Pages

8.8.11

Kuierklets en lekker kos

Is ek en Annieka en Klaradyn nou darem nie Saterdagaand vrot bederf met 'n spesiale voorreg nie!
Meer as 10 jaar gelede het hierdie 6 vriende een aand saam gekuier, en ek lei af dit moes 'n heerlik gesellige geleentheid gewees het, want iewers deur die loop van die aand maak iemand toe die stelling wat neerkom op die volgende:  kom ons maak volgende maand weer so, maar ons kry 'n onderwerp of tema en elke paartjie is verantwoordelik vir óf die voorgereg, óf die hoofgereg, óf die nagereg.

En net daar het 'n tradisie ontstaan wat oor 10 jaar nog net enkele kere nie maandeliks by gehou is nie.

Na ons die voorreg had om een aand saam met hulle aan te sit, het ek tot die gevolgtrekking gekom dat dit geensins  suiwer die geselskap en 'n voorliefde vir kos of kosmaak is wat die tradisie in stand hou nie, maar 'n gedeelde sin vir avontuur en kreatiwiteit.

Ek mag natuurlik verkeerd wees, ek was immers net enkele ure in die mense geselskap, maar ek is seker hierdie slotsom is nader aan die kol as die eerste gevolgtrekking waartoe ek voortydig en halsoorkop gekom het: 'n groepie mense verveeld met suburbia op soek na vermaak.

Dit moet die waaghals en avonturier in elkeen wees wat gevoed word deur die een basiese kernreël vir elke byeenkoms:  jy mag nie dis wat jy bring of kom maak al ooit van te vore (selfs nie eers skelm en in die geheim) op die proef gestel het nie.

Vandaar miskien ook die naam waaronder die lede na die byeenkomste verwys:  Trial  & Error-aande.

Ek, en baie van ons seker, het groot geword met die raad:  Jy sit nie kos aan mense voor as jy dit nie reeds van te vore by herhaling met sukses gemaak het nie.

En daarmee het ek vroeg in my volwasse lewe 'n probleem opgetel – hoeveel keer in jou lewe kry jy byvoorbeeld 12 Weskus-krewe present? Ek het nog net 2 keer. En die eerste keer het ek dit met vriende gedeel. Die tweede keer met dieselfde vriende.

Selfs iets wat vir my ouers 'n eenvoudige ding was, 'n skaapboud, is vir my 'n luukse. Koop ek die slag 'n Karoo-lam of kry ek een present (iets wat in my lewe nog net  4 keer gebeur het) dan sny ek tjops van die een boud en hou een heel. En dan is dit ek, Annieka en Klaradyn wat die boud een Sondag geniet en dan besluit wat ons 10 jaar vorentoe gaan doen as ons weer skaapboud het en hom dan vir vriende gaan voorsit nie. Nee, ons nooi summier twee ander en geniet die vleisie in ons midde.

Oor 10 jaar heen, het hierdie Trial & Error-vriende wonderlike selfvertroue gekry in die maak, bereiding en voorsit van kos. In 'n sin was elke item op Saterdagaand se bord 'n waagstuk, maar elke paartjie is daar in, en anderkant uit, met die grootste gemak denkbaar.

Daar is ook 'n reël oor wyn, maar oor my sak en persoonlike smaak my nog nooit toegelaat het om enige airs oor wyn te hê nie, kan ek nie onthou wat dit is nie: dieselfde soort wyn (soos Chenin Blanc) van 2 verskillende landgoede of kelders; of dieselfde landgoed se wyn, maar verskillende tipes. Ek is nie seker nie.

Vir my moet wyn vreeslik sleg wees, voor dit sleg is en laat ek myself toe om enige en elke wyn te geniet wat aan my voorgesit word.

Dan vermoed ek is daar reëls rondom begroting die slag as Paartjie A vir Paartjie B die ingrediënte moet koop waarmee Paartjie B as hulle opdaag die hoofgereg (of watter gereg ook al) moet optower. Want, ja, sulke aande is daar ook:  pak die inkopiesakke uit en toor iets vir ons op.

Jy hoef glad nie jou kos vooraf voor te berei nie, dit kan gedeeltelik berei (of selfs 100% in plek) daar aankom, dit maak nie saak nie. Word dit tyd vir voorgereg, dan verskoon die voorgereg-outjies hulle van die geselskap en gaan sonder hulle in die kombuis af.

Die kombuis is dan ook buite perke vir die ander, want dis die ander lieflike reël waarvan ek vergeet het:  niemand sê vir iemand wat hy of sy gaan voorsit nie – dit bly 'n wonderlike verassing tot die borde opgedra of die buffet voorgesit word.

Al wat myns gebrekkige insiens sleg is van die hele aangeleentheid is dat hulle in 10 jaar nie dag- of selfs net resepteboek gehou het van hul aande nie. Plakboek for that matter. Of 'n blog.

Want oor jare heen, het dit nie net by aande gebly nie, dit het naweke en ekskursies met onbekende en eksotiese bestemmings geword. Driegangmaaltye op die strand berei, driegangmaaltye sonder elektriese krag in 'n bouval  of ruïne, 600 vierkante meter lap wat jy geleen het om jou tema te verkonkretiseer. (Vandaar miskien ook my eerste gedagte dat ek my bevind midde 'n spul verveelde rykgatte wat nie weet wat om met hul tyd en geld te doen nie. Maar ek was verkeerd en het die pot mis gesit.)

Saterdagaand was die tema kuns. Jy kan blykbaar die tema interpreteer soos jy wil. Jy kon een van Walter Battiss se resepte gemaak het, jou voorgereg laat lyk het soos 'n kunswerk deur Jackson Pollock, dit op 'n pallet bedien het, met kleur gespeel het, of 'n eetbare beeldhouwerk daar aangebring het.

En dis wat ons voorgereg was, 'n tong-in-die-kies pops op jou bord, soortgelyk aan hierdie een wat 'n klompie jaar gelede plek-plek op die internet opgeduik het.



Ons Lolla se hoendervlerkies was heerlik gemarineer en die onderskeie wulpse ronde bolletjies het gespeel met onderskeidelik bloukaas en druiwe, en riccotta en olywe.

Hoofgereg het gespeel met die elemente van kuns:  kleur, vorm, ritme, balans en tekstuur, en toe nog een bygevoeg – smaak. Maar vir my het dit dadelik aan Christo Coetzee herinner. Hierdie man het in 'n stadium 'n reeks van sy skilderye toegeverf, en aangesien ons lamstjoppies in 'n degie toegemaak en gevorm is, het sy kunswerke van destyds dadelik by my opgekom. Rösti het vir tekstuur gesorg en die groentepakkie op 'n vet bruin sampioen, kompleet met kwasstreep en spatsel roomsous, vir kleur.

Nagereg was 'n vrugterangskikking met doopsousies van onderskeidelik bruin en wit sjokolade. 'n Fees vir die oog. En die tong.

Ek het vir die derde keer hande geklap, soos vir ballet of opera as die gordyn oplig en daar nog niks gebeur het nie - suiwer vir die mooi.



Ons het heerlik geëet, maar net so lekker gekuier ook.

Ek weet dis nege uit tien kere nie die kos wat so lekker is nie, maar die geselskap wat die kos so lekker maak.

Saterdagaand was miskien 'n uitsondering:  én die kos, én die geselskap het gesorg vir 'n kuier om nog lank te onthou.

1 comment:

Inge said...

Beste Hans, Annieke en Klaradyn, was heerlik om julle as gaste te kon onthaal. Bravo vir jou wat ons "idee" vir die voorgereg raak gegoogle het! Ek stuur binnekort die link van ons blog... soos jy weet is dit nou 'n realiteit en ons gaan probeer om soveel as menslik moontlik van die 10 jaar se temas te verewig op die blog. Inge