Pages

16.8.11

In die motor by K se dramaklas

Hans het weer vanoggend sonder sy beursie in die motor geklim en werk toe gery.

Dis niks vreemd nie, dit gebeur gereeld.

Die probleem is net dat hy Klaradyn Dinsdae knap na skool moet optel om haar by betyds by die dramaklas te kry.

So Dinsdagmiddae ry hy tolpad – iets wat teen sy grein ingaan, iets wat hy ten alle koste vermy.

En partykeer letterlik “ten alle koste”, soos vanmiddag toe hy vir die hoeveelste keer bakhand langs die pad moes staan in die hoop dat 'n Barmhartige Samaritaan hom die R6-00 sal voorskiet.

Dit het verlede week amper gebeur, ek het die afwesigheid van die beursie in die motor betyds agtergekom – daar was nog 'n afrit in middestad toe.

Die probleem was net dat die tou in die linkerbaan wat daar wou afdraai, al 'n kilometer terug begin opdam het.

En as daar een ding is (een van die baie dinge is) wat my binne oomblikke in 'n ongekende padwoede in het, dan is dit wanneer ek, heel geduldig en wetsgehoorsaam, in die linkerbaan kruie om voor iewers af te draai, en 'n ongepoetse kom in die tregterbaan verby en wil voor my indruk.

En daar moet ek dit toe nou doen.

Dit was vir heter heter kole op die voorhoof, 'n groter verleentheid en bron tot skaamte, as om bakhand langs die tolhek te staan en bedel.

Ek het onbeholpe met my vingers die boodskap probeer oordra dat ek nie geld vir die tolhek nie. Na 'n ruk, weliswaar nadat die motors wat in my baan, die regter baan wat verby die afdraai beweeg, al agter my begin opdam het, het iemand my toe geleentheid gegee.

Die vorige keer wat dit gebeur het, was effe makliker – my beursie was nie by die huis nie, hy was bloot net dolleeg, en ek kon die leë beursie hier in die omgewing van die truspieëltjie rondswaai en skud om te kenne te gee dat hy opgedroog is.

Ek sal nie sommer so gaaf wees om iemand wat vinnig verby gery het tot voor en dan voor my wil inbeweeg, sommer help nie,  leë beursies en swaaiende hande ten spyt.

Maar iemand wat met leë hande voor die tolhek te staan gekom het, help ek dadelik.

Nie dat dit al ooit gebeur het nie. Dit voel vir my ek is die enigste mens met wie dit nog ooit gebeur het.

Dit sal vir my heerlik wees om 'n medereisiger te hulp te kan snel; die geleentheid doen hom egter bloot net nooit voor nie.

Vanmiddag, toe ek so in die ry al deur al my sakke is, onder die sitplek gefynkam het, my skootrekenaar uitgepak en sy sak uitgeskud het, flits daar 'n lawwe gedagte deur my kop: miskien aanvaar hulle my debietkaart.

My debietkaart wat by die huis in my beursie is.

In ons gesin was daar die bekende mededeling rondom hierdie onderwerp wat daarop neergekom het dat:  as sekere dele van Hans ook  nie aan hom vas was nie, het hy dit ook lankal iewers vergeet, laat lê of verloor.

So soek ek gemiddeld twee keer 'n dag my motorsleutels – en as ek die dag drie keer nodig het om die ryding in te span, dan soek ek sy sleutels 'n derde keer.

Ek soek my bril! En oor ek nie my bril op het nie, kan ek nie sien waar my bril is nie – dan moet die hele huis inspring en soek.

Dit laat my dink aan my dapper ouma wat op 75 een van die eerste mense was wat destyds met die koms van kontaklense, vir haar ook 'n stel kontaklense gekry het. Dan bel sy – sy het haar “ogie” verloor, ons moet kom soek.

En kom ons daar aan, dan is Ouma, die buurvrou én die dominee wat kom huisbesoek doen het, stert in die lug op hul knieë aan het fynkam van die 1970’s bont blaarpatroon mat.

O, en dan die vreugde as ons hom vind – meer as een keer was die ding op haar oogbal, maar nie naby die retina nie! (Is so iets moontlik? My gedagtes gaan nou baie ver terug, standerd 1 of 2 toe, Ouma het nog in die woonstel onder die dranksugtige orreliste wat al die jare 'n vuurwarm verhouding met die dominee gehad het, gebly.)

Maar dis 'n ander soek en vind waarheen my gedagtes vanmiddag met my loop:

So het 'n kollega van my een laat agtermiddag haar trouring in 'n veldjie langs die pad verloor. Dis 'n lang storie hoe hy van haar hand gekom het, en nie nou ter sprake nie. Feit bly staan, dit het donker geword, maar ligte en flitse ten spyt, later selfs metaalverklikkers wat by Tukkies geleen is ten spyt, kon hulle die ring nie kry nie.

Intussen maak die munisipaliteit twee keer skoon, brand af, spuit gif en gaan die gang wat normaalweg sy gang in voortstedelike oop erwe hul gang gaan, sy gang.

Agt maande later, en ek praat onder korreksie maar dit is moontlik dat dit na die afsterwe van haar man was, stap sy weer daar langs – daar is 'n padwedloop en sy en haar kinders hou die hardlopers dop – en sy kyk af, tel haar ring op (tientalle meters der meters van waar sy hom aanvanklik verloor het) en gaan huis toe.

As ek die vrou nie self geken het nie en ek nie geweet het dat sy onkreukbaar is nie, het ek die storie nie geglo nie, het dit my altevol veel herinner aan hierdie hengelstories van ouds waar die visterman se vals tande oor die rand van die skuit in die diepsee verloor, was nie, en later die vakansie 'n knewel uittrek – met niks anders as sy stel tande in die dierasie se buik nie.

Maar ek ken haar en weet sy sal nie eers aandik nie, wat nog te sê, lieg.

'n Beursie wat my baie na aan die hart lê, 'n beursie wat 'n Angolese vrou in 1987 vir my gemaak het, het ek tien jaar later, in 1997, tot my spyt, verloor.

In 2000, net voor ek by die betrokke skool waar ek toe in diens was, weg is, kom ek per toeval een middag in die tuin- en ander gereedskapstoor – en wat lê daar, oop en bloot, asof dit geweet het ek is op pad en dit staan solank gereed – my beursie, gemaak van UNITA kamoefleermateriaal wat Maria Mendes vir my gemaak het.

Of dit 'n arbeider, 'n koshuiskind of 'n skoolkind was, weet ek nie. En straks het ek dit bloot verloor. En gelukkig weer gevind.

Die beursie is nou saam met 'n hele paar ander in 'n antieke skryftafel se heel klein laaitjie wat intussen soos 'n olifantbegraafplaas, die laaste rusplek van my ou en stukkende beursies geword het. Ek het hom verlede week weer in my hand gehou en toegelaat dat hy my gedagtes op ver paaie van lank gelede neem.

Waar my gedagtes egter vanoggend was, toe ek my huidige beursie moes saamsleep motor toe en skool toe, sal ek nie weet nie.


No comments: