Pages

18.2.13

Voor ons vergeet (?)

Fotobron
Party goed is darem nou maar een maal vir eens en vir altyd verlore as dit eers oor en verby en in die verlede verskiet het.
Ja, ek weet dis nie juis wat ‘n mens die mees oorspronklike insig waartoe die mensdom tot op hede gekom het, kan noem nie, ek weet trouens die gedagte is seker so oud soos die mensdom self en dat daar min mense op aarde is wat nog nie die een of ander tyd tot hierdie gevolgtrekking gekom het nie.
Hoekom ek dit egter weer ophaal, is omdat ons deesdae, nou dat ons die laaste ruk so slim en volleerd en tegnologies gevorderd raak, partykeer die grootheidswaan ontwikkel om te wil dink dat dinge nie meer noodwendig verlore gaan of bly nie.
Wat my agter die rekenaar het, is nie groot en serieuse dinge wat vir altyd verby gegaan het nie, ‘n vader-en-seun-gesprek met my pa, of die geleentheid om vir my ma ‘n goeie more toe te wens nie; eerder iets kleins en nietigs, eintlik sommer beuselagtig.
Maar tog groot genoeg om ertjie te wees en my vir jare op 217 en nog meer matrasse wakker te hou:
Die eerste fliek wat ek gesien het, was ‘n Shirley Temple-fliek.
Al wat ek daarvan onthou, is dat ek en einste ma wat ek hierbo so graag nog ‘n keer ‘n goeie more sal wil toewens, saam met haar suster ingery het Johannesburg toe vir wat daardie jare bekend gestaan het as ‘n matinee-vertoning.
Ek onthou verder bloot dat dit ‘n swart-en-wit fliek was waarin daar ‘n dogtertjie met krul hare gespeel het, en dat dit my eerste en laaste Shirley Temple fliek was.
Die irriterende, skril hoë stemmetjie, spreek vanself. Maar ek dink nie dit het hoegenaamd iets met Shirley Temple te doen nie, dit was maar ‘n algemene probleem met ‘n sekere era se flieks.
Ek onthou in daardie tyd (en nou praat ons van meer as 40 jaar gelede) ook nie enige ander flieks in Johannesburg nie. Ons moes eers weer Johannesburg toe vir fliek, toe Libertas, Alberton se onafhanklike filmteater, toegemaak het en ‘n moewiese meubelwinkel, Lubners, verbeel ek my, in die plek daarvan oopgemaak het.
Libertas, o die wonderlike Libertas!
Ek sou eers baie jare later uitvind dat Libertas die godin van vryheid is, dat antieke tempels in haar naam opgerig en in plek gehou is.
Maar vir ons klomp kinders, destyds, is dit presies wat Alberton se Libertas was:  ‘n tempel wat deurgang gebied het tot wonderwêrelde waarin enige iets moontlik was.
Libertas het my die eerste keer saam met my Pa in die fliek gebring, sommer twee keer. Ek was 7, dit was die jaar 1971, en my pa het soveel van Jans Rautenbach se Pappa Lap gehou, dat ons gesin dit inderdaad twee keer in een week gaan kyk het.
En soos wat Pa van Pappa Lap gehou het, was Zorro weer mý gunsteling.
Die bloed begin sommer in my are tintel , net by die tik van die vorige sin en die uitspel van die naam: Z O R R O – ZORRO!
Maar met Pappalap/Pappa Lap was dit maklik.
Sien, alles is mos deesdae moontlik:  ek het bloot net “pappalap” in Google se navraagboksie getik, en oomblikke later toe het ek alles aan my vingerpunte:
Die film is 28 Junie 1971 vrygestel.
Gordon Vorster en Katinka Heyns se name onthou ek natuurlik van toe af, maar Marga van Rooy en Hermien Dommisse het ek vergeet.
Ek weet ook nou dat die fliek R105 000-00 gekos het om te vervaardig en dat Koos Roets se debuut as kameraman was. Ook Trix Pienaar debuteer met hierdie fliek as aktrise.
En dit is presies wat ek met Zorro wou doen – ek wou weet wanneer en hoe oud ek was toe ek kindertyd se silwerdoekhoogtepunt beleef het, ek wou kyk watter Shiley Temple fliek dit was waarvoor daar met klein Hansie al die pad ingery is Johannesburg toe.
Nie so maklik nie. Nie heeltemal so maklik nie.
Shirley Temple het in 58 flieks gespeel, die laaste een waarin sy gespeel het, was voor my geboorte. 
Sy is twee dae na my ma gebore, 23 April 1928! 
Die fliek wat ons in Johannesburg gaan kyk het, moes iets uit die 1930’s gewees het.
Dit laat my met 43 flieks. En elkeen van hulle is swart en wit, soos ek onthou, en Shirley Temple het in elkeen van hulle lieflike krul haartjies (ek sal dit nooit vergeet nie).
Ek moet vrede maak met die feit dat ek nooit sal weet watter fliek die eerste fliek van my hele lewe was nie. Ek sal al 43 moet kyk en spoor ek een op waar sy met haar krul haartjies vir die kamera kyk, blinkerige swart skoentjies mooi teen mekaar, ‘n swart handsakkie wat sy in beide hande voor haar waterlyn vashou, dán eers sal ek weet dis my fliek.
En dieselfde met Zorro!
My Libertas-dae dateer uit die dae voor jy óf na ‘n Ster Kinekor of Nu Metro teater gegaan het om die nuutste vrystelling te sien. Die man het gewys wat hy wou wys, waarop hy ook al sy hande kon lê. Wanneer hy wou.
Dit moet voor 1978 wees, want teen standerd 6 was Libertas al ‘n meubelwinkel en moes ons met die bus Johannesburg toe om in die middestad te gaan fliek.
Dit laat my met 9 flieks uit die sewentigs. Maar soos ek met Shirley Temple agter gekom het, kon dit ‘n ou fliek, sommer ‘n baie ou fliek, gewees het wat die eienaar opgespoor  het om die dorp se jong seuntjies op hol te jaag! Dit kon gevolglik een van 38 moontlike titels gewees het.
Ek onthou iets van ‘n kers. Kry hy die kerse vlam met die punt van sy sambok dood? Of zwiep hy met die punt van sy swaard so drie maal deur die kers, dan is daar ‘n –z deur die kers gesny, maar dit het alles so vinnig gebeur dat die kers nie uitmekaar val nie? Maar is dit nie ‘n ander fliek nie?
Ek kan, en het, “Zorro” en “candle” en “sword” saam in die Google-soektogkoevertjie getik.
Soos Google dit mooi in Afrikaans my stel, het my soektog “ongeveer 19 500 000” skakels opgelewer.
‘n Ertjie gaan dit dan maar bly.
Ek moet aanvaar dat party goed nou maar een maal vir eens en vir altyd verby is, ek sal dit nooit weer uitvind nie.
Soos die naam van die oom en die tannie in Durban, moontlik ‘n neef van my pa, by wie ons kleintyd ‘n hele paar keer gaan kuier het. My broer het nie ‘n idee van wie ek praat nie. Hulle het elke jaar vreeslik baie storieboeke vir my gegee. Ek en Klaradyn het nou nog van daardie boeke wat ek so drie jaar gelede nog vir haar voorgelees het.  Ek dink die tannie se naam was Anne (soos my ma se suster). Ek sien die huis voor my. Hulle het love birds in ‘n baie mooi hok gehad.
Hulle is vermoedelik al jare lank oorlede.
Klaradyn, as jy ooit hier lees, jou eerste fliek was Happy Feet. Jy was twee jaar en ‘n paar maande oud, beslis nog nie drie nie, toe ons jou bioskoop toe geneem het. Jy kon nie ‘n snars Engels verstaan nie, maar die byklanke en beelde het jou so op hoogte gehou dat jy in aanloop op die klimaks aangedring het om te loop. Mamma het buite met jou gewag. Jou pa, die vark, het julle laat wag terwyl hy die fliek klaar gekyk het.
Wanneer Pappa sy eerste Zorro gesien het, sal hy nie weet nie, maar jy het jou kennismaking met Zorro die naweek van 16 en 17 Februarie 2013 gehad. Eers die een van Banderas en Jones met Anthony Hopkins in, en toe die opvolg sonder Hopkins.
Mamma het langs jou gelê en slaap tot die einde. Pappa was so moeg, hy het na ‘n uur gaan slaap en die fliek die volgende oggend klaar gekyk.
Jy het die Sondag met ‘n Zorro-masker gespeel en na jouself as Esperanza verwys.
Jy was in graad 3 en so wakker soos ‘n akker toe jy moes gaan slaap – jy wil soos die heldin wees.
Moenie as jy eendag oud is, sê ek het jou nie gehelp nie.
As jy enigsins na my aard, gaan dié klas van ding  ook dalk eendag aan jou knaag. Wees gewaarsku.
Gelukkig is dit ook mos eintlik waarom Pappa hierdie blog byhou, lest we forget.
Mý Zorro sal egter ‘n ertjie bly.
Behalwe nou as my beste vriend sedert standerd 1 (en ek weet hy het die fliek gesien, ek onthou ons het daaroor gepraat, selfs so laat as matriek nog) dalk lig kan werp. Maar wat is die kanse?
Gelukkig is dit dan darem alles ook nie net ertjies nie; ek sien daar is ‘n nuwe Zorro in die pyplyn wat in 2014 vrygestel word.
Aan die anderkant is dit nie noodwendig iets om na uit te sien nie, die wedergeboorte speel nie in die 1800’s af nie, maar iewers in die apokaliptiese toekoms, 2110 of daar iewers.
Dis hartseer dat sommige goed vir altyd verby is en jy dit nooit weer sal hê nie.
En dan is daar ander goed waarvan dit beter is as dit liefs nooit jou pad kruis nie.


SOMMER VIR SOMMER

Fotobron

Shirley Temple se kindertyd-flieks:
1939 The Little Princess
1938 Just Around the Corner
1938 Little Miss Broadway
1938 Rebecca of Sunnybrook Farm
1937 Heidi
1937 Wee Willie Winkie
1936 Stowaway
1936 Dimples
1936 Poor Little Rich Girl
1936 Captain January
1935 The Littlest Rebel
1935 Curly Top
1935 Our Little Girl
1935 The Little Colonel
1934 Bright Eyes
1934 Now and Forever
1934 Baby Take a Bow
1934 Now I'll Tell
1934 Little Miss Marker
1934 Change of Heart
1934 Stand Up and Cheer!
1934 Managed Money 
1934 As the Earth Turns
1934 Mandalay
1934 Carolina
1934 Pardon My Pups 
1933 What's to Do? 
1933 Merrily Yours 
1933 Kid 'in' Africa 
1933 To the Last Man
1933 Dora's Dunking Doughnuts 
1933 Polly Tix in Washington 
1933 The Kid's Last Fight 
1933 Out All Night
1933 Kid in Hollywood 
1933 Glad Rags to Riches 
1933 New Deal Rhythm 
1932 The Pie-Covered Wagon 
1932 Red Haired Alibi
1932 War Babies 
1932 Runt Page 
1932 Kid's Last Stand

Fotobron
Flieks (net die flieks en in Engels, daar is meer as 200 titels met die woord “Zorro” in, op die Internet Filmdatabasis geregistreer)
Zorro Reborn (2014)
Zorro (I) (1975)
Mark of Zorro (1975)
Zorro (II) (1975)
Red Hot Zorro (1972)
Zorro the Fox (1968)
Son of Zorro (1947)


No comments: