Judy het dit altyd so maklik laat lyk.
En miskien was dit. Sy had 'n voltydse inwonende bediende en sy was 'n huisvrou, niks meer nie – sy het nie tussendeur moes skoolhou, jaarblaaie versorg, landswye onderwys-opleidingsessies uitwerk, interskole vasvrakompetisies beman en vakvergaderings waarby 27 skole betrokke is, verwoord en aanbied nie.
Ook nie sommer net huisvrou nie, tuisteskepper in elke sin van die woord was sy gewees, so al asof sy uit die slothoofstuk van die Spreukeskrywer se boek ontsnap het: 'n vrou se waarde is ver bo die van korale...
En álles wat daarop volg.
En meer.
En nou probeer ek haar dit 40 jaar later nadoen.
Juis oor ek dit as kind so geniet het: pens en pootjies op die werksoppervlakte, kort-kort met vinger in die mengbak, maar nooit te veel nie, hoor – 'n mens kry glo omgekrapte maag van die rou deeg.
En as die rou meel en eiers jou nie onderkry nie, dan sal die happe en lekke en stroopsoet vingers vol botterversiersuiker wat sy aangemaak het spoedig met jou gestel afreken.
Volgens my is daar ongelukkig nou maar een maal twee goed wat jy nie met 'n kolwyntjie doen nie: jy koop hom nie, jy bak hom self; en jy noem hom nie 'n cup cake nie, maar 'n kolwyntjie, want dis wat hy is.
Druk van Annieka, druk van einste Judy wat die naweek gehospitaliseer is, druk van die werk, druk trouens van elke aard en vorm (buiten nou finansiële druk natuurlik) had my egter Sondag by die enigste tuisnywerheid in Pretoria waarvan ek weet wat op Sondag oop is, met die woorde: “Sal ek Maandag drie dosyn cup cakes by julle kan optel?” (Dit help nie ek praat van kolwyntjies nie – die meisie agter die toonbank sal bloot laat val dat hulle dit nie aanhou nie; hulle het nie 'n dranklisensie nie.)
Maar is ek nie bly toe sy sê dis 'n saak van onmoontlikheid om op 'n Maandag op 30 cup cakes te wil reken nie. Die vroegste wat dit inkom, miskien, as ek gelukkig is, is Maandag middag, laat.
Ek spring met 'n huppel in my stap in die motor en kondig aan dat ons ons eie kolwyntjies gaan bak.
Ek en Klaradyn bak darem seker nou al vier jaar so twee keer elke jaar vir die maats kolwyntjies, so waarom nie hierdie naweek weer nie.
(En waarom nie weer nie, is eintlik eenvoudig: Klaradyn help vir 10 minute en verloor belangstelling. Pa sweet drie ure later steeds om die goed versier te kry, en dit terwyl die kombuis ‘n verdere drie ure later steeds soos drie dae voor die skepping lyk.)
Pasella se blou kookboek wat in die koekblik gekom het se kolwyntjies is 'n treffer, maar na vier jaar is dit nie meer 'n uitdaging nie. (Eintlik het ek dit nou al op ses verskillende maniere laat flop, ek sien nie kans om dit op 'n sewende manier ook nog te flop nie.)
Nee, ek koop nie klaar bereide boksies kits-goeterstes waarby jy net olie en eiers moet gooi nie – dis vir slegte mammas en lui huisvrouens; jy bak kolwyntjies soos Judy dit 40 jaar gelede, toe klein Hansie 7 geword het, sou gedoen het.
Noudat Klaradyn, 40 jaar later, op haar beurt 7 word.
Ek besluit op 'n grondboontjiebotter-kolwyntjie.
As ek die resep so kyk, vertel ek myself dit het genoeg vette in dat ek dit maar Sondag kan bak en dit teen Dinsdag nog vorentoe sal kan smaak.
Dis 30 kinders. En Juffrou. En Juffrou Melinda van verlede jaar en die hoof.
Van wanneer af die hoof ook nou 'n koekie moet kry sal ek nie weet nie – dit herinner my altevol veel aan gatkruip, maar Annieka onthou dat sy ook in graad 1 'n suigstokkie vir die hoof geneem het.
Ai, waar is die dae? As jy verjaar stuur Ma jou skool toe met 'n sak suigstokkies en jy deel dit onder die kinders uit!
Dis 33. 36 as daar 3 ekstra vir die wis en die onwis is.
Ek moet die resep dus een en 'n halwe keer aanmaak, want die basis maak 24.
Fout nommer 1: Die resep maak 24 mikro-kolwyntjies wat pas in papierdoppies wat lyk of dit vir sjokolade bedoel is.
Fout nommer 2, omdat jy reuse doppies het, kom in wanneer jy die beslag wat jy dubbel aangemaak het, vir dubbeld die tyd in die oond het – juis oordat jou doppies twee of drie keer groter is.
Dis te lank en die eerste baksel kom droog en hard om die boudjies uit die oond.
Maar lank voor hierdie fout, kom fout nommer 3: Terwyl ek dink aan die mense op die plaas wat tyd en jare gelede elke eier eers in 'n piering gebreek het, vir ingeval daar fout is, breek ek my eier oor die klitser se mengbak en gooi dit in.
En nee, daar is niks fout met die eier nie (die beslag gaan nie asblik toe nie, nie hiérdie beslag nie, nóg nie) dis net: die laaste eier se dop se een helfte val om die een of ander rede (ek sien dit alles natuurlik in stadige aksie gebeur) in die beslag en word deur die hoëspoed elektriese klitser ingeslurp en opgebreek, maar ongelukkig nie so intens verpulp dat ek nie nodig het om die rol van all the king’s horses and all the king’s men te speel nie: ek pik halfuurlank eierdoppe met 'n vurk uit die beslag en stuur dit oond toe.
Vir te lank.
Toe dit bruin om die boude uitkom besluit ek om die beslag eerder 4 keer in plaas van 3 keer aan te maak.
Dis toe wat Fout 4 insluip en die 3 spanjoele tien minute later die beslag uit hul waterbak opslurp: ek gooi twee koppies, in plaas van twee derdekoppies melk by die suiker en regte egte botter wat ek tot lig en romerig geklits het.
Ek begin weer van voor terwyl die honde my ewig dankbaar bly.
Maar intussen het ek 'n krisis op hande. Annieka het 45 minute gelede laat val sy gaan gou winkel toe om selotape te koop. Met die winkel net om die eerste draai, drie minute se stap, is dit hoogstens 10 minute uit en tuis.
45 minute word nou al 'n uur en sy is nog nie tuis nie. En sy antwoord nie haar foon nie. En ek wil nie vir Klaradyn ontstel met die woorde dat ons nou na haar ma moet gaan soek, want sy is weg, nie.
Ek bel later my skoonpa en stuur hom strate in om sy dogter te gaan soek. Ek hou Klaradyn rustig en maak solank weer die beslag dubbeld aan. (Dit help nie ek maak 36 van die goed nie, 48 sal beter wees – die goed moet nog versier word en ek is gewoond om 'n hele paar in daardie proses af te skryf. 'n Speling van 3 is net te min.)
Maar met my gedagtes by my vrou, vergeet ek van die grondboontjiebotter in die beslag.
En fout nommer hoeveel is dit nie nou al nie!
Fout nommer volgende breek aan by die versiersuiker – my laaste koppie versiersuiker (van 4) is toe nie versiersuiker nie, maar strooisuiker.
(Ek klits die versiersuiker dat die stomme klitser rook uitslaan, maar verniet of die suiker wil smelt, soos ek wil hê dit moet smelt – of is dit oplos?)
My koekversier-kontrepsie van plastiek het die jongste hond opgekou – ek is aangewese op 'n outydse wit piping bag en daar pêrel die sweet toe oor my voorkop en peul die versiersuiker orals, behalwe by die buis se bek, uit.
Dit was fout nommer 7: met die dat ek ekstra bros grondboontjiebotter in die versiering gebruik het, verstop die brokkies grondbone die buis se bek – en as dit nie weier om te spuit nie, stroooooom dit weer by die bek uit as jy ten einde laaste die verstopping met al die krag in jou hande aan die hand van heimlich-maneuver, op die koekie, die skinkbord, jou vingers en die vloer het.
Maar 7 is nie verniet die volmaakte getal nie.
Hierdie 7 terugslae besorg my, in die woorde van Annieka aan Klaradyn: “Jy moet hierdie kolwyntjies van Pappa kom proe, my skat – dis die lekkerste kolwyntjies wat ek nog ooit in my hele lewe geëet het.”
En ek glo haar, want vir my is dit die lekkerste kolwyntjies wat ek en Klaradyn nog ooit saam, aanmekaargeslaan het.
Ek glo jy kan maar enige kolwyntjieresep wat suiker, botter, eier, vanilla essens, melk en van hierdie meel wat klaar bakpoeier by het, neem. Dan maak jy die botter net minder, so met die helfte, en alles wat jy minder maak, vul jy weer aan met sagte, romerige grondboontjiebotter.
Jy moet die suiker en botter klop, tot lig en romerig – maar ek is 'n man en het nie tipe geduld wat dit verg nie; ek kry alles natter met die eier en dan los die suiker vinniger op.
20 minute by 160 grade. (Of tot die goed met 'n vengeance terugspring as jy daarop tik.)
Die versiering is dan doodgewone outydse botterversiering, maar jy doen weer eens dieselfde met die botter – jy vat weg en vermeerder net weer met bros grondboontjiebotter. Hoe brosser, hoe beter, maar onthou net om ‘n met ‘n dik spuit te versier – anders gaan jy sukkel.
Strooi dan met gekapte geroosterde grondboontjies en geniet.
No comments:
Post a Comment