As die somer dan nou verjaag is, is dit my skuld. Dit was geensins my bedoeling nie, maar dit sal my nie verbaas as Demeter vir Persephone vanjaar voortydig terugstuur onderwêreld toe, na Pluto toe nie.
Ja, Demeter, Persephone en Pluto! En was dit nie heerlik nie: na ek vir jare net van die twee boeke bewus is, loop ek toe, binne twee weke na mekaar, die enigste twee uitgebreide, ordentlike, Afrikaanse oorvertellings van die Griekse legendes en mites, waarvan ek bewus is, raak.
Wat laaste was, kom toe eerste, want die eerste wat ek raakloop is L C de Jager se Griekse Legendes, in 1967 deur Voortrekkerpers uitgegee. En toe, om die kersie op die kroon te span (!?) kom ek af op P J Conradie se Avonture van die Griekse helde en gode wat in 1964 deur Human en Rousseau op die rak geplaas is.
Naas die eerste twee Afrikaanse Asterix-boeke wat ek net móés koop die oomblik toe Protea-uitgewers dit loslaat, is die Griekse legendes toe ál waaruit ek die hele vakansie voorlees. Soggens in die tent, soggens op die strand, smiddaes as ons skuinslê, én saans voor ons gaan slaap.
Klaradyn is na die vakansie ‘n lopende ensiklopedie oor die Griekse kultuurskat.
De Jager se skrywe, lei ek af, was ‘n poging om ‘n meer kindervriendelike weergawe van Conradie se hardebaard vertelling te wees. Maar ons is Conradie dwarsdeur, van voor tot agter. Van die bandelose seks toe die Argonoute op die eiland Lemnos op die spul vroue afkom wat ‘n rukkie van te vore elke man waarop hul hul oog kon lê, vermoor en toe in talle opsigte ‘n groot gemis aan hul mans ontwikkel het, tot Tantalos wat sy eie seun, Pelops, opgesny, gaar gekook en vir die gode voorgesit het.
1964 se oorvertelling van al die ongebreidelde seks, veral Zeus wat ‘n vrou nie kon uitlos of laat verby gaan nie, is egter so eufemisties aangebied dat vandag se jong lesers dit op 22 nie eers sal herken nie.
Maar waar die vier seisoene volgens die ou Grieke vandaan kom en hoe Pluto (toe nie ‘n planeet wat na ‘n Disney-karakter vernoem is nie) daarby inpas, sal Klaradyn jou kan vertel.
En dat ek die somer wegjaag ook.
Ek sal die somer nooit verby wens nie. Maar ek sal altyd na die winter uitsien, reikhalsend en halsreikend.
Vrydag is ons hier in Pretoria vir die eerste keer daaraan herinner dat dit nie verniet elke oggend later lig word nie – ons gaan oor drie maande koue hê.
En die eerste wat ek met kinderlike opwinding rondloop en vertel, is dat ons, solank die koue net hou, hierdie naweek gaan sop eet.
Vrydagaand is egter uit. Ek het Donderdagaand reeds Vrydagaand se kos gemaak. Nie omdat ek wou nie, maar omdat Annieka toe, na ek alles aangekoop het, herinner dat sy nie daar is vir aandete nie, sy het ‘n vergadering.
Donderdagaand, terwyl die heerlikste geure van die een stoofplaat opstyg, braai ek toe vir my en Klaradyn visvingers wat ons met geelmielies en die oorskiet van Mamma se verjaarsdagete-slaai geniet.
Ek was só reg vir die lekkerste aandete, maar dit sou moes oorstaan vir na Vrydag.
Na skool gaan laai ek ‘n graad 11-seun wat saam met my ry, by sy huis af. In my agterkop is altyd daardie “wat eet ons vanaand” en ek klop by hom aan vir inspirasie: “As jy vanaand se aandete kon kies, wat sal dit wees?”
“Spaghetti bolognaise,” antwoord hy sonder om twee keer te dink.
En ek weet, spaghetti bolognaise sal dit dan wees, nie spaghetti en mince nie (dis ook lekker) maar spaghetti met ‘n lieflike maalvleissous soos die Italianers dit maak.
Na ‘n dramatiese pouse, voeg hy egter by: “...met witsous!”
Spaghetti bolognaise en witsous?
Ek het in my lewe nog nie daarvan gehoor nie! Weet die stomme kind ooit wat spaghetti bolognaise is?
Maar ek vra nie uit nie, dis duidelik dat dit presies is wat hy wil hê, en dat dit vir hom die lekkerste van lekkerstes is.
Ek maak my bolognaise-sous, maar die hele tyd maal daardie witsous in my gedagtes. En teen Vrydag kan ek my niks lekkerder as spaghetti bolognaise met witsous voorstel nie – el het ek dit nog nooit geproe nie. Ek het die seun se lyftaal gelees toe hy dit noem, daar was ‘n iets in sy stemtoon, ‘n veraf, verlangende kyk in sy oë. Dit móét héérlik wees!
Vrydag toe kan ek dit nie meer hou nie, ek bel sy ma en vind alles van die witsous uit. En hoe meer sy vertel, hoe meer weet ek, dit gaan vanaand spaghetti bolognaise met witsous vir die Moolmans wees.
Sy ma laat val toe ook dat hulle inderdaad die vorige aand op Boeta se versoek spaghetti bolognaise met witsous gehad het.
Presies wat ons toe Vrydag het, presies soos hy daarvan hou.
Die kou bly, maar Saterdagaand kan ons nie sop nie, ons het verjaarsdagete by Ouma en Oupa-hulle.
En toe vandag, toe is dit warm, snikwarm, ek sit op die oomblik kaalbolyf en tik, so warm is dit.
Daar is egter nie ‘n manier, nadat ek Vrydag al my kop en hart en siel daarop gesit het, dat ons nié hierdie naweek sop eet nie.
Ek is mal oor my eie Portugese hoendersop, maar by die skool het ek nou al drie keer ‘n ander vrou se hoendersop geproe; ek het al in Desember besluit dat ek 2013 se winter met daardie vrou se sop gaan inlei.
Na ek Vrydag alles uitgevra het, wat daar uit te vra is, het ek toe inderdaad, hoogsomerhitte of te not, vanoggend al my hoendersop a’la Nadia begin.
Dis ‘n hoenderroomsop met hoenderdraadjies in, soos daardie draadjies hoender in ordentlike Sjinese sop. Ek het mielies en sampioene bygegooi, én die room wat van die verjaarsdagete se poeding oorgebly het. Ui en knoffel ook. Foelie en naeltjies en alles wat die sop na my mening goed kon doen.
Dit was die eerste keer dat ek daardie pad met ‘n hoendersop loop.
Ek hou van daardie waterige hoendersop wat jy aanvul met rys. My ma wou nie haar mond daaraan sit nie, sy het vertel dat dit die kos was wat hulle kleintyd moes eet as hulle siek was. “En ek is nie meer lank nie meer ‘n kind nie, en nog minder siek,” sou sy haar teësin afsluit.
Ek sal Nadia se pad met hoendersop weer loop, hierdie eerste keer was ‘n sukses, ‘n groot sukses.
Al wat skort en skeel is natuurlik die gebrek aan koue, maar hopelik het die somer haar moer nou so vir my gepluk dat sy haar goed vat en loop.
Klaradyn het hoeka verlede week al vir Annieka vertel dat sy só uitsien na die wintervakansie wanneer ons gereeld saans haar gunsteling tamatiesop by ‘n klein tafeltjie in die hoofslaapkamer, wat ons met ‘n gasverwarmer knus en gesellig kry, eet.
Tamatiesop, hoendersop, bonesop, beesstertsop, groentesop, vleissop, broodsop, pampoensop, klipsop, noem-maar-op-sop... kry julle reg, want – HIER KÓM ONS!
Naskrif:
Daardie witsous van lasgane, bietjie dunner miskien, roer die kind eers by die spaghetti in om dit goed aan te klam. Dan die bolgnaise en as jy rojaal wil wees, kan jy nog ‘n katpoegie witsous bo-op ook om af te rond.
Waar my bolgnaise-sous wegtrek met 3 blikkies tamaties en kleinerige pakkie maalvleis en ewe kleinerige pakkie spekvleis, het die witsous weggeneem uit die tamaties wat die grypie suiker nie kon doen nie.
Die 8 hoenderfilette het ek blokkies gesny en met die geurmiddels eers stoompot toe gestuur voor ek dit met die groente en room in die prutpot laat staan het. Waar dit nou nog staan.
Maar ek sluit af, want ons gaan nou eet.
No comments:
Post a Comment