Pages

7.9.12

Pappa verjaar

Ons het dan nou seker maar twee, nee drie, feesgetye:  Kersfees – Nuwejaar, einde Augustus – begin September en iewers in die middel van April.
Die pasafgelope feesgety hou verband met my en Klaradyn se verjaarsdae net vyf dae uit mekaar uit. En dan moet ons onthou Klaradyn se verjaarsdag word gevier soos die Grieke Dionysos se fees gevier het – dit hou ‘n week en langer aan.
Daar’s die klaspartytjie, die maatspartytjie, die ete saam met die familie, die koek Dramaklas toe, én die koek by die Voortrekkers. Iewers is daar ‘n lentedag en dan is dit nog Pa se familie-ete oor die naweek as almal daar kan wees, en dan die ete op die aand van sy verjaarsdag. (Eintlik is die gebruik om iets skool toe te neem ook, maar teen daardie tyd is ek so gatvol kos gemaak, het ek so ‘n teësin in ‘n vuil kombuis, dat ek dit nie eers oorweeg nie. En gekoopte kos kan ek ook nie personeelkamer toe vat nie, die stoel is nog nie eers behoorlik afgekoel van die eerste besoek aan die bankbestuurder nie, dan sit ek al weer daar om die oortrokke fasiliteit nog verder te vergroot – dit kan net nie.)
En die krag en energie wat ek en Mamma saam in Klaradyn se twee groot en drie kleiner feesgeleenthede, sit Klaradyn op haar eie in Pappa se een enkele verjaarsdag-dag in.
Ja, ons kan gaan uiteet, ons kry selfs geld om dit te doen, maar dis soveel lekkerder en intiemer by die huis – ons eet en kuier en maak net soveel lekkerder by die huis die pakkies oop.
Dit help nie ons maak soggens voor skool pakkies oop nie, Klaradyn is al 06:00 uit die huis uit, daar’s nie ‘n manier dat ons haar nog vroeër wakkermaak nie.
Die pakkies is al die aand voor die tyd langs my bed gesit – Pappa mag nie loer nie. En ek het nie.
Mamma het dit sleg getref hierdie jaar.
Eers het sy vergeet dat sy al twee weke gelede vir my ‘n krabbelboek gekoop het, die eerste Afrikaanse krabbelboek wat ek op die mark sien. Ek het voorgestel ons koop een vir Klaradyn, dan kan sy en Mamma vir my ook een koop, en dan doodle en krabbel Pappa en dogter saam.
Maar toe vergeet ma, en toe kry sy en sussie weer vir my ‘n boek, ‘n gans ander een, ‘n kookboek.
Toe is hulle kombuiswinkel toe, en dis daar waar die noodlot ‘n terugslag oor Annieka se pad bring. Sy val in die ry om die elektriese handklitserding wat hulle vir my gekies het, te betaal. En daar is die tou baie lank, te lank.
En toe sy weer sien, toe kom Klaradyn daar aan met nog ‘n present vir Pappa – ‘n ontwerpersgroenteskiller teen ‘n ontwerpersinkomste geprys.
Daarna is dit van hierdie nuwerwetse silikon-oondhandskoene – nou begin die ander tannies en ooms in die tou Klaradyn al geniet.
En toe Klaradyn eers weet van die aandag, skop sy in haar element in en volgende is sy by Ma met ‘n knofelkerwer wat lyk of dit Denemarke ontwerp is.
Teen die tyd wat Ma by die kasregister aanmeld, kos Klaradyn se ekstra liefdespresentjies van in die tou staan, meer as die boek en die klitserding saam.
Dinsdagaand dek sy vir ons die tafel. Daar is ‘n getekende plekmatjie, naamplaatjies, kaartjies, blomme, glase, ‘n sagte duvet oor die stoel wat nou al aan ‘n troon herinner. Te heerlik.
Ek sit die sosaties op op die vuur en maak ‘n pakkie oop. Ek draai die sosaties om en maak ‘n pakkie oop. Ek draai die sosaties om hul sy en maak ‘n pakkie oop. Die sosaties gaan lê op hul ander sy en ek maak ‘n pakkie oop. Daar is later nie meer sosatiesye of kante oor nie, maar daar’s nog pakkies en briefies en kaartjies.
Later loop die sosaties al gevaar om houtskool te verbrand, maar daar is nog pakkies.
Maar die beste pakkie is en bly die meisiekind. Sy het gaan verklee vir ete en in ‘n pakkie wat sy vir haar verjaarsdag by haar oom Erik-hulle present gekry het, kom aansit vir ete. Met ‘n blom in die hare.
Met die dat die kind se boude nie vir die grond ontwerp of ‘n stoel gemaak is nie, is dit ook nie lank of sy pendel tussen my en Mamma se skote nie.
My gedagtes flits na ‘n skool- en universiteitsvriendin wat verlede week genoem het haar man druk die nuutste fase in hul seun se lewe nou soos volg uit:  “Ons het ons seun nou lewend verloor.”
Ek vra Klaradyn om ‘n papier te gaan haal dat ons dit amptelik en onderteken in skrif kan kry:  Sy belowe plegtig om oor 8 jaar van nou, op 16, steeds met soveel oorgawe op haar ma en pa se skote sit.
Sy oortuig ons egter dis nie nodig nie, so asof dit vanselfsprekend is dat sy dit sal doen.
Maar dis so ‘n lekker dag en aand, dat ek haar selfs glo.


No comments: