Pages

13.8.11

Pappa en dogtertjie stap

William Rowland het ‘n gedig geskryf wat hy Pappa en seuntjie stap  noem.
In my onderwysloopbaan is hierdie gedig 'n hele paar jaar lank vir die matrieks voorgeskryf.

Ek het nie 'n besonderse voorliefde vir die gedig nie; daar is ander Rowland-tekste, party minder bekend, ander nie, wat ek veel eerder saam met leerders ontsluit, en ontsluit het.

Maar die titel van die gedig, Pappa en seuntjie stap, het vir my, sedert ek en Klaradyn ook van tyd tot tyd begin saamstap het, so vreeslik mooi geword.

Ek betrap myself gereeld dat die woorde Pappa en dogtertjie stap, in eggo op Rowland se titel, deur my kop maal.

En ons hoef nie noodwendig te stap nie, allermins.

Maar ons kan stap ook.

Stap, soos in letterlik stap, maar stap, soos op 'n gedeelde lewenspad stap, ook – Klaradyn wat groter word, en groot word; ek wat ouer word, en eersdaags ook oud.

Pappa en dogtertjie stap, flits gereeld deur my gedagtes, juis op die oomblikke wat nie Pappa-Mamma-en-Klaars-tydjies is nie, maar tye wat afgesonder is vir slegs Pappa en Klaars.

Donderdagaand het ek en my kind so gestap. En Vrydagaand weer. Vanoggend ook.

En dit was heerlik. Elke oomblik.

Donderdag was die skool se opedag. Die aanloop het, aanvoelbaar in die Moolman-huishouding, einde Junie begin, spoed op begin tel in die Julie-vakansie en toe die laaste 4 weke in 'n monsteragtige weghol trein, een waaroor daar flieks gemaak word, ontaard.

Donderdag toe die klimaks. Maar ek bly nie op die slagveld agter om die oorwinning te vier nie, die oomblik toe ek my laaste woord in die tydsgleuf aan my uitgedeel gespreek het, toe soek ek Annieka op, vang haar ook waar sy gesprek voer met onbekende ouers, en ek wuif vir haar. Sy knik.

My wuif het kommunikeer ek gaan ons kind nou optel. Haar knik het haar dankbaarheid daarvoor uitgeroep en gevra dat ek tog mooi na haar moet kyk.

Na 'n week wat 'n week lank dis-nog-net-'n-week-en-dan-is-alles-weer-normaal was, tel ek haar toe half ses by Ouma-hulle op.

En soos met elke opedag die laaste ses jaar, ry ek en is ek spyt ek het nie die vorige aand kos gemaak nie – nie dat so iets in 6 jaar ooit moontlik was of kon wees nie.

Oormoeg, gedaan, pê, op, gatvol en sat, moet ek dan ry en gaan aandete maak.

Ek, soos die kinders dit stel, doen nie gemors- en kitskos by McDonalds of die kolonel se plek nie.

Maar Donderdag was ek net te moeg, toe draai ek links in plaas van regs by Oupa-hulle uit, ry die kitskosplekke die een na die ander verby, en gaan stop by 'n restourant.

Ook maar die derde keer in haar lewe dat Klaradyn en haar pa, so sonder haar ma gaan uiteet.

Vir my is dit heerlik. Die kos kan na hond proe, ek gee nie om nie. Want stap ek die restourant met my dogter aan my sy binne, swel ek van trots en is ek bang die knope spring oor my bors van my hemp af, soos die dag van haar geboorte.

Ek weet dit is vir haar ook spesiaal, so ek sal dit nooit goedkoop maak deur so iets te gereeld te doen nie.

Maar toe kom Vrydagmiddag.

Ons merrieperd gaan saam met die skool ysskaats want ons het genoeg geld met die fondsinsameling geïn dat sy kan saamgaan. Ek het natuurlik gevoel ons moet bylas en aanlas tot sy genoeg het om Sun City toe te kan gaan – maar daarvoor het Annieka 'n stokkie gesteek; nie oor die geld nie (al die geld op die kind se vorm het immers onder baie mense se name, uit haar sak gekom) maar oor sy nie Klaradyn op 'n bus Sun City toe sal sit nie.

En dan was ek ook dalk 'n bietjie voortvarend gewees met my aanvanklike doelwit wat die kind Sun City toe sou gestuur het, want Donderdagaand in die bed toe wonder ek of donkerbrille en 'n pienk hemp genoeg sal wees, en of ek my baard ook sal moet afskeer.

Ja, Klaradyn kan maar op die bus klim, sy móét, maar dit keer my nie skelm agter die bus aan te ry en oorkant die ysskaatsbaan by een van die vyf restourante wat ek deur die groot glas vensters 'n uitsig op die ys het, te gaan sit en die middag te verwyl nie.

Toe kom die SMS deur wat my herinner aan 'n vergadering waarvan ek in die aanloop tot die opedag lankal vergeet het, en Annieka moet alleen gaan.

Die oomblik toe ek egter na die vergadering in die motor klim, toe word dit nie Omie nie, maar, op dieselfde as wysie as die kinders in die bus: Pappa trap die petrol dat jy vinniger kan ry...

Ten spyte van die opedag waarvoor Annieka pa moes staan, het sy toe nog Vrydagaand (én Saterdagoggend) ander skoolpligplegingsverpligtinge ook aan.

So eintlik los ons mekaar net af, daar in die restourant waar ek Mamma Annieka agter 'n koue bord kos en halwe glas appelwyn opspoor.

Ek kon Donderdagaand darem saam met Klaradyn uiteet; 'n besorgde Mamma doen dit toe Vrydagmiddag alleen. Op haar eentjie sit sy daar, die tydskrifte om haar uitgepak. 'n Opera-verkyker om die verloop op die ysskaatsbaan te volg, is al wat ontbreek.

Ag siestog, en dit moes 'n lang middag gewees het, te oordeel aan die rekening wat 'n rukkie later kom – daar was voorgereg ook. Added extras én koffie.

So breed soos ek geglimlag het, toe Annieka Donderdagaand na ek Klaradyn klaar geëet het, by ons in die restourant aansluit, so breed glimlag Annieka toe ek Vrydagmiddag by haar aansluit.

Maar waarom agter die bus terugry, ons is dan nou in die Mall! Dit is immers Vrydag, die opedag is verby, so waarom sal ons dit nie vier nie?

Daar gaan fliek ek en Klaradyn toe, so op ons eie.

Nog iets wat ons slegs vir die derde maal sedert sy so begin word het dat sy kan fliek, doen. En waar ek gewoonlik aan die kant van die paadjie sit, dan sy en dan Mamma, laat ek háár toe om aan die paadjie te sit – haar koeldrank en springmielies langs haar op die grond.

Ek het, toe ek vir die kaartjies betaal, weliswaar nie net aan William Rowland se Pappa en seuntjie stap  gedink nie, maar ook aan Amanda Strydom. Jare gelede, voor 1994, borg die Spoorweë (al was hulle toe al Transnet en is dit daarom miskien knap ná 1994 gewees) 'n Amanda Strydom-fees in die Staatsteater. (Dan moes dit voor 1994 gewees het – ons had nog 'n Staatsteater). 'n Vriend van my is betrokke en hy deel kaartjies vir elkeen van die drie of vier verskillende vertonings na my kan toe uit. Ek onthou nog goed hoe geskok ek was oor hoe onbekostigbaar, onbetaalbaar, ondenkbaar duur die kaartjies, en dit vir 'n konsert waarin een mens sing, was:  R50-00.

Vrydagaand se fliekkaartjies, vir ons twee, was R98-00.

Maar ek knyp my oë toe en knoop die beursie oop:  Pappa en dogtertjie stap. En hulle stap regop, hand-aan-hand.

Vanoggend toe stap ons weer so 'n entjie saam – Voortrekkers toe, hierdie keer. Dis kentekendag en ons moet haar 07:30 op die terrein waar dit plaasvind, hê. Mamma trek aan die korste ent – terwyl ek sorg vir ontbyt, moet sy Klaradyn op en aangetrek, tande geborsel en hare gekam, tassie gepak en tekkies vasgemaak kry.

Ma kan terug klim in die bed – geseënde vrou is sy; ek kan saam met Klaradyn tot aan die ander kant van die stad ry – nog geseënder man is ek.

Ons luister musiek en sing. Ons moet onthou om dieselfde pad terug te ry – daar is 'n interessante boom wat sy my wil wys.

Ons is vanoggend weg met potlode, skêr en gom, ook internetprentjies van Batolomias Diaz wat ek iewers tyd voor gemaak het om op te soek en uit te druk.

Tel ek haar na afloop van alles weer op, is dit 'n plakkaat van die man, 'n collage met 'n karveel en 'n klipkruis van klei wat saamkom huis toe.

Die tannie wat die oggend aangebied het, het gedink sy gaan 'n nuwe generasie kinders aan Carike Keuzenkap se liedjie wat sy in 1988 tydens die feesjaar bekendgestel het leer, maar toe ken Klaradyn dit al oor haar pappa dit in die kar het. So toe sy inklim is die eerste wat sy vra:  “Wil Pappa nie bietjie vir ons die liedjie van Bartolomeu Diaz opsit nie, Pappa?”

Vanaand neem ek haar internet toe, om herbesoek aan die man te bring. Sy sien die standbeeld op Mosselbaai en sê dadelik dat dit waar die poskantoorboom is.

Lekker om met so 'n kind te kan stap.

No comments: