwe van die muur geval het. My vakansieprojek is 'n mosaiek-tafelblad, rond soos die son, maar blou soos die Amalfi-kus van Capri en Sorrento. En soos ek totter en terugdink gaan my gedagtes op loop...

1 comment:

Anonymous said...

Awesome Hansie, regtig nice. Ek is elke keer verstom oor jou 'command' van die Afrikaanse taal (verskoon tog die Ingelse woord!). En jy skryf so gemaklik, dis 'n joy om te lees (weer eens die Ingels: my ma sou nou gese het: kies 'n taal!). Groete! Rene