So bring ons toe teoreties gesproke die dag siek in die bed deur. Weliswaar seker nie siek nie, en ook nie in die bed nie.
In ons pajamas dan. En ek en Annieka makeer niks.
Niks anders as groepsdruk dan waarvoor ons swig nie.
Vrydagaand is Goggabie (vra sy toe mos vandag vir my waarom noem ek haar nooit meer Goggabie nie) knieserig en huilerig oor ‘n seer keel en steek in die ore.
Nou is sy ongelukkig nie alombekend vir ‘n vreeslike hoë pyndrempel nie, die toleransie is maar laag. Tog is ‘n seer keel nie iets wat haar al vantevore in trane had nie.
Saterdagoggend is sy, wat op ‘n Saterdagoggend lag-lag kan deurdruk tot 09:00, voor 06:00 al op. “En waarvan is jy so vroeg al op, Meisekind?” “Seer keel en ore, Pappa.”
Ek moet 08:00 uit vir ‘n skoolding, Annieka moet knap na 08:00 uit vir ‘n skoolding. Dis elke tweede naweek in September se ding – ons is dit al gewoond. In die verlede het een van ons gebly, die ander gegaan, maar vanjaar was daar nie ‘n kans dat een van ons twee kan uitdraai nie – ons het al verlede week gevra of ons dogtertjie die oggend by Ouma- en Oupa-hulle kan deurbring.
Ons wil nie Ouma of Oupa dokter toe stuur met ons kind nie, maar vir ons eie dokter wag, kan ons ook nie. Ek verbeel my hy sluit sy spreekkamer eers 10:00 oop.
Toe maar Pedimed, wat ook al jare nie meer Pedimed is nie, toe.
Dis 06:45 toe ons daar instap.
Daar is min plekke waar ek my ongeskikte self in die oortreffende trap uitleef; daar is trouens net een – die ontvangslokaal van Pedimed se afdeling waar jy die dokters aan diens kan sien.
Ons registreer voor 07:00 (R550-00 vir ‘n oudiënsie) maar sien die dokter eers na 07:00 (R450-00 vir ‘n oudiënsie by dieselfde dokter).
Ons mediese fonds is leeggetap en ek weet ek gaan betaal; ek is nogtans die bliksem in toe ek R550-00 moet betaal (sommer uit beginsel en gewoonte uit – omdat dit my aard is).
Ons is vroeg daar, nie omdat ons aan hul voortreflike diens uitgelewer wil wees nie, maar omdat ons nie later na ons eie dokter toe kan gaan nie, en ons kommunikeer dit ook so aan hulle.
En toe laat weet die vroutjie wat ons in die eenkant kamertjie moet uitvra, dat sy ons binnekort gaan kom ondervra – sy drink net gou haar laaste Milo!
Dit moes ‘n moerse beker Milo gewees het, want dit het haar meer as 10 minute geneem om die laaste bietjie te drink!
En toe ek my gevolgtrekking rondom die grootte van die bekers waarmee die mediese staf hulle moet besig , helder en luid met Annieka deel, toe rol my vrou haar oë vir my – en toe is ek sommer nog meer die bliksem in.
Ek wil opstaan en uitloop.
Maar ek kan nie, my kind is siek.
En hulle weet dit.
Toe die vrou ons uiteindelik te woord staan, maak sy allerhande flou grappies met ons siek kind, grappies wat die kind geensins opbeur nie. In belang van Annieka se oogspiere weerhou ek my daarvan om my eerlike opinie in die verband te deel.
Die dokter aan diens boesem darem vertroue in, ‘n ouerige man wat nog ‘n ordentlike matriek en graad agter sy naam het, nie een van die outjies van wie die tasse gepak staan om Kanada se koue weer op te gaan soek nie. Hy val amper flou toe hy in die kind se keel kyk en die kliere agter haar ore voel.
Ons is bly ons het maar gekom.
Ek betaal die R550-00, nie met ‘n plesier nie, my eie dokter sou soveel goedkoper gewees het, maar voel tog goed oor onsself oor ons die regte ding in belang van ons kind gedoen het.
En toe is dit ons wat amper flou val, ek wat weer van vooraf befoeterd raak, Pa wat wil begin huil: die medisyne is ‘n verdere R600-00.
Nee, o, aarde – R1 100-00 vir ‘n kind wat ‘n kiem of ‘n ding in haar keel het!
Wat het geword? Wat het gebeur?
Teen R1 100-00 is ons toe vroeg Saterdagmiddag al in ons pajamas, trek ons Sondag heeldag nie aan nie en bad ons almal eers teen die aand se kant.
Teen R1 100-00 het ons seker genoeg betaal om more skool toe te kan gaan (dis die einde van die kwartaal en daar sal assesserings wees).
Maar teen daardie bedrag gaan ons beslis nie swemlesse toe nie.
Ons is bevoorreg, ons kan darem ‘n verdere R1 100-00 in ‘n oortrokke rekening ingaan as dit moet. Saam met Klaradyn was daar hierdie naweek, in ons stad, talle ander agtjariges, net so siek soos sy, en veel sieker ook, wat by ‘n ordentlike dokter in hul ganske lewens nog nie uitgekom het nie.
Klaradyn het Saterdagmiddag laas gekerm, nee – gehuil, van pyn. Hoeveel is daar nie wat Vrydag saam met haar begin het nie, en nog die hele week gaan huil nie.
En dan is daar die wat saam met haar ophou huil het. Nie van R5 50-00-dokters en R600-00 se medisyne nie, maar by die gebrek aan enige dokters en medisyne.
Laat ek daarom nie kla nie, ek kon vir my kind iets doen, al was dit soorts van op skuld.
En buitendien – in Klaars se wakker tydjies het ons heerlik geteken, ge-DVD, boek gelees, gevrot, gepamperlang, en ge-alles wat ‘n mens doen as jou kind die dag siek is.
No comments:
Post a Comment