Pages

29.12.12

Net bietjies-bietjies van al die baie onthou rondom Phlippie/Phlippa/Philippa

Snaaks hoe ‘n mens jou vir jou ouers kan skaam.
My ma het gereeld die volstruis in my na vore gebring – daardie tye wanneer ek nie net my kop soos ‘n wafferse struisvogel  in ‘n gat in die grond wou steek nie, maar sommer geheel en al daarin wou verdamp, verdwyn, om elders, in ‘n ander dimensie of tydsgewrig, weer te voorskyn te kom.
Dis was so as kind, meer nog as tiener en jong volwassene en dis eintlik maar eers die laaste 10 jaar van haar lewe (en my grootword) dat dit al hoe minder geword het, totdat dit uiteindelik, toe dit eintlik lankal reeds hopeloos te laat was, heeltemal verdwyn het.
Wildvreemdelinge was mos nou iets wat Judy nie geken het nie; vreemdelinge wel, maar ook net vir enkele minute, of selfs sekondes, en slegs as sy die persoon net van agter gesien het, of self om moes draai (in ‘n tou of bondel byvoorbeeld) om die vreemdeling  van voor in die oë te kan kyk.
En dan, sodra oogkontak eers gemaak is, het sy haar geselsie aangeknoop, enige plek, enige tyd, enige mens.
Een  so ‘n gesprek wat sy vroeg in Februarie 1983 aangeknoop het (miskien was dit einde Januarie, hoe sal ek weet)  sal my seker lewenslank bybly.
Sy het die vorige dag voor in haar groen Fordjie gery, ek agter in die geel Volksie (CWZ 167 T) wat my broer-hulle vir my einde matriek, einde 1982, gegee het.
(Dit sou eers jare later wees dat Judy aan my erken het hoe sy die volle 144km Potchefstroom toe, en drie dae later weer terug, omgehuil het.)
Net buite die dorp, dit sal my geensins verbaas as dit steeds so is nie, het die plaaslike verkeerspolisie gesit om die ouers wat met hul eerstejaarstudente op die stil dorpie toesak, af te trek en aan te skryf vir die een of ander verkeersoortreding.
En die volgende oggend is al die eerstejaars, en die wat gelukkig genoeg was om hul ouers, of ‘n ouer, by hul te hê, saam met hulle in die ouditorium ingejaag vir die een of ander verwelkomingstoespraak.
Getrou aan Judy se aard was ons ruim betyds en het iewers na agter in die middel rond plek gekry.
Ek sou die Carducci somersbaadjie wat ek en my beste vriend die vorige week in Johannesburg gaan koop het, aangehad het.
Omdat ons vroeg was, het my ma ook reeds hopeloos lank genoeg stil gesit teen die tyd dat daar uiteindelik twee mense in die twee oop stoele links van haar kom sit het. (En met “stil gesit” bedoel ek nie om nie te beweeg nie – dit kon Judy goed doen – ek bedoel om nie te praat nie.)
En dit was ook nie lank nie, hoogstens drie of vier minute, tot die vrou langs haar ordentlik haar sit gekry het, toe leun Judy oor na links en knoop haar gesprekkie aan. En ek laat my nie vertel dat haar seun wat langs haar gesit het, nie die aanknopingspunt was nie. Selfs al sou sy straks eers na die dogter wat langs die vrou sitplek ingeneem het, uitgevra het.
Berge val op my, heuwels bedek my, die aarde sluk my in.
Ek skuif al hoe laer af in my stoel. Later sit-lê ek op my stuitjie met hoogstens net my twee bloedrooi ore wat bo die rugleuning uitsteek.
En toe kom dit:  “Haai, Oubaas, hierdie tannie se dogter kom ook, soos jy, hier op Potch Drama studeer!”
Judy het haar kop en nek en skouers en rug agtertoe in die rugleuning ingedruk sodat ek voor haar verby kon kyk, in die oë in van die vrou, wat sopas vir my ma soos ‘n vriendin geword het. En agter die wildvreemde tannie het, soos ek, ewe verleë en rooi, ‘n jong meisie uitgeloer. Net so halfpad en skugter, met ‘n verlepte glimlaggie en ewe verlepte handjie wat halfmas wuif.
Net soos wat my ma my en my naam sopas vergat het, het haar ma Philippa se naam op haar beurt sopas met ‘n plank geslaan.
Ja, jong tieners is simpel goed. Maar Philippa het daardie oggend presies soos ek gevoel – ons het baie keer daarna daaroor gesels en gelag en daaraan teruggedink, want  dis dáár (kom ons maak dit maar Ry Q van die Sanlam-ouditorium op die PUK se hoofkampus) waar, en wat, en toe,  dit alles, op ‘n maand na, dertig jaar gelede, begin het – ‘n vriendskap wat ek met my sal saamneem graf toe.
Die derde lid van ons driemanskap (maar ek en Philippa was saam in meer as een driemanskap, en viermanskap, selfs ‘n enkele of wat vyf- en sesmanskap ook) SMS gister na die nuus van haar hopeloos voortydige dood vir my:  Ja, ‘n mens wil nou onmiddellik 100 van jou eie stories in jou kop aanmekaar sit.
Nie honderd nie, honderde.
Honderd is op en finish en klaar aanmekaar gesit, en dit net rondom die eerste vier jaar op Potch. Toe kom Bloem en die San du Plessis. Dan nog die Kaap. En uiteindelik, eers toe daar weer, soos op Potch, van ‘n Rivierstraat sprake was om by Philippa uit te kom, en ‘n krom en skewe sirkel op so ‘n manier eindelik voltooi is: Pretoorsdorp.
Ek noem dit ‘n driemanskap want ons drie het vier jaar later, die dag voor ons elkeen sy eie rigting die grootmenswêreld in sou spat, amptelik afskeid geneem – in Philippa-hulle se sitkamer op die bruin sitkamerstel, met ‘n koek en tee.
Weliswaar nie koek en téé nie, eerder koek en mélkskommel.
Koek en melkskommel was waarmee ons daardie eerste keer gegroet het.
Wat is immers beter as wortelkoek en Philippa se hoogs unieke lemmetjiemelkskommel om mee afskeid te neem?
Ek het ‘n foto van daardie middag, einde 1986, in my foto-album.
Maar ek het nie nodig om my album te gaan uitkrap nie, daardie middag, daardie koek, daardie geskommelde bruismelk is my hele kop vol.
Die wortelkoek het sy begin gehad in ‘n koffiehuis op Grahamstad, ‘n jaar of twee te vore.
Dis die jaar wat ek en Philippa saam afgery het Grahamstad-kunstefees toe, en ons teen 06:00 daardie oggend iewers in die Palmpas êrens tussen Tarkastad en Bedford in ‘n botsing met ‘n sandwal betrokke was.
Studente is darem nog onnoseler as matrieks – ek en Philippa het daardie aand agtuur ons laaste vraestel geskryf, en toe, daarna, in die pad geval Grahamstad toe.
Die ongeluk kon baie erger gewees het (soos die een baie jare later waarin haar ma oorlede is) en is ‘n storie op sy eie.
Die fees was al verby en die mense huis toe, toe moet ek en Philippa by die Grahamstown-Hotel inboek vir ‘n nag of wat – hulle wag nog op ‘n part vir my motor wat met die trein al die pad van die Kaap kom en iewers op die spoor verlore geraak het.
Ek het Julie 2011 eers, toe ons studeerkamer reggepak het, die kwitansies, uit 1985, van die paneelkloppers en die hotel op Grahamstad, weggegooi.
Maar waar loop my gedagtes nie, ek was by die wortelkoek wat ons drie op Grahamstad so geniet het.
En toe bak Philippa ons eie wortelkoek toe ons oulaas as studente groet.
Maar die koek was nog warm toe sy die versiersuiker opsit, en die twee lae het van mekaar afgeskuif, en die boonste versiering het ook pad gevat teen die kant af en in die bord in.
So what!  Dit was, o, so spesiaal!
Die melkskommel waarmee ons afskeid geneem het, het sy begin, onder veel gelag, ook reeds die vorige jaar gehad.
Ek het Philippa na ‘n repetisie of optrede huis toe geneem. Ian is saam, en Philippa is met groot fanfare kombuis toe om vir ons melkskommel te maak.
Sy kom toe te voorskyn met drie groot glase groen lemmetjie milkshake.
Maar dit was ook net lemmetjie milkshake tot ons die eerste sluk geneem het.
Want toe ons sluk, toe is dit áárbei – lemmetjiegroen aarbeimelkskommel!
Philippa het gegaan en die aarbeigegeurde melkskommel, lemmetjiegroen met voedselkleursel gekleur.
Dit was die vreemdste ervaring – jou oë vertel jou brein die een storie, en dan kom die tong met heeltemal ‘n ander een.
So, ter herdenking van daardie lieflike aand, neem die drie van ons toe afskeid met Milkshake a’la Philippa ook.
Dan praat ek hier bo egter van ‘n afskeid voor ons elkeen eie rigting grootmenswêreld toe ingeslaan het.
Dis ‘n lieg.
Ek, en Ian, moes elk eers ‘n detour  maak army toe.
Sit jy daardie jare in Die States, soos ons destyds na Suid-Afrika verwys het, dan het jy seker gereeld naweke huis toe kon gaan, of, is dit nie huis toe nie, ten minste dan darem ‘n wegbreek civvie straat toe.
Ek, aan die anderkant, is grensbasis toe gepos.
Daar het jy net jou seven days in jaar een; fourteen days in jaar twee. Dis nou onderskeidelik jou sewe- en veertiendagpas.
Op die eerste een van die twee vlieg ek toe dringend van Johannesburg Bloemfontein toe om by Philippa ‘n draai te kan maak. Sy is pas deur ‘n baie nare ondervinding in haar lewe en ek kan nie anders as om dringend na haar toe af te moet vlieg nie.
In daardie jare, vir ‘n armgat sonder salaris, was dit ‘n vreeslike volwasse, grootmens-ding om te doen.
En toe ek na die naweek terug kom, toe gee ek my motor by die lughawepolisie as gesteel aan.
Toe kry hulle hom drie ure later op vlak 3 van die parkade – ek het hom op vlak 5 gesoek.
Die volgende jaar, toe ek fourteen days het, toe ry ek darem af Bloem toe met die motor.
Hierdie keer nie vir ‘n krisis nie, maar vir Aïda.
Ek onthou nog opgetrek ek met die piksplinternuwe pad was. Net om na ‘n ruk te lees dat ek nou op ‘n tolpad is – dit terwyl ek nie genoeg tolgeld in my beursie het nie. Ek is summier van die nasionale pad af, en omdat ek nie weet waar daar nog hoeveel tolhekkevoor ‘n motorhawe met ‘n kitsbank  is nie, het ek Bloem via vreemde dorpe en paadjies vanuit ‘n onbekende rigting bereik.
En toe mis ek die olifante op die verhoog.
Laat ek 23 jaar later dan maar uiteindelik bieg: Philippa had ‘n pa wat haar Sondagaande lief kon maak vir opera, of dit nou op die platespeler, oor die radio of oor die telvisie was; ek nie.
Ek het ‘n ma gehad wat geselsies met vreemde tannies aangeknoop het.
So toe raak ek hier teen die einde aan die slaap en word eers wakker na die olifante af marsjeer het.
Ek verbeel my ek het hoogstens die punt van die een se stert in die coulisse sien verdwyn, maar dan praat ek ook onder korreksie.
Met Philippa egter self nou finaal in die coulisse in en weg en van die verhoog af, voel ek uiteindelik eintlik nogal vry, bevry, noudat ek dit na al die jare uiteindelik kon erken en bely.
Ek is nie een wat glo Philippa kan terugkyk of omkyk of self net vir ‘n oomblik weer verhoog toe kom om erkenning aan die applous te gee nie.
Maar ek weet as sy kon, sou sy haar in ‘n staande ovasie vasgeloop het.

1 comment:

Unknown said...

Liewe Hans, wat 'n pragtige huldeblyk aan ou Flippie! Baie dankie dat jy dit met deel. So jammer dat die applous gewoonlik eers kom na die gordyn finaal gesak het, maar gelukkig is die sin van bestaan nie in die erkenning wat mens vir jou dade kry nie, maar eerder in die dade self. Die vraag is nie hoe groot die applous was nie, die vraag is "how well was the performance"!