Pages

22.2.13

Daar vloei vandag 'n stroom Blou Bul-blou-bloed so dik as my duim

Ons Moolmans deel nie noodwendig die hart en gees van ons volk nie. Ek het dit van Ma en Pa se kant oorgeërf, Annieka het met verloop van jare nie anders gekon as om daarby in te koop nie, om die waarheid te sê sy was maar al te gewillig om haarself te kon bevry, en Klaradyn kon dan nou ook nie juis anders as om haar are met talle voorsate se bloed gevul te kry nie.
Die gees van ons volk, dan soos Lina Spies dit destyds met die afsterwe van NP van Wyk Louw gedefinieer het:
Die land se grootste digter sterf
en op die koerant se voorblad staan:
All Blacks is giftig
maar Bokke self nie sleg nie.
My volk se gees is ‘n voetbal.
Ek sal dit in my lewe nooit vergeet nie – Klaradyn het destyds nog nie heeltemal ontgroei om ‘n peuter te wees nie, toe soek ons vir haar ‘n kleuterskool. Ons loop ‘n dierbare – die beste – kleuterskooljuffrou en –skooltjie raak, en skryf haar in. Die verbintenis sou tot einde graad 2 duur, toe die uitkomtyd van die groter kinders verander en die juffrou nie meer daar kon wees om haar na skool op te tel nie. Ek en die juffrou sien mekaar steeds bykans daagliks as ek haar dogter soggens optel om saam met my skool toe te ry.
Wat ek egter nooit sal vergeet nie, is wat die juffrou, én haar ma, aangehad het, dié dag toe ek die juffrou (en dan nou haar ma) vir die eerste keer buite skoolverband, in ‘n apteek, raakgeloop het – daar was hierdie twee vrouens in Blou Bul-kleure uitgevat, en toe ek hulle van voor aantref, toe is die een my stomme kind se juffrou. (As dit nie was dat die juffrou nog self van tyd tot tyd hier lees nie, het ek aangedik en vertel dat die twee dames helmets met horings op hul koppe had, dat hul gesigte blou geverf was; só loop ek egter gevaar om uitgevang te word dat ek jok.)
Toe ek die twee die middag egter groet, toe wonder ek in watter subkultuur ek nie nou my kind ingeskryf het, haar aan uitgelewer het nie.
Net om vyf jaar later, in graad R, tot die skokbesef te kom dat die kleuterskool nie ‘n patch op die laerskool is nie.
By die kleuterskool was daar elke jaar ‘n Blou Bul-dag. Wat ‘n heerlikte – die kinders moes dan blou aantrek en ek lei af hulle het dan lekker rugby gesels en gees gebou.
Oupa is na jare noord van die Vaal- en Jukskeiriviere steeds nie ‘n Blou Bul nie, hy sal tot en met die dag van sy dood ‘n Cheetah bly. So die eerste rugby-hempie wat ons kind toe een Saterdag na die grootouers gaan inkopies doen het, is ‘n oranje een. En so is Klaradyn toe van tyd tot tyd met hierdie hempie kleuterskool toe, ons trek hom ook aan as ons op ‘n Saterdagmiddag by Oupa-hulle gaan rugby kyk en biltong eet voor ons na die tyd ‘n vleisie op die kole gooi.
Later van tyd had Klaradyn ‘n lieflike pienk Bull’s Babe-hempie, ook 'n ewe pienk soet en sappige sweetpakbaadjie, en op die skooltjie se Blou Bul-dag is sy dan in die lieflikste pienk as Blou Bul skool toe.
O, aarde, en toe tref ons laerskool. En al wat ‘n laerskool in plaas daarvan om ons kinders te leer, doen, is om fondsinsameling te hou. Dit sal my nie verbaas as ons eendag ‘n papier kry met plek vir baie name om teen R5-00 per naam te laat raai hoeveel dit op die Richeterskaal sal meet as die hele Springbok- of Noord-Transvaalspan, na elkeen drie blikkies sousboontjies weggeslaan het, gelyktydig ‘n buikwind passeer nie.
Tot dan sal ons egter getrou een of ander blooming eindtelling moet raai, soos nou iewers om die draai weer. Daar het hoeka gister of eergister weer ‘n e-pos van daardie kant gekom om te herinner dat daar nog net soveel dae of ure oor is vir die kinders om hul lyste rondom die een of ander wedstryd in te handig.
Die laerskole weet goed ons ouers stuur nie meer kinders van deur tot deur met lysies papiere nie, hulle weet goed die ouers skryf self verskillende mense se name op die lys en betaal dan alles op die lys.
My en Annieka se grootste probleem is om 10 verskillende rugbytellings uit te dink wat steeds volgens die nuutste puntetellings vir die verskillende baltruuks aangeteken word. Vir my is ‘n drie nog drie en ‘n vervyfskop niks anders as ‘n vervyfskop nie. In graad 1 was elkeen van ons tellings verkeerd want Pappa het die tellings gaan google en toe ongelukkig die een of ander Amerikaanse voetballiga se klubtellings afgeskryf.
Vanjaar is ons darem al in graad 3, ons het punte uit die duim gesuig tot die kind ‘n blikkie koeldrank by die skool kon kry. Ek was meer as bereid om sommer ‘n blikkie koeldrank van die huis af saam te stuur, ek sou hom selfs koud gehou het, maar Annieka wou nie inkoop nie.
Ons is vanjaar in graad 3 en het die laaste sewe dae, vandag ingereken, nie minder nie as vier interhoërs waarby ons eie skool betrokke was en is, een vir atletiek en drie vir swem. Dis ook dieselfde week wat die laerskool om die een of ander onbekende rede besluit het om hul Blou-Bul dag te hou.
Ai, en laerskole is nie onder kalkoene uitgebroei nie, hulle dink bloot hulle kinders en ouers is:  om die dag spesiaal te maak, kan kinders hul Blou Bul hempies aantrek. Maar ook nie sommer net aantrek nie, o, nee, dis ‘n fondsinsameling, onthou jy nou weer!
Ons sou iets moes betaal vir die voorreg, of nog 999 name op ons Blou-Bul-rugbyraailys moes voeg voor die kind haar Blou-Bul hempie kan aantrek?
“Watter Blou Bul-hempie? Hy is al vir jare pienk en in elk geval nou al te klein.”
“Stuur haar in daai blou hempie wat ons met haar verjaarsdaggeld van Ouma gekoop het. Dis ook blou en sy hou nogal van hom.”
Maar dit kan nie, dit moet ‘n Blou-Bul hemp wees, niks anders nie. Die juffrou het gesê. Die meneer het gesê.
Gedagtig aan die moewiese interhoër-week wat voorlê, ek en Annieka is beide pro-aktiewe ouers, ry ons toe nou verlede naweek ‘n hele tenk petrol uit agter al wat onwettige immigrant in Suid-Afrika is wat op die hoeke van die strate smokkelhandel dryf met onwettige goedkoop rugbytruie – nie dat dit meer truie genoem kan word nie, behalwe nou as jy nog van ‘n vervyfskop praat, natuurlik.
Maar niks, daar is in hierdie Pretoria nie ‘n enkelte Blou-Bul-hempie langs ‘n enkele straat op ‘n enkele hoek onder ‘n enkele bos uit te skop nie. Ons hoor van ‘n ou in Bronkhorstspruit, maar toe is die petrol op.
Dinsdag neem hulle my af, dis nou die padverkeeroutjies, toe ek teen 80 kilometer per uur in ‘n 60 sone in die 45 minute wat Klaradyn drama het, Kollonade-winkelsentrum toe jaag om te kyk of ek nie daar ‘n bloody hemp opspoor nie.
Die R700-00 se tenk petrol van die vorige naweek en die R200-00 verkeersboete van laer af in die straat kry toe (maar miskien jou eers seker maak jy sit, vir ingeval jy flou val) ‘n verdere R500-00 vir die stukkie lap by. Nee, wag, ek oordryf, ek lieg, ek dik aan, dis nie R500-00 nie, dit was R499-99!
Ek laat my nie vertel dat elke kind vandag in ‘n ontwerpershemp daar gaan opdaag nie.
Maar dis wat my kind my vrou wysmaak, en dis wat my vrou my aan die verstand probeer bring.
Wat kan ek doen?

Daar vloei in my are 'n stroompie Blou Bul blou bloed so dik as my duim se nael.
Met Transvaal wat nou Gauteng geword het, en Noord-Transvaal wat heeltemal verdwyn het, kan ek seker maar patentreg op sy ou leuse uitneem en dit so effe aanpas:  Dis kak en betaal as jou kind die paal wil haal.

No comments: