Pages

18.12.12

Onbegonne (on-)besonne

Ek weet nie of dit die een is, of dit die ander is, en of dit ‘n gesonde mengsel van al twee is nie, maar ek is van nature aangetrokke tot woorde soos einste aangetrokke en onbesonne, oorwonne, onbeholpe, en gesogte. Die een, maar daar is uitsonderings, is dat hulle bykans almal sterk voltooide deelwoorde is; die ander is dat hulle almal, en daar is seker weer uitsonderings, aan die hand van klinkerwisseling of metamorfeme gevorm is.
Deelwoorde, want die meeste van ons het laas op skool daarmee gewerk, is, vir die doel van hierdie gesprek wat geen taalwetenskaplike gepieker is, of wil wees nie, is daardie woorde wat almal as werkwoorde begin het en nou nie meer die werk van ‘n werkwoord doen nie, maar eerder die skoene van ‘n byvoeglike naamwoord vol staan.
Neem sommer twee van die woorde hier bo – onbesonne en onbeholpe. Beide is afgelei van werk- (of dan nou doenwoorde) soos uit die volgende sinne duidelik blyk:  Ons het nie eers mooi besin voor ons die taak aangepak het nie, Ek kan myself glad nie in ‘n kombuis help nie. Hulle is egter ge-modify en in ander sinne lankal nie meer doenwoorde nie, maar woorde wat my meer van ander woorde vertel:  Dit was ‘n onbesonne daad van ons om sommer so halsoorkop betrokke te wil raak, Ek is heeltemal onbeholpe in die kombuis. (Die eerste sin het natuurlik ook ‘n ander deelwoord in, betrokke, wat van betrek en voor dit, trek, af kom.)
‘n Lieflike voorbeeld in hierdie verband is opgewonde wat lankal as byvoeglike naamwoord bekend staan, maar presies dieselfde pad gestap het. Hy kom van wen af, in die besonder opwen. Nie opwen soos ‘n horlosie nie, maar jyself wat heel up tight of opgewen is oor iets, dan is jy nie letterlik opgewen nie, maar opgewonde (en gedra jy jou, figuurlik, soos ‘n spring wat opgewen was, en nou losgeskiet het.)
Mog het troffe is dan een van die uitsonderings, dit hou nie verband met deelwoorde nie, maar dis een van die ander woorde waarna ek verwys het – woorde wat aan die hand van klinkerverandering of metamorfeme gevorm is. Ons kry mos voor- en agtervoegsels (ook genoem pre- en postmorfeme) om nuwe woorde te vorm:  eet, geëet en eters. Maar dan is daar ook woorde wat nie van een van hierdie twee maniere gebruik maak nie; die nuwigheid is nie aan die begin of einde van die woord nie, maar iewers in die middel, en dan hou dit nie verband met iets wat jy byvoeg nie, maar iets wat jy verander; een van die vokale: drink, drank, dronk, drenkeling. Of soos hier bo:  besin, onbesonne; help, onbeholpe.
Nou, die enkele woordjie wat my tot hierdie lange relaas gelei het, is een waarvoor ek in die besonder lief is, een wat ek gister vir die eerste keer in 48 jaar werklikheid tot volle verstaan het – onbegonne. Hy was jare gelede ‘n werkwoord (begin), een van die vokale daar iewers in die middel het gaan staan en verander (begin > onbegonne) en nou word hy gebruik om ‘n ander woord soos taak te beskryf:  Dit is ‘n onbegonne taak om iets daaraan te wil doen.
Hierdie onbegonne het my in 48 jaar al baie keer besig gehou. Hy dui mos nie suiwer op iets wat nog nie begin is nie, maar iets wat te groot en omvangryk is, om enigsins te oorweeg om te wil begin. Dis ‘n onbegonne taak om orde uit daardie chaos te wil skep, kom ons trek die deur toe, en hoop dit gaan weg of kom vanself reg.
Aan die ander kant, het ek nog altyd, tot gister dan, gereken, kan geen taak mos so hopeloos wees dat jy nie maar net ‘n begin kan maak en met baie gesukkel en moeite wel uiteindelik klaar kan kry nie. Deborah Retief en haar tydgenootlike susters is immer kaalvoet oor die Drakensberge en iets wat aanvanklik onbegonne gelyk het, is been-there-done-that-have-the-T-shirt afgehandel en op ‘n hele paar se Bucket lists afgetiek.
Maar gister (en nou gaan ek vir die eerste keer in die net mooi vyf jaar wat ek my gedagtes agter ‘n rekenaar verwoord, swartgallig raak) het ek vir die eerste keer die ware, werklike betekenis en omvang van die woord onbegonne gesnap.
Kyk, omdat jy in ‘n stad soos Pretoria bly en daagliks tussen jou gemiddelde wit voorstedelike huis en ‘n bogemiddelde hoërskool ry, het jy mos geen benul van hoe sleg dit regtig in hierdie land van ons wat ‘n klompie jare gelede nog ‘n mooi land was, gaan nie. Tussen al die nuwe geboue en nuwe paaie is jy mos net van groei en vooruitgang bewus; die volskaalse agteruitgang en volslae ineenstorting, uit mekaar val en tot niks kom, gaan by jou verby.
Dis nou tot ons gisteroggend in die pad geval het Rhodes toe vir ‘n familietroue. (My skoonma het op ‘n plaas in die omgewing groot geword en een van Annieka se niggies wat trou.)
Selfs ek ry nou al vir jare die pad:  Pretoria – Bloemfontein – Aliwal-Noord – Barkley-Oos – Rhodes. Dis straight foreward, jy klim op die N1 en draai dan af op die N6, verbeel ek my, tot op Aliwal.
Maar toe wil skoonpa en swaer, vir die verandering, ‘n ander pad as verlede jaar en al die vorige jare ry.
Inderdaad ‘n lieflike roete wat ons op nuwe paaie en plekke in die land gaan bring, paaie wat ons nog nie gery het nie, plekke wat ons óf nog nooit (soos die kinders) óf in geen jare (soos die oues) gesien het nie. Excelsior, Hobhouse, Tweespruit, Sterkspruit, Weppener, Verkeerdevlei, Lady Grey.
Hulle het selfs die AA gebel om die toestand van die pad te verneem. Die AA beveel die betrokke roete toe aan, juis vanweë die verbouings op die stuk tussen Smithfield en Rouxville op pad Aliwal-Noord nie.  Hulle werk glo daar aan die N6 en daar kan vertragings van soveel as 30 minute in die geheel wees.
Ek het rede om te vermoed die AA was toe nie die Automobiele Assosiasie nie, maar eerder ‘n dranksugtige wat by die Alkoholiste Anoniem gaan aanmeld het en toe in sy dronkenskap die telefoon beantwoord het.
Maar dis ‘n lang storie, ‘n normale 8-ure storie wat toe ‘n 13-ure storie op die eens mooi land se eens mooi paaie geword het.
Ook nie ‘n storie nie, maar ‘n nagmerrie.
En nee, ons is nie gekaap nie, nie een van die swart karre sonder nommerplate met die donker getinte vensters en flitsende blou en wit liggies wat teen 178 km/uur by ons verby is op pad na die ANC-kongres op Mangaung, het in ons vas, of een van ons doodgery en aangejaag nie; nee, ons het bloot van die N1 afgedraai Verkeerdevlei se kant toe.
Toe ons anderkant Winburg van die N1 afdraai na hierdie Verkeerdevlei waar dit lyk of die water opdraande loop, toe sit ons die lugversorging af, ook die musiek, ons draai die vensters oop en ry selfs stadiger om nuwe te kan waardeer.
En dis toe net daar, op daardie punt dat ons 5½ ure rytyd op die pad toevoeg, nie omdat links en regs van ons kyk en die land indrink nie – omdat ons ons oë nie vir ‘n oomblik van die pad kan afhaal nie. En dan sê ek ook nou pad, maar ek bedoel eintlik dit wat na 18 jaar van bevryding van die pad wat daar was, oorgebly het.
Daar was seker jare gelede slaggate, maar dis nou iets van die verlede, nou is daar plek-plek teer tussen die dongas.
Ek weet wat destyds van die kundigheid geword het wat daar was om na die paaie om te sien en dit in stand te hou toe Klaas die Baas geword het.
Ek weet ook wat van die geld geword het wat daarvoor bestem was, bestem is en bestem word.
En ek kan verstaan dat dit plek-plek (selfs vir die groot trokke wat tradisioneel nie veel gepla is oor die dongas in die pad nie) beter is om, soos ons, eerder op die soom van die pad, op die gras en die grond, te ry.
Daar is van ‘n links en ‘n regs in of op die pad nie meer sprake nie, hou links het ‘n padreël wat in die teorieboeke tuishoort geword, in die praktyk is dit gans iets anders:  kom daar iets van voor tussen die gate deur aangeslinger, hoop jy om betyds ‘n deurgangsroete terug na links voor die aankomende kar, wat ook maar so al oor die pad is, te kry.
Soos krappe, so stadig soos krappe, en so links en regs en slinger-slinger soos dronk krappe, kruie ons Suid-Afrikaners nou oor die paaie.
Ek het een keer in Zambië, wat toe darem al ‘n rapsie langer as ons hier in die suide bevry was, gesien wat word oor ‘n verdere 18 jaar se gods-water-oor-gods-akker-loop van ‘n teerpad.
Dis daarom dan ook gister, vir die eerste keer in 48 jaar, dat die eintlike, die volle betekenis van die woord onbegonne homself aan my openbaar het:  dis ‘n gods onbegonne taak om iets aan die sowat 400 kilometer teerpad wat ons gister gery het, te doen.

En as daar êrens anders in ons land (mag dit deur die genade nie so wees nie) selfs net nog ‘n verdere 15 kilometer of so, soortgelyke teerpad wees, dan is die taak selfs nog meer gods onbegonne as wat dit reeds is.

Kundigheid, ‘n werksmag, geld, salarisse, teer en gruis, niks, net mooi niks om daardie 400 kilometer pad reg te maak, is daar in ons land (meer oor) nie.
Selfs al kry ons die geld geleen uit die buiteland, en die geld word nie opgeslurp deur swart Mercedesse, getinte vensters en donkerbrille op pad kongres toe nie, is daar in Afrika nie genoeg grondstof wat nodig is om die dongas uit die weg te ruim nie.
Dit sal makliker, en goedkoper, en vinniger, wees om ‘n crusher in te stuur en die pad op te breek en die teer na die soom van die pad te stoot en dit weer ‘n grondpad te maak. Die teerpad is immers net ‘n legacy van Apartheid en verdien daarom op afgebreek te word.
Dis presies wat oor ‘n verdere 18 jaar gaan gebeur, ons gaan terugkeer tot grondpad, ek pleit net dat dit nie 18 jaar moet neem nie, ons moet dit nou doen, dat ons dit oor en klaar en verby kan kry.
Maar selfs die dryfkrag en lus en krag en energie om so iets te doen, sit daar nie in die mense wat veronder stel is om voor te loop nie.
Wat nog te sê die wil en dryfkrag om die algehele verval te stop?
Of te dink aan die heropbou en ontwikkeling van dit wat deur (nie wanbestuur nie, maar algehele gebrek aan enige vorm van bestuur en beheer) afgebreek is?

As jy wil weet hoe gaan dit in ‘n skool, kyk na sy geute en dakke en deure – dit sê vir jou alles.
Ek weet dit vir meer as 20 jaar nou al.
As ek die lyn deurtrek na ‘n land toe, en ek kyk na die toestand van sy paaie, die toestand van Suid-Afrika se voormalige paaie, weet ek daar is vir ons land se paaie, net mooi niks, en geen maar geen, hoop, hoegenaamd, en enigsins, nie.
Die agteruitgang en algehele verval  is onoorwonne; niks kan by daardie oorwinning kersvashou nie; briek aandraai, halt en stop (om van omkeer en heropbou nie eens te praat nie) ís, ongelukkig, onbegonne.
Onbegonne in die volle, deeglik besonne sin van die woord.

Sjoe, maar ek wás swartgallig. Gister, toe ons terugkom, het ons op die N’e gebly (aanvanklik N6 en toe N1) en nie oomblik afgedraai nie. ‘n Mens sou inderdaad kon dink dit gaan goed in die land. Soos wat, onder andere, Vicky Leandros, Demis Roussos en Rod Stewart destyds gedink het dit gaan goed in die land toe helikopters hulle na sononder saans Sun City toe geneem het, en hulle nie met die wrede werklikheid van die Suid-Afrikaanse samelewing langs die teerpad soheentoe konfronteer is nie.

Dis vir my jammer dat ons moes ruil, moes prysgee om te kan kry. Kon ons nie die bevryding en geregtigheid, die einde van Apartheid, kry, sonder om die paaie en die res prys te gee nie?

Ek is seker maar naïef. Maar laat my toe om te wees, naïef en swartgallig, more voel ek beter. 

Dit voel of Whites Only/Slegs Blankes-bordjies bloot verhang is met Potholes Ahead, asof daar meer Potholes-bordjies in die land is, as wat daar ooit van die ander onder die ou regime was.

In my kinderdae was potholes by Bourke's Luck, nou is dit al die pad van hier tot in die Kaap en weer terug.



More moet nou gou kom.

.

1 comment:

Annelize Rademeyer said...

Hans, ek het die pad tussen Settlers en Marble Hall so twee jaar terug gery - dit het ook so gelyk. Of dit intussen reggemaak is, sal ek nie weet nie. Ons het in die middel van die pad gery omdat dit die meeste teer en minste gate oorgehad het!! Verder was dit eintlik grondpad met moeeeviese gate in!