Die aand van die dag waarop ek en Annieka destyds in ons
huidige huis ingetrek het, het Ernie in ons lewens ingestap en vir lank sou ek
nie kon sê
watter man die grootste in my lewe was nie – my broer of Ernie.
Ek dink as jy Annieka by tye voor 'n keuse tussen my en die einste
man moes plaas, sou ek tweede gekom het.
Want aand een, ons is nog nie eers 12 ure onder die nuwe dak
nie, toe drup daar water deur die plafon op die vloer en ons bel die
eiendomsagent om te hoor of sy iemand kan voorstel.
Sy stel Ernie voor en drie en veertig minute later is dit
nie net water wat deur die plafon val nie, maar Ernie ook – en hy moet die
volgende dag terug kom om plafon te vervang en te verf.
Maar ten spyte van hierdie, nie met die deur by die huis
inval nie, maar met die voet deur die plafon val van hom, het Ernie so te sê
vertroueling en vriend geword.
Ek het agt jaar gelede, daardie selfde aand wat hy die
lekkende pyp heel en die plafon stukkend gemaak het, sy plakkertjie in die
kragboks se deksel geplak sodat dit altyd bereikbaar kan wees. Tog, met die dat
die nommer ook dadelik selfoon toe is, het ek dit maar selde daar gaan opsoek –
en eintlik slegs as ek 'n nuwe selfoon gekry het sonder om my ou nommers op die
simkaart te stoor.
Ernie het loodgieterwerk en algemene instandhouding gedoen,
en of dit nou die swembad was wat aandag nodig had, of 'n dakwaaier wat tot
gevolg kon hê
dat ek verkool of die huis in vlamme opgaan, op Ernie kon altyd gereken word om
eerlike en ordentlike werk te lewer.
Aan elektrisiteit waag ek nie my hande nie; vir ander
instandhouding sien ek kans – mits ek die regte implemente en gereedskap het.
Enige taak is maklik met die regte tools,
maar sonder die regte tools sukkel
selfs die opgeleide vakman.
My gereedskap is beperk tot hamers en enkele skroewedraaiers
wat altyd soek is as ek dit nodig het.
Gevolglik het Ernie 'n sleutelrol in ons, ons huis, swembad
en elektriese hek se lewens gespeel.
Toe val Ernie met sy agterwêreld, nie deur 'n plafon nie,
maar in die botter: hy slaan vir hom 'n werk in die stad los en toe ek weer sy
nommer op die selfoon slaan, toe antwoord iemand anders.
Dit neem my toe ook twee keer se uitroep voor ek 100% agter
die kap van die byl kom en besef die outjies het my die eerste keer 'n rat voor
die oë
gedraai: Ernie het nie 'n kontrak wat hom die vorige keer 'n rukkie elders
gehad het nie – hy het sy besigheid verkoop en gaan nooit ooit weer optel as ek
die nommer wat ek vir hom het, skakel nie.
Ek bel toe vyf jaar later dieselfde eiendomsagent wat ek vanjaar
agt jaar gelede gebel het: wie beveel
hulle aan.
So kry ek toe 'n gawe elektrisiën wat vir Spoornet werk en
eers na werk in sy vrye tyd met ander se elektriese probleme sukkel. Na twee
jaar kom ek toe ook agter hy is iemand wat 'n motor, duurder as my en my
buurman se huis saam, bestuur.
Wat die dreine en pype betref, was dit braakland.
Ek en die tuinier het twee insidente hanteer. Met wisselende
sukses.
In die een kant van die binnehof het 'n waterpyp gelek. Ek
en 'n wonderlike arbeider het die takie aangepak. Ek moes twee keer terug om
die korrekte koppelings te kry, en toe moes ek nog 'n derde keer terug oor 'n
oepsie met die mes wat my vakman gehad het.
Toe 'n tweede pyp, etlike meter van die eerste, twee jaar
later begin lek, toe sien ek nie kans vir weer 'n keer vier keer winkels toe en
terug nie. Gelukkig het ek toe 'n nuwe tuinier, en een met 'n effense anderse
aanslag as die vorige – ons bind die gat toe op met ‘n fiets se binneband. So
maklik soos val uit 'n boom.
En toe hou die kombuis se warm kraan een mooi dag so 'n
rukkie gelede net op om te loop. Met 'n emmer uit die badkamer dat ons nou al
twee maande skottelgoedwater aandra.
Ek wou nog Julie-vakansie iemand uitkry, maar dis mos maar
hoe dit is – voor jy jou oë kan uitvee, is die vakansie om en verby.
Intussen sluit 'n druppende kraan elders, ook by ons aan.
Maar nie een van die takies regverdig 'n boereverneuker wat
ek oornooi om my in te kom doen nie. Ek moet eintlik net oorstap na my buurman
– hy sal raad hê.
Maar dan is dit mos nou maar een maal hoe dit ook met
hierdie tipe ding is – voor jy “Lood-die-loodgieter” kan sê,
is die naweek ook al om en wie pla ook nou jou buurman op 'n Sondag met so
iets.
En so sou ek nog kon vasbyt en uithou tot Desember, indien
nie April 2012 nie.
Maar Woensdag gaan ons skool toe en aan die binnehof is dit
duidelik dat dit moes gereën het, want daar is so 'n natterige plassie aan die voet
van die een potplant.
Woensdagagtermiddag het hierdie plassie nie slegs nie
opgedroog nie, dit het sommer baard, en hardebaard daarby, gekry en 'n allemintige
plas geword.
Donderdagoggend toe weet ek:
my en Abel en die fiets se binnebandkontrepsie het die gees gegee.
Vrydag toe kry ons die duikbrille en paddavoete in die
gereedheidshouding in die binnehof – ingeval van nood.
Saterdag sleep ek toe maar langtand so 'n plaaslike
advertensiebladjie nader.
Maar ek vererg my – dis veronderstel om “plaaslik” te wees,
maar elke telefoonnommer wat nie 'n selfoon is nie, verklap dat my plaaslike
gemeenskapsloodgieter in 'n ander tydsone as ons bly en werk – dit gaan my
R500-00 aan reiskoste kos net om hulle hier te kry, en dan het hulle nie 'n
bobbejaanspanner van die bakkie afgehaal nie.
Die ander spel weer duidelik tussen die lyne uit dat jy
hulle nie met 'n oog sal sien nie – hulle gaan iemand hier aflaai of 'n span
uitstuur.
Daarvoor sien ek ook nie kans nie.
Aan die ander kant is dit ook al met Klaradyn se
opblaasbootjie dat ons tussen die motorhuis en die kombuisdeur werk toe pendel
en terug.
Toe kom ek af op 'n man wat homself as nutsman uitgee.
En sommer oor die foon weet ek al dat ek van die man gaan
hou.
Hy was vanmiddag hier.
Ek jubel.
Annieka jubel.
Ek het eerlikwaar nie gedink 'n mens kry nog sulke eerlike
goeie werkers in die man se bedryf nie.
Die lekkende pyp is heel, en die plaveisel wat ek gewoonlik
later weer moet lê, moet ek glo net so los – hy kom dit self doen.
Die druppende kraan sal in jare nie weer sulke streke uithaal nie.
Die halsstarrige warmwaterkraan wat ons badkamer toe en terug had
met emmers warm water is deeglik in die bek geruk en ek voorsien ook nie dat hy
sommer gou weer sal sukkel nie.
Die man is selfs in die dak in met 'n ongemaklikheid by die
geyser.
Ek het 'n swart kokipen gesoek en die man se telefoonnommer
op wyle Ernie se plakker geskryf. Ernie kan wat my nou betref, maar emigreer for all I care.
Op my selfoon het ek 'n nuwe kontak: Nutsman Manie.
Enige iemand in Pretoria Moot-omgewing wat behoefte het aan
'n nutsman – kontak my gerus, ek het iemand wat ek met groot vrymoedigheid kan
aanbeveel.
1 comment:
Slaat my dronk. Ek kan nie GLO dat jy onthou dat jy ooit 'n plakker met die man se nommer iewers geplak het nie, wat nog te se waar!
Post a Comment