In 25 jaar van onderwyser speel (eintlik is dit 37 jaar onderwys, tel jy die 12 jaar agter die banke by) het ek darem al baie maal gehoop en bid die atletiek reën uit.
Vanoggend weer.
Maar dit was die eerste keer dat ek gehoop het ‘n byeenkoms van Klardyn, en nie my eie skool s'n nie, spoel in stormwaterstrome en –slote weg.
En dis nie dat ek nie wil hê hulle moet hol nie, hulle moet; dis net dat ek daar wil kan wees as my eie kind hol.
En dit kon ek nie vanmiddag nie: drie ander verpligtinge,en nog 'n een of ander daarby ook.
Toe dit egter hier teen 12:00 steeds by blote beloftes en vae gerugte van reën bly, toe klim ek met my onbeholpe vingers op die foon se alfabet en SMS my uit twee en ‘n half van die drie afsprake uit. (Ons het die een in topversnelling teen vinnige spoed so in die hardloop afgehandel; vandaar die verlore halwe.)
En dan is dit nou nie dat ek en Annieka ‘n wunderkind, ‘n Jesse Budd of Zola Owens (ja, my sportverwysingsraamwerk is kleiner as my jaarlikse verhoging) in ons midde het nie; dis net dat sy vir haar kleurspan gaan hol, drie keer, en Pappa wil daar wees om dit te sien.
Sy was vierde in haar kleurspan, die Berghane (nogal Mamma se gunsteling roofvoël) maar ek is seker daar is in elkeen van die ander twee kleurspanne seker 8 kinders vinniger as sy.
Maar nie een so gewillig, en dan nog met soveel oorgawe gewillig, soos sy nie.
Die lewe is mos vir Klaradyn ‘n lied, en as drie interhuisitems toevallig drie akkoorde in daardie lied is, dan sing sy uit vollebors saam.
Die helfte van die eerste vergadering na skool het my, ten spyte van ons haas, uit haar eerste item uit.
Ek verneem by Mamma, via selfoon, dat sy nie ‘n goeie wedloop gehad het nie; sy was glo nie deeglik opgewarm nie.
Voor die tweede item verbeel ek my inderdaad ek sien iets wat lyk soos iemand wat iets aan het wat kan herinner aan Klaradyn se t-hemp, besig om strekoefeninge te doen. Maar in daardie stadium is ek meer bekommerd die kind gaan oorkook van al die roomys en koeldrank wat ons tussen die twee items ingepas het, as dat sy enigsins gevaar kan loop van ‘n koue spier wat verstuit.
Ons Moolman het teen daardie stadium in elk geval genoeg spiere vir een dag verstuit – Ma het, nie dat ek kan getuig nie, ek leen my ore aan haar uit, effe onvleiend iewers agter die pawiljoene neergeslaan en haar enkel staan soos ‘n ballon wat enige oomblik kan bars.
Maar dit gaan in die tweede item, gemeet aan die hoor-sê van die eerste, nie te sleg nie; ek oortuig haar sy was sewende en wys by herhaling daarop dat sy meer as een kind in die wedloop verby gevat het.
Dit (sal diegene wat verlede jaar ook hier gelees het, weet) is al ‘n reuse verbetering op 2011 se prestasie; verlede jaar het sy, nogal in die aflos, gewag dat haar maatjies haar eers inhaal voor sy verder saam met hulle gehol het.
Sy het verlede jaar die eerste been van die aflos gehardloop en in die buitebaan weggespring. Om voorsiening te maak vir die kromming van die baan, het sy toe natuurlik etlike meters voor haar ander maatjies afgesak vir die wegspring. En toe haar maatjies eers langs haar is en hulle kan saam hardloop, beteken dit toe dat hulle teoreties (onthou die kromming en die buitebaan) meters voor haar is.
Vanjaar, toe dit weer aflostyd is, sien ek die spanbestuurder het darem geleer uit vorige jaar se fout en sy is nou op die eerste oorgee.
Voor die aflos is daar sprake van nog ‘n roomys en ek ontdek die kerrie-en-rys in die kombuis onder die pawiljoen. Daar is darem maar min dinge so sleg soos slegte, afskeep kerrie-en-rys, by enige skoolfunksie of kerkbasaar. Aan die ander kant is daar min dinge so lekker soos ‘n lekker bakkie kerrie-en-rys op so ‘n geleentheid.
Met die gerugte van reën steeds in die lug, dis lekker bewolk en eerder koud as warm, is dit net die feit dat ek weet hulle gaan my snaaks aankyk as ek nóg ‘n bakkie koop, wat my daarvan weerhou om ‘n derde bakkie te koop.
Met die gerugte van reën steeds in die lug, dis lekker bewolk en eerder koud as warm, is dit net die feit dat ek weet hulle gaan my snaaks aankyk as ek nóg ‘n bakkie koop, wat my daarvan weerhou om ‘n derde bakkie te koop.
Toegegee, ek wil ook nie my aandete bederf nie – die oomblik toe ek my verbeel dis nie meer hoogsomer se hitte nie, en almal beplan om ‘n pannekoekie deur te werk, het my kop ook op kaneelsuiker besluit, maar nie saam met pannekoek nie, saam met melkkos.
Ewenwel, ek (dik gevreet) en Ma (haar voet dik geswel van die neersloeg) val toe iewers tussen ‘n spul oudleerlinge van my, wat nou almal saam met hul 1991-onnie kinders in die skool het, langs haar trek van die baan in. Wat takties gesproke natuurlik ‘n moerawiese fout was, want toe sy ons sien en hoor aanmoedig, toe kyk sy vir ons, glimlag vir ons, en vergeet geheel en al dat sy eintlik met ‘n wedloop besig is. (Gelukkig was dit nie ‘n skoolkonsert en die ban ‘n verhoog nie, want dan het sy nog vir ons gewaai en halo gesê ook.)
Met die oorgee van die stokkie (maar dis ‘n eufemisme – toe sy die kind wat by haar moet oorneem se onderarm met die stok stukkend kap en haar pols boonop in die proses ook ontwrig) verloor hulle nog kosbare sekondes/meters, wat soos minute/kilometers gevoel het.
Maar, ag, dis so lekker! En die dogtertjie op tweede oorgee het dit in elk geval nie eers gevoel nie!
Ek het my aansporing met die “baie maatjies verby gesteek” op die reguit-snol-wenpaal-toe, probeer ewenaar met ‘n verduideliking van hoe sy die afstand tussen laaste en tweede drasties laat krimp het, maar die konsep is vir haar nog onmoontlik om te snap. Ek het probeer.
Nie dat dit nodig was nie. Sy het lekker gehol. Ons het huis toe gery en langs die pad gestop vir koeldrank. Ons moes selfs terugry om die warm ding wat sy aan die oorkant van die veld onder ‘n boom vergeet het, te kom optel.
Maar die belangrikste van alles, die spesiaalste en kosbaarste, spontaan, sonder dat ek dit vra of haar daarna pols, is haar opmerking (die belangrikste van alles, die spesiaalste en kosbaarste, spontaanste, sonder dat ek dit vra of haar pols) toe sy langs my in die motor klim en uit haar eie sê: “Baie dankie Pappa dat jy vir my kom kyk het.”
Ek is nie so nie, en ek het haar nie so afgerig nie. Sy het nie nodig om dit te sê nie, nie vir my nie, vir ‘n ander tannie beslis, maar nie vir haar pa nie...
En tog: : “Baie dankie Pappa dat vir my kom kyk het.”
Vir daardie paar woordjies sit ek volgende jaar weer daar, ry ek trouens skelmpies ‘n periode of wat voor die tyd by die skool weg en hoop die hoof vang my nie uit nie.
No comments:
Post a Comment