Pages

6.4.13

Met ompaaie see toe en terug

So is die vier van ons toe nou twee weke af see toe en, uit en tuis, ook al weer gister terug. Die internet is saam, maar sonder seinopvangs het daar van al die geselsies wat ek in die vooruitsig had, niks gekom nie.

Ja, jy het reg gelees, die vier van ons, want Ouma Nooi is saam: Pappa, Mamma, Klaars én Oorle’ Judy.

En die feit dat sy nie te water gelaat is nie, maar hoog en droog terug in Pretoria is, het sy suiwer aan haarself, en niemand anders nie, te danke.

Haar oorlede suster, my Tannie Anne, beland toe mos destyds na die verassing in haar AVBOB-houtkissie by my ma en Oom Jack op.

Hoe dit gekom het, weet ek nie, maar my ma had daarmee geen probleem nie, om die waarheid te sê, ek dink sy het dit so verkies.

En toe hulle uit die huis, ouetehuis toe is, toe trek Tannie Anne saam.

Die spasie was beperk, dit was nie ‘n ouetehuiswoonstel nie, dit was ‘n ouetehuiskamer, eintlik ‘n siekeboeg-siekekamer met genadiglik darem ‘n eie privaatbadkamer. Oom Jack het mos in die huis vasgebyt, seker ‘n goeie tien jaar langer as wat nodig was, so die skuif, toe hy uiteindelik kom, was groot en ingrypend.

Ewentwel, met die gebrek aan spasie, beland Tannie Anne toe onder in die televisiekas, saam met al die snoepgoed op ‘n rakkie gepak. Tussen die beskuit, die koekies, die sjokolade, en Kersfees-, verjaarsdag-, moeders- en vadersdag-eetgoedpresentjies kon jy nooit jou hand net insteek en uithaal nie, jy moes afbuk en mik en mooi kyk. Jy dink nog jy het jou hand op die boksie Salticrax of Bacon Kips, dan is dit al die tyd Tannie Anne wat jy te voorskyn bring.

Dis ook nie asof ons hierdie kas twee keer ‘n jaar oopgemaak het nie. Élke keer as ons met Klaradyn daar aankom, dan wink Oom Jack haar met die hand na hom toe, en moet ek of Annieka dan eers vir die kleinkind ‘n snoeperytjie neffens Tannie Anne uitdelf.

My neef is jare na haar dood in ‘n stadium met Tannie Anne daar weg, om haar iewers te gaan strooi, maar hy het geweet om die kissie waarin die as gestoor is, weer terug te besorg dat dit kan staan waar dit hoort, tussen die eetgoed by Judy in die ouetehuis.

Na Oom Jack se dood is Anne se kissie saam enkelkamer toe.

Die kissie is nou by ons in die garage tussen Ouma Nooi se ander goedjies.

Ek weet nie hoe lank dit nou is dat my ma dood is nie, ek wil nie weet nie, maar ek weet dat ek nog nie opgewasse genoeg is om deur haar goedjies te gaan en in die proses op Tannie Anne se kissie af te kom en dit dan saam met so baie ander van haar hartsgoedjies weg te moet gooi nie.

Met ‘n rolmodel soos Judy, wat haar dierbare oorle sus met die wêreldse gemoedsrus in haar leefruimte ingenooi het, is dit te verstane dat ek ook nie griesels en geite rondom my ma se eie as het nie.

Dis immers so gewoon soos Tannie Anne se as, net in ‘n ander kissie.

My ma se wens was destyds dat ons haar as by die see sal strooi.

Sy sou seker met enige see tevrede wees, maar ek en my broer weet beide sy het haar gelukkigste vakansietye aan die Natalse suidkus gehad, Uvongo en die laaste 20 jaar van lewe, Ramsgate.

So toe laai ons haar in toe ons twee weke gelede met vakansie afgaan Scottburgh toe.

Die gedagte was dat my broer-hulle by ons aansluit en dan sluit ons die hoofstuk rondom die teraardebestelling af.

Stof is jy en tot stof sal jy terugkeer.

Maar daar gebeur dit toe nou dat my broer-hulle nie kan afkom nie.

Ek het geen dringende behoefte om op my eie af te storm rotse toe en van my ma ontslae te raak nie, sy pla my nie in die huis nie en die geleentheid sal wel weer voordoen dat ek en Jac saam as gesin bymekaar kan kom om haar wens op gepaste wyse te betoon.

So Judy is veilig uit en ook weer tuis.

Dis egter ‘n heel ander rit, Kaapse kus toe hierdie keer, saam met die ou vrou in die motor, waarby ek wil uitkom.

Watter jaar dit was, weet ek nie, seker so 20 jaar gelede.

Ek was nog net een maal vantevore (standerd 3) in die Kaap en dis tyd dat die jong onderwyser daardie deel van die land leer ken. ‘n Vriendin gaan my die Kaap deur haar oë wys.

Judy, ‘n gebore Kapenaar, is saam met ons af en het ruk lank saam getoer, verder vakansie gehou en toe terug gevlieg.

So soek ons op George my ma-hulle se huis op. Ek sal dit tot die dag van my dood vergeet nie. Vir twintig jaar, tot gister, het ek ook niks daarvan verstaan nie.

Ons het Stockenströmstraat, waar hulle gebly het, gou opgespoor. Eers ook die perseel waar my oupa-hulle se skoenfabriek was voor dit een nag afgebrand het. En toe die huis. Stockenströmstraat 20, verbeel ek my.

Die huis het nog gestaan, maar die erf moes handelsreg op hê want die plek is ‘n motorfietswinkel omskep. Die dop staan destyds nog presies soos sestig jaar tevore, maar dis ‘n besigheid.

My ma wil nie ingaan nie, maar sy wys waar haar kamer was en lig ook die ander vertrekke uit.

Toe vra sy dat ons ry.

En in stilte, sonder om iets te sê sit sy toe vir goed twintig minute en huil.

Ek het nie uitgevra nie, al wou ek – ek het haar gemoed te veel respekteer.

Maar ek was te jonk om te verstaan hoekom sy huil, miskien nie te jonk nie, maar te onvolwasse.

Bloot die feit dat ek haar wou uitvra oor die trane, is bewys gewees van my jeugdigheid.

En toe twintig jaar later, gister, beide my ouers ook al in die graf, op pad terug van die see, is ons verby my geboortedorp.

Ek vra of ons gou kan indraai sodat ek ’n herbesoek aan my geboortehuis kan bring.

Toe ons twintig minute later terugry, toe verstaan ek Judy se stilte destyds ten volle.

Annieka het agter by Klaradyn gesit en ek het gereken ek is stil genoeg, maar net buite die dorp het ek Klaradyn se handjie op my rug voel klop, lank voel klop.

Ek het foto’s geneem om vir my broer te wys.

‘n Foto speek ook meer as wat ‘n duisend woorde kan oordra.

Vooraangesig

Buitegeboue


My kamer


Uit die
hoofslaapkamer
af in die gang
tot in die
kombuis

Sitkamer


Uit die eetkamer

Hoofslaapkamer

?!

No comments: