‘n Gekoopte gaar hoender, kaasrolletjies en mayonnaise. Wat kan dan nou lekkerder wees!
Jaar een, vier jaar gelede, was ‘n aansit-restaurantete, tongvis en die tradisionele bygeregte, as ek my dit nie mis het nie.
Maar toe het ons in die reën hier aangekom. En laat. Pappa en Mamma was nat tot teen die been, Klaars droog en knus in die motor se binneruim, teen die dat daglig ons lankal gegroet het en ons uiteindelik die tente soorts van staan gekry het.
Letterlik net soorts van, want die een tent het toe twee weke sonder sy dakseil bly staan. Sonder dat óf ons, óf die tent iéts daarvan oorgekom het!
Ons is bibberend na die restaurant toe, want ek het geweet, as ek die bietjie van my vrou wat behoue gebly het na die nagmerrie van die laat agtermiddag en vroegaand, dan moet ek haar nou weer soos ‘n dame laat voel, en die naaste wat ek daaraan kan kom, is nié Two minute noodles nie, maar iets soos Sole minieurre (sommer ‘n meneer van ‘n vis, onthou ek, het ek destyds die Frans wat ek vanoggend nie kan spel nie, vir Klaradyn verduidelik) en witwyn in langsteelglasies.
Jaar twee het ons hierdie ete iets van ‘n tradisie probeer maak. Maar die eetplek is regtig niks om oor huis toe skryf nie, en as jy wel iets daaroor móét skryf, sal dit wees om te kla oor die simpel dikwandkombuisglase waaruit jy jou wyn moet drink, en die bevrore vis wat proe asof dit met die melktrein al die pad van Johannesburg af tot hier vlak langs die see geboemel het.
So deesdae ry ons ‘n paar kilometer in dorp toe en gaan eet daar, maar dis op die laaste aand as letterlik nog net die dop van een tent staan. Die res, met die uitsondering van die beddegoed en die volgende oggend se klere is alles gepak.
Die laaste jaar toe ons opgepak het, moes ons weliswaar eers winkels toe voor ons kon restaurant toe – ons het in erge reën (Klaars, kom weer en wind en oseaan, warm en droog en veilig en dig in haar tentjie by die see) moes oppak. Daar bly toe vir ons niks anders om te doen as om maar die volgende oggend se going away-pakkies aan trek en vir elkeen van ons twee ‘n piksplinternuwe stelletjie klere te gaan koop nie. Te heerlik, so teen die einde van ‘n vakansie wat in sy eerste week al jou bankrekening in ongekende donkerrooi dieptes en laagtepunte gehad het.
Iets van al hierdie ervarings moes in Annieka se kop vasgesteek het, ook die feit dat ons vanjaar vier vertrekke op plekke wil opslaan: slaapkamer, speelkamer, kombuis én lapa (of te wel die gazebo). Van laasgenoemde is dit seker nou al vyf jaar dat ons elke leer sê dis die allerlaaste jaar dat ons hierdie getroue ding opslaan, hy kán net nie meer nie. Hy is spierwit grys gebleik deur son en reën, net in die diepste van enkele nate dat hy jou nog daaraan herinner dat hy een of ander tyd in die verre verlede koningsblou was. Daar is nie ‘n paal of lit of gewrig wat nie krom en skeef trek van rumatiek nie. En dan sak haar seil ook uit soos ‘n baie ou teef wat al donkiesjare lank lewe geskenk het se tieties.
Gevolglkik het Annieka vroeg reeds lat blyk dat sy vanjaar ‘n ertjie het – ons gaan nié vanjaar gewone tyd vertrek nie, ons gaan vróég in die pad val. Sy praat van drie-uur opstaan.
Maar dan is ek en sy mos ook nou darem nie van vanjaar af vir die eerste keer saam nie, ons het al vergeet van hoe die huwelikklokke destyds geklink het. So ek kén haar.
Die drie-uur word toe later drie-uur ás ons agtuur in die bed is.
Ek het die lig nege-uur afgesit, en sy was nog met skoolgoed agter die rekenaar besig.
Maar daar leer my lief en dierbare vrou my toe nou na al hierdie jare van getroude lewe en saamwees ‘n nuwe ding of twee, en 03:32 toe is die honde klaar oulaas oor die snoete gevryf en Pappa, Mamma en Klaars in die motor, slaggereed vir die lang pad see toe!
12:00 toe stop ons hier.
En ook maar goed so, want dit neem ons toe meer as vier ure om op te slaan. En dit reën nie, maar dis warm. My oë brand van die sout salpetersweet wat daarin loop. Ek kap manalleen, een of meer hierdie kant of daardie kan toe, nie minder nie as 84 tentpenne van verskillende lengtes in – die langstes daarvan langer as kniehoogte want ons staan op sand.
Annieka speel huisvrou-huisvrou en maak die binnekante mooi leefbaar, Klaradyn maak maatjies met elkeen van die 495 ander kinders in die woonwapark.
En nadat ons amper vyf ure by die see is sonder dat ons in die sand en ons voete in die water was, sit ek daardie twee vuile voete van my dwars neer – ons gaan nié vanaand uiteet nie, ons gaan piekniekete op die strand hê. Ons verdien dit deur en deur.
Daar hop ons doodmoeg winkel toe en kom terug met ‘n gare hoender, kaasbroodjies in so blink pannetjie en ‘n potjie Hellman’s mayonnaise.
Op die strand gekom was daar ‘n ligte misverstand rondom die mes en ek moet die broodjies noodgedwonge met lang repies witvleis smeer.
Maar toe ons elkeen, veilig van die wind, agter ‘n rots, met wonderlike uitsig oor die see, ‘n drinkdingetjie in die een hand en ‘n hoendermayonnaise-broodjie in die ander hand het, is daar in die ganse Suid-Afrika nie nóg ‘n gesin wat so lekker kan eet soos Pappa, Mamma en Klaars nie.
No comments:
Post a Comment