Ek het ‘n ruk gelede die naaste wat ek nog ooit gekom het aan bobotie soos Leipoldt dit gemaak het, gekom.
Maar dit het ‘n lang pad gekom.
En daarvan hét ek al vertel, maar dit is voor ons die slothoofstuk, die klimaks, die tikkie hemel op aarde van ‘n week of wat gelede, beleef het.
Sien, ek en Annieka was nog aan die opsit toe ek die moeilike tannie en oom wat sy as Ma en Pa aanspreek, wou beïndruk.
Met Rembrandt-aandele kan ek dit nie doen nie.
Ook nie met staaltjies oor die dae toe ek en Joost saam vir die skool se eerstespan uitgedraf het nie.
Al wat daar vir my is om indruk mee te maak, is kosmaak.
Die lot val toe op bobotie.
Hoeka ‘n ou laai van my.
Dit was immers die jaar 1989, ‘n goeie sewe of agt jaar vroeër, toe dit alles begin het.
Hans is pas met universiteit en twee jaar in diens van die SAW & Seuns klaar. Ek’s bo in die lug in ‘n bachelor’s flat met ‘n kombuisie kleiner as my huidige badkamer.
Synde ‘n laat-laatlammetjie (my broer was in standerd 8 toe ek die eerste lewenslig aanskou het) was dit nogal ‘n okkasie toe hy, sy vrou en kinders vir die eerste keer op ‘n Sondag, al die pad van Johannesburg af, by my in die eertydse Petoorsdorp kom eet.
Ek besluit op geelrys en bobotie. (In ons huis was dit geelrys en rosyntjies; ons het nooit van begrafnisrys gepraat nie.)
Bobotie en geelrys behoort fieterjasierig en verwikkeld genoeg te wees vir so ‘n historiese moment.
(Wat is dit met my, geskiedkundige gebeurtenisse en bobotie? Ek en Annieka sou 21 jaar later bobotie op ons bruilofspyskaart ook hê?)
Twee kookboeke het ek destyds gehad. Die Kook en Geniet wat Boeta-hulle my namens die twee kleintjies as mondigwordingspresent gegee het (Dear Hansie, Happy 21st Birthday. Love Joanne. Love Marc —onderskeidelik in ‘n graad 1- en standerd 1-handskrif). En Huisgenoot Wenresepte 2, wat ej begin ’89 toe ek huis opsit, van Judy gekry het. (In die mooiste sierskrif hierdie keer: Hans Moolman Feb 1989, op die skutblad se binneblad; Oubaas, geniet jou bak en brou!! Liefde Judy, ‘n entjie dieper in op die titelblad.)
Wenresepte sal dit dan wees. Pagina 112
Op pagina 112 het Huisgenoot twee bobotieresepte. ‘n Droëvrugte-bobotie, en neffens hom een wat aan Tini Vorster, voormalige Premiers- en Staatspresidentsvrou, toegedig word.
Vrydag na skool koop ek aan.
Saterdag na wintersport berei ek voor.
En Sondag, loop alles volgens plan, eet ons.
Gelukkig (ongelukkig?) is ek nie bang vir improviseer nie. As daar plek is vir droë-appelkose, droë-appellringe en rosyntjies; waarom nie daarby ook droë-perskes en ‘n dadel vir die soet nie?
Een keer in my lewe het ek geblikte chestnuts gekoop. So ‘n maand of wat tevore. Oor ek wou proe hoe dit proe. Nodeloos om te sê my bobotie het chestnuts en amandels ook ingekry.
So dis nie dat ek bang is om te waag nie. Dis net, toe ek die tweede keer kerriepoeier moet byvoeg, dat dit nie vir my sin maak nie. Ek dog eers dis vir die eier, maar nee, daar staan dit — dit moet ook in die vleis. Miskien was die borrie vir die eier, maar nou sê tannie Tini skielik niks van borrie nie. Ek het tog al borrie bygegooi.
Maar dis eers toe ek wonder of suurlemoensap en asyn nie dieselfde werk verrig in ‘n resep nie, dat ek snuf in die neus kry — in my angstigheid en spanning het ek dan links gelees en ingegooi, en dan weer regs, en ingegooi. Nadat ek soorts van tot verhaal gekom het blyk dit ek nou net mooitjies alles van beide resepte saam in een bak het. (Met dan nog my talle eie minder tradisionele bestanddele, daarby.) En dis, besef ek toe, hoekom ek nie juis melk oor had om met die eiers te meng, nadat ek die geweekte brood daar uit gelig het nie — ek het die een resep se min melk, by die ander resep se meer brood gegooi.
Maar dit was ‘n treffer!
En tot vandag toe, kan ek nie bobotie maak, daaraan dink of daarvan praat nie, sonder om nie tere herinneringe aan daai eerste bobotie van my te kry nie.
Later jare sou ek by ‘n puris soos Peter Veldsman, of miskien was dit Leipoldt homself, lees dat bobotie slegs bobotie is, as dit van skaapvleis gemaak word.
(Dis glo ook so met sosaties wat kebabs/kabobs word, die oomblik wat jy skaap verruil vir bees of vark, selfs die oomblik as jy allerhande ander fieterjasies soos pruimedante of nuwerwetse peppadews, in plaas van appelkose, inryg.)
Maar Leipoldt se bobotie is ‘n vertelling op sy eie:
Ek’s nou al mooi groot en wil, soos reeds gesê, die girl wat later my liewe vrou sou word, se ouers beïndruk.
Ek het (daardie jare was Leipoldt se resepteboeke nie soos vandag agter elke klip uit te skop nie) pas ‘n verslete aankoop van een van sy ou-ou boeke gemaak.
En, soos ek later sou agterkom eie aan hom is, gee die man nie ‘n enkele resep puntsgewys en klinies nie, nee, hy vertel hom skrywendergewys, al geselsende, en jy verlekker jou in die lees van kulinêre prosa.
Geen Huisgenoot se Wenresepte of Kook en Geniet nou vir my nie. Dankie maar nee dankie; ons eet aan die voete van Gamaliël.
Gamaliël kos my ook soek om ‘n slagter te kry wat skaapvleis vir my sal maal.
Slagters se meulens is mos deesdae so fancy dat my kilogram skaapvleis nog in die meule se derms vassit as die laaste paar honderd gram al klaar by die bek ingeprop is. Nou moet jy die skaapvleis aanjaag met nog skaap van bo, om iewers ónder die kilogram of wat maalvleisies op te vang. En dan sit hulle met nog twee kilo’s skaapvleis in die binnewerkinge van die masjien, wat hulle nie verkoop kry nie. Lang storie.
Maar ek het my gemaalde lamsboud gekry; by die Oosterse Plaza het ek selfs tamaryn loop kry om my bobotie outentiek en sonder asyn te maak.
En daar gaan my bobotie onder luide fanfare die oond in. Die jong dame het vlinders in haar oë en skoenlappers op allerhande ander plekke. Haar ouers lyk ook ingenome. My hart klop.
Maar toe ek die bobotie uithaal na die tyd wat Leipoldt ons aanraai om dit uit die oond te kry, toe is my bobotie skaars gestol.
Toe ons die skottel uiteindelik gaar het, toe is dit so droog soos laasjaar se wildsbiltong wat buite bly hang het.
Dis eers ‘n jaar of wat later, toe my versameling Leipoldt-boeke aansienlik uitgebrei het, dat ek lees bobotie is tradisioneel van gemaalde skaapboud gemaak.
Maar dis nou nie gemaalde skaapboud wat die slagter vir jou maal en afweeg nie; dis die skaapboud wat oorgebly het van Sondag se middagete.
Die goed wat Leipoldt oond toe gestuur het, was gare gemaalde left overs!
Leipoldt het aanvaar ons weet dit, en gevolglik niks daarvan in sy eerste vertelling rondom bobotie genoem nie.
Nou vra ek jou – wanneer moet ek, bróódwinner en nie gemesde-kalf-winner nie, vandag se dae genoeg oorskiet skaapboud hê om regte egte bobotie van te maak?
In die vyftien jaar sedert ek agter die kap van die byl gekom het, het ek nog net hoogstens vyf keer skaapboud gaargemaak: twee boude van ‘n ooi wat ek present gekry het, een vir ‘n Kersete en twee ander waarvoor ek oë moes toe en beursie oop omdat ek dit by Woolworths gekoop het.
Maar so word die einste tannie wie se guns ek destyds probeer wen het, vandag al vir jare my skoonma, toe mos nou die anderdag 70.
En daar word ‘n skaap op die spit gebraai.
Maar saam met die skaap ‘n spul hoenderkabobs daarby.
Die gevolg is dat daar die einde van die aand van die skaap oorbly. Die spyseniers laat dit vir ons in ‘n skinkbord agter toe hulle met die vuil borde, glase, messe en vurke vertrek.
Toe wil niemand die oorskietvleis hê nie. Behalwe nou ek. Maar toe ek terugkom na ek iets in die motor gepak het, moet ek hoor die vleis gaan nou vir die motorwag gegee word. Toe maak ek maar my stem dik en sorg dat die oorskiet waarop almal nou so neersien uit die motorwag se mond, in my kar se kattebak kom.
En moet asseblief nie vir een oomblik dink die man het nie reeds meer vleis weg as wat ek en my familie sáám die aand geniet het nie, hy hét.
En die volgende dag toe maal ek net so oor die twee kilogram se gare skaapvleis, twee keer en mooi fyn presies soos Leipoldt vertel.
Die appelkose wat oorgebly het van my verjaarsdag se sosaties, sommer ook ‘n stuk vrugterol waarin Klaradyn geen sin het nie, word ook deur die lemme gestuur.
Ek gaan koop amandels en pluk suurlemoenblare om te posisioneer.
Ek week met liefde in melk, speel met borrie en werk alles sagkens in...
Dit stol en set in net mooi die tyd wat Leipoldt voorgestel het.
Dat ek nou vir 47 gedink het ek eet bobotie, sonder dat ek ooit ‘n enkele keer bobotie geëet het. Hoeveel keer het ek nie vleis en geurmiddels en korente en amandels saam in ‘n skottel gefoeter en dit bobotie genoem nie! Ek was verkeerd. Totaal en al verkeerd.
Wat geur betref, is dit natuurlik dieselfde. Maar wat tekstuur betref, kan selfs die gemaalde skaapvleis wat ek deesdae eers braai voor ek die bobotie daarvan meng, nie by hierdie dis kers vashou nie.
Dis ongelooflik anders en onverbeterlik!
Ek kan my in my wildste drome nie voorstel dat ek ‘n Woolworths-lamsboudjie gaar sal maak en opmaal tot bobotie nie. Maar miskien net slag iemand iewers ‘n ou ooi wat jy present kry. Miskien dalk net bly daarvan genoeg oor om deur die vleismeul te stuur.
Probeer dit gerus, daar gaan ‘n nuwe wêreld, ‘n stuk Suid-Afrikaanse kostradisie en –geskiedenis, vir jou oop.
No comments:
Post a Comment