Vergeet 'n oomblik van die Joodse bruidjie:
Ek kyk na die foto van Dok Bet wat Peet op die Dep se FB-blad gelaai het – so onthou die departement haar – en ek herken ‘n jonger Bet Botha as die een wat ek in 1983 leer ken het.
Ek maak my oë toe om mý Bet Botha te onthou – en dis ‘n gans ander beeld as daardie een wat tien teen een deur Oom Piet Photies geneem is, wat by opkom.
Dis Oktober 1991, ek is al 6 jaar nie meer deel van die Dep nie, en ek sien Dok Bet kaalvoet om ‘n kampvuur in die Kruger Wildtuin sit. Nie waar nie – in die Olifantsrivier-wildernisstaproete se lapa.
Dis kort voor sy sestig geword het en sy het die geleentheid om saam met ons te kom stap aangegryp – die oomblik toe ek dit gerig het. En daar stap ons twee dae – die jongste in die geselskap is Jurie Herbst, daardie jaar die skool se eerstespan losskakel; die oudste Dok Bet – knap voor sestig.
Die stort daardie aand was warm water uit ‘n groot sink asblik wat op vier pote staan gemaak is.
O, dit was lekker. En dit was lekker saam met Dok Bet. Ons het baba leeuwelpies aan ons voete gehad, olifante gesien – naby – en seker goed sestig krokodille op ‘n sandbank in die Krokodilrivier verras.
En dit was Dok Bet – sy het die lewe aangegryp met ‘n joie de vivre wat skrik vir niks.
Die ander beeld wat by my opkom is jare later, die laaste keer wat ek haar gesien het en geweet het dis die laaste keer. Ons het, soos die gebruik was, by die De la Reys oorgeslaap op pad Kaap toe of terug. Oom Danie het baie agteruit gegaan en dit was duidelik dat haar lewe gereduseer is tot liefdevolle (maar ook effe ongeduldige) baba-oppasser. Ek sien die kort krom figuur in die lang japon staan. Het sy fisies gekrimp, of het die inkrimp van haar bestaan – die huis toe ook al lank in die mark – haar net kleiner laat voorkom?
Maar snaaks, voor ek haar sien, hoor ek haar; nie suiwer haar gunsteling sê-ding (dit was nou so goor soos die dood) nie, haar weifel en aarsel, haar metataal en tussenwerpsels. Dan hoor ek haar lag, grinnik en snork – by gebrek aan beter woorde vir die ryke omvang van haar lag-repertoire. Die lag wat ek as sinies sou beskryf, kom nou die sterkste by my op.
Ek wonder of daar nog mense is wat destyds saam met daarvan bewus was dat Dok Bet ‘n baie mooi halslyn gehad het: melkwit, seepglad met hier en daar die buitelyne van ‘n blou aartjie. En rondom die sleutelbeen was die mooiste kuile. En ek ontboesem nie hier ‘n onwelvoeglikheid in my aangetrokkenheid tot Dok Bet nie – soos wat party vrouens se voete of nekke ‘n man opnuut bewus maak van hoe mooi ‘n vrou se voete of nek kan wees, het Dok Bet ‘n man net bewus kon maak van hoe mooi ‘n vrou se hals kan wees.
Ek het seker so vir twee jaar van my lewe smiddaes middagete saam met Dok Bet genuttig. Ek het haar seker met intervalle van 6 jaar op drie geleenthede gebel om te vra hoe party van haar gunstelingresepte werk. O, ons was lief vir gekookte eiers in ‘n wit sous met broodkrummels oor. En dan kon Letia (die dierbare huishoudster van daardie jare wat toe oornag weggeraak het) ook iets lekkers met visvingers in ‘n soortgelyke dis gemaak.
En so lekker soos wat ons saam geëet het, so lekker soos wat sy geëet het, het Dok Bet mos nie sommer juis iets kon proe nie – glo oor sy nie kon ruik nie. Iets moes soorts van waaragtig waar baie lekker wees, voor Dok Bet dit as lekker kon ervaar.
O, en dan het ek en sy die platteland deurkruis om ATKV-skooltonele te beoordeel! Dit was lekker tye gewees. Dok Bet is een van die min mense van wie ek net positiewe en aangename herinneringe het – nie oor drie of vier jaar se studies heen nie, oor ‘n vriendskap wat jare sou duur.
Ek en sy hou toe mos nou weer saam skool – ek in Pretoria; sy op Middelburg. Ons ruil tekste uit, spoor vir mekaar tekste op en dikteer poësie vir mekaar oor die foon.
Ek dink dit nie, ek weet dit – ek het baie by Dok Bet geleer in die drie jaar dat ek by haar klas gekry het, maar ek het onskatbaar meer by haar geleer in die jare nadat, eers ek, en toe later sy, weg is op Potch.
Van Wyk Louw, wat sy hande saamslaan in haar studeerkamer, sal my tot my dood bybly. Die allermooiste wat Dok Bet ooit met my gedeel het, en sy het dit by herhaling met gedeel, oor meer as net ‘n jaar of wat heen, kom uit Tristia (en sy het die woorde nooit opgesê nie, maar gepraat, die gedagtes gepraat):
Wie naand gesê het, moet goéd wees
vir die vir wie daar naand gesê is;
want die aand is daar om in lief te wees,
en die dag is hard, en die môre is droewig,
meestal: ons is nie aarde wat suiwer is nie.
Ons arbeid die maak nie ons harte bly nie:
ons is nog onvoltooide wêreld.
vir die vir wie daar naand gesê is;
want die aand is daar om in lief te wees,
en die dag is hard, en die môre is droewig,
meestal: ons is nie aarde wat suiwer is nie.
Ons arbeid die maak nie ons harte bly nie:
ons is nog onvoltooide wêreld.
En kon sy stories vertel! Nie Brink se lekkerlag-stories of De Maupassant s’n met die kinkel in die kabel aan die einde nie, haar eie stories! Van die plaas en van Belie en van Saar, haar ouers, haar skooldae, haar vakansies, die mense af in die straat, Rivierstraat se stories.
Die divan in die sitkamer het ‘n karos op gehad, op Potch en op Middelburg (aanvanklik). Ek het ‘n dubbelbed karos loop, jare later.
Ek het Tisha Ballot verlede jaar gekontak om te hoor of sy nog so ‘n Oos-Vrystaat-ankerpaal het soos die een in Bet se sitkamer nie. Tisha onthou hom goed, maar nee. Ek onthou hoe ek deur die Oos-Vrystaat gery het, plek-plek afgetrek het en met ‘n mik-en-druk die veld in is om die goed af te neem. Ek het dit in ‘n stadium selfs laat skilder.
Ek het twee Elwin Buchel’s in my huis. skapens en beestens; nie hieroor of daaroor nie, maar oor dit die naaste is wat ek ooit kon kom aan die weiveld in Bet se slaapkamer, en later sitkamer.
Het nog iemand Bet ooit hoor praat oor Die Joodse bruidjie van Renbrandt? Sy kon die bruidegom se mees intieme gebaar oor sy vrou se borste só mooi verwoord.
Ek het myne gaan koop, in 1994, waar Bet hare gekoop het en al die pad in my rugsak terug gedra Suid-Afrika toe.
Ek het selfs in Wenen vir my ‘n afdruk van Breughel se jagters deur die sneeu gekoop.
Die mooiste woord wat sy my geleer het, is “reikhalsend” – wat wat sy met soveel oorgawe kon gebruik, dat jy jou verbeel dit beteken halsreikend! (En dan ken ek nie iemand wat Bophutatswana - en vergeef die spelling - so mooi kon uitspreek soos sy nie - ek het altyd gewonder wat sy met Phutaditjaba sou uitrig).
Hierdie vrou het my help vorm, sonder hierdie vrou was ek ‘n ander mens vandag, en nie beter daaraan toe nie, maar swakker en slegter, minder geslyp en minder afgerond
Daarom dat ek haar nie mis nie, nie sal mis nie en nie kan mis nie; sy leef in my en om my, fisies in en om die huis, maar ook figuurlik in my ganske wese en gedagtes.
Dok Bet sal my gevolglik eers ontval die dag as ek myself ontval.
Mag sy nog lank, vele lewens lank, voortleef.
Dit was lekker om hartseer te wees, en goed hartseer te wees soos net ek goed hartseer kan wees – maar daar is so ontelbaar meer om geensins hartseer oor te raak nie, om oor bly te wees, dat dit amper ‘n vermorsing van krag en energie is om op die hartseer te fokus. Drink eerder saam met my ‘n heildronk op ‘n wonderlik uitsonderlike mens.