Pages

7.12.12

Vat vyf

As dit soos fietsry is, sal ek dit seker regkry; is dit meer soos ysskaats, is ek nie helemaal so seker nie. (Ek het mos so jaar of wat gelede met Klaradyn gaan skaats, maar dit waarmee ek die omstaanders vermaak het, is nou nie juis iets wat nog as ysskaats kan deurgaan nie.
Daar het so baie gebeur sedert ek laas tyd kon maak om agter die sleutelbord te gaan sit, ek voel nie net verroes nie, ek beleef myself vasgeroes.
 Het ek in ‘n stadium ‘n blog bygehou? Kan nie wees nie.
Ek kan nie eers onthou waarby ek alles nie uitgekom het nie, wou uitkom nie.
Die hittegloed wat my hierdie week by herhaling oorval het, voel ek as het ware nog aan my bas, haut na, en is miskien ‘n goeie begin.
Ek kan mos nie na Rodriguez luister sonder om nie onmiddellik onverbiddelik warm te kry nie. Summier. Elke keer. Ongemaklik warm. Krapperig warm. Vreeslik, baie warm.
Drukkend warm. Selfs neerdrukkend warm.
Die beddens het aanvanklik teen asbesmure moes staan. Daar was nie glas in die ruite nie, maar gaas. En klim jy saans lank na sononder op die bed (ja, op, want in of onder die komberse het jy selfs in die winter nie eers oorweeg nie) dan gloei jou kussing, die krappige kombers én die donkerbruin laken teen jou ewe gloeiende lyf. In die onmiddellike omgewing van die muur kan jy nie kom nie, hy gloei ook. (Smiddaes kan jy aan die einste muur ook nie eers raak nie – dan brand hy vir jou.)
Iewers in my tweede jaar is ons bevorder na hout bungalows. Dit was nog snikkend warm, maar danksy die bome tog marginaal koeler. (Nee, koeler is ‘n te sterk woord, kom ons maak dit eerder marginaal minder drukkend warm.)
Nou, in die houthut, was daar ‘n opvou-ystertafel teen die muur, ‘n ammunisiekis bo die tafel aan die muur  vasgespyker. (Ek soek al van gisteraand na my fotoalbum om te kan illustreer ook, maar kon dit nog nie opspoor nie.) Dit moes dien as boekrak.
Maar ek onthou naas ‘n biografie van Nelson Mandela en ‘n selfs nog meer polities uitdagende boek wat deur die rysmiere opgevreet is, nie enige ander boeke in die rak nie.
Ek onthou wel die kassette wat die boekrak volgestaan het.
Kassette want dit was 1987 en CD’s ‘n relatiewe nuutjie.
Dit was 1987 in die Caprivi-strook, op die walle van die Okavangorivier, en al wat daar was, was musiek.
Van die PF’s het televisie om video’s te kan kyk gehad, maar troepe vleg nie sommer piel met PF’s nie. Ja, ek kon gesê het dat die staandemaglede en nasionale dienspligtiges nie sommer gemeng het nie, maar dan was dit nie 1987, die bosoorlog en versoekprogramme met boodskappies vir die troepies op die grens nie. Dan was dit nie ek wat wag vir my min dae om aan te breek nie, smag om weer op civvie straat te kan beweeg nie.
En, in elkelkgeval, ek het uit respek vir wonderlike PF’s wat ek wel leer ken het, nagelaat om te laat val dat die meeste van die video’s blou movies was wat met flossies van die states opgevlieg is grens toe. Hierdie een stukkie bar moet my daarom ter wille van outentisiteit vergeef word. Wees verseker dar is veel meer bar wat die liggeraakte leser gespaar word.
En al was dit miskien minder warm in die hout rondawel, voor ek vergeet, was dit nog net so krapperig, army-gryskombers-krapperig. Letterlik. Daardie ystertafel het so sonder glas in die vensters vreeslik stof vergader. Ons was ses jong mans, en selfs al was ons ses jong dames (na die SAVLKOL-meisies is daardie jare ewe bar as staatsmatrasse verwys) sou ons waaragtig steeds nie met ‘n tafeldoek uitgeryk gewees het nie.
My kamerbuddy kon nogal netjies wees as hy dag wou, maar vir elke dag se afstof het hy nie kans gesien nie. Gevolglik moes ‘n grys kombers as tafeldoek dien, ‘n tafeldoek suiwer om die stof te absorbeer. En so elke twee of drie weke, of so, as ons altwee hooikoorsaanvalle begin kry het, het ons die kombers gelig en van die ergste stof ontslae geraak. (Waar is my fotoalbum tog!)
En dís hoekom Rodriguez warm én krapperig is.
Percy het ‘n blink ghetto blaster van Windhoek gebring en hierdie ding het op die ystertafel gestaan. Daar het ons gesit en musiek luister. As die kombers nie jou arms gekrap het, dan wel jou bene as jy agteroor op jou stoel gery het, jou pote en bene op die tafel.
Dan onthou ek konflik ook. Want daar was twee ghetto blasters in die bungalow. Agter die tamatiekasplankies van die skeidingsmuur was Peet se blink geraasmaker. O, hemel en Peet was in dit wat as high energy bekend gestaan het, high energy  en boy bands en alles wat gemors en irriterend is.
So van die een kant is dit club music; van ons kant Rodriguez, Tracy Chapman, Koos Kombuis alles wat die buurkamer grensloos sal irriteer. Maar dis nie al nie, uit die bungalow links kom ook twee stelle klanke, en van regs nóg twee. Onder andere Gawie se Smokey en die pastoor se gospel.
Kakofonie in die ergste graad.
Dat ons nie met die vuiste onder mekaar ingeklim het nie, is, in retrospeksie, ‘n wonder.
As dinge te veel geraak het, die mure te eng, die ruimte te knap, die verlange te veel, dan is ek af rivier toe. Van die mees surrealistiese herinneringe wat ek van die Okavangorivier het, is ek op die boot wat teen die wal aangemeer staan. Die son sak prentjiemooi-oranje oor die rivier, die bos en Lala-palms aan die oorkantse oewer swart afgeëts, en in die water die donker silhoeëtte van ‘n hele trop olifante, seekoeie wat op een van die eilande uitbeweeg om te gaan wei. Vivali, oorverdowend in my ore.
Ja, Vivaldi.
En ja, oorverdowend in my ore, in my kop, in my murg en bloed en been, dawerend, sidderend, polsend deur my skedel.
Ja, dit was nie net die dae van tapes  nie, dit was ook die dae van walkmans. Ek is op grens toe met ‘n walkman.
Solet, geseënde vrou wat sy is, geseënd ook tot in die derde en vierde geslag omdat sy dit vir my gedoen het, het vir my ‘n troepiepakkie gestuur met ‘n Vivaldi-musiek op, onder andere sy Gloria. En daar, kruisbeen op die boot, met die son wat oor die Okavango sak, het Barok en Afrika ongelooflik lieflik piel gevleg tot die maan lankal op, en die sterrenaghemel verblindend geskitter het.
Dis miskien hoekom ek nooit nodig had om my weeklikse malariapil fyn te maal en ‘n white pipe van derderangse dagga wat volop was, te maak nie – ek het Solet se Vivaldi gehad om my weg te vat, ver weg te vat.
O, en dan was daar Suster Sakkie wat in alle opsigte ‘n hawe was. Haar deur was altyd oop, of sy by die werk, op Rundu of in Windhoek was. En sy had ‘n platespeler.
Dis 25 jaar later en ek kan steeds nie na ‘n opname van Schubert se Sanctus uit sy Deutsche Messe  luister, of die vertaling sing, sonder om nie aan Sakkie se opname te dink en daarna te verlang nie:  Heilig, heilig, heilig, heilig ist der Herr! Heilig, heilig, heilig, heilig ist nur Er! Er, der nie begonnen, Er, der immer war, ewig ist und waltet, sein wird immerdar. Heilig, heilig, heilig, heilig ist der Herr! Heilig, heilig, heilig, heilig ist nur Er! Allmacht, Wunder, Liebe, alles rings umher!Heilig, heilig, heilig, heilig ist der Herr!
Ja, daar was ander mooi, ander baie mooi, maar die speler se naald is deurgespeel aan daardie betrokke snit. Kruisbeen nie op die dek van die boot nie, maar kruisbeen in Suster Sakkie se stoel.
Die laaste snit wat in my onthou maal, gaan kuier ek in die weermagverlede, is een wat my deesdae so een keer ‘n jaar in trane kry:
Hierdie dag belangrik my lief
Die foto's in my hand 'n ope brief
Hier was jy nog in die gradeklas
Klein haasbekkie met handjies skoongewas
Hier's jou kleinboet hy kon jou so pla
Geduld word mos van ma's gevra
Hier jou matriekafskeidsdans
Jou rok so mooi, o sterreglans
Vandag is jou troudag my meisie
Jy word 'n vrou my kind
Mag vreugde groei deur die jare
Hierdie jou dag
Toekoms wat wag
My liefste, my meisiekind
Destyds het ek dit gehaat, verafsku, daarop neergesien. (Dis so staandemag, so PF.) Maar intussen het ek 25 jaar gehad waarin ek so bietjie groter en ouer kon word.
Twee jaar gelede dryf die heimwee na Buffalo-basis en die wonderlike grepies onthou wat ek daar geöes  het, vriendskappe wat vandag steeds dividende oplewer, my om ‘n dubbel-CD met wyle Janita Claassen se musiek op, aan te knoop.
Die heel eerste snit, toe nie Ballonne in die wind nie, maar die een oor haar dogter se troue. Ons was in die motor op pad terug van Harties af, en ek sien Klaradyn in die truspieël . En daar doen my oë en gemoed wat Hartebeespoortdam se sluise na hewige reën doen – hulle stroom oor.
So vat ek vanaand vyf saam met die onthou, is dit, in geen spesifieke voorkeurvolgorde nie:
Glorias –Vivaldi
I wonder – Rodriguez
Heilig, heilig, heilig is der Herr – Schubert
Vandag is jou troudag my meisie – Janita Claassen
Me, myself, I – Tracy Chapman
Ver van die ou Kalahari – Koos Kombuis
Ek weet dis nie vyf nie maar ses. Moenie kla nie, dit kon maklik vyf en twintig gewees het. Ek wou immers iets oor die fliek Searching Sugarman kwyt geraak het, ook iets oor Laurika Rauch waarna ons Sondag gaan luister het. En toe haak ek vas met my arms op ‘n wollerige army-kombers.

No comments: