Ek is ook al een wat nie 'n dag ouer word nie, en jaar na jaar net al hoe aantrekliker. |
Óf jy is een, óf jy is nie een nie; jy kan ook nie soorts van een wees of nie wees nie – jy is dit met oorgawe, of jy is dit met oorgawe nie.
Ek hou met oorgawe van ‘n reünie; of dit nou ‘n skoolreünie of ‘n universiteitsreünie is, die saam kuier van ‘n spul oudkollegas, of saam gesels met die ouens wat saam met jou in die peloton was.
Daarom hou ek ook van begrafnisse – dit is immers die naaste wat families deesdae aan ‘n reünie kom.
Ek hou van familietroues ook, hoewel ‘n mens deesdae op grond van die koste en versteekte onkostes nog die troue by jou verby sal laat gaan.
Ek sal saamkuier met my eerste paar jaar se matrieks, hou hulle die dag ‘n reünie; maar enige iets van na 1995 of 1996 ook nie sommer nie.
Miskien is dit omdat ek graag kuier met die mense wat saam met my oud geword het en nie noodwendig saam met die wat na my oud geword het nie, ek weet nie.
Natuurlik sien ek nog baie van my universiteitsvriende, maar ons het nog net so twee of drie keer ‘n poging aangewend om so vyf of ses van ons tegelyk saam te kuier. Een vet lekkerte.
Die skool het sover ek weet nie op 10 jaar bymekaar gekom nie.
Op 20 wel. En, o, dit was lekker!
Die afgelope naweek het ‘n paar van ons mekaar weer, party vir die eerste keer in 30 jaar, gesien.
En die slotsom: Ek het lekker gekuier op 20 jaar, maar op 30 is dit beslis, wat my betref, lekkerder.
20 jaar na skool is jy nog nie oud genoeg om nie om te gee nie, op 30 jaar is daar niks wat jy meer kan verloor nie. Op 20 jaar is die egskeidings nog te vars, die ongetroudes te veel van ‘n bedreiging vir die getroudes, en verbeel jy jou jy is nog op pad na ‘n kruin toe.
Maar 10 jaar later het elkeen al op die een of ander manier sy gat gesien en geleer om daarmee saam te leef; of dit nou as mens, eggenoot, werker, pa of ma is, dit maak nie saak nie – jy het, as jy gelukkig is, nie meer nodig om voor te gee nie.
En dan kuier ‘n mens net soveel lekkerder.
Ons het nou nie ‘n 10-jaarreünie gehad nie, maar ek stel my voor dat jy jou op 10 jaar seker bykans dood skinder (en te wonder of jy wel die regte vrou getrou het en nie maar tog eerder met daardie seksbom wat tien jaar later steeds nie ‘n dag ouer lyk nie, moes getrou het nie.)
Op 10 jaar is daar seker matriekafskeidbabas, aborsies, opgeskopte universiteitsloopbane, fiskale teleurstellings en ander goed waaroor ‘n mens sou kon skinder.
Ek kan nie juis onthou dat daar vreeslik op 20 geskinder is nie, so hier en daar is iets dalk met ‘n tikkie venyn of lekkerkry gedeel, maar oor die algemeen het die gesprekke om onsself, en om die wat nie daar is nie, gedraai.
Wat het geword van en Wie hoor nog van en Waar is, is inleidings tot bykans elke gesprek.
Die outjies wat nie van reünies hou nie, hou nie van sulke vrae nie en stel ook nie in hul antwoorde belang nie. Maar vir my is dit lekker om te hoor dat sus toe wel met so getrou het, of dat sus en so in Pakistan of op Hotazel sit, of gesit het.
Ek wil ook weet wie is dood en wie nie.
En moenie vir my sê jy het niks om vir die mense te sê nie, jy gesels met jou beste vriende nie 5 of 6, of 7 of 8 ure, só eenstryk deur om nie!
Ek het een skoolvriend oor, en dan is dit streng gesproke nie eers ‘n skoolvriend nie, dis eerder ‘n vriend sedert skooldae – ons was in twee verskillende grade en van hoërskool af, in twee verskillende hoërskole.
Maar dis soos dit is en soos dit hoort – die groot gemene deler tussen skoolvriende en –maats is die feit dat julle in dieselfde skool of klas of rugbyspan is, in dieselfde straat bly, julle ma’s en pa’s vriende is.
Op universiteit brei die groot gemene deler uit – julle deel dieselfde belangstellings en passie, en op die oue einde loop jy die pad enduit met heelwat meer universiteitsvriende as skoolvriende.
En soos party op universiteit vriende maak, kry ander weer daardie gemene en gedeelde belangstelling by die werk.
Kom die kinders die dag, het hulle maatjies weer invloed op jou vriendekring en word enkele van daardie nuwe vriendskappe straks lewenslange vriendskappe.
So terwyl jy nog op skool is, wag daar 20 en 30 jaar later ‘n lieflike verassing op jou – jy gaan lekkerder as lekker en geselliger as gesellig kuier saam met skoolkennise langs wie in twaalf jaar op skool nie eers een enkele keer om dieselfde vuur gesit het nie.
Ja, mense wat geensins op skool maats is nie, kuier 30 jaar later ongelooflik gemaklik en lekker saam – vir daardie naweek of paar uur is die enkele groot gemene deler – ons was saam in die selfde graad in dieselfde skool – só sterk dat dit alle verskille ophef, hetsy nou die verskillende kringe waarin julle op skool beweeg het, of die verskillende rigtings waarin die afgelope 30 jaar julle elk geneem het.
‘n Paar van ons het Saterdag heerlik gekuier, dit terwyl ek in die geselskap van mense was waarvan ek hoogstens die naam vaagweg onthou. En dan verbeel ek my eintlik ook maar net ek onthou die naam.
Op tien jaar vertel jy nie van jou weghol een aand van ‘n ding soos ‘n ouer seun tong wat in die styl van Pinocchio se neus op jou neerdaal nie. Op tien jaar, op twintig jaar, laat blyk jy nie jou vrese en trane en ouers se egskeidings nie. Op twintig bely jy nie dat jy toe maar met C probeer uitgaan het maar eintlik agter B aan was nie. (Toe B nie wou val vir die attensies nie, maar C, haar beste maatjie, wel, toe settle jy wat A is maar vir tweedebeste.) Op 20 is jy nog nie lank genoeg getroud en die kinders nog te klein vir jou om, soos tien jaar later die geval is, te erken dat jy weet jy nooit moes getrou het nie. Straks weet jy dit al, maar jy kan dit nie erken nie.
Dit waaroor jy tien en twintig jaar tevore oor sou geskinder het, het jy nou geen sin in om oor te skinder nie, jy het simpatie, empatie, jammerte, begrip, of ‘n stille onbegrip. Ons het na wat beweer word‘n lief en dierbare mens verhoorafwagtend vir aandadigheid aan ‘n huurmoord. Maar ek ken nie die detail nie; tien en twintig jaar gelede sou ek al die detail gehad het. Dertig jaar later bly jy stil, jy vra nie uit nie, jy is net bly die lewe het ander paaie met jou geloop.
Ek het Saterdag eers gesukkel om geld te trek – die vervoermense staak en 6 kitsbanke was leeg. Toe reeds amper ‘n half uur later as beplan op die hoofweg, sit ek 40 minute in die verkeer vas. ‘n Vassit waaruit ek baie maklik kon omdraai en huis toe gaan – na my vrou en kind toe, na Pappa-Mamma-en-Klaars-tyd toe.En as dit nie was dat ek bang is ek self byt nie vas tot ons oor tien jaar weer so maak nie, en as ek nie seker was dat almal wat Saterdag daar gaan wees, dit beslis nie almal vir nog ‘n ronde gaan maak nie, het ek waaragtig omgedraai.
Ek is baie bly ek het nie.
Ek sal die volgende 10 jaar nie om wens nie, maar weet drie dinge: ek sien uit na die volgende keer, ek hoop nie my draad word voor dan geknip, of iemand rol ‘n klip in my pad om daar te kan wees nie.
No comments:
Post a Comment