Pages

24.1.13

Voor in die koor

So kry ons toe mos nou hier knap voor Kersfees skotteltelevisie. Dis nou drie weke dat die ding nie eers aan was nie. Vir al wat ek weet, is ons al twee weke gelede afgesny.
Moet ook nie sê ons moet naweke kyk nie – daar is soveel ander en lekkerder dinge om te doen, dat ons daarby ook nie uitkom nie.
Iewers in die vakansie was daar wel iewers op KYKNET ‘n insetsel oor hierdie een of ander koor in die Kaap wat glo so goed is, tien teen een die Stellenbosch Universiteitskoor (dis beslis nie die Acapella koor nie).
In elk geval, die koormeester laat val toe in die onderhoud dat hy dikwels ‘n minder goeie stem kies as hy aflei die stem se baas is passievol begeester en het potensiaal.
Ek het soveel waardering vir die man gehad; juis omdat ek nog altyd van dieselfde uitgangspunt uitgegaan het. Ek gaan nog verder en sê gereeld dat ek veel eerder werk met iemand wat wíl, maar nie noodwendig so goed kán nie, as wat ek sit met een wat kán, maar nie wíl nie.
En toe nie hier, op nasionale televisie, ‘n man wat praat asof dit ek persoonlik was wat hom voorgesê het. Nogal ‘n koormeester daarby.
As alle koorleiers maar so was – in die besonder die juffrou in beheer van Klaradyn se junior laerskoolkoor!
Ek moes op universiteit 100 uur lank na gefiltreerde klassieke klanke luister in die hoop dat ek daardie 100 ure later minder toon doof daar sal uitstap.
Helaas!
En dan het ek nog altyd van sing gehou.
Ek onthou nog goed hoe my beste vriend se ma, ook my standerd 1-onderwyseres, een oggend terwyl ons in haar klas gesing het, van agter uit haar stoortjie gekom het, teen die deur gaan staan het, vir my gekyk het, en gesê het:  “Jy hóéf nie heeltemal so hard te sing nie, Hansie.” En ek haal aan, ek haal verbatim aan – ek onthou dit 40 jaar later steeds woord vir woord.
Ek sou dit tot in die hiernamaals kon onthou. Maar was daar iets soos ‘n koor, weet ek nie wat hulle met my sou aangevang het nie.
Annieka sing self nie soos ‘n engel nie.
Ons altwee glo egter dat ‘n mens nie mooi hoef te kan sing nie, jy moet net lekker kan sing.
En dit doen ek en sy uit volle bors – ons sing lekker.
Ook nie ek en sy nie, maar ek en sy en Klaradyn.
So het ons Klaradyn dan ook groot gemaak; dit het immers gou geblyk dat sy, wat sang betref, 100% na haar ma aard, 100%na haar pa aard en gevolglik 200% toondoof/vals is.
Maar net so is sy ook 200% lief vir lekker sing – lekker sing tot op die punt dat jy jou ore met pluisies wil toestop.
En as daar nou een mens is wat dit selfs nog beter as haar ma en haar pa, haar ouma en oupa (selfs haar oorlede ouma en oupa) weet, dan is dit haar skool se juniorkoor-juffrou.
Ek weet nie wie sy is of hoe sy lyk nie, maar toe ek sommer met die eerste skrywe van die laerskool se kant af, vroeg vanjaar hoor sy begin eersdaags met kooroudisies, het my hart na haar uitgereik – die stomme juffrou.
Dit gebeur seker nie sommer dat ‘n laerskooljuffrou gronde het om op te staan as sy ‘n laerskool kind van teistering aankla en aandring op ‘n hofinterdik dat die kind nie binne 500 kubieke meter van haar mag kom nie; so sy en Klaradyn sou geskiedenis kon maak.
Ek het in graad 1 by die vierde of vyfde keer wat Klaradyn vir kooroudisies gegaan het, ophou tel. Ek het skaam gekry.
Onthou, die juffrou vra net een keer – dis Klaradyn wat al om die ander maand of week vanself aanmeld.
Die arme vrou kan nie eens terreindiens doen nie, dan corner Klaradyn haar en kry the hills alvie with the sound of music.
Sy moet ook nie sê dat hulle ‘n volgende keer weer sal luister en kyk nie; want dan besluit Klaradyn ‘n maand of wat later dat volgende keer se tyd nou aangebreek het.
Toe kom graad 2, en dit gaan niks anders nie.
Intussen is daar van haar ander maatjies wat kla en ophou en wil ophou en dreig om op te hou, maar Klaradyn meld aan vir luisterryke oudiënsie na luisterryke oudiënsie.
En toe die juffrou nou net mooi genoeg gehad het, toe reken sy, sy het nou lank genoeg ge-suffer, dis nou die ouers se beurt om te suffer, en hier teen die agste of negende probeerslag stuur sy die kind huis toe met: “Jy moet nog ‘n bietjie meer oefen om te kan sing. Gaan oefen hard en dan probeer is volgende jaar weer.”
En Klaradyn het met volle oorgawe, uit volle bors ‘n volle repertorium gaan aanleer en oefen.
Ek en my vrou het kilogramme in die proses verloor, so erg was dit om net daarna te luister.
Intussen het Klaradyn iewers gehoor dat jy nie so mooi hoef te kan sing vir die senior koor nie, daar is baie meer kinders in die en jou stem kan in die massa verdwyn.
Dis presies wat hulle vir my pa gesê het toe hy op skool in die koor was:  maak maar net of jy kan sing.
Dis presies wat hulle in graad 1 vir my gesê het toe ons graad-eentjie-parrabeentjies die eerste keer op die verhoog gesing het. Ek het destyds gedog dis omdat ek pampoentjies gekry het en twee weke skool gemis het.
Maar in graad 2 en standerd 1 toe gebeur dit weer.
En weer.
Teen die tyd dat dit ‘n derde keer gebeur, toe kon ek al een en een by mekaar tel.
Nie Klaradyn nie – as ‘n mens ministers sonder portefeuljes kan kry, dan kan ‘n mens koorlede sonder stemme ook kry, is blykbaar haar vertrekpunt.
So toe trek sy met die eerste afkondiging van die jaar los en begin sing.
Vir die hoeveelste keer.
Met oorgawe.
Volle oorgawe.
En dis dan toe ook net mooi op daardie punt dat die juffrou moes geknak het, want toe ons weer hoor, toe kom die kind in ekstase by die huis aan met die nuus dat drie jaar se volgehoue oefening, vrugte afgewerp het – sy het haar kooroudisie, wys jou net  aanhouer wen, geslaag.
Die arme koor, die arme juffrou, my arme kind!
Wie eerste gaan wees om die koor te verlaat, sy of die juffrou weet ek nie.
Tot dan koester ek maar die seepbel dat hy nie bars nie.
Dis op die ou einde dalk nie die juffrou of my kind nie, maar sommer die hele koor wat nie opgewasse is vir alles wat die begin van die nuwe jaar vir hulle inhou nie.
Ons leef in opwindende tye, my joie de vivre-kind die meeste van ons almal.
As dit aangaan soos dit nou aangaan, sing sy eersdaags in die Kaap in daardie ander mannetjie se koor vol jong ontluikende kunstenaars.

No comments: