Ons het vandag (agtermiddag laat) my skoonouers oor; die groter ete was gisteraand en by my swaer-hulle aan huis.
So ry ons gisteraand daar weg, Skoonma en –pa saam met ons in die motor, en ek laat val dat ons nie eers nagereg vir Kersdag het nie. En ons het nie.
Ek was op die punt om groot te gaan staan en kook (skaapboud, beesvleis, tong) maar toe gooi ek en Annieka saam handdoek in nog voor ons begin het.
Ons is Saterdag na die Italiaanse Klub hier by ons in Pretoria. Daar is elke Saterdag ‘n Italiaanse kaasmark in een van die lokale. Toe koop ons ‘n spul verskillende kase.
Op pad terug het ek gou by Woolies ingehol vir een van daardie romerige kase met die vye en neute, en iets anders met mango en gemmer.
Gister het ek by die beste bakkery in ons stad sommer twee ciabattas gekoop.
En met die botteltjies en dinge wat die yskas voetstoots kan bydra, is ons gerat en gereed vir gesellig verkeer as die son vanaand sak.
Eintlik oor daar min dinge so lekker soos pekelvis en witbrood is, dat ons by die brood vasgeval het.
Ek het nie ‘n probleem met daardie blikkies kerrievis/pekelvis wat ons so lank ek kan onthou kan koop nie.
Soos wat ander mense in Woolworths konfronteer word met Lindt-sjokolade wat in hul mandjies beland, help ek bakkies van hul pekelvis in my mandjie in en peusel dit, soos sjokolade wat jy bietjie-vir-bietjie snoep en eet en bêre, uit die yskas op tot daar niks van oor is nie.
Maar hierdie tyd van die jaar hou ek daarvan om my eie te maak.
Ek het vanjaar geelstert gekry.
Met ‘n beslag foeter ek nie. As ek geweet het hóé, sou ek miskien, maar by gebrek aan die ervaring met ‘n beslag, stuur ek my vis met botter, sout en peper oond toe. Ek vryf die porsies weliswaar eers in met die fyn gerasperde skil van twee suurlemoene. Dit het ek by Peter Veldman en sy Kos van die Eeu leer doen.
Toe maak ek ‘n sous wat wegtrek met drie koppies asyn (ek het die jaar se asyn klaar gemaak, so dit was die laaste van wit-, rooi-, bruin-, appel- en selfs balsamiese asyn).
Om by ‘n liter vloeistof uit te kom het ek die koppiemaat geneem en hom so min of meer om die helfte met water en olie gevul.
Die laaste van die appelkooskonfyt is ingeroer. Seker so 6 eetlepels, maar ek nou begin leeg maak met die asyn, so toe maak ek die konfyt ook leeg.
Meer as ‘n halwe koppie, nader aan ‘n koppie, bruin suiker. Ek proe maar.
Toe ek klaar borrie bygegooi het, was die botteltjie borrie ook leeg. So ‘n teelepel sal doen, ek het egter meer gedoen omdat die balsamiese asyn my sousie donkerder gekleur het as waaraan ‘n mens gewoond is. Maar ek is seker, het die ou mense balsamiese asyn geken soos ons, dan sou hulle resepte ook donkerder gewees het.
Die kerriepoeier wat ek lief voor is, is Woolworths se Cape Malay, dis heerlik pikant sonder om Annieka en Klaradyn af te skrik met brand.
My brand is die sous in aan die hand van ‘n duim of wat gerasperde gemmerwortel.
Dan het ek ongelukkig ook ‘n hartsding met geskroeide koljander, so die bottel grof gevryfde heel koljander het ook ‘n draai by die pot gemaak en twee of drie teelepels armer daarvan afgekom.
Die suurlemoenblare wat ek by die bure gepluk het, het ek my skielik verbeel is vanjaar darem baie klein en ek het sommer nege ingegooi. Vyf of ses sou seker genoeg kon wees.
Hierby is in ‘n koppie of wat rosyne, drie gesnyde uie en een elk rooi en geel soetrissie opgesny, ingegooi.
Die soetrissie is seker minder tradisioneel, maar as jy al La Petit Ferme buite Franschhoek se pekelvis geproe het, sal jy weet hul idee werk wonderlik.
Ek kan nie onthou of ek die uie en soetrissie vooraf gebraai het of nie; ek het dit goed twintig minute na ‘n halfuur laat prut op die stoof, so vooraf braai is nie nodig nie – die asyn en kerrie sorg in ieder geval dat die smaak en geur wat jy met die vooraf braai wen, weer verloor.
Iewers, toe ek begin proe en die appelkooskonfyt al leeg is, is die laaste van Miesies Balls se blatjang ook in.
Ek stel my voor dat die boeretannies van ouds, of dan nou die slawe en ander bediendes heel in die begin, hierdie sous af sou gekook het tot dit effe dik word. Tyd en geld daarvoor het ek nie, en in elk geval, as La Petit Ferme hulle sous kan aandik met ‘n teelepel of wat mielieblom, waarom kan ek nie ook nie.
Die bietjie sous wat my geelstert en botter in die oond opgelewer het, iets wat ek nooit sal wegdoen nie, is as vloeistof by die mielieblom ingespan.
So die wat vanaand uitgeëet aan die kaas is, daar is pekelvis in die bak daar oorkant, neem gerus.
‘n Lieflike dag word elkeen wat hier lees, al is dit ook nou eers volgende week of maand, toegewens.
No comments:
Post a Comment