Pages

15.11.12

Waarvoor wens jy


Ek soek ‘n kragpunt vir die rekenaar. Die battery is so te sê gedaan. Ek en Annieka moes ons middae saam met Klaradyn omruil en vir die tweede of derde keer hierdie jaar is dit ék wat ‘n uur in die motor voor die kunsklas moet deurbring. Ek eindig op in die lugversorgde ateljee waar Klaradyn en die res een maal ’n week vir ‘n hele uur lank hul kunsklas het.
Vandag se les, na die papier uitgedeel en die verf verdeel is, begin met ‘n eenvoudige vraag:  “Sê nou jy kon wens, waarvoor sou jy wens?”
Klaradyn antwoord heel eerste van die vier kinders:  “Ek sal wens ek verloor my allergie vir katte.”
“Mooi,” kom dit dadelik van die kunsjuffrou, “dan kan jy vandag ‘n prentjie skilder van jouself met ‘n kat.”
Is dit nie ‘n lieflike vertrekpunt vir ‘n kreatiewe uur nie!
Iemand anders is besig met ‘n tier of luiperd, en ‘n ander met ‘n Ferrari.
“Jy moet net dink wat jy graag wens, en dit dan teken of skilder.”
Ek noem dit ook nou “kunsklas” maar dis tegelyk meer, én minder, as die tradisionele kunsklas.
Minder, omdat jy nie hier ‘n tegniek oor en oor doen tot jy dit reg doen nie – dis geen gestruktureerde kunsklas met lesse en sillabusse, assesseringstandaarde en werkskemas nie.
Meer, omdat ‘n vaardigheid en tegniek nie al is wat die kinders oefen en ontwikkel nie, maar ook:  selfvertroue, waagmoed, vrymoedigheid, laterale denke buite die boksie, dissipline, selfdissipline. En nog baie meer, ook goed waaraan ek nie nou eers kan dink nie.
En dit alles op die maat van die allerlieflikste musiek en in ‘n ontspanne, dog beheersde en beheerde atmosfeer.
En daar, my merkwerk veilig in die motor toegesluit, konfronteer ek myself toe óók met die vraag:  “Waarvoor wens jy?”
Wanneer laas is ek met so ‘n vraag konfronteer, óf deur ‘n ander, óf deur myself?
In geen jare nie.
Maar erger as dit, is die feit dat ek nie dadelik, summier, soos Klaradyn netnou, ‘n antwoord gereed het nie. Nie dadelik en summier, soos in ‘n dinkskrum nie; ook nie na minute se nadenke nie. En tien minute later steeds nie.
Waarvoor wens ek? Waarna smag ek, hunker ek? Waaroor, waarvoor droom jy, Hans Moolman?
Daar is nie iets nie. Niks.
Is ek so afgestomp?
Of is ek so gelukkig?
Is ek dalk so tevrede?
Maar is tevrede, selftevrede en selfgenoegsaam, nie maar presies dieselfde as afgestomp nie?
Soos ‘n bok of ‘n buffel, ‘n wildebees of selfs ‘n baba olifant, soms in modder vasgevang, vas- en ingesuig word, is ek só vasverstrengel en tot my ore toe toegeslik in suburbia en grootmenswees dat ek die vermoë om nog te kan wens vir iets, heeltemal verloor het?
Wat sal ek skilder as die kunsjuffrou in my lewe my vandag, doelgerig en stip, gevra het waarvoor ek wens? Wat sal ek teken?
Of gaan ek bly sit met ‘n wit vel papier.
Ek hét gewens, ek hét gehoop. So onlangs soos drie of vier jaar gelede nog. Vir ‘n groter gesin.
En seker ander goed ook.
Wat ek nou nie eers meer kan onthou nie.
Maar die tweede kind en die ander goed waaraan ek nou nie eers kan dink nie, wat ek nou nie kan oproep nie, is meer dood as my ma, leef minder in my gedagtes as sy waarsonder ons nou al ‘n tweede Kersgety en Nuwejaar ingaan.
Ek weet baie goed waarvoor ek nié wens nie. Ek wens nie vir meer geld, ‘n ander werk, ‘n ander kar, ‘n ander huis, ‘n ander vrou, ‘n ander kind nie. Nie ‘n ander dorp, ‘n ander voorstad (suburb?) nie. Selfs nie eers net ‘n ander roete, pad of straat winkels, kerk en werk toe nie.
Miskien sal ek dan maar ‘n dakwaaier skilder.
Want as ek dan nou iets móét wens, dan is dit hierdie tyd van die jaar miskien dat iemand ‘n dakwaaier vir elke vertrek van die huis sal skenk.
Maar ek sal dit self koop ook – dit gaan nie oor die aanskaf of verwerf en geld uitgee nie; ek soek dat dit by magic ingesit moet word. Ook nie deur die tuinier nie. Hy ís ‘n meesterlike elektrisiën, maar ek soek hom nie om dit te doen nie – ek sal hom moet help soek na skroewedraaiers en insulasieband, ek sal lere moet help vashou.
En daarvan wil ek niks hê nie.
Daarom dat ek daarvoor wens.
Waarom dan vir dakwaaiers (wat hét van jou geword, Hans Moolman) waarom nie wens vir ‘n elektriese lugeversorgingsisteem dwars deur die hele huis nie, selfs extractor fans bo die stoof en in die badkamers nie?
Maar so sterk is my wens ook nie, dat ek dakwaaiers se lemme sal wil verf nie.
Ons leef nou agt jaar sonder ‘n waaier in elke vertrek; ons kan netsowel die volgende 15 jaar so voortleef. Die volgende 20 of 30, liefs 40 en 50.
En so tussen die tik en musiek deur, die kinders, kwaste en Tannie hier en Tannie daar, weet ek nou skielik presies wat ek sal skilder, boring, maar dit sal so lekker wees:
Pappa, Mamma en Klaars.
Klaradyn miskien slapend op my skoot, soos gisteraand by die laerskool se Kerssangdiens (soos ek my voorstel die kat op háár skoot in haar kunsklasprentjie sit). Sit Annieka nie langs my en Klaradyn se bene lê oor haar skoot nie (miskien het die kind so oor ons al twee aan die slaap geval) dan staan sy agter ons, haar arms beweeg na onder uit om ‘n driehoek te vorm.
Nie ‘n driehoek nie, vlerke van ‘n moederhen. Van ‘n engel.
Maar sukkel ek om dit te teken, dan verf ek ons in die swembad, soos so dikwels:  Klaradyn op my skouers gereed om af te spring, Mamma op haar helderkleurige opblaas-swembadstoel.
Nou vra jy miskien waarom ek vir iets wens wat ek reeds het, wat ek so onlangs soos gisteraand in die bedompige skoolsaal gehad het, gister agtermiddag in die water had.
My wens is nié om dit te hê nie, ek het dit in oorvloed; my wens is om dit te mag behóú.
Solank dit menslik en sterflik, misdaadlik en gebrokewerklikheidlik moontlik is.
Vir die volgende 20 of 30, liefs 40 en 50 jaar.

No comments: