Dan word dit nou weer daardie tyd van die jaar – die
Moolmans vier Lentedag mos reeds op 30 Augustus, die dag waarop Klaradyn met 'n
kreet (wat, sou dit later blyk, toe nooit 'n kreet was nie, maar, getrou aan
haar aard, eerder 'n moewiese gejuig) in ons lewens ingestap het.
Dit voel soos gister; en hier staan ons al, haasbek, op die
vooraand van 7.
Kyk jy na foto’s van my en Annieka, ek of Annieka, dan sien
jy dat dit straks soos gister vóél, maar laat ons nou nie doekies
omruil om geheimpies daarvan probeer maak nie – dit lýk beslis nie soos gister nie.
Trouens en inteendeel.
My baard, waar die knope in die hospitaal van my hemp af
spring – so swel my bors van trots, is nog pikgiet- pure swart. Vandag kan ek
nie eens meer, soos twee jaar gelede nog, praat van ‘n sout-en-peper-baard nie,
van selfs net 'n knypie of 'n grypie peper is daar ongelukkig nie eens meer
sprake nie – dis spierwitgrys.
Maar die ou foto’s van daardie dae hou ook hul voordele
in: ek raak elke dag weer opnuut verlief
op die mooi jong vrou wat langs my op die foto’s pryk – te lekker.
So kom ek af op 'n foto van seker so drie jaar voor ons
troue en ek wil dit summier klas toe neem en daar staan maak tussen die kiekies
van Klaradyn wat jare later sou kom. Ek en Annieka is op 'n boot op die
Kariba-meer. Dis nou tot ek verby my vrou se bloesende jeugdige rooikop-gelaat
en donker baard staar, en vaskyk in die bier in my hand, die Mandela-hemp aan
my lyf en pers bandana op my kop. Die kinders sal hulself oop kraak van die
lag, die hoof sal knak, en waar sit ek dan?
En had ek en Annieka tog maar net minder van die veld, van
Kariba en die res van Afrika in ons, dan het ons ook nou rondom Barbie, Bratz
of Hannah Montana 'n partytjie gereël, maar, nee, ons het die kind mos van
kleintyd af 'n liefde vir diere en die natuur ingegee – nou foeter ons oor twee
Saterdae dieretuin toe met 'n sestal maatjies.
Kyk, vanjaar gaan ons mos nou klein – 'n mens kan nie elke
jaar 'n groot partytjie hê nie. Vanjaar is klein en dan kan volgende jaar weer
groter.
En dis toe waar Klaradyn aan die dieretuin kom. Ek was bang
sy bestel weer 'n muishond-koek, soos op 3 die geval was, maar tot op datum is
vreemde karnivore nog nie op die wenslys wat koeke betref nie.
Die wenslys het egter wat maatjies betref uitgesit, geswel
en loop dit nou 'n paar dae al die gevaar om uit sy nate uit te bars. Die
gedagte was Mamma, Pappa, Klaars en twee maatjies – almal op een
gholfkarretjie. En dan piekniek ons iewers onder 'n boom.
Die twee maatjies het egter verdubbel en vier geword.
Hierdie vier het spoedig aangegroei tot ses en wil dit my nou voorkom ek sal
nie een, of twee, gholfkarretjies moet huur nie – ons het 3 nodig. Gelukkig is
daar 'n derde bestuurder, want toe die kinders aangroei, toe moet die mense wat
kan oppas en uitkyk ook toeneem.
Vir my die lekkerste tot op datum rondom die partytjie, is
die uitnodigingskaartjies – die kind wil toe mos nou vanjaar opsluit haar eie
kaartjies teken en maak.
Ek kan nou nie meer alles onthou nie: kameelperd, leeu, komodo-draak, anakonda,
pikkewyne, nog 'n basilisk-reptielerige iets onder gloeilampe asof in 'n broeikas,
bokke.
Ek wou die kaartjies nog skandeer. En ek kon, want ons het
dit al drie weke gelede afgehandel. Daar is gespoeg en geplak en uitgeknip en
ge-als. Riffelkarton, bruinpapier en iets ligs om op te teken.
Maar toe haak ons aand na aand elders vas, sonder om by die
skrýf
van die kaartjies uit te kom, want skryf wil die mêrrempie haar eie kaartjies
skryf ook. Daar word kort-kort groot beloftes gemaak, van ma én
dogter se kant af, maar net mooi niks wil realiseer nie.
Toe ek die idee kry dat die volgende wat gaan kom niks
anders as telefoonoproepe gaan wees nie (ek bel om te hoor of jou kind nie more
saam met Klaradyn dieretuin toe wil gaan nie) toe sit ek my voet neer – hierdie
kaartjies kom vanaand klaar, dit gaan more skool toe en maatjies toe.
O, wee, en daar is die 6 kaartjies toe te veel vir 'n klein
dogtertjie. Die trane sit vlak en die moeg, hoog.
Toe raak hulle probleem, my probleem en ek moet die
skandeerder koppel. Maar die eerste poging is op bruinpapier en sonder
kleurdrukker, lyk dit in skakerings van grys nie mooi nie.
Klaradyn doen oor op wit, Mamma brei uit met haar
boodskappie en ek skandeer; ons almal help met die inplak – dit word laat en
ons is haastig.
Só haastig dat die eerste Mamma gister bel: “Ja, ons sal vreeslik graag wil kom, maar sê
ons nou net... ons weet alles wat ons moet weet, én meer, behalwe wánneer
die partytjie is: wanneer ís hierdie partytjie?
Ja, met die tweede oorskryf van Klaradyn (die bruinpapier na
wit) het dele van die boodskap weggeval, en Mamma het dit vergeet om dit by haar
boodskappie in te voeg!
Dankie tog dis net 6 maatjies en 18 nie. Ons leef in die
een-en-twintigste eeu, so waarom nie alles afhandel en beklink met 'n SMS nie.
Hou saam met duimvas dit reën nie oor twee weke nie – ons hét
verlede week drie reënbuie én op 'n kol ook hael gehad. Ek onthou 'n
28 Februarie so agt jaar gelede waarop swartryp bykans ons hele tuin uitgewis
het.
Maar ek weet dit sal goed gaan, selfs al is dit koud of reën
dit – Klaradyn pak wat sy doen, nie met ‘n kreet aan nie, maar 'n gejuig, en
haar teenwoordigheid sal enige ongure element van die natuur so vinnig ontuis
en onwelkom laat voel, dat dié sommer gou voet in die wind sal
slaan.
No comments:
Post a Comment