Pages

7.8.11

Wat 'n teleurstelling!

Ek sal lewenslank 'n kind bly – daarom kinderlik, maar ongelukkig ook kinderagtig.

Ek dink nie ek was in 10 jaar so kinderlik/kinderagtig ongelukkig soos vandag nie, soos op hierdie oomblik nie.

Ek is die hel in vir myself.

Ek is die hel in vir my vrou.

Ek is die hel in vir die bestuur van die Brooklyn teater.

En niks, niks maar niks, absoluut niks, sal my beter laat voel nie.

Want dis te laat – met water wat verby is, sal die meule nooit weer maal nie.

En hierdie water wat verby is, vloei al die pad België toe – dis nie soos brood wat jy vandag op die water werp en dan keer dit volgende jaar na jou terug nie.

Hoekom ek vir myself kwaad is, kan ek nie hier aan die groot klok hang nie.

Hoekom ek vir Annieka kwaad is, nog minder.

Dan moet Brooklyn teater maar die sondebok verklaar word. Dit is immers altyd maklik en lekkerder en beter om die skuld op 'n ander te pak. So dan doen ek dit ook nou.

Iewers in Europa het ek donkiesjare gelede een aand 'n sigeunervrou viool hoor speel op straat. Toegegee, dit was nie 'n sigeunerin nie, maar 'n platsak musiekstudent wat sigeunermusiek op haar viool uitgespeel en die soel somer naglug ingestuur het.

Om nóg meer geld van verbygangers te kry, het sy haar golwende bruin hare los gedra, was sy kaalvoet en in 'n bruin romp en baadjie geklee.

Dis amper 20 jaar later, maar ek onthou dit soos gister en gebruik lawwe woorde soos “soel somer naglug” omdat ek daardie nag verlief geraak het – op die vrou wat haar in haar musiek inleef, én op haar musiek.

Verdomp of ek kan onthou watter stad of land dit was. Dit was ongelukkig nie Hongarye of in die Tsjeggiese Republiek nie – sou dit nie lieflik gewees het as dit was nie, maar ek weet vir 'n feit ek was nie gelukkig genoeg om my hart in Boedapest of Praag, of iewers naby Bohemië te verloor nie.

Ek verbeel my ongelukkig dit was in smerige Parys, wat natuurlik die hele gebeurlikheid nou van sy romantiek stroop.

Iets daarvan het my ore daarna in München by Karlstor en Karlsplatz  beleef, my oë ongelukkig nooit weer nie.

Ook toe ek en Annieka jare later saam daar is, kon ek nie wag om te sien en te hoor wat ons in die voetgangersone gaan raakloop nie.

Soortgelyk, baie dieselfde, maar presies dieselfde – ongelukkig nooit nie.

Ek was ingestel op sigeunermusiek, daardie jare.

Enkele weke voor ek die eerste keer met rugsak Europa toe is, sit ek die middag na skool in my klas en die allermooiste vioolklanke kom by die venster ingeswem.

Die skool had 'n baie bedrywige musieksentrum in daardie jare, en om smiddaes op die maat van verskillende instrumente jou dagtaak af te handel, was niks vreemds nie.

Hierdie betrokke middag was egter anders, die musiek het jou onmiddellik aan die hart gegryp en dit was duidelik nie die werk van 'n skolier nie.

Ek het opgestaan en agter die klank aangestap tot ek by Mnr. Silvius, die sentrum se vioolonderwyser, uitgekom het. 'n Leerder had nie opgedaag vir klas nie, en hy het die lestyd gebruik om self te oefen aan dit wat hy besig was om in te studeer:  die Spaanse komponis, Pablo de Sarasate, se Sigeunerweisen.

Hy het my toegelaat om by hom te sit en ek het die klanke ingedrink.

Op 'n stukkie papier is die naam van die musiek en die komponis toe 'n paar weke later in my rugsak saam.

In Berlyn toe, waar ek vir my die opname daarvan deur Anne-Sophie Mutter aanskaf. (Luister gerus hoe Sarasate homself die eerste en vierde bewegings van sy musiek interpreteer met 'n opname van 1904, of hoor wat maak Mutter met die volledige stuk.)

So ja, om 'n lang storie wat oor amper twintig jaar strek, kort te maak:  ek was vreeslik opgewonde toe ek sien die Suid-Afrikaans gebore violis, Gina Beukes, is hierdie naweek onder die vaandel van Salon Musiek in die Brooklyn Teater.

Met geld wat ek nie het nie, gaan koop ek toe vir ons twee kaartjies. Ons laai Klaradyn by Ouma af, en sit af teater toe.

Ek is in vervoering...

En dis my eie skuld.

Die vrou is besig met 'n baie tegniese stuk musiek op haar altviool, die naam ken ek nie – toe ek 'n program wou koop, toe is al die programme ongelukkig reeds uitverkoop  – maar  ek herken dit dadelik van ander opnames by die huis.

Ek verkyk, nee ek verwonder my, aan die werking van die vrou se arm en gewrigte terwyl sy besig  is en wonder hoe fiks/moeg sy nie moet wees nie.

Toe kom die konsert tot 'n einde, hulle gooi die deure oop en ons stap uit.

Ek sê vir Annieka, knap nadat ek in vervoering was oor die musikant se stamina, dat sy seker, soos Nataniël wat ook alles in sy konsert insit, letterlik, fisies nie die krag het vir 'n toegif nie.

Maar ons is haastig, Oupa het twee nagte deurnag gewerk en ons wil Klaradyn voor middagslapie gaan optel.

Dit is vir my vreemd dat die hek waar ons ingekom het gesluit is, maar na hulle die vorige keer wat ons by die teater was, 'n motor gesteel het, verbaas dit my toe ek verder dink en onthou , ook nie.

Ons is haastig en ek ry by die boonste hek uit.

20 sekondes later, af in die straat en weer verby die teater, sien ek niemand is buite nie – dis letterlik ons en twee ander motors wat vertrek het.

Ek sê vir Annieka daar is niemand buitekant nie, ek en sy het nou met die begin van pouse weggery.

By die stopstraat sê ek dit weer – die musici het ook nie met 'n afskeidsgebaar ons applous aan die einde van die laaste item, ontvang nie.

Ek wil omdraai, maar doen dit toe om verskeie redes ,teen my eie beter wete en gesonde verstand, nie.

Ek kry voor die tweede robot nog 10 bewyse waarom dit beslis die aanvang van pouse, en nie die einde van die konsert nie, was.

Maar ek, ek wat agter die stuur sit, draai nie om en ry terug nie.

By die huis gekom was ek reg:  dit was pouse – ek het die itemlys op die internet gaan opsoek.

Ons het die hoogtepunt, die klimaks van die tweede helfte by ons verby laat gaan.

Ek blameer nie myself omdat ek na my vrou geluister het nie.

Ek blameer nie my vrou omdat sy oortuig was die konsert was verby nie – ek blameer Salon Musiek omdat hulle hopeloos te min programme laat druk het.

(Wat natuurlik belaglik is, maar dit laat my minstens beter voel.)

En dis verby.

Vir altyd.

Die feit dat ek dit nou hier verwoord het , laat my ook hoogstens net marginaal beter voel.

En as dit nie Salon Musiek se min programme was nie, was dit my eie toedoen.

(Dis letterlik waar die uitdrukking sondebok vandaan kom: die ou Jode het hul sondes op simboliese wyse op 'n bok gelaai, en die dan by die stadspoorte uit, die woestyn in, gejaag. Vang die leeus die bok, of kom hy om van honger en dors, dan het hulle sondes wat hulle op sy rug gelaai het, ook te sterwe gekom - die onskuldige word blameer en as skuldige voorgehou.)

Miskien moet ek hierdie sommer vir hulle, en vir Gina Beukes stuur.

Want as ek nie vir myself lag nie, moet ek huil, en daarvoor sien ek waaragtig nie nou nog ook kans nie.

No comments: