Pages

14.10.12

Oor Pettson, Fielies en ‘n sielsvriendin

Protea-boekehuis, so lyk dit my, is besig om Sven Nordqvist se hele reeks rondom Pettson en sy kletsende kat in Afrikaans te vertaal.

Verlede jaar, ‘n dag of wat voor my ma se siekbed en dood is ek inderhaas boekwinkel toe om ‘n Vir-Klaradyn-met-liefde-van-Ouma-Nooi-geskenkie te koop.

Dis toe dat ek op die eerste, en in daardie stadium enigste, twee besluit.

In Klaradyn se eerste boekies het my ma nog met haar mooi sierskrif-handskrif kon skryf, maar die laaste jaar of wat skryf ons maar self: Aan Klaradyn, met baie liefde van Ouma Nooi.

My oë val die laaste jaar op meer as een geleentheid op daardie woorde want ek en Klaradyn raak dadelik verlief op die eksentrieke karakter van ou Pettson; Fielies, sy kat, kom kruip onder ons vel in.

Die verteller in die Afrikaanse vertelling vertel die stories ook so lekker, ‘n mens kan nie anders as om pens en pootjies in die gebeure in te klim nie.

Maar dan luister en lees ‘n mens nie net lekker nie – jy kýk so lekker daarby ook. Sven is immers skrywer én illustreerder tegelyk, daarom miskien dat die storie en die beeld, die verteltrant en tekenstyl so lieflik ontmoet.

Deur die loop van die jaar kom ons agter ‘n vriendin, haar man en die ganse gesin is soos ons net sulke sterk aanhangers van die eensame ou man en sy pratende kat.

Terwyl die kinders buite speel, lag ons grootmense te heerlik (ek hoor weer ons gas en jarelange universiteitsvriendin van onder, diep en laag uit maag en keel lag) om die etenstafel vir die omie en die kat se streke.

En so bring hulle vir my en Klaradyn ook by Pettson op Youtube uit.

Ja, hierdie is kinderboekmense, nog mense wat soos ek die boeke en outeurs en illustreerders gaan google om meer te ontdek, en inderdaad meer ontdek.

En toe, verlede Sondag, loop ek nóg twee in die reeks raak. Fielies raak weg en Pettson gaan kampeer.

Klaradyn klouter saam met Mamma en Pappa op die dubbelbed en voor ons, ons Sondagagtermiddagslapie geniet, het ons ons eerste ontmoeting met twee nuwe stories.

Ek moet die voorlees by herhaling op grond van een van twee redes onderbreek: óf ek, óf Klaradyn kraai te veel van die lag, of ons al twee wil eers net die lieflike illustrasies “lees”, voor ons verder aan die woorde lees.

Die wonderlike samesyn in die geselskap van Pettson en Fielies en die hoenders en die twee husse, ontaard in een van die lekkerste momente wat ons tweetjies in ‘n lang tyd het.

Maandag jaag ek eers Graffiti-boekwinkel, toe reguit na Protea-boekwinkel toe, om vir my boekvriendin ook ‘n eksemplaar van die boeke te kry. Nie vir die kinders nie, nie vir Pa nie, vir háár, spesiaal.

Ek wil haar gee, ek wil haar skenk, gun, presies dieselfde wondermoment wat ek en my kind gehad het, saam met elkeen van haar drie kinders en haar man.

Ek verwoord daarom ook my kaartjie iets soos:  Ek wil jou drie geskenke in een gee. Die minste daarvan is die twee boeke. Groter is die genot en leeservaring om die boeke, die storie en die prentjies self te leer ken; en nog groter as dit, die genieting om jou kinders se genot te beleef as jy dit vir hulle voorlees.

Dit word my hart se wens om dit met my haar te kan deel.

Woensdag maak ek my oë groot toe ek in my vriend en kollega se kantoor sien dat sy vrou se pakkie van die vorige dag nog net so in die kantoor lê.

Maar dit gaan dol in hul huishouding en ek verstaan.

Vrydag bel hy my net na nege die aand.

Ek skrik.

Ons was nie een van die twee die dag by die skool nie.

Hy bel spesiaal om te laat weet dat my geskenk wel, so wil dit voorkom, reaksie ontlok het – die enigste reaksie ontlok het.

Pappa is met al drie kinders hospitaal toe, maar Mamma is onder omstandighede nie tot veel reaksie in staat nie.
En so red Pettson en Fielies gelukkig toe die aand – dis toe hulle haar van die boeke vertel, dat sy inderdaad ‘n glimlag oor haar lippe en in haar gesig kry.

En as sy kon, weet ek dit sou daardie lekker, diep, lank en uitgeregte, kenmerkende lag van haar, die een wat sy lag as sy die dag lekker lag, van onder uit haar keel en maag wees.

Maar nie Vrydagaand nie.

Gister pluk ons blomme in ‘n vriend se tuin om te sê dat ons lief is, blomme om teenwoordig te wees waar dit te privaat en intiem is vir ons om self in die persoon te wees, die onkologiese Mary Potter-vleuel van die Little Company of Mary-hospitaal.

Of sy ooit die lieflike Lemon Verbena en Roosmaryn wat ek saam met die pronk-ertjies, en letterlik die laaste papawer en kamelia van die lente ingewerk het, geruik het, sal ek nie weet nie.

Die SMS het vanoggend deurgekom net voor ek hier bo begin tik het.

Woorde soos vreedsaam en genade en in haar slaap kom daarin voor.

Is dit dan hoe dit is om, nie ‘n boekvriendin nie, nie sommer net ‘n vriendin van 28 jaar nie, maar ‘n sielsvriendin te verloor?

Dit is dan hoe dit is om ‘n sielsvriendin te verloor.

Ja, dit is.

No comments: