In aansluiting by die vorige inskrywing waarin ek vertel het
van my kindertydse bewuswording oor grootword en die uurglas wat loop, kan ek
nie nalaat om twee skokke wat my in 2011 in hierdie verband getref het, te noem
nie.
In 2001 kom dit met ompaaie en vanuit vreemde oorde tot my
dat daar in 2002 reünie gehou gaan word.
Dat dit die matriekklas van 1982 is, wat 20 jaar later reünie
hou, pla my geensins, ek is maar al te bly dat daar saamgetrek word. My
generasie het mos grootgeword met die gedagte dat dit die hoofseuns en –dogters
van die betrokke jaargroep se verantwoordelikheid is om die siele weer
opgespoor en in een kraal te kry.
Maar 10 jaar en 1992 het gekom en gegaan sonder enige woord
uit die rigting van ons hoofleiers.
En in 2001 het sommiges ook al lank genoeg gewag – hulle spring
toe self in en sit oor afstand heen skouer aan die wiel om ons bymekaar te kry.
En wat 'n lekkerte!
Behalwe vir die enkeles wat saam met my op die PUK gaan
studeer het, het ek 'n een en 'n elk vir die eerste keer sedert skooldae weer
gesien.
Net so lekker, indien nie lekkerder nie, was die samekoms
van ons standerd 3-klas wat in 1975 by Sonja Herholdt klas gekry het.
Die hele naweek was vir 'n baie positiewe ervaring. Ek het
geensins oud gevoel nie, slegs volwasse, groot, in die fleur van my lewe.
En dit het nie gepla nie.
Wat gepla het, was 'n gewaarwording verlede naweek, toe ek
weer op 'n 20-jaar reünie was.
Dit was my 1991-matrieks wat onder leiding van hul
hoofdogter vir die tweede tienjaarlikse reünie bymekaar gekom het.
Ek woon geen ander reünies van oudleerlinge by nie, maar as
ek op 97 nog in die lewe is, sal ek sorg dat ek by hierdie klasgroep se
sestigjaar-reünie ook is. En is hoofdogter dan al oorlede en die res te sleg om
die betrokke reünie te reël, dan kry ék die reünie self in plek, so lief is
ek vir hierdie, en my 1990-klas, se matriekgroep.
Dit is seker met elke onderwyser so – die 1990-matriek was
my eerste matriekklas, die 1991-matrieks weer die eerste outjies wat ek van
standerd 8 tot in matriek onder my vlerk geneem het.
Ek was jonk, hulle was oud; dis vanselfsprekend dat daar na
hulle matriekjaar sonderlinge vriendskappe gesluit is, wat vandag nog staan en
verdiep.
Dis my babas, my kinders.
En toe tref dit my soos 'n uitklophou tussen die oë en in
die maag: my kinders, wat in my oë altyd
my kinders sal bly, is vandag al so oud en gevestig, so groot en volwasse, so
in (en ook al weer halfpad uit) hul fleur, as wat ek destyds in 2002 was, en gevoel
het.
Dit kan nie wees nie.
En al voel ek nie 'n dag ouer as in 2002 nie, besef ek toe dat ek
intussen oud moes geword het.
Dis soos om 'n mes in jou maag te kry, en die een wat daardie mes
in jou gedruk het, wikkel daai mes, en draai hom rond.
Louter hel.
En dan is dit ook seker hoeka meer as 'n maand dat ek so vreeslik
oud voel. (Miskien het ek al daarvan vertel – miskien het ek al van die reünie
ook vertel, ek weet nie... ek kan nie onthou nie... ek word oud)
Sien, ek het 'n jong kollega in die Afrikaanse departement, 'n
skrander meneer wat verlede jaar by ons aangesluit het. Maar dit was nie sy
eerste jaar in die onderwyser nie, hy hét al elders skoolgehou, toe sy
honneurs gedoen, en tóé eers by ons aangesluit. So 'n rou groentjie is hy
geensins.
En eendag sit ons in die personeelkamer om 'n tafel en 'n koppie
tee en gesels. Ek weet nie hoekom of hoe dit gekom het nie, maar my ouderdom
kom ter sprake, en die volgende oomblik hoor ek dit: “Sjoe, jy is ouer as my ma
en pa.”
Toe hulle my 'n halfuur of wat later met vlugsout weer
bygekry het, laat val 'n ander beginnerkollega, wat verlede jaar vir 6 maande
in my klas geproef het dat haar ouers en ek ook ewe oud is...
Ek kan dit steeds nie glo nie.
My skool- en universiteitsvriende se kinders begin nou
matriek verlaat, die res is op hoërskool (en dan is daar 'n paar wat,
soos ek, ook met enigstes of jongstes in die laerskool-gradeklasse sit).
En so erg soos dit vir my was, so erg soos dit vir my vir
maklik 'n maand was, so het dié gewaarwording verlede week tot
nietigheid gekrimp, toe ek 'n veel groter skok/mes/lem/dolk/vuishou/karateskop
gekry het: as my kind sou oud was soos
my kollega, dan beteken dit ek sou, die jaar toe Klaradyn gebore is, 'n kind
universiteit toe moes stuur.
Dalk 'n kind, wat soos my kollega, ook honneurs wil doen.
Ek kan my nie indink waar ek oor 12 jaar geld vandaan gaan
kry om 'n kind universiteit toe te stuur nie – ek kan my geensins indink hoe ek
6 jaar gelede 'n kind universiteit toe sou kon stuur nie. Met geld wat waar
was?
So ja, dat ek 'n ou man is, pla my geensins meer nie – so
lank as wat jou gesondheid dit toelaat, is jy in elk geval net so oud soos jy
besluit om te voel, wat my nou pla, is dat ek oud én sonder geld is.
En om sonder geld te wees, het my nog nooit gepla nie, maar
om sonder geld vir my kind te wees, is wat pla.
Tog vertel die wat weet, dat ek my verniet bekommer, ouers
vind glo weë
en omweë.
Mog dit so wees en nie sommer net ouvroustories nie.