Pages

1.1.12

Die lieflike flop van 'n Oujaarsaandpoeding

  

As ek dan nou soos Janus van ouds hier vroeg in sy maand vorentoe en terug kyk, dan is die eerste waarteen ek vaskyk, kyk ek terug, ons poeding van Oujaarsaand. En kyk ek vorentoe, is dit hoogstens tot by die volgende geleentheid wanneer ons weer hierdie poeding kan maak.

En as dit dan nou nie die Oujaarsaandpoeding is nie, is dit Annieka se Klein Oujaarspoeding (soos in Klein Saterdag wat Woensdag is) van 30 Desember.

Nog voor ek mooi van die boek Kom Eet! Om die tafel met Anita en Deon Meyer geweet het, was dit in die nuus, verbeel ek my, oor die een of ander beste vrouetydskrif in Afrikaans (of in die land) gekla het oor kopieregskending of plagiaat of so iets.

Ek weet nie mooi wat nie.

En toe het iemand vir iemand omverskoning gevra of mooi broodjies gebak en ek het gedink dat die hele storie die wonderlikste bemarking denkbaar vir die boek is.

Nie dat Annieka iets hiervan geweet het, toe sy die boek as Kerspresent vir my gekoop het nie – sy het bloot by my gehoor van die bestaan van die boek en summier uitgery om dit te gaan koop.

Die eerste wat sy toe wil maak is 'n dekadente Karamelvlapoeding.

Maar daar wonder sy toe nou wat presies die 5 blokke karamellekkers is waarna die resep vra.

Gedagtig aan die afkyk-klag maak ek 'n grap en sê dat ons bloot die naam van die poeding moet Google en dan sal ons tien teen een agter die kap van die byl kom.

Google verander toe my karamelvlapoeding na karamel vla poeding, en, so waaragtig, die eerste waarop ek afkom, is, woord vir woord, die resep wat Annieka uit die boek voorlees terwyl ek dit op die webblad volg.

Daar is een uitsondering, waar die kookboek niks in hakies langs 5 blokke karamellekkers het nie, het my webwerf fudge in hakies.

Ek kan dit nou daar laat en die mense laat wonder wie by wie afgeskryf het.

Die Mat Joubert-speurtog wat ek van stapel gestuur het, het my tot die slotsom laat kom dat Deon Meyer die resep iewers in 2010 op die MNET-kosrubriekprogram, ROER, gedeel het. Vandaar het iemand dit op die internet geplaas, waar ek dit toe gekry het, en Deon het dit bloot later in sy boek opgeneem.

Die Klein Oujaarspoeding (Deon en Anita noem dit Karamelvlapoeding, iemand anders noem dit Deon se karamelpoeding) is laag af op hierdie bladsy beskikbaar.

Ons het weliswaar in 'n stadium 'n haselneut op die individuele porsies left-overs wat ons geskep het, geplak – net sodat ons kan sê dat dit 'n gesonde resep is, dit het dan neute in.

En dan, ek kan nie wag dat iemand ons oornooi en vra dat ons 'n poeding moet saambring nie, is die 2011 Oujaarsaandpoeding wat ek en Annieka by gebrek aan 'n oond Oujaarsdag by haar ouers gaan maak het.

Iemand, wat die aaklige gewoonte had om nie voor in boeke te skryf as hulle dit as presente weggee nie, het iewers in die laat tagtiger jare van die vorige eeu (dit klink altyd so dramaties, en kan selfs nóg langer terug in die verlede klink:  in die laat tagtiger jare van die vorige millennium se laaste eeu) vir Judy 'n kookboek gegee wat sy nooit, nie een enkele keer nie, gebruik het nie.

Die boek was vir haar hopeloos te groot (36.3 x 25.7 x 3.8 cm) en te swaar (2 kg) en te lomp (256 pp) en te fancy – ek dink nie eers sy het ooit in die boek rondgeblaai nie. Sy kon dit ook op geen rak van haar staanmaak nie, dis 'n folioboek en hopeloos te hoog.

Of dalk het sy, tien teen een, soos ek my ma geken het, nie van die mens gehou wat vir haar die boek present gegee het nie, die geskenk as pretensieus gesien en bloot geweier om iets daarmee te doen te hê.

As ek net kan onthou wie die boek vir haar gegee het! Ek weet dat, kom ek op die naam, dit iemand sal wees vir wie die dierbare ou moeder van my en my broer nie juis veel ooghare had nie.

Dit moes 'n bloody duur boek vir daardie jare gewees het. Jy kan hom vandag hier teen net onder die £60 van amazon.co.uk bestel, maar dan het jy hulle nog nie betaal om die ding vir jou in Suid-Afrika te kry nie.

Collectable Cookbooks - Rare, Pre-Owned, Hard to Find and Out of Print Books het teen $31 ook 'n kopie beskikbaar.

(As jy net een maal hierdie vrou se bolognese sous gemaak het, dit neem jou vier ure, slaan jy nie weer jou lippe aan enige ander bolognese nie.) 

Ewenwel, toe ek einde 1988 huis opsit, gee Judy my 'n nuwe Huisgenoot se wenresepte en sê ek sal haar 'n guns doen as ek daardie groot, swaar, simpel kookboek uit haar huis na my huis toe ook vat.

O, en ek jubel. Ek blaai en kyk en lees en kwyl deur kookboeke soos 'n tienerseun deur 'n girly-magazine.

En daar wil ek Annieka en haar gesin 6 of 8 jaar later met 'n poeding beïndruk, en ek besluit op Valerie Childs se Chruncy Chocolate Meringue Cake uit haar Favourite Food-kookboek.

Julle, ek moes regtig desperaat vrou gesoek gewees het, want as daar een ding is wat ek NIE MAAK NIE, dan is dit meringue.

Maar die poeding was heerlik, heerlik verby, trouens, so heerlik, dat die jongeling wat bietjie later my swaer sou word, verlede week Oukersaand, 'n verdere 12 of 14 jaar later, uit die bloute vra of die Moolmans tog nie asseblief daardie poeding van destyds vir oujaarsaand by hulle wil maak nie.

En daar sit ek en Annieka toe Saterdag af na 'n geleende kombuis om die ding by gebrek aan 'n werkende oond saam te slaan.

En daar kan niks fout met my swaer se smaak wees nie – toe ek 'n prentjiesoektog van die boek op Google van stapel stuur, kry ek net twee foto’s van die boek se binnekant, en een van die foto’s het ons Chruncy Chocolate Meringue Cake op.



Dis die een regs, aan die voete van die cherubs (as iemand nog enigsins kon gewonder het).

Skoonma het haar vinger in 'n bak gehad wat ons vir Klaars gegee het om skoon te eet en haar uitroep was:  “Genade, hier sal 'n mens kan agterkom hoe dit moet voel om van lekkerte dood te gaan!”

Later het ek haar die lieflike woorde “kragdadig soet” hoor besig.

Die poeding sal ons egter nóg as Chruncy Chocolate Meringue Cake, nóg as Oujaarsaandpoeding onthou, vir ons is dit Daai lekker poeding wat lekker is al flop jy hom ook hóé.

Want dit is so, jy kan die ding opbreek, rasper, in 'n voedselverwerker versap, dit maak nie saak nie – in enige vorm is dit wat jy saamgooi, ongelooflik lekker.

Ek en Annieka het Oujaarsdag die volgende foute gemaak, en die poeding was steeds 'n reuse sukses:

1.  Ons het die geklopte meringue nie op waspapier uitgeskep nie, maar probeer wegkom met Spray 'n Cook – dit het vasgebrand

2.  Ons het die meringue nie in die koekpanne gebak nie, maar slegs op die uithaalbare bodems – die taai spul het afgeloop in die oond in, en dan weet ons almal hoe kan brandende suiker stink en rook!

3.  Ons het die goed te laag in die oond gesit – toe brand dit aan en na ons die verbrande meringue van die bodems losgeskraap het, moes ons die verbrande onderste helfte afkrap en wegkrap

4.  Ons het room wat nie in die yskas was nie styf probeer klop – dit het nie styf genoeg geword nie

5.  Toe het ons die lae gepak sonder dat die sjokoladesous genoeg afgekoel was – die sawwe room het nog sawwer geword en die drie lae het nie bo op mekaar gebly nie, maar soos drie van die Olimpiese Spele se ringe langs en oor mekaar gaan lê, en tóé stokstyf in die yskas gaan staan en word.

Ek het regtig nie gedink dit kan vir twee mense moontlik wees om 'n poeding so op te foeter nie, maar ons het.

En steeds was die vorige keer wat ek so 'n lekker poeding geëet het, die vorige keer wat ek en Annieka die poeding, enige iets tussen 12 en 14 jaar gelede gemaak het.

En dis maklik – jy kan selfs die meringue maar flop, dit smaak steeds lekker:

Jy maak drie koekpangrootte meringues van 6 eierwitte, 350 g strooisuiker en ongeveer 100 g se gekapte haselneute (of okkerneute of pekanneute – enige neut behalwe grondboontjies, wat natuurlik nie eers neute nie, maar boontjies, is). Na sowat 35 minute in 'n matige oond (180 grade C) is perfek.

Dan maak jy 'n sjokoladesousie van so nagenoeg 275 g sjokolade en so min of meer 150 of 160 ml room en laat dit afkoel.

Die res van die kannetjie room, en nog so bietjie, klop jy goed styf. (Die resep vra vir 350 ml room, waarvan jy 160 ml vir die sous gebruik en die res styf klop.)

En as alles koud is, dan smeer jy sjokoladesous op die onderste twee meringues, jy werk geklopte room op, en bedek die twee lae dan met die derde meringue. Laastens rond jy alles af met nog gekapte neute vir versiering.

It is not only to die for, it is also to die from.

Om seker te maak Valerie Childs dagvaar jou nie omdat jy haar poeding maak nie, mors jy nie die ekstra room nie, nee, jy werk dit in by die blikkie gekookte kondensmelk wat oorgebly het van Klein Oujaarsaand se Karamelvlapoeding van Deon Meyer en 'n ander tannie op die internet.

En dan het jy drie lae tussen die meringues:  karamel, sjokolade, en geklopte room.

Geniet dit (met of sonder die karamel).

No comments: