Iewers is die woorde “elke liedjie vertel ‘n storie” in my ingeprent. Ek vermoed dit moes die naam van ‘n program op die Afrikaanse diens van die SAUK, lank voor dit RSG geword het, gewees het.
Die woorde het in my bewussyn vasgesteek en maal nou al donkiesjare lank gereeld deur my kop, elke keer as ‘n sekere liedjie ‘n spesifieke herinnering by my oproep.
Dis ‘n algemene ding, die neiging om onmiddellik na iewers in die verlede verplaas te word, die oomblik dat jy ‘n deuentjie hoor.
Daarom ook dat jy my nie moet vra wat my gunstelingliedjie is nie. Dit hang alles af van my gemoedstoestand op daardie betrokke oomblik, waar ek is, tussen wie, en hoe die weer daar buite lyk. Hierdie dinge bepaal watter herinnering op daardie oomblik die naaste aan my hart lê, en daardie herinnering roep dan die liedjie op.
Vanoggend vroeg se gunstelingliedjie, is daarom nie nou, ure later terug van die werk, se gunstelingliedjie nie, en nog minder netnou, tydens ‘n kuier met ou skoolvriende, se gunstelingliedjie.
Ek, en ek vermoed ten sterkste dis eerder maar ons almal wat so is, hou van ‘n betrokkie liedjie, nie oor die liedjie nie, maar oor die storie wat dit oproep en vertel.
Hier by die skool moes ons verlede jaar ons gunstelingliedjie opgee. Die gedagte was om ‘n CD se saam te stel met die personeel se gunstelinge op, en verjaar ons die dag, is dit die CD wat die skool jou saam met die verjaarsdagkaartjie en mooi wense gee.
Dit was die tweede keer dat ons dit doen; die eerste keer was sowat nege of tien jaar gelede.
Wat my gunsteling tóé was, weet ek nie. Annieka s’n was destyds Steve Hofmeyer se gewilde Pampoen-liedjie.
Wat net weer eens my teorie bewys:
“Pampoen” is daardie jare gereeld oor die radio gespeel. Sy was swanger met Klaradyn en die liedjie het die wonderlikste herinneringe rondom die swangerskap ingehou, onder andere hoe lekker en ongebreidel sy met op die maat van hierdie musiek met ons een patryshond, Boeta, maar indirek eintlik met haar ongebore babadogtertjie, gedans het.
Klaradyn self het na haar geboorte, as pappe baba, gereeld duidelik gewys dat daardie “Pampoen” –liedjie herinneringe by haar opwek, wat uit die aard van die saak dan nou baarmoederlike herinneringe moet wees.
Ons is steeds, natuurlik nie vreeslik wetenskaplik nie, van mening dat haar liefde musiek en dans, sy oorsprong in Steve se liedjie het.
Sy het aan die skop gegaan, elke keer as die liedjie gespeel het. Of dit nou in die baarnoeder was, of, as suigeling, daar buite.
Ag siestog, en dalk was dit nog uit pure trauma en niks anders nie, omdat haar ouers selfs voor haar geboorte elke keer die klank opgestel het as hulle die liedjie gehoor het. En as hulle nie boonop spontaan saam begin dans het nie, het haar ma die hond nader gepluk en met dié ruk-en-pluk- en hop-en-skop-bewegings begin uitvoer.
Maar wat my gunstelingliedjie op daardie CD was, weet ek regtig nie. Ek sal moet gaan kyk.
Ronde twee, het ek die een of ander man wie se naam my nou ontgaan se “Piano man” opgegee.
Ek sou seker in tien jaar nie daardie liedjie opgegee het nie.
Ek sal tien teen een in die volgende tien jaar ook nie weer daardie liedjie opgee nie.
Maar op daardie oomblik, daardie dag, toe ek my gunsteling gunsteling moes opgee, was die storie wat “Piano man” tóé vertel het, die storie wat ek die graagste vertel wou hoor. Die ergste is, ek weet vandag nie eers wat daardie storie is.
As jy moet vra wat my gunsteling liedjie is, kan jy enige van die volgende, en nog onnoembaar baie ander, kry: enige oorbekende iets van James Last en sy orkes, enige een van seker sowat vyftien Laurika Rauch / Anneli van Rooyen-treffers, “Once upon a time there was a tavern, where we used to raise a glass or two, we used to laugh away the hours, and think of all the great things we would do – those were the days my friend, we thought they’d never end…”
Ook Words, maar nie die een van die words that don’t come easy nie, die een wat wegval met smile an everlasting smile.
En dan is daar nog die melodie en woorde wat vertel van die dae toe ons klein en kersfeesbome groot was, die naam het my weereens ontgaan.
En ook tie a yellow ribbon round the old oak tree if you still love me. Hierdie liedjie het kleintyd altyd op troues en danse gespeel – en waar hol en jol klein kindertjies dan ooit so sorgeloos en lekker rond soos op ‘n troue of by ‘n mandjiedans. Ja, dit was die wonderlike tye toe daar nog so iets soos ‘n mandjiedans was, toe kinders nog by troues toegelaat is.
Ek het dit al omgeswaai om by ‘n antwoord uit te kom: wat is die mooiste of lekkerste herinnering wat deur ‘n spesifieke liedjie opgeroep word. Hiérdie vraag bring my keer op keer by dieselfde antwoord uit.
Maar ons moet versigtig wees om die antwoord op dié betrokke vraag as my gunsteling te etiketteer. Want verander ons die woorde “mooiste” en “lekkerste” in die vraag na iets soos “kosbaarste” of “gemoedelikste,” dan kom daar weer twee ander antwoorde by my op.
Hoogstens daarom dan ‘n gunsteling tussen baie ander gunstelinge, Alphaville se Forever Young. Oor die lieflike, lekker, mooi herinnering wat dit oproep.
In die vier jaar wat ek studeer het, het ons klomp baie partytjie gehou en gedans, maar nooit by die groot en bekende dans- en uithangplekke nie. Nee, ons het aan huis van vriende en vriende se vriende gedans, dikwels in die garage.
Van die allerlaaste partytjie wat ons ooit as ‘n studentegroep vriende so in ‘n garage gehou het, onthou ek hierdie liedjie. Onthou ek die liedjie, die malende lywe, die atmosfeer, die gras, die sementpad motorhuis toe, die lag, die wat al dood is, die wat nog in die lewe is, en belangrikste van alles, watter lieflike aand en oomblik dit was.
Na vier jaar studie was ons gróót, gereed om die grootmenswêreld te betree. Daarom miskien dat die melancholis in my met heimwee vasgegryp het aan die gedagte van I want to be forever young.
Ag, en op die ou einde was dit maar soos die rite de passage wat jou van die huis, laerskool toe; van die laerskool, hoërskool toe; en van die hoërskool, universiteit toe gestuur het – jy het die volgende jaar daar aangekom, en jou gat gesien.
Vir myself en die ander soos ek, wat nie begin werk het nie, maar vir twee jaar army toe gestuur is, was die val en die terug kom aarde toe, natuurlik net soveel groter.
Maar toe ek uit die army kom en begin werk, 1989, toe ek my heel eerste CD-speler ooit, koop, is die eerste CD wat ek koop, niks anders nie as Alphaville se Forever Young nie.
En ek kyk nou al seker vyf jaar weer daarvoor uit; die eerste een het iewers in 1994 voete gekry, en van die tweede een is dit nou al jare dat ek nie die kassie het – wat van die CD geword het, weet ek nie.
Maar, en dis eintlik hoekom ek agter die rekenaar kom inskuif het, dis deesdae al hoe meer en meer vir my asof dit nie net liedjies is wat elkeen ‘n eie storie vertel nie, maar ook kosdisse.
En noudat ek uiteindelik hierby is, besef ek die lang relaas rondom liedjies was eintlik net omdat ek weggehol het van elkeen van hierdie disse, en in besonder die laaste en nuutste een, wat elkeen ook sy eie storie vertel.
Ek het al vertel van my pa en groen- of geelmielies. Ons het die laaste twee weke op twee geleenthede geelmielies geniet. Ek kan nie aansit by mielies, sonder om nie dadelik weer ‘n klein seuntjie aan tafel saam met my ma en pa te word nie. Hans Moolman senior het nie ‘n mielie geëet soos ‘n mens ‘n mielie eet nie; hy het die mielie met sorg (en wit damask servet) aan die kop beetgekry en met sy eie mes van die pitte gestroop. Soos ek dit onthou, het dit reggekry om nie heelwat van die pitte buite die bord oor die tafel te laat dans nie. Miskien onthou ek verkeerd. Maar ek kry dit not-‘n-wielie reg. Sien, Hans Moolman junior kan vandag nie anders as om sy mielies so te eet soos ‘n mens nie veronderstel is om dit te eet nie.
En dan is daar tongvis wat ook sy eie storie het. Vroeër hierdie week was ek dapper, braaf, te groot vir my skoene en het ek aangekondig dat ons vandag, 21 April, tongvis met spinasie en roomsampioene gaan eet. Maar ek het kleinkoppie getrek – tamatieroomsop met mieliekoekies. Die ding met tongvis het kleintyd begin en sy einde gekry in die laaste jaar of wat dat Judy Sondae by ons kom eet het. Ek het van die boksies bevrore tongvis by Woolies gekoop en twee groentes gemaak. Dit was dan vir Judy só spesiaal. Sy het regtig soos ‘n voëltjie geëet, maar eet ons die dag tongvis, dan kan jy maar weet – sy eet met daardie ete meer as die hele vorige week saam.
Ek sal miskien eendag weer tongvis maak, dis my gunsteling visdis en ek is nogal goed met ander tongvis as net Woolies se bevrore pakkies. Maar beslis nie vandag nie – Judy sou vandag 85 gewees het.
Maar dis ‘n man se ouers, en ‘n man se ouers se kos, dié goed kan nie anders as om stories te wil vertel nie.
Die geneuk is net, dié kosstories brei deesdae uit, kring uit en word meer.
Baie vroeër hierdie week, toe ek die gesels begin aanknoop het, maak ek lasagne. En hoewel ek dol is oor kosmaak betrap ek my self dié betrokke ronde dat ek teësinnig is. Toe dit trouens reeds te laat is en ek nie kan omkeer, terugdraai of ophou nie, is ek sommer lelik spyt dat ek ooit begin het.
Die vorige keer dat ek lasagne gemaak het, was dit omtrent ‘n hele dag of naweek se maak. Ek verbeel my dit was ses of agt van hierdie blink tinfoeliebakke wat jy in die supermarkte koop. Dit was in elk geval hopeloos te veel om alles vir my vriende te gee, en ons het twee of drie hier by ons gevries.
En ek kan my ook nie indink dat hulle alles al opgeëet het teen die tyd wat ons al begrafnis gehou het nie.
Ek het toe maar ‘n groot glas rooiwyn geskink, besef dat nie net elke liedjie meer ‘n storie vertel nie, ook elke dis. En terwyl ek die lasagne klaarmaak, het ek in my kop die storie van Lentelie Bosman, wat later Lentelie van Helsdingen geword het, laat uitspeel. Teen die tyd dat ek die bechamel –sous oor had, was dit 29 jaar later.
Ek wou my vriend bel, maar oor ek hom aan die ander kant nie wou konfronteer met lasagne waarmee ek hom sou moes konfronteer nie, het ek dit daar gelaat.
En waaragtig, toe bel hy my.
Soveel liedjies, soveel disse – soveel stories.
No comments:
Post a Comment