Pages

28.2.13

Uit en genadiglik in een stuk weer tuis

Ek is in die Unie Verpleeginrigting op Alberton gebore. Teen daardie tyd was ons darem al vir drie jaar nie meer ‘n unie maar ‘n republiek.
Einde my sesde lewensjaar is ek weer daar in om my mangels te laat uithaal. Ek onthou lieflike pynpille wat soos kougom was (en dat dit later heel omstrede van die mark onttrek is). En ek onthou die gou-gesond-word-geskenk wat ek (seker maar via my ma-hulle) van my broer gekry het – sulke plastiek mosaïek-pennetjies wat jy in ‘n wit klein plastiek skinkbordjie, met honderde klein gaatjies in, in allerlei prentjies en patrone, druk.
Na Klaradyn se geboorte het ek seker vyf jaar gesoek tot ek presies dieselfde, nagenoeg veertig jaar later, in Johannesburg raakgeloop het.
Nou spel ek daarmee terwyl sy langs my sit en televisie kyk. Ek oordryf natuurlik so effe. Maar net so effe.
Iewers tussen my geboorte en mangels in Judy ook Unie Verpleeginrigting toe vir daardie operasie waarvan daardie jare se klein seuntjies eers jare later die kloutjie so vaagweg in die omgewing van die oor kon bring.
Ons het van “Die Unie” of “Unie Verpleeginrigting” bly praat tot my ma-hulle iewers rondom 2005 uit Alberton weg is.
Toe was dit natuurlik lankal nie meer die Unie Verpleeginrigting nie, maar deel van ‘n franchise soos Steers of Wimpy – geensins meer gefokus op verpleging nie, maar die maak van wins. As die naam nie intussen verander is na ‘n toi-toiende swart stakende verpleegsuster wat gedurende die oproerige struggle-jare vir haarself in die voorste linies naam gemaak het nie, staan dit na 1994 vandag steeds bekend as iets soos Alberton Mega- ,of Medi-, of selfs Multi-Mega-Medi-City. Of so iets. In elk geval iets wat herinner aan ‘n shopping mall eerder as ‘n hospitaal.
So is ek toe nou Dinsdag, 43 jaar na my vorige narkose (ek dink hulle het daardie jare nog hamers ook ingespan) weer in hospitaal toe, ‘n ander tak van dieselfde franchise, om dit wat binne is en die laaste klompie maande wil uit, weer binne te hou en te kry.
En laat ek dit dadelik sê en van my af kry:  as die ongemak wat ek van ‘n para-umbilikale breukoperasietjie het, enigsins opweeg teen die ongemak en pyn van ‘n keisersnitoperasie (met ‘n snit enige iets tussen drie en tien keer langer as myne – ek weet nie hoe lank myne is nie, want dit is nog toegeplak) dan weet ek nie hoe en waarmee oorleef keisersnitmoeders dit nie!
As ek dink waartoe alles ek nie op die oomblik in staat is nie, as ek dink wat ek alles in die volgende twee maande nie mag doen nie, en ek dink aan Annieka se eerste twee weke en twee maande na Klaradyn se geboorte, dan is ek stom en haal ek my hoed vir haar af, salueer ek haar.
Laat ek, net om haar en die ander vrouens wat ek pas oorgewen het, weer te vervreem, byvoeg:  na my para-umbilikale breukoperasie is ek, as algehele onbetrokke buitestaander, ‘n nóg groter voorstaander van ‘n natuurlike geboorteproses as vantevore!
Ai, my bek is groot, hy is wyd. So ‘n bek kort nie jêm nie, maar ‘n klap!
Ewentwel, Vroulief neem my toe Dinsdag in en probeer ons beide gerus stel met die woorde:  “Gelukkig is dit darem ‘n goeie hospitaal.”
Ek weerhou my daarvan om haar en myself daaraan te herinner dat dit die derde keer in 20 jaar is dat ons die betrokke hospitaal besoek – die vorige twee kere het ons elke keer ‘n vriendin daar aan die dood afgestaan.
Ek maak bloot die nugter opmerking (veel nugterder as haar “Gelukkig is dit darem ‘n goeie hospitaal”) dat daar in vandag se dae in ons land nie meer goeie hospitale is nie, ongeag die naam van die franchise. Daar is steeds meesterlike artse, ja, maar meesterlike hospitale? Nie sommer nie.
En laat ek nie op te veel detail ingaan nie,maar ek word op vier of vyf maniere reg bewys:
‘n Dokter stap eerstens in sy teateruitrusting op die man langs my in die opneemsaal in met die woorde dat hy vreeslik bly is om uiteindelik sy pasiënt op te kon spoor, hospitaaladministrasie het hom verkeerd uitgeplaas en in die proses tussen een van die tientalle vleuels en vleore verloor, maar hier is hy nou gevind en hy gaan binnekort opereer word.
Tweedens:  Na jy by ontvangs opgeneem is, kry jy ‘n wit armbandjie om te sê waarheen jy moet gaan. Daar aangekom moet hulle vir jou ‘n pienk armbandjie opsit om die teaterpersoneel te herinner presies wat hulle moet doen – ek vermoed dis om seker te maak dat hulle nie persoon A afknip en plat stryk terwyl dit persoon B is waaraan geknip en gestryk moes word nie.
Toe ek uit die opneemsaal in die teaterwaglokaal is, toe is ek sonder pienk prosedure-armband wat nie net die prosedure op het nie, maar ook die naam van die sjirurg. Amper beland ek toe by die afknip-en-platstryk-man in die een teater, in plaas van my eie bloot-net-spoeg-en-plak-man in ‘n ander teater.
So toe stuur die waglokaal se tannie, die opnamesaal se tannies weer ses dagreise te perd terug, om my pienk prosure-armband te loop haal.
Toe, na die operasie, honger hulle my ten derde uit. Hulle weet goed ons mog van die vorige aand 10-uur niks eet nie. 9-uur daardie aand vra die ou omie wat voor my gedoen is, se dogter vir die nagsustertjie of haar ou pa nie maar iets te ete kan kry nie.
Toe is die suster kastig verbaas dat ons die hele nag nog nie nat of droog oor ons lippe had nie.
Dis dieselfde ou oom, by die hoeveelste punt trek ons nou al, wie se papiere hulle my, by my ontslag, in die hand stop en afstuur apteek toe om my medisyne op te tel. Gelukkig is die apteker mooi by, gee hy my een kyk, en besef hy ek kan onmoontlik nie in 1923 gebore, en daarom 90, wees nie.
‘n Uur later het ons gelukkig die regte voorskrif en medisyne.
Of hulle teen daardie tyd al die lugversorging in die opnamesaal aangekry het, weet ek nie. Glo my, ek wil nie weet hoe die verpleegters met gesofistikeerde mediese apparaat werk, as hulle nie eers die die lugversorging kan aankry om seker te maak hul pasiënte sterf nie uit van die hitte nie.
Maar dis daardie ou oom waarvoor een van die susters my aangesien het (tien teen een was sy sommer net agtelosig) waarby ek wil uitkom.
Ai, mense, ek het so jammer gekry, soos ek geen mens sedert my ma se laaste hospitalisasie jammer gekry het nie.
Net voor hulle my die teater instoot vra ‘n ou, en nie ouerige nie, teatersuster my (opvallend hoeveel ouer die susters is, hoe belangriker die werk word – wie gaan hulle vervang?) of ek wel een van hulle lawwe blou onderbroekies aan het.
En onmiddellik kry ek lag want ek het gesien die 90-jarige oubasie het nie net sy teaterjassie agterstevoor en voorste agterom aangetrek nie, maar hy het ook nagelaat om sy lawwe, verspotte, blou see-through onderbroekie aan te trek. Ek het self gedog dis ‘n stortkeps of ding, en eers toe ek die drie gate opspoor besef dis eintlik om nie so heeltemal full monty in die teatermense se gesigte te wees nie.
Die einste ou oom had my Dinsdagnag al om die uur wakker.
Eers had sy twee dogters ons almal eers uit die slaap. Ek wou in ‘n stadium vir hulle sê dat ek en hul pa presies dieselfde operasie gehad het, en as hy net 10% soos ek voel, wil hy glad nie nou om die beurt met twee besoekers konfronteer word wat die hele tyd met hom gesels en daarop aandring dat hy saampraat nie.
Toe soek hy teen 23:00sy beursie en ID. En dit help nie jy vertel ‘n 90-jarige oom dat sy 70-jarige twee dogters dit dalk saam met hulle het nie. Geensins.
Teen 24:00 had hy sy selfoon iewers opgespoor. Hy bel toe een van die dogters en word gerusgestel. Maar toe een van die nagsusters wat hy opgejaag het 10 minute later kom om te vra of hy sy beursie en ID gekry het, kon hy nie eens meer onthou dat hy dit gesoek het nie – toe soek hy dit van voor af.
Dit het mooi en baie oortuiging geneem om hom so ver te kry om my te glo, en nie weer sy dogter te wil bel nie.
Die oom het drie keer deur die loop van die nag gaan piepie – nie een keer daar waar hy moes gaan piepie het nie. Ek vermoed hy het elke keer maar net onverrigter sake teruggekeer, maar na ons toilet toe, was hy nie een keer nie.
Om die reine waarheid te praat, ek dink nie regtig hy het elke keer onverrigter sake teruggekeer nie, trouens en inteendeel. Ek is net bekommer oor watse verrassings die hospitaalpersoneel nie alles sedert Dinsdagnag op vreemde plekke in die hospitaal opgespoor het nie. My ore kon nie twee keer vir my gejok het nie.
Ek het hom teen 03:00 sien terugkom sonder sy drup waarvan hy die vorige twee kere elke keer vergeet het, en dit dan omgetrek het. Toe sit ek maar met my drup af diensstasie toe en vra hulle moet die oubaas kom help. Hy het die goed uit sy hande en are geruk gehad.
En dan is hy ‘n spoggerige, ordentlike, oubasie, soos van ouds, deel van ‘n geslag wat al bykans 100% uitgesterf is.  05:00 is hy op en gaan stort hy, eers af in die verkeerde gang, na hy weer die drup agter hom omgeruk het, maar toe darem na nog twee of drie mislukte probeerslae, by die regte deur in.
Ek het sy nagklokkie, suurstofpypie en drupbuis, wat knap voor 05:00 ‘n kraaines was, ontknoop, maar hoe hy gestort gekom het, weet ek nie.
Hy kon nie los van die drup nie, en daarom nie geskei van sy teaterjassie nie, dié  hang toe aan die drupbuis tussen hom en die drupstaander toe hy 45 minute, kaal bolyf, maar haartjies gekam en skoene en kouse by sy pajamabroek aan, by die stort uitkom.
Net soos hy nie die teaterjassie kon afkry nie, kon hy natuurlik nie sy spoggerige blink pajamahemp aankry nie – die drup is mos nou basies ‘n verlengstuk van sy arm.
My hart het vir hom gebloei, ‘n doddering old man, ‘n doddering old gentleman, as daar ooit een was.
Hy het soos ‘n ware, waardige Charlie Chaplin geskarrel en beweeg.
Toe die dokter hom ontslaan toe trek hy sy going away stel klere, wat hy kort vantevore oor sy pajamas aangetrek had, weer net so oor sy pajamas aan en gaan staan met sy tassie in die gang vir een van sy dogters en wag.
Toe ek meer as ‘n uur later met Annieka daar weg is, was hy nog daar, wagtend, sy hande om die tassie geklem.
Waar tannies van 83 en 85 wat ek skuifelend agter ‘n trollie in die Spar raakloop, my deesdae in trane het, oor ek my eie oorlede ou moedertjie in hulle herken, wil julle nie weet wat hierdie dierbare true gentleman van ‘n 90-jarige ou oom, aan my gemoed gedoen het nie.
Ek het sommer oor my ma se oorlede man, Oom Jack, ook ‘n traan wou pik.
Hoeveel presies sulke nagte het die ou vroutjie van my en my broer nie ook in haar leeftyd gehad nie? Hoeveel presies dieselfde oggende nie? Die soek na verlore beursies en brille en tande wat nie verlore beursies, brille en tande is nie? My ma se hande moes hulle, na daar nie meer are vir ‘n drup vir haar op een van haar twee hande beskikbaar was nie – omdat hulle al algar gaar gesteek is van al die uitruk en terugsit – met verbande aan die bed se kante vasbind!
Nou is ek gelukkig by die huis, baie trots op my baie bekwame dokter, die narkotiseur en die res van die span, bly dat die ander dokter sy pasiënt uiteindelik opgespoor het, verlig dat ek my pienk prosdure-etiket gekry het, dat daar gespoeg-en-geplak en afgebind-en-plat-gestryk is nie, maar die blyste van alles dat ek nooit nodig had, of sal hê, om te kraam of iets soos ‘n keisersnit te kry nie.
As Annieka deur haar 20 cm kon kom, dan kan ek my 2, of die 3, of 4, of 5 sentimeter, met manlike kleinserigheid, seerkleinlik die loef afsteek.

No comments: