Pages

6.8.11

Net om te noem ek leef nog

In al die laat nagte op universiteit, dis nou laat nagte van haarde eerlike werk en studie, nie kuier en kattemaai nie, had ek nooit ooit, nie een keer nie, die ervaring om oor die tikmasjien aan die slaap te raak nie.
Ja, dit was enkele jare voor die koms van 'n persoonlike rekenaar – myne was 'n Olympus, 'n lieflike dingetjie waaragter ek ure der ure spandeer het. (As jou handskrif enigsins trek op myne, dan tik jy eerder as skryf, maar ook ure der ure omdat ek nooit leer tik het nie en vandag steeds met twee vingers oor die weg moet kom.) Die masjien is nog hier iewers in sy swart tassie – waarvoor sal geen mens weet nie.

Ander studente kon altyd met veel vermaak vertel van hoe hulle op die tikmasjien aan die slaap geval het, hoe die toetse, stafies en pennetjies letterlike in-druk op hul wange gelaat het; ek kon van niks soortgelyks getuig nie – ek het nooit eers in die bed met 'n studiehandboek in die hand aan die slaap geval nie, wat nog te sê agter 'n lessenaar.

Haai, en toe hierdie week, amper 30 jaar later, word ek in die stoel, oor die skootrekenaar wakker, en my dokument van twee bladsye het 'n tabel met kolomme in wat oor sewe en veertig bladsye strek – iewers moes iets in die aan wegdommel en aan die slaap val geval of vasgesteek het. Gelukkig kon ek alles wat ek nie wou hê nie ongedaan maak met die druk van die regte toetse.

Ag, en daar is ek so trots op my “prestasie”, na al hierdie jare. En of dit van laat en harde werk is, en of dit sommer van ouderdom is, sal ek vandag nie weet nie – ek wil egter 'n harde week, met 'n nog harder een wat voorlê, die lang naweek ten spyt, voorhou.

Eintlik 'n druk eerste vier weke van hierdie kwartaal:  week een was vraestelle en merkwerk wat die vakansie agterwee gebly het, week twee toe is dit rapporte en opbou na 'n energie-intensiewe agtuur lange funksie met 300 ouers en kinders van ander skole, week drie oueraand en opbou tot die skool se opedag, en week vier, wat net drie dae lank is, het opedag op dag 2. Tussendeur kunswedstryd Klaradyn, verjaar twee maatjies, hou ek fotodag by die skool en probeer ek aan die redakteur van die jaarblad speel ook.

En dan probeer ek nog skool hou ook.

So dis met kleur en geur dat ek Donderdagoggend vertel hoe ek 02:00 opgestaan het om te werk aan 'n aanbieding wat Annieka vir die opedag beplan. Ek kry oe-en-aa’s van simpatieke bewondering en laat geriefhalwe na om te noem dat ek teen 02:00 al uitgeslaap was omdat ek 20:00 die vorige aand by Klaradyn oor die aandstorie aan die slaap geval het, en toe ek dáár wakker word, summier oorgestap het na die dubbelbed in die hoofslaapkamer en verder geslaap het.

Dis dan toe ook hierdie vroeg begin van Donderdagoggend wat my teen Donderdagnag rondom twaalfuur oor die rekenaar aan die slaap had. In daardie stadium sit ek toe egter met die skool se weeklikse blaadjie aan die ouers wat uitgelê moet kom, so toe ek daar wakker word en gaan slaap, was dit met die wekker wat vir 04:00 gestel word, sodat ek kan klaar maak voor opstaantyd om 05:00.

En daar dan die rede waarom ek so stil is.

Waarby ek nie kon uitkom nie, waaroor ek spyt is, is om te vertel van my frustrasie en woede rondom die ouetehuis. (What’s new?)

Oor dit so stink aan die piepie as 'n mens uit die hysbak klim en afstap in die gang, en dit net met moeite is dat een daarin slaag om nie te walg as 'n mens daar aankom nie, koop ek vir die ou vrou se kamer van hierdie botteltjies vol olie, waarin jy dan 'n paar poreuse stokkies steek. Die stokkies absorbeer die olie en die verdamping daarvan stel die lieflikste geur in die vertrek vry.

Ek het nie 'n probleem met die piepie nie – twee uit elke drie inwoners op die vloer, vermoed ek, dra doeke. En in die winter hou ons almal maar die vensters toe. So dis te verstane dat dit aan ouetehuis sal ruik as 'n mens daar instap.

Die inwoners ruik dit tien teen een nie – jou neus raak mos gewoond aan die geure – maar vir my ma, en wie ook al daar by haar kamer instap, moet dit elke keer egter 'n lekker ervaring wees om die lieflike aroma van die frangipani op te tel.

Dit kan natuurlik deurgaan as walglik soet ook, maar Judy het nog altyd van soet frangipani of roos gehou, so ek weet sy is gelukkig daarmee.

Annieka het dieselfde tyd as my ma, 'n botteltjie van die olie gekry – en hare is nog half. My ma s'n moes ek egter so twee weke gelede al vervang.

Ek het destyds dadelik opgetel toe iemand deur die loop van die nag, of toe my ma in die eetsaal was, ingekom het en goed die helfte van die botteltjie se inhoud vir hom of haarself uitgedra het.

So toe nou die anderdag weer in die omgewing van 'n Body Shop was, toe vul ek die dierbare ou vrou se lyfrom en –botters aan en kry sommer 'n nuwe botteltjie van die frangipani-olie.

En dit was nie vier dae nie, toe verdamp die botteltjie, oornag, in die middel van die winter, met meer as 'n derde, amper 'n helfte. Of iemand het ingestap en hom- of haarself daaraan gehelp.

Ek was die duiwel in, die hel in, eintlik de moer in, en is na die susters om te noem dat een so waar as waaragtig weer onder die goed ingeklim en daarvan gevat het.

Dit was iemand op daardie nag se nagskof, of die vorige dag se dagskof, maklik om hulle te konfronteer.

Maar jy kan nie kla nie, mag nie kla nie, durf nie kla nie. Die skuldige gaan nie vasgetrek word nie, en my ma gaan dit ontgeld.

Oom Jack het, voor sy dood ook al meer as 'n jaar gelede, hom so gewip vir die werkers wat snags inkom en hulle eetgoed so steel.

Hy het strikke gestel, hy het bewys kon lewer, en hy het gekla.

En toe ontgeld hulle (hy en my ma) dit met die bad, en was, en aandra, en aantrek en algemene versorging.

Toe gee hy op.

Dis die klas van ding waaroor Carte Blache en Special Assignment verslag lewer.

Maar in belang van my ma, het ek by Oom Jack geleer, dit help nie om geraas te maak nie, jy verloor die baba saam met die badwater.

Dan praat ek nie van die klere wat wegraak nie. Haar tande wat hulle uithaal en nie terugsit nie.

Ek wil nie met 'n enkele mens (met die uitsondering van my ma en die ander pasiënte wat se koppe hulle een en elk ook verlaat het, of in die proses is om afskeid te neem) vriendelik en gaaf wees as ek daar aankom nie. Ek wil nie.

En nou moet ek huigel.

Maar met die ou vrou self, gaan dit baie goed (onder omstandighede). Onveranderd.

En die winter het mos maar die geneigdheid om te gaaf te wees met die ou mensies nie. Hierdie winter het my brose moeder egter sagkens behandel en gespaar; ek is dankbaar, baie dankbaar.

Maar dat hulle van my sal hoor, die dag as hulle nie meer iets aan haar kan aandoen nie, is 'n feit soos 'n koei.

Ek het al gedink om 'n televisiekamera in die kamer te sit wat alles 24 uur lank monitor.

Ek sal egter steeds nie my keel kan skoonmaak nie – daar is nog gange en eetsale en badkamers wat herinner aan die gaskamers op Auschwitz.

So in belang van Judy laat ek dit daar.

No comments: