Ek sê dit weliswaar met gemengde gevoelens, maar ek sê dit: “So baie soos ek op skool van redenaars gehou het, so min hou ek nou daarvan.”
Op skool het dit eers in standerd 6 begin; deesdae is daar al Graad O’s wat aan kompetisies deelneem.
Destyds was ons skool se kompetisie in die hande van die Junior Rapportryers. Maar van die Junior Rapportryers, die Ruiterwag en die Broederbond het ons kinders niks geweet nie. Die Junior Rapportryers was verantwoordelik gewees dat die Sondagkoerante Saterdagaande laat reeds op straat verskyn en Sondae op pad Kerk toe gekoop kan word. Dis ook hoe ek dit destyds aan Aartsbiskop Tutu en die lede van die Waarheid- en Versoeningskommissie erken en bely, kyk maar self, volume 27, subparagrawe 3 576 tot 3 579.
Hierdie omies van Rapport se redenaarskompetisie was ‘n gesellige aand in die skool se personeelkamer, regtig net die een keer ‘n jaar wat jy as kind hierdie heiligdom van die personeel betree het. As Ma of Pa tyd oopgesien het om te kom, moes hulle ‘n bordjie eetgoed vir saam met tee bring. (Ai, dit was die dae toe die ouers nog self daarvoor ingestaan het, nie die tuisnywerheid, of later Woolworths, nie!)
Daar was ‘n handjievol sprekers en luisteraars en twee ooms van die Junior Rapportryers wat beoordeel en boekpryse aan die einde van die aand uitgedeel het.
Nou se dae is dit wat die destydse ATKV vandag uitgedraai het, wat die septer swaai. En dis groot, baie groot. Nasionaal. Internasionaal as ons Namibië en Orania byreken.
Ons laerskool hou oor twee aande uitdunne, een vir die juniors en een vir die seniors, daar is telkens nagenoeg 30 sprekers en die saal is gepak van mammas en pappas en ooms en tannies en oumas en oupas en boeties en sussies; die helfte van hulle tot die tande toe met rolprent- en televisiekameras bewapen. En dié wat dit nie daar het nie laai hul digitale kameras se magasyne met telefotolense wat die plaak op die sprekers se tande vir navorsingsdoeleindes kan afneem.
Gelukkig kan die selfone nie een lui nie, elke foon in die gehoor word gebruik om, óf backup vir die televsiekamera te wees, óf om die toespraak se klankbaan te minste op te kan neem.
Maar ek het vrede, want eintlik hou ek mos van redenaars.
Ek het as student al deur Wes-Transvaal gery en saam met die dramadepartement se personeel redenaarskompetisies gaan beoordeel. En toe ek eers begin skoolhou, van krag tot krag gegaan as kranige afrigter en beoordelaar.
Dis nou tot ek na so 12 jaar van redenaars bloot na een provinsiale sessie besluit het: tot hiertoe en nie verder nie, ek weier om ooit weer te beoordeel, of dit nou plaaslik of vriendskaplik of onder ‘n naam of sonder ‘n naam is, ek het klaar.
Die kompetisie het net eenvoudig in alle opsigte handuitgeruk.
Dit was om van siek te word. En te bly.
Ek het die laaste een van my skooltoesprake self geskryf. Ek het geweet hoe om dit te doen, en ek het geweet hoe om dit goed te doen.
Goeie toespraakskrywers (en toevallig ook beoordelaars in die kompetisie waarvoor hulle jou van ‘n toespraak voorsien) lewer al langer as 10 jaar nie net meer ‘n getikte toespraak nie, nee, die kliënt word van ‘n opname ook voorsien, sodat die kandidaat die regte infleksies kan hoor en nadoen. En dan praat ek nie van ‘n klankopname nie – ‘n video-opname met die oog op die regte houding, oogkontak en effekberekende handgebare.
Ja, dinge het drasties verander.
Die dag toe ek die laaste keer beoordeel het, was die dag waarop ouers begin verneuk het om hul kinders in die lokale van húl keuse laat meeding, daar waar die regte beoordelaars met die regte voorkennis sit. ‘n Ander moeder het weer vooraf insae gekry in watter leerders van watter skole in watter lokaal praat, en toe aspris laat met haar kind daar aangekom, dit net sodat die kind in ‘n ander lokaal kan gaan praat as die lokaal waarin haar seun saam met ‘n vorige wenner moes praat. Sy was op die punt om hom as ‘n laat inskrywing in die betrokke lokaal van haar keuse te laat praat, toe iemand al 13 lokale se lyste daar had, en die kind se naam in ‘n ander lokaal opgespoor het.
In die film Hoofmeisie is daar ‘n grap van gemaak, maar dit was inderdaad die middag waarop twee sprekers van twee verskillende skole, trouens een op Brits en een in Pretoria, met presies dieselfde toespraak daar opgedaag het.
Maar die organiseerders kon nie briek aandraai nie, die kompetisie bring geld in. Die beoordelaars kon nie briek aandraai nie, die kompetisie bring geld in en onder die tafel met al die skryfwerk en afrigting saam, bring dit nog meer geld in. En ek as onderwyser in beheer van ‘n span of enkele individuele sprekers wóú nie briek aandraai nie – skielik het ek na jare met ‘n buitemuurse aktiwiteit gesit wat niks van my tyd in beslag neem nie. Terwyl die hoof dink ek werk, leen ek my ore uit aan kinders wat vertel: “Moenie wharrie nie Meneer, whatch net – my ma het klaar ‘n tannie gekry om alles te doen.”
Ai, en toe, na ‘n klompie jare van redenaars doen sonder om iets hoef te doen, is Klaradyn graad 1 toe. En hulle kry selfs iemand om ‘n kursus vir die ouers te kom aanbied oor hoe om jou graad-eentjie-parrabeentjie se toespraak vir hom of haar te skryf.
Ek stap daar weg en my gesonde verstand sê vir my ons spring nou nie net op een nie, maar sommer op twee verkeerde voete weg wat elk op sy beurt verklaar hoekom hoërskoolredenaars geword het wat dit geword het: eerstens leer die kind van dag een af dat iemand anders jou toesprake vir jou skryf, wat in graad 1 begin is, gaan nie in graad 7 verander nie. Tweedens word die kinders van graad 1 af geleer om die toesprake soos gedigte uit hulle koppe op te sê; geen graad 1 kind kan notas aflees en ‘n toespraak rondom die sleutelwoorde praat nie, dit moet uit die kop geleer en resiteer word.
Maar ek weet so seker as wat my naam Hans Moolman is dat ‘n kind wat aan so ‘n redenaarsaand deelneem, enige kind, elke kind, ‘n wenner is en lewenslank daardeur verryk word. So Pappa, Mamma (en Klaars noodgedwonge daarby ingesleep) gryp die geleentheid aan.
Ook die jaar daarna, en verlede Woensdagaand toe ek uit die hospitaal ontslaan is, weer.
Ek sluk twee pynpille, kry my seer lyf in die kar en gaan luister na my kind.
Ek lê weliswaar die eerste tweederdes van die aand op die naat van my rug in die motor se passasiersitplek, maar pouse kom haal Annieka my.
Ek luister met oorgawe en geniet elke oomblik.
Na ‘n outjie waarvan ek een jaar nie ‘n enkele woord kon hoor nie, as graadwenner aangewys is, weet ek darem lankal om nie die kompetisiegedeelte te ernstig op te neem nie.
‘n Ander jaar was die wenner enetjie Klaradyn se ouderdom wat onder andere Reuters Associated Press as bronverwysing aangebied het. Dit kon Agence France Presse ook gewees het, ek onthou net dat ek totaal stomgeslaan was, gedagtig veral aan my kind wie se bronverwysings ooreenkomstig haar ouderdom en onmiddellike verwysingsraamwerk ‘n episode van Barney, haar oupa Charlie, en iets uit die Afrikaanse weergawe van National Geographic Kids was.
Maar teen vanjaar is my beoordelaarsvaardighede in ieder geval so verroes van al die jare sedert ek my voet neergesit het, dat ek nie eers probeer om met die beoordelaarskaart voor my te luister nie, ek geniet die kinders eerder met volle oorgawe.
Terwyl die hoofbeoordelaar repliek op die aand se gebeure en praatjies lewer, laat val Annieka dat dit die sinvolste kommentaar in ons laerskoolloopbaan is, en ek stem nogal met haar saam.
Elke kind het wat my betref lieflik gepraat, elkeen van die 10 of wat, wat ek gehoor het, styg uit bo die ander 90 wat nie daar is om te kom praat nie en ek maak vrede met die feit dat elke kraai van nature dink sy eier is die witste, ek móés dié vrede trouens nege jaar gelede al maak toe die verpleegsuster nie mý prinsessie kies om te bad nie. Daar is daardie dag vyf babas gebore en hulle het al die mammas en pappas bymekaar gekry vir ‘n baddemonstrasie. En toe gaan staan en kies die vrou ‘n ander kind wat gelyk het of sy vroeër die dag met tange vrygelaat is!
Ek het nege jaar later weliswaar nie ‘n idee wie sou kon deurgaan as die beste redenaartjie nie, ek troos my daaraan dat dit my werk as pappa is om te sorg dat my kind vir my die mooiste ís, en lýk, en praat, en oorkom, en opstaan, en gaan sit, en doodeenvoudig sommer álles. En ek kwyt myself deeglik van my taak.
Haai, en daar is dit toe nou nie net ek wat so van my kind dink nie, maar ten minste een van die beoordelaars ook – en daar word K vanjaar vorentoe geroep as wenner onder die graad 3’s en die juniors in geheel.
Na die algehele verbasing en oorstelptheid op haar gesig my op die punt van ontroer gehad het, is ek met ‘n bly hart en seer buikwand dadelik uit en kar toe.
En dis hoekom dit in ‘n kwessie van 10 sekondes skielik vir my moeilik geword om die proses te kritiseer, dat ek met gemengde gevoelens oor redenaars sit.
Enige iemand, nie net ma’s en pa’s nie, sal verstaan.
Ek is bly vir my kind, bly dat sy gister die vormende ervaring kon hê om haar toespraak tydens saalopening vir die hele skool te vertel.
Blyer nog, ‘n pa is ‘n pa, dat ek, vir een jaar ten minste, nie die weer ‘n keer die ref hoef te blameer vir die feit dat ons prinses nie gewen het nie.
En laat ek as nota bene en addendum, ter wille van die rekord, dit net duidelik stel dat dit nie ons is wat die foto’s hier onder geneem het nie, dit kom van die skool se saalaanbieding gisteroggend.
No comments:
Post a Comment