“Mamma, ek is gebore vir die verhoog!”
So ‘n snipgat!
Maar dit word erger, erg genoeg om daaroor skaam en bekommerd te wees, want die aand aan tafel toe ek ‘n glasie wyn vir my en Annieka aandra, vra sy vermetel: “En die ster vir die dag, kry sy nie ook iets om te drink nie.”
Maar, laat ek dadelik ter verdediging sê, dit was met ‘n tong so diep in die kies dat die wange skoon bol gestaan het en haar oë helderder as die melkweg van pure ondeundheid geblink het.
(Ag siestog, toe bring die aanstellerigheid haar nêrens – ek het vergeet om melk om te koop en daar was skaars ‘n katspoegie.)
Ek is nie seker wie die meeste opgetrek is met Klaradyn se TWEE A++’e in die kunswedstryd nie – sy of haar ma nie.
As sy kon, het Klaradyn met die medaljes om haar nek gaan slaap – sy het laas die hamster so gevroetelvertroetel toe ons dié ‘n ruk gelede gekoop het.
En ma, wat oorloop van genoegdoening, kan nie uitgepraat raak oor die “klas van haar eie” waarin Klaradyn meegeding het nie. Chalk vs. Cheese, Shakespeare vs. Verna Vels.
En wie die meeste rede tot dankbaarheid het, is vir my ook nie ‘n uitgemaakte saak nie:
Annieka wat verlede moes toekyk hoe die punt van haar hart op die verhoog verlep soos ‘n tulp sonder water?
Of die tulp sonder water haarself, wat na verlede jaar se kunswedstryd gesê het sy gaan so iets nooit in haar lewe nooit as nimmerste nooit-ooit weer doen nie.
En dan is alles nie wie se skuld nie – myne.
Klaradyn kom die dag by die huis aan met hierdie gedig wat sy op die kunswedstryd gaan doen.
En sy sê hom vir my op, en dis lief en dierbaar, maar daar is baie wat haar met die gedig sal kan doen. Ek kan nie wag om in te spring en gestalte te gee aan ‘n wonderlike vertolking deur ‘n graad O-leerling nie.
Maar, nee, moet ek hoor, die juffrou by die skool het hulle gesê om dit so te doen – en dis duidelik dat Juffrou se woord wet is, wat sal pappa wat way back in die oertyd die toekenning vir die beste dramastudent in die departement ontvang het, nou van vertolkingskuns weet.
So toe los ek dit. Ons oefen, maar ons oefen soos Juffrou sê.
En Juffrou was nie verkeerd nie, ons kon net baie daarop bou en uitbrei. Iets wat al die ander mammas en pappas gaan doen het.
So Klaradyn doen toe nie so goed soos al die ander maatjies nie, en sy besluit sy gaan dit nooit in haar lewe doen nie.
Dis nou tot ons hierdie jaar na ‘n tannie gaan wat elokusie aanbied. En nee, dis nie elokusie nie, maar as ons dit dramaklasse genoem het, het Klaradyn sweerlik nie gegaan nie.
Sy geniet elke oomblik en toe die briefie kom wat uitvra na kunswedstryd, toe is dit asof verlede jaar nooit plaasgevind het nie.
Ons het geoefen, pa het probeer help, ma het probeer help; Klaradyn het egter partykeers selfs beter as die dramajuffrou ook geweet – so dis net met moeite en ysere selfdissipline dat ek (of Mamma) nie vandag skuldig staan aan kuikenmoord nie.
Ek was bang mêrrempie doen dit outomaties, sonder enige spanning hoegenaamd (dead give away van iemand wat nie ‘n ware kunstenaar is nie, selfs al is hulle meesters van hul vak).
Maar gelukkig, vertel Mamma, was die meisie gesond senuweeagtig.
En toe geniet sy dit. (Pa is nie gepla oor prestasie nie, solank die kind dit geniet het, kan sy ‘n B of C ook maar kry.)
En die geniet van die kind, stoot haar toe in ‘n goeie prestasie in.
En daar is almal gelukkig.
Dag twee van die fees, toe kry die groep-item ook ‘n A++, maar voor dit klink of A++ die gemiddeld is, dit is nie. Daar is maar min kindertjies wat geleentheid het om vir hulle ‘n medalje te kan gaan koop.
Miskien neem ons volgende jaar weer deel. Ek hoop so, maar ek sal dit nie afdwing nie.
Ek dink egter Klaradyn is nou soos ‘n roofdier wat bloed geruik het, sy sal die spoor nooit los nie en vir lank terugkom vir nog.
‘n Verdere miskien, net miskien, wie weet, miskien laat sy my volgende jaar toe om haar meer te help.
Sal dit nie lekker wees nie!
Sal dit nie lekker wees nie!
No comments:
Post a Comment