Pages

9.9.12

Nog 'n lekker naweek

Twee keer hierdie naweek, nee, drie of vier keer, moes ek hoor Annieka is jaloers op my en Klaradyn se lekker dag.
En dan was dit nie sommer ‘n lekker dag nie, dit was ‘n lekker naweek.
Vrydagmiddag het ek haar in die kar gekry (en Klaradyn is nie iemand wat jy sommer in ‘n kar kry nie) en ons is weg om die ringnek wat so misterieus uit die hok verdwyn het, te vervang. Daar was ‘n verjaarsdaggeldjie wat ek gereken het gerus maar pa kan staan om die hok weer ‘n gelukkige hok te kry.
So nou is daar weer twee. Hulle het mekaar nog nie in die vere gevlieg nie, maar ek voorsien dit sal ‘n rukkie duur voordat hulle boesemvriende of minnaars word.
En toe het Mamma ‘n vreeslike dag met twee skoolverwante funksies.
Sy vra nog in ‘n stadium of sy nie ‘n kuier by Ouma moet reël nie, so asof ek nie ‘n dag lank in my kind se geselskap kan deurbring nie! Ek wip my sommer daar op die plek, maar oortuig haar ons twee sal oorleef.
Ek het Dinsdag al geweet wat ons Saterdag gaan doen – ons gaan boeklees. Tannie Esme het my ‘n boek gewys en gevra of ons dit het. En toe ek ontkennend antwoord, toe stop sy my die boek in die hand en sê ons moet hierdie boek volgende lees.
Dis Dinsdag en ek het 45 minute in die motor by die dramaklas. Ek lees in die boek en besef dis net die ding vir Saterdag.
Ek lees darem ook eers die einde – dis ‘n dierestorie, en as dit in dood eindig soos Jock se storie, wil ek dit nie lees nie – ek wil nie ‘n huilende kind op my hê nie (en watter kind is nou trots op ‘n tjankbalie vir ‘n Pappa?)
So is sy Saterdagoggend vroeg wakker en by ons in die bed – ek begin al 06:30 lees. Ma lees eie boek, dra koffie aan, maar moet dan op en uit. Sý groet óns in die bed, ons gaan sien haar nie af nie, ons lees – ons lees al die pad een stryk deur tot 10:00.
En toe huil ek tot 10:10 en Klaradyn druk deur tot 10:30 en toe hou sy ook op.
En dis nie omdat die storie hartseer is nie, geensins, trouens en inteendeel, dis eerder omdat die storie so mooi is en met soveel deernis en liefde vertel word.
Die boek is vir self lees van 9 af, maar op 8, en voorgelees deur Pappa, was dit vir Klaradyn (en haar Pappa) ‘n lieflike leeservaring.
Lapa-uitgewers het die volgende te vertel oor die boek wat ek enige dag vir kinders sal aanbeveel:
Sam: ‘n Ware verhaal van ‘n dogtertjie en haar olifant is gegrond op die ware verhaal van ‘n Franse dogtertjie met die naam Marthe wat in die negentiende eeu saam met haar ouers na China verhuis het. Daar het sy ‘n baba-olifant vir haar agste verjaarsdag gekry. Toe hulle na Frankryk moes terugkeer, was Marthe so geheg aan die olifant, Sam, dat sy hom saamgeneem het.
Ingrid Vander Veken het hierdie wonderlike verhaal en die wêreld van negentiende eeuse China en Frankryk aan Belgiese kindertjies geopenbaar. Nou, te danke aan Antjie Krog se vertaling, kan Afrikaanse kinders die storie ook geniet.
In gesprek met Krog by LAPA se Leeskringseminaar het Vander Veken gesê dat Marthe se kleindogter oorspronklik vir haar van die dogtertjie en haar olifant vertel het. “Sekere dele van haar verhaal het regtig onwerklik geklink, soos dat die olifant in Marthe se pa se motor geklim het!”
Iemand het egter vir Vander Veken gesê dit kan beslis waar wees. “‘n Mens weet nie tot wat olifante alles instaat is nie. Hulle is uiters slim en vindingryk.” In een van Marjorie van Heerden se oulike illustrasies in die boek word die olifantjie ewe kordaat in die oopkapmotor uitgebeeld.
Afgesien van die besonderhede wat Marthe se kleindogter met haar gedeel het, moes Vander Veken ook heelwat navorsing doen. “Ek was voorheen ‘n joernalis en jy weet mos, joernaliste wil altyd hê alles moet klop.”
Een van die interessante en skokkende feite waarop sy afgekom het, was dat daar in daardie tyd in Frankryk ‘n dieretuin was waar nie net eksotiese diere tentoongestel is nie, maar ook mense. “Mense van die Kongo, pigmeë en eskimo’s was byvoorbeeld daar te sien. Ek vind dit erg ontstellend.”
Vander Veken het ook afgekom op vele ander storietjies oor olifante uit verskeie wêrelddele. Hierdie verhaaltjies is in die boek geïnkorporeer en sluit onder meer ‘n storie uit Suid-Afrika in.
Toe is ons op en uit, kosmark toe en skool toe. By die skool sê ek gou vir my ou standerd 3-juffrou, Sonja Herholdt, hallo – sy is daar vir ‘n damestee, en toe Klaradyn net eers weer haar asem terug het (sy ken Sonja van Liefling) is ons reguit huis toe om te gaan krabbel in ons krabbelboeke.
Toe bel ‘n maatjie en Pappa geniet ‘n rukkie eie tyd – hy gaan slaap tot 16:00, maar ‘n mens moet dit ook kan doen.
Saterdagaand toe sluit ons die twee weke van verjaarsdagfeesvieringe af met Pappa se verjaarsdagete by Oupa-hulle – die allerlekkerste skaapnek onder die son, in die oond begin, maar oor die kole afgesluit.
My beskeie bydrae kom uit sout en peper, Mamma en Klaars se verjaarsdagpresent aan Pappa. Nadat Vrydagaand se tamatiesop uit die boek so lekker was, kon ek nie wag om te proe hoe proe die groenbone wat hy voorstel nie.
Die tamatiesop is natuurlik ‘n storie op sy eie. Ons was so bly oor die effense koue van verlede week, dat ek summier Woensdagaand weer vir oulaas melkkos gemaak het. Donderdag, met die vreeslik baie reën, toe bak ons pannekoek. En Vrydag hoop ek heeldag dit trek nie oop en word warm nie – ek wil oulaas lekker sop maak.
En vandag braai en slaai en vrugteslaai ons weer.
Dis nou na ons vandag boekwinkels toe is (Saterdag het ons huis toe gekom om te kom krabbel) om geskenkbewyse by twee verskillende boekwinkels te gaan inruil. Ek is by die een uit met Brink se nuutste, Philida, en by die ander met die vertaling van Albert Camus se Die pes.
Die lekkerste van dit alles is dat daar nog geskenkbewys oor is, maar dit moet oorstaan tot ‘n ander keer.
Ek sluit af met een van die olifantstories in Vander Veken se Sam: ‘n Ware verhaal van ‘n dogtertjie en haar olifant:
Prins Ali en die Groot Olifante-fees
Eens op ‘n tyd was daar ‘n koning wat drie seuns gehad het: Ali, Hassan en Hoessein. Die seuns is in die hof grootgemaak, saam met hul niggie Noer, die sultan se dogter. So beeldskoon was Noer, dat die drie prinse al drie op haar verlief was. Omdat die sultan nie geweet het aan wie van die drie hy haar hand moet gee nie, sê hy: “Gaan op reis en vind vir my die mooiste ding wat bestaan. Die een van julle wat die allermooiste ding vind, mag met my dogter trou.”
Ali, die oudste seun, reis na Indie. Tydens ‘n soektog koop hy ‘n vlieënde tapyt, wat veertigduisend goue muntstukke kos. Daarmee vlieg hy na al die uithoeke van die land en sien die wonderlikste dinge.
Vir hom is die allermooiste ding die Olifante-fees, wat deur duisende mense bygewoon word. Vir die koning en sy gevolg word daar spesiaal ‘n verhoog op tagtig pilare opgerig. Die kante van die verhoog bestaan uit doeke wat elke uur gewissel word, en waarop die pragtigste landskappe geskilder is.
Goëlaars, sakkerollers en fakirs woon die fees by. Daarna volg ‘n optog van duisend olifante met helderrooi gekleurde slurpe en ore. Op hul lywe is duisende arms en bene geteken, wat met elke stap lyk asof dit beweeg. By die koninklike verhoog aangekom, vertoon die twee grootste olifante hul toertjies. Die een dans op sy agterpote, en dan weer op sy voorpote, op die ritme van die musiek. Die ander een gaan staan met sy voorpote op ‘n paal en begin daar laf met sy slurp te draai en met sy ore te klap. So iets het Ali nog nooit gesien nie. Maar hoe wonderlik die Olifante-fees ook al is, kan hy hom geen groter wonder as prinses Noer voorstel nie. Hy mis haar verskriklik en daarom klim hy op sy tapyt en vra: “Neem my vinnig na haar toe.” Toe die sultan dit hoor, sê hy vir Ali: “Jy kry die hand van my dogter, want die liefde wat jy vir haar voel, is die allermooiste ding wat bestaan.”

Mamma en Klaars se sout en peper
Pappa en Klaars se Krabbelboek
Oom Erik-hulle se Die pes
Die graad 9's se Philida

No comments: