Pages

28.12.12

27 Desember 2012

Snaaks hoe die lewe partykeer inmekaar val as dit uitmekaar val.
My gedagtes is heeldag kort-kort by ‘n vriendin waarvan die vriendskap oor 29 jaar strek; omdat sy vandag verjaar, aan die een kant, maar ook omdat ek ‘n gesels wil aanknoop wat ek streng gesproke nie sonder haar en die boks briewe wat sy my sowat ‘n jaar gelde gegee het, kan aanknoop nie.
Laasgenoemde hou verband met die feit dat ek Facebook en die blog wat ek byhou geensins as verteenwoordigend van die sogenaamde “sosiale media” sien nie; vir my is dit niks anders as massamedia nie.
Maar dan nie massamedia soos wat dit in kommunikasiekunde of joernalistiek bekend staan nie, wel massamedia soos wat ek dit in 1987 en 1988 van iewers in die Caprivi-strook bedryf het.
Hierdie troep het toegang tot ‘n afrolmasjien gehad, en dan praat ek nie van ‘n fotostaatmasjien nie – as ek van ‘n fotostaatmasjien wou gepraat het, sou ek dit ‘n fotostaatmasjien genoem het – hierdie was ‘n outydse Gestetner afrolmasjiene wat met slinger, wasvel en ink gewerk het.
Ek het dan wasvelle van die staat gesteel en skelm my weeklikse briewe afgerol om dit aan ‘n massa vriende en vriendinne te stuur. Elke week het elkeen dan ‘n algemene, generiese brief gekry met ‘n velletjie of wat persoonlike nuus en geselsies daarby ingesluit.
En presies dit wat ek destyds met die afgerolde briewe gedoen het, is wat ek vandag met dit wat ander die sosiale media noem, regkry – ek bereik meer as een mens op ‘n slag met dieselfde boodskap – massamedia en nie sosiale media nie.
My universiteitsvriendin het elkeen van my briewe aan haar getrou bewaar en toe dit mondig word, net mooi een en twintig jaar later, in silwer strikke saamgebind en plegtig aan my terug besorg.
Saam met al die briewe ouerhuis toe, wat ek ook het, is dit hoogtyd dat ek nou beroemd en bekend word, want dan kan my briewe ook soos Van Wyk Louw en van Gogh se briewe gepubliseer word.
En dis hoeka ook hoekom ek die motorhuis wil regpak – ek soek die boks weermagbriewe om weer die kuiers van destyds met my vriendin te kan kuier, te sien hoe my massamedia-korrespondensie destyds daar uitgesien het.
En sal dit nie nou lekker wees om dit vandag, so op haar verjaarsdag, te doen nie.
Bel sal ek haar nie bel nie – ons bel mekaar nooit op mekaar se verjaarsdae nie want die een het dan altyd mense en gaste en besoekers en sosiale verpligtinge en dan kan mens nie jou twee keer ‘n jaar se lekker gesels, uitgesels nie. Ons bel so róndom mekaar se verjaarsdae.
En so is my gedagtes heeldag by Philippa, as dit nie oor die verjaarsdag is nie, dan oor die briewe waarby ek wil uitkom rondom die twakpraat oor my massamedia op Facebook en die blog.
Maar so kom ek nóg by die motorhuis se opruim, nóg by die briewe uit.
Al waarby ek uitkom is die Facebook-boodskap dat my lief en dierbare, baie goeie, hartsvriendin van 29 jaar vandag dood by haar huis gevind is.
Dis ‘n ramp, ‘n terugslag, ‘n tragedie – dis elke byvoeglike en selfstandige naamwoord wat die dood nog ooit beskryf het, of sal beskryf.
Die lewe, anders as die dood, is en bly ook darem maar vreemd: Hier hou ek ‘n mens daglank in my gedagtes springlewendig en gesond, iemand wat na alle waarskynlikheid reeds die 23’ste of 24’ste gesterf het.
Maar waar wil jy nou klinkklaarder bewys hê dat afgestorwe geliefdes lewenslank lewendig is en bly, lewendig gehou word in die gemis na hulle, die onthou van hulle, die geselsies wat ons jare later steeds met hulle aanknoop, die wonderlike herinneringe, die met lag en die met trane?
Ek en Philippa en ons saamkuier vandag het dit bewys.
Ja, ek gaan dit mis om weer tee op Philippa se stoep te drink, saam met haar groente in die tuin te pluk, saam met haar te lag – ek voorsien dat ek dit baie gaan mis, meer as wat ek dit reeds die laaste klompie jare mis – ons moes regtig tyd maak, en inruim, en afknyp om te kon tee en wyn en musiek, te kon olyf en kaas en boek en deel en gee en ruil.
Maar vir Philippa Gloudina mis? Nooit nie.
Sy leef in my tot ek die dag afsterf.
Hopelik kou ek nog eendag ou bene, begin ek ruk en vergeet en verkalk en na piepie ruik; nie Philippa nie, sy sal altyd knap voor vyftig en jeugdig bly.
Wat gaan gebeur, en waar my gedagtes nie orals ‘n draai gaan maak as ek en Klaradyn weer krappie-krappie in bad speel, weet ek nie. Ons vier voete is vier krappe. Hulle knoop oor en weer geselsies aan en duik weg vir wrede albatrosse wat van klein krappies mince meat maak. Klaradyn se voete is onderskeidelik Cleo en Patra, myne is uit die Griekse letterkundeskat en kom uit Elektra – Chrysothymus en Klytemnestra. Nie hieroor of daaroor nie –die motor waarmee Philippa in 1984 rondgery het se naam was Chrysothymus  en die tye, die herinneringe, die naam, die kar, die onthou en die goeie ou dae was so goed en mooi, dat ek, toe ek jare later op twee name vir my krappie-pote moes uitdink, ek by Chrystothymus vasgesteek het.

No comments: