Pages

3.11.12

Kaskar 2012


Laerskool Voorpos in Waverley, Pretoria, se graad 2’s het ‘n vreeslike lekker week gehad – Woensdag was hul jaarlikse entrepreneursdag, en Vrydag die ewe jaarlikse kaskarwedren. Met die eerste maak hulle geld vir hulself; met die tweede samel hulle geld vir die skool in.
Annieka, vermoed ek, het haar misreken met hoeveel méér rondes as die vorige jaar, ‘n spul graad 2-leerders en hul ouers kan stoot. Ek dink ook daar was meer belangstelling en stoters en ouers en aanhangers uit graad 2S vanjaar, as wat daar verlede jaar uit graad 1-muisklas was.
En dan vermoed ek die skool het, na verlede jaar se kaskar wreed uitgereën het, besluit om vanjaar vir verlede jaar se verlies op te maak deur die baan vandeesjaar ‘n goeie 25% kleiner as in 2011 te maak.
Hoe dit ook al sy, die Wriemels (dis hoe Klaradyn-hulle se klas vanjaar bekend gestaan het) het gisteraand  214 keer in die rondte gegaan en die Moolmans word gevolglik vir ‘n hele paar honderd rand meer as in die verlede aangeslaan.
Maar, soos my oorlede pa altyd gesê het, dis vir ‘n verdienstelike saak;  soos my oorlede mammie altyd gesê het, in for a penny, in for a  pound; soos ék altyd sê, ag, wat – dis een groot vet lekkerte, en soos wat Annieka altyd sê:  werp jou brood op die water...
Verlede jaar het ek die fout gemaak om te vergeet dat ek, al voel ek elke dag net so oud soos die ander graad 1-pappas, ek ‘n goeie 10 na 15 jaar ouer as hulle is. En terwyl elkeen van hulle wat so lekker hol, in matriek nog vir die eerstespan rugby gespeel het en steeds twee keer ‘n week gimnasium toe gaan om fiks te bly, het ek, eenmalig, in standerd 3 rugby gespeel, en iewers, net so eenmalig, in my eerste jaar op universiteit saam met Riaan na die dorp se trimpark gegaan, en nog nóóit óóit weer nie.
Ek het ook vergeet dat my maag my broek van nature ondertoe druk, trouens, met klas- en kar- en huissleutels in die een sak, en ‘n beursie dik aan munte in plaas van note, gaan die ganse broek teen die eerste draai al, ten aanskoue van ‘n hele laerskool se ouers, op die grond beland, ás ek hom nie al die pad met die een hand vashou nie.
En so is ek met die een hand voor aan die kaskar, en die ander hand agter by die broekrek rond, ‘n keer of wat om die baan. En dit terwyl dit vinniger sou gegaan het as ek met my grote lyf óp die kaskar gesit het en die twee graad 1’s my gestoot het.
Gevolglik, toe die Juffrou Woensdag vra of ek of Annieka die rondeteller nie in ‘n stadium wil aflos dat sy gou ‘n draaitjie kan loop nie, toe willig ek dadelik in.
Straks het ek so gou en begerig ingewillig om te tel dat die juffrou die idee gekry het ek sal sommer die heeltyd tel, wat toe ook gebeur het – ék  is halfpad deur die aanvanklike rondeteller kom aflos vir ‘n pie-pie en om gou iets warms in die kar te gaan haal.
Wat ook maar beter so is, die vriendin wat sou rondes tel is ‘n selferkende aandagafleibare kletkous van ‘n babbelbek, sy sou net so hier en daar, hoogstens elke tweede of derde ronde, al geselsende geregistreer  het.
Sy het vir ons klas veel meer tussen die kinders in die kuipe beteken as agter ‘n tafel, ‘n velletjie papier en ‘n potlood aan die oorkant van die baan.
En ek kon weer veel meer beteken aan die oorkant as daar anderkant by hulle, of erger nog – óp die baan en óm die baan met my een hand agter en die ander voor.
Nou kyk, selfs al hét ek, soos my voorgeslag, self wintersoggens moes skool toe stap, en dit kaalvoet met net vars beesmis waaruit die hitte nog opslaan om die koue, kale wintervoetjies plek-plek in te verwarm, sou dit nie so erg gewees het soos wat Klaradyn dit in haar tyd en dag het nie.
Soggens, wanneer haar maatjies nog ‘n halfuur en ‘n uur langer en later in die bed lê, trippel sy al motor toe om by Ouma afgelaai te word. Voor 06:00 dat sy en ma smorens hier wegry, sodat , Ma betyds vir haar 06:45 oggendvergadering kan wees.
Gevolglik nie elke oggend met ‘n jubelkreet dat Klaradyn wakker word nie (sy wórd trouens bykans nooit wakker nie, sy moet wakker gemáák word). Vandeesweek het sy egter twee keer, vanself, vroeg, wakker gewórd. En dit elke keer, nie net met ‘n lied in die hart en lag op die lippe nie, maar met ‘n jubel uit die keel daarby. Woensdag was dit ‘n luide “ENTREPRENEURSDAG”  wat my en mamma kamer toe laat hol het om te sien die meisiekind is wakker. Vrydag is die dag met ‘n “KASKAR!” oor die lippe aangegryp. Ons praat van iewers knap na 05:00.
Dis nou die volgende oggend, op die kop 08:00, en sy slaap steeds ‘n barshou. En dan is Klaradyn iemand wat, vanweë haar ongewone normale oggendroetine, nie sommer Saterdagoggende tot veel later as 07:00 kán slaap nie.
Dit getuig egter alles van watter heerlike dag die kind gister gehad het, as ek maar weer sien, dan is dit Klaradyn agter die stuur op die kaskar self, of Klaradyn wat die stoot- en holwerk help doen.
Toe sy die eerste keer omkom, merk twee tellers rondom my op dat ons tog moet raaksien hoe vreeslik dáárdie betrokke dogter in kaskar 7 dit geniet. “Dáárdie dogterjie” is toe, sonder dat hulle dit weet, mý dogter. En sy wás ‘n gesig om te aanskou – die ene gefokusde, uitgelate,  pret en plesier en opwinding en adrenalien en noem maar op.
Daarom ook dat ek met grootse trots onmiddellik vaderskap erken en bely en aanvaar het.
Ek sal betaal om my kind volgende jaar weer so gelukkig te kan sien.
Ek gáán tien teen een betaal   in graad 3 is dit seker nóg 50 rondes meer. Maar, ag, wat, ek gee  nie om nie, dis een groot vet lekkerte en net ‘n plesier.
Mamma het terug van waar die werk haar Johannesburg toe had, deur die loop van die  wedren by ons aangesluit. Maar ek het gemaak of ek haar nie eers sien nie, netnou wil sy kom tel sodat ek kan gaan hol. En dan moet ek my eersteklas, prima, sitplek prysgee! Daar is mos nou nie ‘n manier nie.
Verlede jaar, toe die aand so kwaai en met soveel donder en blitse en sluise en strome uitgereën het, dat die graad eentjies nog vir weke bang vir die weer was, is ons huis toe na ‘n kragonderbreking en aandete met vriende by gedwonge kerslig.
Vanjaar het die aand op die een se verjaarsdag geval, so ons is droog en in een stuk na ‘n verjaarsdaggeselligheid toe. Dit was vreeslik gesellig – drie maatjies en hul ouers – elkeen immers soos ‘n resiesperd wat pas ‘n wedren voltooi het en koudgelei moet word.
Tot ounag toe, dagbreek toe, kón nie een van ons nie, ons was net eenvoudig te moeg. Klaradyn het by die eerste stopstraat, letterlik in die middel van haar sin, aan die slaap geraak toe ons, en die koffiekoppies was nog nie eers ordentlik koud nie, daar wegry.
En hier is dit al 08:21, my storie is uitgeskryf en die kind slaap nog steeds! Dis ‘n rekord vir haar.
Mamma is al douvoordag op en uit werk toe.
Vir my sou dit self beter gewees het as ek agter die skoolwerk en nie agter die rekenaar ingeskuif het nie. Ook nie dat ek ágter hom ingeskuif het nie, eerder ónder hom in – ek lê op die naat van my rug met my skootrekenaar op my boepens en tik.
Miskien, volgende jaar, is die boepens weggewerk, afgewerk, en hoef ek nie weer rondes te tel nie, maar hol ek saam.
Soos ‘n wafferse 26-jarige wie se matriekafskeidbaba al in graad 3 is, en nie soos ‘n 48-jarige nie.
Sal dit nie lekker wees nie!
Want volgende jaar, as ons nog leef en ons is uitgespaar, dan maak ons weer so, Pappa en Mamma en Klaars. Ouma, Oupa, Oom Schalk, Tannie Vicki, Phil, Ilze, Petri, Tessa, Carel, die hele spul van ons.
Want die lewe is lied, die notebalk lê voor jou oop en uitgestrek, maar jý moet die note, die melodie, die toon, tempo en die ritme self voorsien.

No comments: