Intrperneers is hoe Klaradyn die woord op 8 vir die eerste keer in haar lewe verkeerd gespel het.
Hoeveel keer sy hom nog verkeerd gaan spel, weet ek nie – kinders spel dit nou se dae immers tot in matriek nog verkeerd. Hierdie is na my beskeie mening egter een van die meer intelligente verkeerde spelwyses van die woord, ek het kinders agt en nege jaar ouer as sy, die woord al veel meer verkeerd sien spel. Vir die gemiddelde graad twee is hierdie glad nie sleg nie; al die konsonante is immers daar, én dis in dieselfde volgorde geskryf as wat dit gehoor word.
Mamma was by ‘n vergadering die aand, en knap voor slaaptyd wou sy ‘n briefie op die kombuistafel laat om haar daaraan te herinner om tog net haar registrasievorm vir vandeesjaar se entrepreneursdag in te vul en reg te hê teen die volgende oggend. Vandaar die rede om hierdie vreeslike groot woord op 8 reeds te wil spel.
Dit was redelik vroeg in die jaar reeds duidelik wat dit vanjaar gaan wees – maskers. Sy en ma het na afloop van vanjaar se dag verskil oor presies wié eerste op die gedagte van die maskers gekom het. As dit dan is dat dit Ma is wat aanvanklik die saadjie geplant het, dan kan daar tot Klaradyn se eer gesê word dat sy die saadjie vanuit die staanspoor gekoester, versorg en bygestaan het.
Annieka het ons dagboeke maande voor die tyd so uitgekyk en tot die gevolgtrekking gekom dat ons alles al in September in plek moet hê as ons enigsins daaraan wil dink om einde Oktober hoegenaamd iets op ‘n tafel uit te wil pak.
So sit ons gesinnetjie toe lank voor die Oktober-katspoegie-vir-‘n-verskoning-van-‘n-vakansie af Johannesburg toe, Sjinese Basaar toe.
In ‘n stadium, deur die loop van die jaar, het ons verneem die China Malls het almal op ‘n streep toegemaak – die outjies en SARS het glo ernstig koppe gestamp. Maar toe ons iewers in September weer daar aankom was dit business as usual.
Ons het ‘n heerlike oggend, die drie van ons, en dis met twee, tot oorlopens toe vol, inkopiesakke dat ons die pad terug Pretoorsdorp toe aanpak. Darem nie na ons nie eers ‘n heerlike porsie Sjinese kits gemorskos ook ingewerk het nie.
En daar staan die twee sakke toe nou in een hoek van ‘n vertrek tot verlede Maandag toe. Wat ‘n fout was, want toe ons dit meer as ‘n maand later uitpak, kan ons geensins onthou wat ons vir elkeen van die onderskeie spul maskers betaal het nie.
Vir Klaradyn is dit natuurlik geensins ‘n probleem nie, haar opregte voorstel is immers dat ons ons stalletjie ‘n R2-00 stalletjie maak en alles voor die voet (en voetstoots, gedagtig aan die land van oorsprong) teen R2-00 moet verkwansel.
Dis ook op daardie punt dat ek myself weer daar aan moet herinner dat Ekonomiese en Bestuurswetenskappe nog nié deel van die graad 2-kurrikulum uitmaak nie; die skool spoor die outjies aan om deel te wil neem, maar die vooraf agterafgesprekkies rondom die rasionaal agter dit alles, en die gedagte aan wins, is nog lank nie in plek nie.
Ag, siestog, en aan moedersknie of vadershand gaan die stomme kind dit ook nie inkry nie, dit sal van die skool móét wees – ek en Annieka het nie een hoegenaamd enige aanvoeling vir die handelsbedryf nie. Ons voorgeslag, so lyk dit, ook nie, want dis duidelik dat Klaradyn van nergens selfs net ‘n greintjie besigheidsgene en gesonde fiskale verstand in haar bloed geërf het nie. Dit help nie eers ek probeer verduidelik dat daar maskers is waarvoor ons so veel as R7-50 stuk betaal het nie en dit onmoontlik nie teen R2-00 van die hand kan sit nie; sy hou voet by stuk dat sy daarvan oortuig is dat ons ‘n toestroming van kliënte sal hê as ons alles teen R2-00 uitverkoop.
En sy is natuurlik reg – hulle sal ons toestaan, wat heerlik is, en ons sál alles uitverkoop, maar wat het van die intrperneers in entrepreneursdag geword?
En hoewel ek geen entrepreneur in my kind kon opspoor nie, kon ek my kind se ontsettende sagte en groot hart nie miskyk nie. As ‘n klein handjie ‘n laaste R1-00’jie vir ‘n R2-00-masker aanbied, R2-00 oor het, maar die R5-00 nie, dan kyk sy my gou vir ‘n oomblik in die oog en aanvaar die verlies gelate en met ‘n warm glimlag.
Maatjies wat glad nie haar maatjies is nie, word skielik haar maatjies, niemand mag weggewys word nie, en as iemand met leë hande agterbly, is dit elke keer eerder sy en nie die besoeker nie.
Nie dat ons vreeslik op die wins ingestel is nie, ons, ek en Annieka, glo beide in ‘n klein winsgrens wat versterk word deur ‘n vreeslike hoë omset. Ons soek immers nie een die profyt nie, maar eerder die geselligheid van die uur of wat van die verkope, kinders wat maal en soek en gesels en óóé en ááh.
En dit het ons alles gehad, saam met vieslike koue rukwinde gerugte van sneeu elders in die binneland wat my buurman se piksplinternuwe gazebo op drie plekke stukkend geruk het.
Maar dit was heerlik.
Daar was ‘n groot omset, bykans alles is uitverkoop.
Teen die verwagting in het die R10-00-maskers, die met die bling-bling en die vere en die krale en die tieterlantynties, eerste gegaan; dis van die goedkoop, maar lieflike, R2-00-maskers wat oorgebly het.
Dít het ons egter vanuit die staanspoor voorsien – ons het van die begin af gesê ons gaan dit wat te veel is, vir die kleuterskool gee, vir die kleintjies om mee te kan speel. Op die ou einde het die juffrou minder gekry as waarop ons gereken het.
Gelyk het ons definitief gebreek, maar reken ons die petrolgeld, Johannesburg toe en terug, by dan is daar van wins nie sprake nie.
Dis egter dan suiwer rand-en-sent-wins.
En wins en rente en dividende kom in veel meer, en ryker, vorme as suiwer rand en sent.
Daaraan gemeet het vanjaar se entrepreneursdag ons weereens stinkskatryk gelaat.
Daar is gerugte dat vanjaar die laaste jaar van ‘n entrepreneursdag vir elke graad was. En dis waar dat die dag tot ongelukkigheid kan aanleiding gee – nie alle ouers kan daar wees om hul kinders te help nie, daar is fat cat-stalletjies én dirty rat-kraampies wat die dam onder die eend kan uitruk.
Tog sal dit ‘n jammerte wees as dit die einde is. Elkeen van die ander grade se entrepreneursdae was nog elke keer vir Klaradyn ‘n hoogtepunt om na uit te sien en na die tyd van te praat; allermins nie net haar eie nie.
En dít sal ‘n gemis, dwars deur die jaar, wees.
No comments:
Post a Comment