Pages

4.3.13

To hell and back

‘n Mens kan darem maar onnadenkend omgaan met die “share”-knoppies in die sosiale media. ‘n Week of wat gelede deel ek iets deur Koos Kombuis onder die opskrif “Daar is ‘n hel”, minwetende dat ek binne die volgende vier dae sou uitvind die hel is nié op Somerset-Wes gestasioneer soos die man aanvoer nie, maar dat dit nou verskeie takkantore dwars oor Suid-Afrika, soorts van soos ‘n franchise of so iets, het.
Koos Kombuis het hel leer ken aan die hand van ‘n nadere kennismaking met sy plaaslike munisipaliteit.
My eie beskeie huishoudinkie se  water-en-ligterekening is maande nou al elke maand sowat R2000-00 meer as enige van my bure s’n. Gelukkig het ons hierdie maand ‘n all time low van R3 500-00 beleef. Anders as Koos weet ek fool rush in where angels fear to tread, so ek raak aan die munisipaliteit nie met ‘n tang nie.
Maar so is ek toe nou genoop om Watloo toe te gaan rondom ‘n motor se registrasiepapiere wat na alle waarskynlikheid weggeraap is tot op ‘n plek of dimensie waar ek en Annieka dit na drie dae se soek nie kon opspoor nie.
En skielik begin een van die Indiese godsdienste, die Jainisme, se siening van die hel vir my soveel meer sin maak. Die aanhangers van die geloof glo nie in iets so ordinêr soos slegs maar een hel nie, nee, hulle onderskei sewe verskillendes, op sewe verskillende vlakke, en van sewe verskillende intensiteite. Iets soos Nando’s se verskillende chilliesouse, stel ek my dit voor.
Koos se munisipaliteit is, glo my vry, bloot die intreevlak. Was dit soos die kombuis se toaster (‘n ander manier om daarna te kyk as in terme van chillies) is dit met die verstelknoppie op 1 gedraai.
Watloo, aan die ander kant, is volsterkte, nommer 7!

Ek is vir die tweede keer soontoe, 06:00 die oggend, dieselfde oggend waarop ek om 10:00 by hospitaal moet aanmeld vir my para-umbilikale breukoperasie.
Ek was die grootste gedeelte van die vorige dag ook daar. En amper was ek die grootste gedeelte van die vorige dag verniet daar.
Daar daag mos daagliks net hopeloos te veel mense voor die Watloo-poorte op, en dan hier knap na eenuur kom die gevalle engel se handlangers uit en stuur die mense wat na hulle mening nog nie teen sluitingstyd deur die drukgang gaan wees nie, huis toe vir ‘n tweede dood tot verdere kennisgewing.
So is die twee mense agter my nog ingelaat, maar die menigteagter hulle wat met veel meer as die onuitputbare sewe visse en vyf brode gevoed sou kon word, is almal, deur die bank, weggewys.
Ons drie kon darem gelukkig nog in.
Dis eers twee ure later, toe die wat laaste was, uiteindelik eerste is, dat ek weggewys word omdat hulle die vorige dag nagelaat het om te noem ek moet ‘n bewys van residensie inlewer.
Ja, ek hét gebel, ek het trouens met die foon in die hand aan die slaap geraak, nie omdat ek skape afgetel het nie, maar die 3 689 inbellers wat voor my deurgeskakel is.  Nagenoeg 15 van hulle was nie gelukkig genoeg om soos ek aan die slaap te raak nie, hulle het sommer beswyk, en toe beset hulle ‘n stuk of 15 van die telefoonlyne wat tot verdere vertraging van enige vorm van hulp aanleiding gegee het.
Gelukkig is Watloo se werksure nóg korter as bankure, en kon ek rustig, na besoek aan die roadhouse, deurskiet bank toe om ‘n rekeningstaat met my adres op aan te vra.
Die volgende oggend is ek 06:10 daar; weliswaar nie eerste nie, maar vyfde.
Ek moet so vroeg daar wees om te verseker dat ek voor in die ry is, sodat ek, maak hulle soos gesuggereer om 08:00 oop, relatief gou geholpe kan wees. 10:00 wag die lem mos om te keer dat my binnegoed aanhou by die gat in my buikwand uitwurm.
Ek staan dan ook om die waarheid te sê van 06:10 daar, vreeslik stewig  op- en om- en in- en vasgebind met etlike inklimgordels om my lyf, om binne te hou wat binne moet bly.
Iemand het seker 20 jaar gelede in my teenwoordigheid genoem dat ‘n mens nie aan ‘n breuk moet laat sny voor dit nie absoluut nodig is nie. So het ek hierdie woorde ter harte geneem en toe ek jare later self een ontwikkel aangehang en vasgebyt tot ek knap duskant ‘n noodoperasie moes hospitaal toe.
Maar die registrasiepapiere kan nie wag tot ek weer op die been is nie, ek moet maar net vroeg genoeg op die been kom en in die tou gaan staan.
Ek het donkiesjare gelede, nog voor ek begin skool hou het, by die Blou Meul op Alberton vir my een van daardie wandelstokke wat bo oopvou om sitplek te word, gekoop. Ek het destyds voorsien ek sal dalk eendag lank in ‘n tou moet staan op rugbykaartjies te koop, en dan hoef ek nie so lank te staan nie, ek kan gerieflik sit.
Ek het die ding, letterlik, in meer as 20 jaar nie een keer gebruik nie, en dit het niks met rugby te doen nie, maar suiwer die feit dat die goed ‘n lewensrisiko vir jou asposteriori  inhou – vit al wat jy weet het jy nie eendag meer nodig om vir daai oumansoperasie te gaan nie, jy het alles sommer uitgeval die dag toe jy in die tou voor Loftus se kaartjieskantoor op jou wandelstok probeer sit het.
Ek kry die kierie teen alle verwagting in opgespoor waar ek dit 10 jaar gelede toe ons hier ingetrek het, op die heel boonste rak in die motorhuis gesit het.

Gewapen met hierdie kierie en toegerus met die dikste storieboek in die huis, val ek toe nou 06:10 vyfde in die tou wat spoedig ‘n lywige serpent  met sy stert iewers om die gebou se agterkant word.
Hier teen 07:40 is my boek ook klaar gelees en kan ek al geld as straatarties verdien – gedagtig nou aan al die balanseertoertjies wat ek op en om my sit-sit-so-kierie kan uitoefen.
Dis ook ongeveer hierdie tyd, 07:40, een uur en dertig minute later, dat daar skielik ‘n tweede ry, parallel met ons s’n begin vorm aanneem.  As ons links van die deur se linkerkosyn staan, dan staan die kop van hierdie nuwe slang net so regs van die regterkosyn. En dis nie 15 minute nie, toe het hierdie verwarde huisslangetjie aangegroei tot ‘n basilisk van gigantiese afmetings.
Ek tree versig so effe uit my ry, net om seker te maak daar is nie ‘n straks twee bordjies, een links en een regs, by die deur waar ons tou nie. Netnou ís daar en dan staan daar op die anderkant se bordjie dat dit is waar jy moet staan vir motorvoertuie se herregistrasievorms.
Maar gelukkig is daar nie.
Plek-plek begin links en regs na mekaar hap en gif spoeg. En ek kan dit verstaan.
Maar ek weerhou my daarvan om hierdie nuwe tweede ry reg te help deur beleef te noem dat die einde van die ry af met die tou waarin ek staan, is. Ja, jy kan die einde weliswaar nie meer sien nie, dit kronkel nou al twee en ‘n half keer om die gebou, deur die parkade en af in die straat waar hulle ingekom het, enige mens met gesonde verstand wat 07:40 hier aangekom het, sou dit agtergekom het toe hulle netnou by die hek ingekom het, onder die indruk dis weer 27 April 1994, die dag van die eerste demokratiese verkiesing in die mooi Reënboogland van ons.
Ek wonder in die stilligheid hoe dit moontlik is dat daar soveel breindooies op een oggend by Watloo kan aanmeld.
Die res is geskiedenis, en voorspelbaar.
Al wat die leser seker nie verwag nie is dat die deur nie 08:00 oopgemaak het nie, maar 07:55 – kan jy meer! Wonderwerke gebeur nog! Dis darem nie net die gerugte van iets soos ‘n hel wat waar blyk te wees nie.
Maar dis gou duidelik dat die mense aan die binnekant van die deur al van baie vroeg af daar besig is, want dis omreeds hul eerste smoke break vir die oggend te kom neem, dat hulle die deur so vroeg oopmaak.
En so waar as wat ek nie ‘n koronêr geskiet het nie, maar oorleef het om die storie, vandag, amper ‘n week later te kan vertel, druk die twee tannies hulle sigarette op die grond dood, skiet die stompies eenkant toe, en laat die 30 mense aan die regterkant van die deur eerste inbeweeg.
Vir die volgende 40 minute gebeur daar niks nie – behalwe nou vir die feit dat ons waaraan die spinnekoppe al hul spinnerakke begin weef, al hoe warmder om die kraag begin raak. Ek bly, soos van 06:10 af, vyfde in die ry.
Toe kom daai een Beëlsebub van ‘n tannie uit vir haar volgende sigaret, en na sy haar stompie weggeskiet het, stap sy met die ry af en kyk na ons papiere – dit was soos op laerskool as ons almal ons hande moes wys dat Juffrou kan sien of ons ons hande mooi gewas het, net, hierdie vrou het nie na ons hande of naels gekyk nie, sy het  ons papiere uitgekyk.
Party mense stuur sy toe so waar as waaragtig na regs om ‘n nuwe tweede tou te begin vorm.
En ek, nommer 5 van 06:10 af, was die eerste een van hulle.
Maar ek sluit af, ek kan voel, aanvoel, dat ek na die operasie duidelik nog nie geestelik en vleestelik  sterk genoeg is om nou al met al hierdie gevoelens en stukkies onthou om te kan gaan nie.

No comments: