Naas my oorlede mammie dan, die vrou wat die lekkerste kos kon maak, niemand anders nie as, loshande, sonder twyfel – Tannie Lenie; Tannie Lenie van Oom Piet en Tannie. Dis nou Oom Piet en Tannie Lenie Coetzer van Alberton.
En Tannie Lenie is ook al seker amper 35 jaar gelede, as dit nie meer is nie, lang boompies toe. So ek gaan haal my onthou baie jare gelede, toe ek sommer nog kind was.
Daardie jare het jy op ‘n Sondag hoender geëet. Nie ‘n winkelhoender nie, ook nie ‘n plaashoender nie, maar een van Oom Piet-hulle se slaghoenders wat in die dorp op die werf aangehou is. En soos die groot mense gehoop het vir die stuitjie (ons het van die Pope’s nose gepraat), die kinders uitgesien het na die wensbeentjie, het ek op my beurt gehoop ek kry een van die eiertjies wat binne die hennetjie was toe sy geslag is.
Nee, ek is nie ‘n hoenderboer nie, ek weet nie. Ek het in my ganske lewe nog nooit ‘n hoender geslag nie (en mog ek nooit nodig hê om dit te doen nie), maar saam met Tannie Lenie se Sondaghoender is van tyd tot tyd ‘n klein ronde eiergeel of twee bedien, partykeer tussen dit waarmee die hen gestop is – tussen die stuffing (soos die groot mense dit genoem het.)
Haai, ja, dit was nog hoenders wat voorgesny is, nie omdat dit Cornish hens was nie, bloot omdat dit van Oom Piet se free-est van alle free range slaghoenders was.
En ons het wyn gedrink, lank voor Valley-wyne geredelik en algemeen in Transvaalse huise geword het, lank voor enige ander vorm van wyntradisie hier in die noorde posgevat het – wyn wat Oom Piet self van sy eie druiwe gemaak het.
Nodeloos dan ook seker om te sê dat Tannie Lenie geen elektriese stoof had nie, tot en met haar dood nie. En dit op die dorp. Daardie jare.
Ons het gereeld daar geëet. Ook omdat Judy nog bron (ander mense praat van sult) sou gemaak het, maar aan tradisionele afval en skaapkoppe en sulke disse het sy haar hande nie geslaan nie. Ag, en my pa was so lief vir afval en ‘n lekker bereide skaapkoppie. Maar dit het ons weeksaande, miskien op ‘n Saterdag, geniet; nooit op ‘n Sondag nie – Sondag was hoender.
Judy het nie altyd met lof van Tannie Lenie se kosmaak gepraat nie, en met jaloesie het dit onder die son niks te doen gehad nie; dis die tannie se groente waarteen my ma dit had. Tannie Lenie het by al wat groente is (met die uitsondering miskien van die pampoenfamilie) ertappels en uie bygevoeg en dit dan fyn gestamp.
Ons noem dit Boereboontjies, en ek weet my aangetroude Engelse familie praat van Dutch beans. Maar by Tannie Lenie het jy Boereboontjies, Boerwortels, Boerespinasie, Boerekool, Boere-noem-maar-op gekry.
O, en dít is wat vir my so lekker was.
Judy het my soetwortels wou voer – ek hou tot vandag toe nog nie van soetwortels nie; ek verkies selfs skorsies en pampoen met sout en peper – tog net nie soet nie. Ook eers later dat ek lief geword het vir die witsous by alles wat Judy nie soet kon maak nie. Nie dat ek dit teen die sous had nie, maar teen die kleine knypie neutmuskaat wat altyd die sous vergesel het. (En vandag is dit ek wat Klaradyn met die neutmuskaat van my heerlike bord gekookte kos vervreem!)
My gunsteling groente, danksy Juds en Tannie Lenie, vandag steeds Boereboontjies. Ek sal net dit ook eet, jy hoef my nie ander kos te gee nie.
En dan hoef dit nie eers warm te wees nie.
En daar is min dinge so lekker soos koue boereboontjies op brood.
Die laaste ruk maak ek dit soos Neil Stemmet daarvan in sout en peper vertel: een deel boontjies, halwe deel uie, halwe deel ertappel, sout, peper, tikkie neutmuskaat, botter en vars suurlemoensap.
Ek het begin met 500 g boontjies, dit toe opgestoot na die 750 g-pakkies. Die laaste ruk is ek vieds as daar nie 1 kg pakke is nie en ek twee 500 g-pakkies moet koop.
Mense, dis lekker. Moenie stamp nie, dis nie stamppot nie. Maar as jy daarvan gestamp hou, stamp na hartelus.
Maar as jy soos ek van stamppot (die oermoeder van Tannie Lenie se groente, ‘n mag der menigte nefies en niggies van die tradisionele Boereboontjies) hou, moet jy dit gerus google – die Nederlanders het talle resepte op die internet. Voor die wonders van Google-translate het ek al ‘n paar unieke misvertalings gehad; deesdae maak ek aan die hand van die vertaalenjin seker ek maak nie droog nie. Probeer gerus die met die sampioene.
Maar ek dwaal af.
Van skaap wat saam met die boontjies opgekook is, weet ek g’n niks, maar ek mis die tamatie wat my ma en Tannie Lenie ook ingewerk het.
Ek soek maar al wat ek kry is ‘n middelslag ui, middelslag tamatie en middelslag ertappel saam met ‘n halwe kilogram groenboontjies.
En toe kom ek op die Griekse weergawe af: Fasolakia me patates. Maar moenie dat die naam jou verlei nie, dis sommer gewoonweg groenboontjies en ertappel.
Wat my opgewonde het, is dat die Grieke hieroor voel soos ek – dis ‘n vegetariese dis, ‘n eenskottelgereg, ‘n bredie. Dis jou kós en nie ‘n toe- of bykossie nie. Brood en fetakaas gaan daarmee saam. En ja, die bestanddele is dieselfde (die skaapvet van die Boeretannies en die Boeretannies se kombuishulpe is bloot met olyfolie vervang) maar die metode verskil drasties.
Oor hoeveelhede is daar soos te verwagte geen instemmigheid nie. Bietjie hierdie kant toe, bietjie anderkant toe, is nie ‘n treinsmêsh nie; dit lyk vir my soos:
Sowat 1 kg boontjies (gekerf of 2 duim stukkies, halveer – dis jóú boontjies, maak soos jy lus het)
2 of 3 ertappels gesny
2 of 3 uie gekap
3 of 4 ryp tamaties
1 of 2 knoffelhuisies
(party outjies gooi pietersielie, kruisement en dille by, maar dit gaan my beslis verby – ek wil geen mens beïndruk nie, ek wil lekker boontjies en ertappels eet – miskien later.)
Enige iets tussen ‘n halwe en ‘n volle een ‘n halwe koppie olyfolie. (Daar is resepte wat so veel as 1½ koppie olie op 1 lb – nie kg – boontjies vra.)
‘n Kelkie of wat witwyn wat die vorige aand oorgebly het (of ‘n glasie of wat water)
Eers braai jy die uie (sowat 5 minute, of tot sag – wat langer sal wees) in die olyfolie.
Nou gooi jy die boontjies in (5 na 10 minute) bedek, maar onthou om kort-kort te roer. ‘n Dierbare ou tannie wat die dis op youtube maak (toevallig werk sy ook soos Oom Piet met haar eie huiswyn) het te vertelle dat die boontjies op hierdie wyse veel sagter kom en dan bied sy ‘n kwasiwetenskaplike verklaring aan. Hoeveel waarheid daarin steek, weet ek nie; ek glo egter in die krag van geloof, so ek weet nou al my boontjies gaan vir my lekkerder smaak, maak ek dit op hierdie wyse gaar.
Nou gooi jy die ertappels, tamatie, knoffel (kruie, as jy wil) en die klein bietjie wyn by. Die goed moenie ‘n groot doop onderdompeling ondergaan nie – dit moet in die tamaties en dit se eige natuurlike sappe, saam met die witwyn, gaar stowe (of stoom, of wat ook al).
Die gedagte is dat daar na enige iets tussen 20 en 30 minute se lae hittegraad hoegenaamd geen vloeistof meer in die pot is nie.
Bietjie suurlemoensap om mee af te sluit.
Die tamatie kan met ‘n eetlepel of wat tamatiesmeer of –pasta vervang word, selfs ‘n blikkie tamatiesmoor of ‘n glasie of so tamatiesap. (Ek sal beslis ‘n blikkie Italiaanse pruimtamaties bo die bleek harde groenerige goed wat ons meestal te koop kry, verkies.)
Dis nie naastenby Tannie Lenie se boontjies nie, ook nie die heerlike repies tamaties wat oorle’ Judy hier vlak voor die einde ingewerk het nie, maar ek gaan dit beslis volgende probeer.
Om mee af te sluit, iets heel anders: Judy het almelewe (of is dit altoos waaraan ek dink, miskien selfs beide) die lekkerste varktjops in die oondpan gemaak.
Met skaap- en beeslvleis die prys wat dit is, en ‘n gesin wat dink daar is nie kos op die tafel as daar nie vleis is nie, loop koop ek toe varktjops vir die braai. Maar dit word laat en die braai staan oor.
En toe ek die tjoppies so kyk, toe verlang ek na my ma.
Maar wat sy gedoen het, weet ek nie.
Ek onthou wel die eindresultaat, toe skep ek my eie resep:
Die middag se oorskiet wortelslaai – Annieka hou daarvan net so droog sonder iets, so dis nie pap of verlep nie, ek het dit goed versorg toe ek dit gebêre het.
Die pynappel en geel soetrissie wat in die yskas oorgebly het (gekap)
Bietjie gerasperde gemmer.
Braai dit in bietjie olie tot saggerig.
Gooi die oorskiet van Vrydagaand se vars tamatiesop daarby, sodat ‘n dik souserigheid vorm.
Verdun met bruinasyn.
Versoet die suursoet na smaak met bruin suiker.
Die pynappel en geel soetrissie wat in die yskas oorgebly het (gekap)
Bietjie gerasperde gemmer.
Braai dit in bietjie olie tot saggerig.
Gooi die oorskiet van Vrydagaand se vars tamatiesop daarby, sodat ‘n dik souserigheid vorm.
Verdun met bruinasyn.
Versoet die suursoet na smaak met bruin suiker.
Seël die tjoppies gou-gou (ek het dit nie gedoen nie, te veel skottelgoed, maar dit klink na die regte ding om te sê) in ‘n warm pan. (Olyfolie, natuurlik! Wat anders?)
Pak die tjoppies in die oondpan en bedek met sous. Oond toe met dit alles.
Geniet.
No comments:
Post a Comment