Pages

17.9.12

Cardo en Leeana

Nadat 'n vriendin my gister op hierdie gedig van Ronelda Kamfer gewys het:

 
KLEIN CARDO
vir Alfonso Cloete en Velencia Farmer
They say it’s the whiteman I should fear, but it’s my own kind
doing all the killing here.
- Tupac Amaru Shakur -
 
Cardo was gebore
maar niemand het hom verwag nie
sy ma was sestien
en sy pa gemeenskapsbouer vannie jaar
sy ouma was ’n cashier
en sy stiefoupa het gedrink virrie pyn

Cardo was ’n mooi klong
met ’n donker vel en ligte oë
mooi genoeg om Engels te praat
hy’t gehou van drie stokkies
en vrottie eier innie pad speel
Tietie Gawa vannie mobile het gesê
Cardo was ’n engelkind

Die aand voor Cardo se eerste dag
op grootskool
het die schoolboys klappers innie pad geskiet
Cardo het by die venster uitgeloer
die koeël het in sy keel gaan sit
sy ma hettie gehuil nie
die politicians het ’n boompie geplant
en die Kaapse Dokter het hom uitgepluk
en gegooi waar die res
vannie Kaap se drome lê

oppie vlaktes
 
hoor ek toe vanoggend oor die radio van die gebeure waaroor Burger vandag soos volg berig het:
 
Sesjarige sterf ná bendes losbrand

HANOVER PARK. – Haar laaste woorde Saterdag aan haar ma was om 50c vir ’n pakkie Spookies-tjips te vra.
Minute later het Leeana van Wyk (6) met ’n skietwond in haar kop in John Down-steeg, Hanoverpark, gelê.
Leeana is gister in die Rooi Kruis-kinderhospitaal breindood verklaar.
Een van haar maatjies, Liam Davids (7) wat saam met haar in die straat gespeel het, is ook raakgeskiet – vermoedelik deur strydende bendelede. Hy het net ’n vleeswond opgedoen.
Leeana se gebroke ma, Louise van Wyk (41), het gister gesê Leeana en Liam het buite in die straat met haar bal gespeel.
“Dit was haar geliefde speelding,” het Louise gesê. “Sy het vir my kom vra vir 50c om tjips te koop.”
Louise het gesê sy het buite by die hek gestaan toe sy sien hoe ’n man wat vroeër in hegtenis geneem is, ’n vuurwapen uithaal en straat-af begin skiet.
“Ek ken hom, ek ken hom. Ek kon nie glo toe ek sien hy het my kind geskiet nie.”
Die man (19) is Saterdagaand weer in hegtenis geneem.
Lt.kol. André Traut, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig.
Hy het gesê daar het omstreeks 18:36 ’n skietgeveg tussen vermeende bendelede uitgebreek. Die twee kinders is in die kruisvuur gewond.
Traut het gesê ’n tweede man (34) is kort ná die voorval in hegtenis geneem. Hy is gewond, maar die polisie kon nie sê deur wie hy raakgeskiet is nie. Traut het gesê die polisie het ’n 9mm-pistool en ’n .357Magnum-rewolwer by die mans gekry.
Albei verskyn binnekort in die hof.
Inwoners het gister gesê dis lede van die Mongrels-bende wat op mekaar geskiet het. Daar was glo ’n stryery tussen lede van die bende, waarna hulle op mekaar begin skiet het.
Daar was gister ’n sterk polisieteenwoordigheid in Hanoverpark.
Traut het gesê die polisie gaan nie toelaat dat bendes die lewe van onskuldige mense neem nie.
 

No comments: