Pages

13.9.12

Hasie, hoekom is jou stert so kort

Nkosi sikelel' iAfrika
Maluphakanyisw' uphondo lwayo,
Yizwa imithandazo yethu,
Nkosi sikelela
Thina lusapho lwayo.
Morena boloka setjhaba sa heso,
O fedise dintwa le matshwenyeho,
O se boloke, O se boloke setjhaba sa heso,
Setjhaba sa, South Afrika — South Afrika.
Uit die blou van onse hemel,
Uit die diepte van ons see,
Oor ons ewige gebergtes,
Waar die kranse antwoord gee,
Sounds the call to come together,
And united we shall stand,
Let us live and strive for freedom
In South Africa our land.
Ek het dit ook gedoen – die dag se liedjie oor en oor uit volle bors gesing en tien teen een die wit waks uit my ouers irriteer.
Nie dat sy my vanaand irriteer nie; ek is relatief rustig en identifiseer in elk geval so sterk met haar, dat ek onmoontlik nie ‘n enkele slegte gedagte rondom haar en haar gedrag kan bedink nie – wat nog te sê, uitspreek.
Trouens, dis arme Annieka wat op ‘n gereëlde basis, al om die beurt, óf vir my, óf vir Klaradyn moet stil maak as ons soos ‘n eertydse plaat wat vasgehaak het, lostrek en begin sing. En net nie ophou nie.
En dan is ek boonop vanaand nog jaloers op die kind – sy ken die land se nasionale lied beslis beter as haar pa.
En as sy dit nie noodwendig beter ken nie (wie is ek om te wil oordeel oor die Xhosa en Zoeloe?) sing sy dit met veel meer oorgawe as wat ek ooit in staat toe sal wees. Oorgawe én selfvertroue.
Miskien moet ek ook nie so haastig wees om haar vaardigheid te besing nie, daar is immers ‘n lastige foutjie wat my opval – die enigste fout wat my ooit sal opval: iewers in Langenhoven se strofe gebruik sy ‘n verkeerde voorsetsel. En dan help ek haar reg. En as ons oomblikke later weer daar kom, dan help ek haar weer reg.
Ag, siestog – en dan begin my hart sommer vir haar bloei, en was ek ‘n vrou sou ek selfs kon begin huil ook! Vra sy nie vanaand, na ons nou al ge-nkosi het dat kranse antwoord gee, vir haar ma nie:  “Dink Mamma nie ook ek sing nou al goed om volgende jaar koor te sing nie?”
(Onthou, sy het laas jaar drie keer vir ‘n oudisie gegaan, en hierdie jaar is dit nie veel minder nie – ás dit nie meer is nie.)
Maar gelukkig het ons nou al genoeg trane vir een huis in een aand gehad, ek dink trouens ons het genoeg trane vir die hele woonbuurt, indien nie die hele Pretoria nie, vir ‘n volle jaar gehad.
En saam met die trane deur is ek so trots op my kind. Maar dis ‘n lang storie wat ek agter die bult moet loop haal:
Sien, ek is mos die afgelope paar maande so teleurgesteld in die klassieke Grieke. Ek het vir hulle en hul beskawing nog altyd ‘n effense agting gehad – oor wat hulle bereik het, en wat hulle besef het, die insigte waartoe hulle gekom het.
Seker ook maar daarom dat ek so gaande oor hul fabels en die oeroue wysheid daarin opgesluit, is. En vertel ek dit oor, weet ek dikwels nie wat my die meeste opval nie – hoe goed hulle mense geken het, of hoe goed hulle dieregedrag het nie.
Maar deesdae is ek nie meer so seker nie.
Kyk, in die fabels is die diere mos nou maar sterk in boksies geplaas:  vos is geslepe, leeu is koning, esel is dom, pou is trots, en so aan, en so aan, af al die pad tot by die haas.
So is daar 'n storie oor die hase wat ten doel het om hartseer mense beter te laat voel.
Die storie sal maklik in plek val as ons weet dat, soos ons soms van 'n hondelewe praat om te verwys na iemand wat 'n ongelukkige lewe lei, het die antieke Grieke van “haselewe” gepraat om na iemand te verwys wat in 'n staat van konstante vrees gelewe het – vir die ou Grieke was hase die spreekwoordelike lafhartigstes onder die lafhartiges.
Die hase besluit toe unaniem om selfmoord te pleeg en met die besluit eers geneem, is al wat oorbly die wáár en die hóé. Na deeglike oorweging word op 'n diep poel in die onmiddellike omgewing as eindbestemming besluit. Die paddas wat aan die kante en op die wal die poel gesit en sonbak het, skrik toe vir die spul hase se voetval, en skarrel almal terug na hul wegkruipplekke onder die water. Waarop een van die ouer hase, in die voorste linie en voor genoeg om die petalje met die paddas te aanskou, uitroep: “Nee, o, hel, stop onmiddellik – ons moet ons eenparige besluit herroep: kyk, daar is inderdaad banger, lugtiger en meer lafhatrtige skepsels as ons hase!”
Met die storie agter die storie: Hartseer mense vind dikwels troos in die veel groter hartseer wat ander moet verduur.
Ek verbeel my tog ek sal nog van tyd tot tyd in Afrikaans die vergelyking “so bang soos hase” of “soos verskrikte hase” hoor. En ek verbeel my ook Lina Spies het in die baie bekende “Lied van die kinders” die groep skoolkinders wat by Mahalot aangeval en doodgeskiet is met verskrikte hasies vergelyk.

Ja, sy het: 
Laat die kindertjies van Isreal na My kom,
Gevang in die kruisvuur by Ma’a lot –

Bang hasies in ‘n bos wat brand.
Maar kyk, Lina Spies was verkeerd, en voor haar elke Griek wat ooit te vertelle had hase is versigtig, bang, skugter, skaam, lafhartig... noem maar op.
Hulle is nie, hulle is monsters, wrede monsters. En as ek hul dierlike gedrag minder menslik moet betrag, sal ek sê dat hulle dierlike diere soos al alle diere is, dier tot teen die been, in murg ook.
En die mannetjies is soos al ons mans maar is, varke wat aldag en heeldag net die drie v’s op die brein het:  voortplant, vreet, vernietig.
Maar nou kyk al weer menslik na hul gedrag.
Maak ook nie saak nie, want dit is die reine heilige waarheid – onder daardie sagte pelsies en bewerige geaardheid, skuil daar monsters wat net deur homo sapiens geëwenaar kan word.
So kry ‘n oudleerling van 1989 mos ‘n optelhaas uit die berg hier oorkant ons. Maar so moes die haas ook besoek ontvang het, of reeds in die ander tyd gewees het toe my oudleerling haar oor die dierasietjie ontferm het. Want voor my oudleerling iets soos hasie doekvoet kon sê, toe sit sy met 54 hase op haar erf. Die mooiste gesig denkbaar – hulle hop die hele agterplaas vol, een van daardie lieflike groot burgererwe van ouds.
Maar so word haar pa oud, hulle is op dieselfde erf en die tonnelnetwerk tussen hom en sy flottielje wedvlugduiwe word ‘n lewensrisiko. Sy moet van haar hase ontslae raak.
Ek kry die laaste 3. Daar was 4, maar die laaste was blind en baie ouer as die ander; so ek neem hom nie.
Nou met hase werk dit omtrent soos volg – jy moet basies wag tot jy sien wie woeker bolangs en wie gedra haar stiller, voor jy weet wie sit as sy piepie en wie staan.
En so kry ons toe, maande voordat puberteit aanbreek, twee mannetjies en een wyfie. En toe begin dinge by die mannetjies uitsak wat by mannetjies uitsak, maar al waaraan ons dit agterkom is die feit dat die een die ander se lewe hel begin maak: hy jaag die ander een, letterlik van die more tot die aand, en dan deurnag, al in die hok rond.
Die geteikende het geen rus hoegenaamd nie, vanuit die mens se perspektief word hy van die more tot die aand geboelie; dierlik gesproke gaan dit tien teen een oor paringsreg en die klas van ding.
Die ander twee floreer – hulle het vrye toegang tot die kos, die gejaagde word selfs by die kos verjaag.
‘n Tweede hok vir een haas, bou ek nie.
Maar ek is hopeloos te veel van ‘n sissie om die ding nek om te draai as Klaradyn oorkant die pad speel, ek sien nie eers kans om die ding soos ‘n sleg versorger in die berg of onder ‘n brug te gaan stort nie.
En toe kom die lente, die eerste babaduifies in die hok vlieg al, en die hase se hormone skop in hoogste rat en versnelling in.
Vanoggend is daar ‘n gat so groot soos ‘n R5 uit die slagoffer se sy gebyt – jy sien die tandmerke.
En toe ek vanmiddag tuis kom, toe is daar ‘n tweede gat.
En ek kan dit nie toelaat nie.
Ek kan nie.
Ek gaan klop toe by die oudleerling aan om te hoor wie dit is wat destyds meer as dertig van haar hase oorgeneem het, ek moet van die een ontslae raak.
Klaradyn natuurlik in trane, stukkend, rou (heeltemal irrasioneel soos haar pa sal sê).
Sy weet sy moet, maar sy wil nie.
Toe kom die SMS, nadat ons daar was, die oudleerling sal die haas neem.
En wat doen my kind, tussen die trane en histerie deur, sy klim self in die hok en gaan red die haas uit die knaagtande van die ander een. Sy kry die haas in die drahok en gee hom vir my.
Tóé wil ék tjank – so dapper, soveel byt op tande, soveel bewende lip, maar, al is dit nie ‘n lekker ding om te doen nie, dis die regte ding, en sy besef dit al wil sy dit nie besef nie.
Nee, wat, hierdie pa se hart is eintlik te klein of te sag om dit alles te beleef.
Ek is trots.
En ek is weer eens aan die belangrikheid van groot word saam met troeteldiere herinner: dit maak jou groot, help jou en lei jou groot word.
Nou moet sy nog net leer en groot genoeg word om te onthou om die donderse goed kos te gee ook.

Naskrif:
Nie dat dit is dat sy dit nie doen nie, sy doen – sy gee hulle kos. Dis net dat sy dit nog nie vanself onthou om dit te doen nie. Is dit te veel gevra van ‘n agtjarige?
Ek weet nie. Ek het net een, en geen vorige ondervinding nie. Maar dat sy die lieflikste, kosbaarste skat op hierdie erf van ons is, is ‘n feit – vanaand het dit weer eens bewys.
Naskrif (2)
Ja, daar is nog ‘n stertjie – die kind is haar pa se kind. Wat doen sy toe ek wegry? Sy gaan sonder haar af, skryf en teken. ‘n Liefdesbrief vir die haas wat sy bêre. ‘n Prentjie om haar hart stil te maak.
Ek het nou nog teen ons mure die reste van wat ek geteken het toe my gunsteling juffrou, Juffrou Mosterd, in my standerd 9-jaar in ‘n vliegtuigfratsongeluk oorlede is.

No comments: