Pages

27.9.12

Iets onaangenaams in die skubliesroos se drinkwater

By my eerste skool het ek altyd te vertelle gehad dat ek, stap ek die dag daar weg, die olieverfskildery van die bloekombome teen die oorkantste muur van waar ek pouses in die personeelkamer gesit en tee drink het, met my saamneem.
Ek is nou 15 jaar weg, en nog elke keer as ek weer daar kom, gemiddeld so een keer elke drie of vier jaar, dan gaan soek ek my paintingtjie op.
Hy was vroeër vanjaar nog op sy plek.
Ek sien hom voor my, soos ek tik, en hoor die wind in sy takke en deur sy blare.
Iewers verbeel ek my ruik ek selfs eukaliptusolie.
In die agt jaar wat ek daar skoolgehou het, het ek dit op my geneem om hom glads op die skool se onkoste laat herraam – ek wil mos nie met die ding in ‘n goedkoop raam daar wegstap nie, wil ek? ‘n Man het mos darem sy trots.
By my tweede skool, nogal een vir die kunste, was daar midde die honderde lieflike skilderye en beelde, onder die son niks wat ek wou saamneem nie.
Om die waarheid te sê, ek sou van my skilderye skenk, net om daar weg te kon kom.
En toe stap ek 21 April 2000 by my huidige skool in.
Ja, 21 April, ek sal die presiese datum nooit vergeet nie – ek en Ankie het 20 April 2000 van wittebrood afgekom, en om die datum nog verder in die brein geknoop te hou was 21 April 84 jaar lank die dag waarop Judy haar geboortedag herdenk het. Deesdae herdenk ons dit sonder haar.
En toe ek daar by die nuwe plek instap toe stap ek in Zakkie Eloff vas, my Zakkie Eloff, die een waarmee ek aanvanklik gereken het ek eendag gaan wegraak, gaan ek die dag daar weg.
Dis ‘n tipiese Zakkie Eloff, ‘n rooibok, maar nie eers ‘n diknekrammetjie nie; sommer net ‘n beskeie, maar lieflike, ooitjie.
Ek twyfel of iemand ooit sal agterkom as ek met die ding wegraak – party dae wonder ek selfs of hulle mý voor die einde van die jaar sal mis as ek en die bok hier iewers in April sommer net weg sou raak.
Nie dat ek meer met die impala-ooitjie onder die arms sal wegraak nie – dis dinge van ‘n kind daardie.
‘n Mens word groot, groter, wyser, slimmer – noem dit wat jy wil, en jaag hulle my more daar weg, is dit ongelukkig beslis nie meer met Zakkie onder die arm dat ek van hulle afskeid neem nie.
En is dit nie vreeslik nie!
Grootword is nie lekker nie.
Ook nie lekker om die dinge van ‘n kind agter te laat nie, maar as groot man bestaan daar by my ongelukkig helaas geen twyfel meer nie – Zakkie se bokkie kan rustig voortwei waar sy die laaste twaalf jaar van my teenwoordigheid al in die een adjunkhoof se kantoor wei.
Ek, Hans Moolman, gaan veel eerder een van die terreinwerkers oor die kop slaan, en nie sommer enige een nie, die een wat die stoorkamertjie, onder by Nico-se-klas, se sleutels met hom saamdra.
Wat daar gebêre word, sal ek wat voor gee. Wat daar gestoor word, offer ek die bietjie wildsvleisies voor op.
Dis nou se dae doodeenvoudig net hopeloos te duur om ‘n stel daarvan vir myself te kry – ek sal dit moet steel.
En presies soos met die ooitjie, is dit nie of die skool dit sal mis nie, hulle het seker ‘n stuk of dertig van die goed, so vier stelle van agt elk.
Ek praat van hierdie lang, stewige, staalstawe wat jy met so ‘n varkstertjie (of watter deel ook al van ‘n vark dit jou aan herinner) vooraan, in ‘n drein afstuur as daar iewers ‘n ietserigheid in die afvoerwaterpyp is.
Dis nou, seker so drie weke al, weer sulke tyd hier by ons. Geen verstopping nie, maar beslis ‘n “spoedkalmering” wat die watervlak gevaarlik hoog in toiletbak laat opstoot en van tyd tot tyd tot senutergende verkeersopeenhopings lei.
En ek weet wat dit is – dis die Pride of India agter die lapa. Dis altyd hierdie skubliesroos wat so welig agter die lapa groei.
Die ding (miskien is dit die wilde een van die twee, ‘n transvaalliguster, ek sal nie weet nie)  groei so geil want hy staan met sy tone in die suiwerste bron van bemesting denkbaar – die rioolafvoerpyp.
Elke lente, en as dit nie elke lente is nie, dan elke tweede lente, dan oorspeel die wortels hul hand en sit ons met ‘n waterwerkprobleem in die huis.
En elke jaar, elke twee jaar as ek gelukkig is, word ek opnuut daaraan herinner dat ons Klaradyn tog nie moet groot maak om eendag met ‘n dokter of prokureur te wil gaan staan en trou nie – sy moet veel eerder leer hoe om ‘n loodgieter in haar visier te kry. (En as dit nie ‘n loodgieter is nie, dan ‘n elektrisiën.)
Trouens, as daar ooit iewers ‘n vakleerlingskap vir vroueloodgieters beskikbaar is, kan sy maar vergeet van au pair in die buiteland as matriek eers agter die rug is – teen daardie tyd het ek haar lankal ingeskryf en stewig op pad na rykdom en ongekende weelde.
Ek het julle al vertel dat die elektrisiën toe een mooi dag met sy ander kar hier by ons stop – ‘n piksplinternuwe Mercedes Benz, wat ek in my wildste drome nie eers aan kan dink om te droom nie.
En teen die tyd wat ons net weer herstel het van óns terugslag rondom die gulsige Pride of India (en ons terugslag op sy beurt weer die loodgieter se oorsese reis) is dit weer sulke tyd.
Deesdae leen ek darem sommer die skool se dreinstawe – dis letterlik ‘n dubbel-k-middel-a-joppie maar my en my bankbalans se behoud. Teen die huidige tempo van verstoppings en dinge spaar ek soveel op hierdie manier dat ek en Mamma en Klaradyn eendag met Klaradyn se matriekvakansie al drie saam Europa toe sal kan gaan.
En daarom, as ek kan kies, laat gaan ek Zakkie se bokkie in ‘n koeltekolletjie iewers buite Satara en storm halsreikend op Louis die Loodgieter se stewige stel ysterstawe af.
Dit sal my ‘n fortuin spaar en ek sal stinkryk (skatryk is onder omstandighede seker ‘n beter woordkeuse) aftree.
Maar teen daardie tyd is ek tien teen een al so konfyt in die vaardigheid van die dreinstawe dat ek sommer my eie besigheidjie in die verband oopmaak; en nie aftree nie, maar aantree.
Hef aan Hans!


Nie almal weet miskien waarvan ek praat nie. Hierdie is die eietydse ontwerpersweergawe van die goed. Die skool s'n is ouer en daarom noodwendig baie beter.


No comments: