Pages

5.1.13

Nuwejaar op Zwartkloof

Ook genoem, Voor ek afklok, lepel in die dak steek en die emmer skop,  want hierdie en ander goed, die wat is en die wat was, het mos nou maar een maal die geneigdheid om rondom Ou- en Nuwejaar deur die gedagtes te wil maal.
En so is daar op my afkloklysie (maak dit dan maar emmerlysie, gedagtig aan Norman Freeman en Jack Nicholson se fliek, Bucket List) is eintlik net een iets.
En dan is dit nie ‘n item soos wat die outjies in die fliek ‘n aantekening sou definieer nie. Sien, ek moet eers self lepel in die dak steek voor hierdie lewensambisie en  -aspirasie van my, hoogs postuum, miskien, afgetik sal kan word – en dan ook net deur Klaradyn, sonder dat ek dit ooit weet.
Maar dis eenvoudig: Dis vir my ‘n behoefte van die hart dat Klaradyn, nadat ek en Annieka weer tot die stof waaruit ons kom,  teruggekeer het, van ons sal dink, en oor ons sal voel, presies soos ek en my broer na haar dood oor my oorle’ mammie voel en dink: een eindelose, grenselose bondel liefde, niks meer, niks minder, as net dit nie; lewenslange liefde, tot oorlopens toe, vir haar kinders.
Ja, ek praat van “Oorle’ Mammie” en ek praat met deernisvolle liefde en ‘n ewe deernisvolle glimlag van my oorle’mammie, want dis hoe my oorle’ mammie se eie oorle’ mammie (my ouma) altoos van  haar oorle’ mammie (my oumagrootjie, Vroutjie, wat ek net van foto’s ken) gepraat het.
Ek kan nie anders nie, dis die voorbeeld van my ouma waarmee ek groot geword het, ‘n voorbeeld wat ek nie skaam is om te volg nie.
Soos ook die voorbeeld wat my ma vir 46 van my lewensjare voorgeleef het. Want dink ek deesdae aan haar, dink ek regtig net liefde en niks anders nie.
En as ek my lewe so kan leef dat my kind eendag dieselfde dink, dan was dit nie onnodig dat ek die eerste lewenslig aanskou het nie.
Tog gebeur dit dat ek van tyd sekere wonderlike ervarings het en dit dan, in retrospeksie, gou op my afkloklysie neerskryf en summier ‘n regmerkie daarnaas maak.
Een so ‘n inskrywing wat ek gister gemaak en afgetiek het, het op die koop toe vanoggend ‘n tweede regmerkie agter hom gekry. En verloop alles moreoggend voor ons huis toe gaan volgens plan, dan tiek ek more ‘n derde regmerkie agter die inskrywing.
Dit alles het in 1987 of 1988 in ‘n bad onder die bome op die walle van die Okavangorivier begin.
Ja, ‘n bad, letterlik in die kale oopte onder die bome, met ‘n uitsig op die rivier.
Kyk, ek het nog altyd ‘n ding met ‘n longdrop waarvan jy die deur nie toemaak nie en dan afskakel met ‘n uitsig op alles wat mooi is.
Om dieselfde ervaring te hê, nie vanaf die troon nie, maar van binne ‘n bad, met ‘n uitsig van 360 grade as jy jou kop soos ‘n uil wil draai, is mos nie net koninklik nie – dis hemels.
Die naaste wat ek na 1988 op die Okavango-oewer daaraan kon kom, was aan die hand van een van hierdie storte wat rykes buite hul seevakansiehuise aanbring, die stortkoppe om die sout en die sand van jou af te spoel voor jy die huis ingaan.
Maar dis glad nie dieselfde nie, geensins nie.
Nie eens amper nie.
Maar toe tref privaat wild- en natuurreservate die Suid-Afrikaanse bosveld. En blaai jy van tyd tot tyd deur glanstydskrifte of koffietafelpublikasies oor Afrika-interieurs, dan vang jou oog ‘n soortgelyke baddens.
Prentjiemooi, idillies, arkadies, nirvana.
Partykeer is daar ook prentjies van ‘n huisie by die see wat onbekostigbaar hoog op rots gebou is, en dan kyk jy oor die Atlantiese of Indiese oseaan uit terwyl jy seker maak die water se temperatuur is na jou wense.
Maar ‘n plekkie by die see het my nog nooit getrek nie, gee my liewer ‘n droom (maak dit liewer dan ‘n fantasievlug) na die een of ander bosveldwegbreekoasetjie.
En daar word my droom toe werklikheid toe vriende ons saamnooi na presies so ‘n wildsplaas waarvan gewone mense net in tydskrifte lees of op televisie sien.
Ons betrek die luuksueuse tentkamp.
Alles is vreeslik mooi en weelderig en pamperlang, uit die boek, uit die beste, mooiste, dikste, glansste boek. Dis Top Billing en Pasella en ek weet nie watter plaaslike en oorsese programme alles nie.
Maar ek, wat gewoonlik ‘n oog vir ‘n keurige ding het, sien daar niks van raak nie; ek staar my blind teen die bad in die badkamer van nagenoeg 16 vierkante meter.
Maar dis ook nie die bad en die feit dat ek en my vrou en my kind daarin kan wegkruip en nie raakgesien word nie, so groot is hy nie; dis drie van die vier “mure” om die bad; nie die bad nie – die uitsig!
Met die dat alles tent is (en dan praat ek nie van tweeman-plastiekgoedjies waarmee jy op Voortrekkerkampe of staptoere gaan nie, nie eens die tente waarin krygshoofde in antieke, of latere, tye hulself afgesonder het om strategies te kan dink nie; ek praat van die goed wat jy in koffietafelboeke raaksien) is daar mos nou hoeka nie “mure” nie, dis seilwande, met binne die seilwande, direk teenaan, niks anders nie as gaaswande.
En dis toe net daar dat ek die natuur in die badkamer innooi en elkeen van die drie buitemure se buitenste seile gaan oprol tot bo die dak en nie kan wag om te gaan slaap dat ek kan wakker word en gaan bad nie.
Ag, en dan kan ek nou adjektiewe gaan soek en dit inryg om te wil beskryf wat ek beleef het, hoe ek gevoel het, wat ek gehoor het, wat ek gesien het, in die afgelope twee oggende se ongeveer ‘n uur wat ek daar in die bad deurgebring het, maar ek gaan nie eers probeer nie, ek weet maar al te goed woorde skiet te kort.
Kom ons volstaan daarby dat ek in die sierste van sierskrif (soos selfs my oorlede mammie my op haar beste nie sou kon nadoen nie – en sy was goed) op my afskoplysie skryf:  opelugste van alle opelugbadervarings denkbaar, en dan ‘n mooi regmerkie daarnaas maak, nie een regmerkie nie, maar drie. Sien, ek gee mos nie om om vuil te gaan slaap nie, dis die vuil opstaan waarmee ek nie kan saamleef nie.
En as ek hierdie gesels stop afknip, dan is dit omdat ek haastig is en nou in die bad gaan lê en lees en luister na die geluid van die natuur wat om my leef.
Hier sak die son
en die flappe is af,
maar die idee is daar.

Ja, ek kon gaan stort,
maar selfs met 'n
waterdigte Kindle hou ek
nie van staan en lees nie.

In retrospeksie hoort die
hele ervaring op 'n
afklok-lepel-emmerlysie

Steeds jammer die
flappe is af


Ook maar goed ek is
nie 'n krygshoof nie -
ek sal sukkel om
strategies te dink

Die hele Zwartkloof-ervaring is opsigselwers iets wat die verwesenliking van 'n lewensambisie of -ervaring kan wees. Besoek gerus die webwerf deur hier te kliek.


No comments: