Pages

28.2.12

Kom ons sing saam


Ek moes op my dag saam met my Pa na Caruso, Mario Lanza, Richard Tauber, Fritz Wunderlich en ‘n hele spul ander ooms wie se name ek nie meer onthou nie, luister. Party van hulle se name lê op die punt van my tong, maar verniet of hulle wil vorentoe skiet en hulself openbaar.

Klaradyn is hierdie klas van outjies gespaar, maar word geteister met treffers van die 80’s (en meermale die 70’s).
En dan sê ek ook nou “treffers”; eintlik bedoel ek “hits”.

Ek was in standerd 4 of 5, beslis nog op laerskool, toe iemand die hartseer storie van Angelo gesing het:

Long ago, high on a mountain in Mexico, lived a young shepherd boy, Angelo, who met a young girl and he loved her so. Rich was she, came from a very high family. Angelo knew it could never be – they ran away to their destiny. Running away together, running away for ever – Angelo! Running away from danger, hiding from every stranger, Angelo! They knew it wasn’t wrong, they found their love so strong...

Ek het regtig net drie laerskoolherinneringe rondom die verhoog. In graad 1 was ek ‘n week laat vir skool omdat ek plat met pampoentjies was, en toe ek ‘n week later instap, toe is dit mooi die dag wat ons hele klas op die verhoog moet gaan om vir die res van die skool te sing.

Hansie moes op en maak of hy sing.

Iewers, heelwat later, standerd 3 of 4, moes Hansie regtig sing, iets van ‘n pampoen – boerpampoen wat swart en wit en rond is.

En dan was daar Angelo. Ek praat onder korreksie (nie dat ek dink daar is iemand wat my met veel gesag meer sal kan korrigeer nie – ons almal word immers nou oud) maar ek verbeel my daar was ‘n Standerd 5-afskeidskonsert of ‘n ding. En ‘n spul meisies (Karin en Lynette en Elize, straks Susan -  en dalk ‘n spul seuns ook) het Angelo gesing – of gemaak of hulle sing terwyl die liedjie oor die luidsprekers gespeel het.

Ek weet nie, ek is nie seker, daar is beweging regs voor op die verhoog – dis beslis Angelo. Ek sien Lynette in swart.

En ek verbeel my die program, wat destyds op wasvel getik en afgerol is, is die program wat ek so 25 jaar later iewers opgespoor het en toe met groot heimwee teruggedink het aan ons Standerd 5-Angelo-moment.

Ek is nie goed met somme nie, maar kom ons probeer:  ’87 en ’88 – army, ’83 tot ’86 – varsity. ’82 – matriek, 1977 – standerd 5 (?).

Ek het die onbekende kunstenaars (wie sing die liedjie, ek weet nie) se Angelo na 1977 miskien drie keer in my lewe gehoor – en dan sê ek ook nou drie keer, dit kan twee keer of vyf keer ook wees, ek weet nie, ek kan nie onthou nie. Maar dis heel waarskynlik dat ek hom na standerd 5 weer ‘n keer of wat moes gehoor het.

En toe hoor ek hom weer, vyf en derig jaar later, Vrydag vir die eerste keer.

Dit was heerlik, dit was ongelooflik om oombliklik laerskool toe, skoolsaal toe, getransponeer te word. En ek sal dit nie sommer vergeet nie, want toe ek, wat my geheue betref vir die eerste keer in 35 jaar weer die liedjie hoor en luidkeels saamsing, toe ry ‘n haastige student van agter in my gat in. Ja, met my kop in die gebergtes van Meksiko, word ek toe hard afgebring aarde toe, skade toe, paneelkloppers toe.

Dit was Vrydag. Is dit al te laat om die saak by die polisie aan te gee?

Maar dit daar gelaat – dis aardse goed.

‘n Vriend het my musiek geleen om te luister, net ‘n spul CD’s in ‘n CD-houer, ek het nie ‘n idee wat om te verwag nie. Dan prop ek iets in en dan slaan die herinneringe my so die een na die ander ‘n vuishou met 'n voorhamer tussen die oë.

Soos met Angelo, Vrydag.

(Ons vergeet maar van die voorhamer wat van agter in my in is, vir eers.)

Vanoggend wou ek dat die kind wat saam met my skool toe ry, luister na Meneer se groot hit uit die 70’s, maar toe spoor ek die ding nie op voor ons by die skool is nie – toe kom daar dadels van.

Maar vanmiddag, op pad om Klaradyn te gaan optel, kraak die vrouens se Spaans-Amerikaanse heserige stemme oor die luidsprekers:  Long ago, high on a mountain in Mexico, lived a young shepherd boy, Angelo, who met a young girl and he loved her so...

Man ons luister hom sommer twee keer, en omdat daar regtig so min woorde is, sing Klaradyn teen die einde van die eerste ronde al lekker saam.

Haai en daar, as ou man, registreer ek toe nou ook vir die eerste keer die woorde van die liedjie, deur die ore van ‘n grootmens, nie met die ore van ‘n kind nie.

Wat ‘n teleurstelling – ek dog nog al die jare hulle het in die woestyn omgekom, maar ek was verkeerd, dis duidelik – hulle het hulle eie lewens geneem.

Ek het nou weer geluister:  they took their lives that night, and in the morning light they found them on the sand, they found them lying there, hand in hand.

Ek het nog altyd geweet dis ‘n hartseer liedjie op ‘n opgewekte wysie, ek het nog altyd geweet die geliefdes sterf, maar ek het nog nooit ‘n selfmoordpakt vermoed nie.

Hierdie liedjie was nog altyd vir my die grootymensweergawe van die Engelse gediggie wat ek op 7 in ‘n digbundel by my Tannie Anne present gekry het, en met die dat Klaradyn en ek nog gereeld uit die betrokke digbundel lees, het sy ook dadelik die ooreenkomste ingesien:

My dear, do you know how, a long time ago,
Two poor little children, whose names I don’t know,
Were stolen away on a bright summer day
And lost in the woods, I’ve heard people say.

And when it was night, how sad was their plight.
The sun, it went down, and the moon gave no light.
They sobbed and they sighed, together they cried,
‘Til the poor little things, they lay down and died.

And when they were dead, the robin so red
Brought strawberry leaves and over them spread,
And all the day long, he sang them this song:
“Poor babes in the wood, poor babes in the wood.”

En toe 35 jaar later die wrede ontnugtering! Angelo se liedjie was toe al die tyd nie die bekende Engelse kindergediggie en -liedjie, net vir grootmense se ore hierdie keer nie – ‘n tragedie, letterlik in die tradisie van Romeo en Juliet kon hom hier in die sand/berge afgespeel het.

Te vreeslik!

Haai, en hoe kan ek my kind nou na liedjies laat luister waar die hoofrolspelers selfmoord pleeg – ek word sweerlik by die Christelik Maatskaplike Raad aangegee, my kind word iewers in veilige bewaring, waar haar pa haar nie kan besoedel nie, gebêre.

Ongelukkig/gelukkig het ek toe klaar vir haar my naïewe interpretasie van die gebeure vertel: hulle kom die nag in die woestyn om, maar word in mekaar se arms aangetref.

So, ek byt toe maar vas – moord verstaan my kind nie eers so lekker nie, wat nog te sê selfmoord.

Aan die ander kant is daar groter leuens wat aan ons kinders voorgehou word, minder wit maar donkerder leuens met verreikender gevolge.

En buitendien - ek kon my kind laat sing het van kinders waarvan die nekke omgedraai moet word, hulle lyke in die sloot gegooi, en op hulle koppe getrap word.

Angelo en sy geliefde is ‘n vulletjie – ek worry verniet.

Klaradyn sing heerlik saam, Mamma ook.

As daar ‘n oorlog kom, sing ons, soos die Von Trapp-gesin, al die pad vir ons 'n weg oop, op tot in Europa of Amerika.



Naskrif: 

Intussen het ek my huiswerk gaan doen.

Angelo het 16 September 1977 op Springbokradio se  treffersparade verskyn, dit het 17 weke op die parade gebly en wel posisie 1 behaal. Dit maak sin dat ons einde standerd 5 met so ‘n treffer afskeid sou neem.

Dis Brotherhood of Man wat die liedjie vrygestel het – hulle vorige treffer in SA was Save all your kisses for me (en as ek my dit nie mis het nie, is dit nog vertaal ook en in Afrikaans gesing.) Die vertrekpunt was nie Babes in the Wood nie, maar Romeo & Juliet.

En toe ek eers die video opgespoor het, toe is dit duidelik, my husky Spaans-Amerikaanse stemme is in my kop, in Mexico, die girls wat sing, is alledaagse poppe uit die 70's - dream on cowboy.


18.2.12

Ons is dan nou twee wat nie omgee om nie te wen nie


Aristoteles was heel eerste om die mens, by geboorte, met ‘n leë kleitablet waarop nog niks geskryf staan nie, te vergelyk. Meer as 1000 jaar later sou dit bekend word as die tabula rasa waarop elke gebeurtenis, belewenis en ervaring sy merk laat.

Diego Velazquez (1599 -b 1660) se Sybil met tabula rasa

Klaradyn was sommer nog baba toe ‘n vriend van my my opnuut van hierdie nosie in die opvoedkunde en psigologie bewus gemaak het.

Dit was spottendergewys, maar daarna het ek myself al telkemale in Klaarsie se grootwordproses hieraan herinner.

Destyds het dit gegaan rondom Klaradyn wat ons nie aan die slaap kon kry nie – daar moes met haar gery word, somtyds om die blok, somtyds Timboektoe toe en weer terug.

Nee ‘n pretrit in die stootwaentjie het dit glad nie vir haar gedoen nie – ek sou doodmoeg en ontwater ses dagreise te perd by ‘n vriendin in ‘n gans ander tydsone as Pretoria aangestap kom, dan sit onse juffertjie steeds pikwakker en kiertsregop en kraai van die lag vir die verbygangers...

Vir goed drie jaar van ons lewens het ons petrolverbruik en die slytasie op ons motors die hoogte ingeskiet. En so sou dit seker vir nog twee jaar kon aangaan, as dit nie was dat ons op drie vir die eerste keer met die kind Kruger Wildtuin toe is nie – daar leer sy toe oornag om nie in ‘n motor weg te dommel nie, maar met akute konsentrasie en afwagting diertjies en tekens van lewe buite die kar te soek.

En dit was die einde van ons aan-die-slaap-ry van Sussie.

Maar voor dié hartseer dag uiteindelik aangebreek het, spog ek by die skool op ons relatief maklike (weliswaar petrolrowende) manier om die kind in ‘n oggend- of middagslapie in te kry.

En dis op daardie punt dat my vriend my daarop wys dat die sielkunde al by herhaling bewys het dat sulke klas van goed nou maar een maal die geneigdheid het om jare later, wanneer dit die minste verwag word, in die vorm van ‘n letsel sy kop uitsteek. Ek moet byvoorbeeld nie verbaas wees as my kind strakkies eendag haar wittebrood, nie op ‘n plesierboot nie, maar op die agtersitplek van ‘n Cadilac, wil deurbring nie. Of skielik eendag net weier om self motor te bestuur nie.

Ek is hierdie week weer daaraan herinner – nie ‘n irrasionele kwessie rondom motors nie, maar die idee dat alles sy merk laat, partykeer ‘n letsel.

Klaradyn is nou maar een maal die produk van haar ma en pa, en die idee dat teenoorgestelde pole mekaar aantrek, was nog nooit so waar soos in die geval van Johanna Catherina en Hans Jurgens nie.

So is ek versot op bordspeletjies (van Krabbel tot Monopoly), kaartspeletjies (al is die 37 variasies van Solitaire die enigste waarby ek die afgelope 12 jaar uitkom) en dobbelstene wat uit bekertjies gegooi word (Poker en Yachtzee).

Annieka doen nie nie een van dit nie, en die rede is eenvoudig – kompetisiegees laat ‘n monster van ongekende proporsies in my andersins vredeliewende vrou opstaan. Winning is not an option, it is the only thing. Dis óf alles óf niks.

‘n Gemoedelike aand van speletjies is net ‘n gemoedelike aand van speletjies solank Annieka of haar span, aan die wenkant is.

Ek is lynreg die teenoorgestelde, ‘n speletjie is speletjie, dis vermaaklike tydverwyl, niks meer nie – ek kan maar wen of verloor, dit maak nie saak nie – die proses, en nie die eindresultaat nie, is waarin die geniet lê.

En daar gaan Klaradyn mos vir vir sewe uur en dertien minute in ‘n histeriese tranedal in, die tweede keer dat ons destyds Slangetjies en Leertjies speel.

En daar moet toe agtien maande en twaalf dae verloop alvorens sy dit weer oorweeg het om Slangetjies en Leertjies te speel, en nog ‘n verdere drie maande, enkele dae alvorens sy uiteindelik so ver gekom het om inderdaad aan die speel te kom en dit nie net te oorweeg nie.

Die rede? Sy het een en twintig maande van te vore, ronde twee verlóór, nie gewen nie!

Sy was histeries. (Oor sy verloor het.)

Ek was histeries. (Oor haar heftige reaksie en die monster wat in haar opgestaan het.)

En van toe af werk ek nou al vyf jaar daaraan om haar te leer dat ‘n mens maar kan verloor, dis dooddollies om uit te val, wen is nie alles nie – jy moenie omgee om te verloor nie.

As haar tablet nie van klei is nie, maar van marmer, dan beitel ek die gedagte in die klip uit en giet gesmelte goud in die voortjies dat dit helder en duidelik afgeëts staan in haar hele siel en wese.

Dis okey om te verloor. Jy hoef nie altyd te wen nie. Geniet net die speletjie enduit, selfs al is dit van die kantlyn af.

Ag liewe hemel – gró-ó-ó-ó-ót fout!

En ons het nie nodig om te wag tot die storm- en drangjare van tienderskap om slegte vrugte daarvan te pluk nie – die eerste oes kom maand twee van graad twee.

Hulle speel ‘n lawwe speletjie in die klas. ‘n Lawwe speletjie wat ek baie bly is hulle in my kind se klas speel, want dit getuig uit en uit dat die Juffrou presies weet wat sy doen, en dat sy dit dit wat sy doen, baie goed doen.

Juffrou roep lukraak getalle uit – is dit ‘n ewe getal doen jy niks, is dit ‘n onewe getal spring jy op. Of klap jy. (Is dit nie wonderlik nie – die kindertjies is 110% gefokus, hulle konsentreer so dat die rookwolke by hulle ore en neusgate uitkom, én hulle dril en leer en oefen nie net in die proses nie – hulle geniet elke oomblik daarvan!)

Ag, hemel, en daar hop of spring of klap my kind, toe sy nie moes hop, spring of klap nie, óf sy vries toe sy die ritteltits moet kry. En sy val uit.

En wat sê my kind, presies soos haar pa haar ingedril het? “Ag, ek gee buitendien nie om om te verloor of uit te val nie.”

En omdat haar reaksie op ronde twee van Slangetjies en Leertjies bewys het sy is haar ma se kind, is dit eintlik, natuurlik, glad nie vir haar lekker om aan die kortste ent te trek nie, so ek kan my net voorstel hoe snotty en vermakerig sy klink terwyl sy dit sê.

En toe is die gort gaar, want nou moet die juffrou (en ek sou dieselfde gedoen het) ‘n kind wat so ‘n traak-my-nie-agtige houding teenoor haar skoolwerk inneem, en dit nogal op so ‘n uitdagende wyse, teregwys. En omdat die kind, vanuit die juffrou se beperkte perspektief, haar uitgedaag het om iets te sê wat sy liefs nie moes gesê het nie, is dit tit for tat, butter for fat en moet die een woord op die ander nóg ‘n ander troef.

En teen die middag toe het die muisie van klap (of nie klap nie) toe jy nie moes geklap het nie (of moes geklap het) ‘n berg gebaar.

En na ons (Mamma, Pappa, Ouma, Klaradyn en Juffrou) die berg tree vir tree uitgeklim en na die beste van ons gebrekkige vermoë glad probeer stryk het, bly die lááste wat ek vir my kind kan sê, presiés dit wat ek vir haar wíl sê (maar nie mág nie):  “Pappa is bly dat jy geleer het dat dit okey is om te verloor. Hou dit asseblief net volgende keer vir jouself en moet dit nie so helder en duidelik aan die groot klok hang nie.”

16.2.12

Die mooiste ding van gister



Nie net die mooiste nie, maar miskien selfs die enigste mooi ding wat gister oor my pad gekom het.



15.2.12

Vaaltyn se ete en soete naspysie


Ek het vanaand twee goed gemaak wat ek nog nooit gemaak het nie. Ek kan nie wag om elkeen weer te maak nie – hoe gouer hoe beter.

Die een was ‘n ongeëwenaarde sukses, die ander ‘n volslae mislukking.

Enige vrou sal vir jou sê dat ‘n man nie kruideniersware-inkopies moet gaan doen nie. Ek is daarvan sprekende bewys. Ek koop wat ek nie moet koop nie en laat na om te koop wat ek moes koop.

‘n Inkopielys is nie iets wat ek in die motor los nie – ek los hom vanuit die staanspoor op die kombuis- of eetkamertafel voor ek nog vertrek.

Ek sigsag ook nie in aller yl van produk tot produk nie, nee, ek slenter op ‘n drentelgang van die gangetjie heel links, tot die een heel regs.

Ja, ek weet ek soek nie nou glase of wasgoedversagmiddel nie, maar netnou vra iemand my oor die prys van wynglase of die nuutste geure in wasgoedversagmiddels – en dan sit ek met ‘n bek vol tande! Daar is mos nie ‘n manier nie! ‘n Man moet op hoogte bly van wat om hom aangaan.

Dis hoe ek ‘n ruk op hierdie vreemde botteltjies tussen die toebroodjiesmere afgekom het en summier een van elkeen van die vier soorte gekoop het. Nogal ingevoer uit Argentinië. Die goed se rakleeftyd het al gekom en verby gegaan toe ek dit gekoop het, maar dit was heerlik. So lekker dat ek die volgende dag terug is vir nog, maar toe is daar niks. Ek het gevra, tot agter in die stoor in, en die boodskap gekry dis die vorige dag, enkele ure na my aankoop, van die rak gehaal, nie net oor die vervaldatum nie, maar oor die produk nou maar een maal net nie verkoop het nie.

Dulce de Leche. Dis eintlik nie veel anders as ‘n blikkie kondensmelk wat jy tot karamel kook nie, maar dit voel vir my al te veel na verneuk.

Toe volg ek die outentieke resep: 2 liter melk, 500 gram suiker, teelepel sout. Kook dit vir drie ure af tot daar so 500 milliliter oorbly.

Myne het na 2 uur en 47 minute gaan staan en brand.

Ook nie gaan staan en verbrand soos in galbitterpikswart verbrand nie – die aanbrand was eintlik net baie dik en donker raak teen die bodem van die pot. Dit het aan die smaak onder die son niks gedoen nie, die tekstuur is ongelukkig nou net korrelrig in plaas van romerig.

En al hoekom dit gebeur het is omdat ek vir te lank agter die werk ingeskuif het, en twee of drie keer se roer by die pot laat verbygaan het.

Maar dis heerlik – as ek nie so sleg was nie, was ek nou op straat op soek na nog 2 liter melk sodat ons weer kan probeer.

Die ander eerste hou ook verband met staan en rondkyk in winkels. Want by die slaghuis doem daar toe hierdie kookboek vlak onder my neus by die kasregister op. Ek kyk, en terwyl die bank my per SMS kontak om te laat weet dat ek nog ‘n verdere R345-00 in die rooi in is, jaag ek summier die kaartjie ‘n tweede keer, hierdie keer vir R160-00 van die kookboek, deur die kaartmasjien se gleufie.

Dis ‘n lieflike kookboek wat regtig bykans geen moeite met hoeveelhede doen nie. Dis soos om party van Leipoldt se resepte te lees – neem ‘n handjievol of wat van dít en dan gooi jy ‘n grypie van dát by nadat jy so bietjie hiérvan ingeroer en ‘n bietjie dáárvan oorgerasper het...

Daarin erken hulle toe dat dit ook vir hulle jare lank heiligskennis was om iets anders as knoffel, suurlemoen en botter by garnale uit te bring. Maar toe bring ‘n vriend hulle met ‘n ander pad by Rome uit en dís dan nou die resep wat hulle met my deel.

Van voor ons troue eet ek en Annieka (deesdae ek en Annieka en Klaradyn, wat van garnale as krewe praat) op Valentynsdag so veel as moontlik garnale, met so min as moontlik bykosse. Die laaste klompie jare doen ons nie eers moeite met rys nie – ons smeer sommer hompe brood deur die sappe en medisynerekeninge-vir-cholesterolbeheer wat in die pan agterbly.

Maar ek kan nie ‘n oopkop kookboek aankoop en met ‘n kop so toe soos ‘n kleios se sweetgate sit nie – ek besluit daarom om die oopte van kop te toets aan my bereidwilligheid om hulle nuwe gaarnaalresep op die proef te stel.

My beursie was by die huis vergeet, en die viswinkel is in Groenkloof – toe leen ek Maandag geld om ‘n heen en weer reis huis toe en terug uit te skakel. Ek het koningingrootte Maputo-garnale bestel. (Ek kan nie dink dat ek Pietersburg nie meer Pietersburg mag noem nie, maar Polokwane, en dit terwyl ons na al die jare steeds vasklou aan die koloniale Lourenço Marques, vir ‘n plek wat donkiesjare gelede al ‘n polities korrekte naam gekry het nie.)

Die kannetjie room en brandsous had ek in die huis.

Gister, terwyl Klaradyn dramaklas het, skiet ek toe gou deur Checkers toe om grondboontjiebotter en van die gewone soort te loop kry. En ‘n botteltjie bier daar langsaan, want hiervan sou ek ‘n gesonde skeut by my pan moes gooi. (Ek, wat gewoond is aan ‘n ‘n paar druppels witwyn by my garnale!).

En toe is dit maklik – 6 minute en ons kon eet.

Ek het vooraf my sou berei – en nie met verdrag in die pan, soos hulle voorgestel het nie.

Ek het vier (eerder opgehoopte as gelykgemaakte) eetlepels gladde gronboontjiebotter by die kannetjie room ingeroer. Toe so vier eetlepels chillie-sous – hulle vra die warm soort, maar gedagtig aan Klaradyn het ek gehou by die ligter kindertjievriendelike weergawe. En dan ‘n skeut goeie bier.

Ek het 300 gram botter gesmelt en aan die borrel gekry – daarby is die garnale ingegooi. Die oomblik toe hulle alkante pienk was, het ek my oë toegeknyp, en die ondenkbare sous daarby ingeroer.

Die meisies het al aangesit en die oomblik toe die sous lekker dik en deurgeroer was (so 15 sekondes) later, toe stap ek met die pan, net so tafel toe.

Hierdie keer was daar Basmati rys. Volgende keer, wat beslis sommer net om die draai is, sal daar weer wees.

Hulle sê niks van sout nie – ek sal die prawntjies vooraf insout, daar by die gleufie in die dop waar die poefenjersdermpie uitgehaal word.

Dit was ongelooflik lekker.

Dis ‘n wilde sprong, ek weet, baie wild, maar elke millimeter van daardie sprong is die risiko werd.

12.2.12

Op my eie Sunday morning sidewalk

Die staaltjie rondom my ma wat ek gister gedeel het, het my in ‘n stadium by ‘n ander insident gehad waaroor sy net so lekker, maar ook met net soveel verontwaardiging, gelag het.
My ma was haar leeftyd lank Dié Koningín van Eufemísmes, maar ons het haar so leer ken en sy het ons so groot gemaak. Dis egter ons, haar seuns, en nie die liggaamlik en verstandelik gestremde kleinkind van een van haar vriendinne nie.
Nou hoe en waar dit gebeur het dat my ma ruk lank alleen saam met kind in die tuin was, sal ek nie meer weet nie – ek was al uit die huis en op universiteit toe die insident afgespeel het. Dit gebeur egter toe dat die ouma in die huis is en my ma saam met die kind by die swaai is. En daar mis ‘n voël toe sy witte blerts al oor my ma se hare en voorkom.
Getrou aan Judy se aard, en in ‘n poging seker ook maar om die kind te vermaak, trek sy ewe oordrewe los met iets soos: “O, alla, mapstieks, my alla makieriekat – die voëltjie het op my kop getjorts!”
Maar daar weet die kind nie wat “getjorts” beteken nie, en sy vra.
Judy beweeg deur haar hele repertorium van eufemismes – gebollie, ge-nommer twee, geblerts, ge-tjorrel, ge-a-a, ge-akka, gepoefies, maar die kind bly in die duister. Judy noem die ding selfs by die naam en sê dat die voëltjie op haar gemis het – maar dit is vir die kind ‘n nog vreemder woord.
My ma word genoop om die sneesdoekie wat sy oomblikke gelede gebruik het om haarself skoon te kry, voor die kind oop te vou, en daar trek die dogtertjie, laggend en met volle begrip los en roep uit:  “O, tannie bedoel die voël het op tannie se kop gekak!”
Ai, en dan het Judy altyd so begin ruk van die lag as sy haar vertelling afsluit.
Egter een van die baie boeke wat ek myself voorgeneem het om te lees, maar nog nie by uitgekom het nie – en in my leeftyd beslis ook nooit gaan uitkom nie, wat my vanoggend rekenaar toe gestuur het:  Jean Jacques Rousseau se Die Sosiale Kontrak van 1762.
Wanneer het ons in Geskiedenis op skool by die beëindiging van slawerny stilgestaan? Ek kan my nie voorstel dat ‘n laerskoolmeneer of –juffrou my aan Jean Jacques Rousseau bekend sou gestel het nie... dit moes iewers in standerd 6 of 7 gewees het.
Hierdie man en sy werk het destyds so ‘n indruk op my gemaak dat hy en sy boek gisteraand in ‘n gesprek rondom die etenstafel weer deur my agterkop geflits het.
Ek onthou dat ek ensiklopedie toe gegaan het – dit was die dae voor internet en elke ordentlike huis het ‘n ensiklopedie gehad – om meer oor die man en sy boek te wete te kom.
Hoe meer ek daaroor nadink besef ek dat ek ‘n wonderlike kind moes gewees het om voor skool te hou! (Of ‘n baie groot pyn in die agterwêreld.)
Ek onthou egter ook dat waarop ek ook al afgekom het totaal bo my vuurmaakplek was en ek my toe maar voorgeneem het om dan maar eendag as ek groot is, die boek te lees.
Watter paragrafie dit was wat so ‘n indruk op my gemaak het, kan ek vandag nie meer woordeliks aanhaal nie, dit het weggeval met “’n mens wat in slawerny gebore is...” en dan aangegaan om my by die gedagte uit te bring dat ‘n mens wat in slawerny gebore is, homself maar net toelaat om slaaf te bly omdat hy niks anders gewoond is nie.
Ek het nou vanoggend, na seker 34 jaar, weer deur die boek gaan blaai; die ensiklopedie is in die motorhuis gepak, maar daar is internettoegang. Die naaste daaraan waaraan ek kon kom is egter:  To assert that the son of a slave is born a slave is to assert that he is not born a man.
Om te beweer dat die seun van 'n slaaf, 'n gebore slaaf is, is om te beweer dat hy nie 'n méns gebore is nie?
Maar wag, miskien haal ek te selektief aan, ons moet die breer konteks sien:  “Every man having been born free and master of himself, no one else may under any pretext whatever subject him without his consent. To assert that the son of a slave is born a slave is to assert that he is not born a man.”
Maar ag, dit maak ook nie saak nie – dis immers nie slawerny, Jean Jacques Rousseau of sosiale kontrakte wat my agter die rekenaar het nie (allermins ook nie wat voëls van tyd tot tyd op tannies se koppe doen nie) maar allergieë of allergiese reaksies.
Onthou ek die gesprek reg, het die dokter waar die ma haar kind oor sy talle allergiese reaksies had, haar gevra of die kind ooit oor sy toestand kla. Die ma se reaksie was om enige so iets ten sterkste te ontken. Waarop die Doktor toe lostrek en sê dat dit dan beslis die geval is, bloot omdat die stomme kind niks anders ken of aan beter gewoond is nie.
En op daardie punt spring my gedagtes toe standerd 6 of 7 toe, na mnr. Rousseau en sy slawe toe: ja, dis omdat die kind as “slaaf” van sy allergiese reaksies in “slawerny” in gebore is, dat hy vrede daarmee het – wat anders of beter ken hy immers.
En dit is presies wat met Klaradyn die geval is. (En met my die geval was.) Jy raak so gewoond om met ‘n kop vol mukus rond te loop dat jy begin dink dat dit nou maar een maal is soos dit is – almal is so, dit kan nie anders nie; dis hoe die lewe is.
Ek wys Annieka daarop dat ons Klaradyn vier jaar gelede by tye elke twee weke by dokter had – dit was omdat haar mangels nog nie uitgehaal was nie en hulle semipermanent ontsteek was van al die gagga goeterstes wat in die nollies wat daar rondom en aan hulle ankerplek gekry het, gaan nesskop het.
Dit was toe dat Doktor Smit een mooi dag sy voet neersit en sê:  “Mevrou, hierdie kind se mangels móét nou uit – besef u dat u die kind deesdae op tweeweeklikse basis by my het – en dit telkens vir dieselfde ding!”
En toe haal ons die mangels uit. Dit het aan die kind se permanente slymkop en –kanale onder die son niks gedoen nie – al wat nou gebeur het, is dat die siektes (ek weet nooit of dit virusse of bakterieë, of sommer altwee is nie) nie meer so maklik vastrapplek kry nie.
En intussen loop my kind dag in en dag uit met ‘n chroniese, akute, snotkop rond.
Ja, oorle’ Judy se jare-voor-haar-oorle’ vriendin se kleinkind, wat vandag ‘n dogter van diep in die dertig moet wees – ás sý nog leef, sou my lankal in die rede geval het en gevra het wat mukus en slymkanale en al daardie ander dinge waarvan ek praat, is. Maar ons is ons ouers se kinders – ons word soos ons ouers.
En dis nóg iets wat Klaradyn presies is: sy is, wat haar nolliekop betref, haar pa se kind uitgeknip! Dis maar eers toe ek in ‘n huwelik met Annieka begin saamleef het, dat ek agter gekom het daar is mense wat nie aldag en heeldag met hulle slymkliere sukkel nie. En al hoe ek dit agtergekom het, is toe ek besef dat my vrou die vaagste benul het waarvan ek praat as sy my begin aanpraat oor my alewige gesukkel met my keel en neus nie.
Ek het besef dat ek lewenslank nie van anders of beter geweet het nie – ek is ‘n slaaf in slawerny in gebore, so gemaak en so gelaatstaan.
En in daardie stadium was ek al so gewoond daaraan, dat ek niks gedoen het om dit te verander nie, dit is, vir mense soos ons, dan nou maar een maal hoe dit is, en basta met die alternatiewe.
Maar my arme kind!
Ek gaan vandag na die homeopatiese goeterstes op die rakke begin kyk – ek kan en wil my kind nie permanent op geskeduleerde (?) medisyne hê nie – maar soos dit aangaan, kan en mag dit nie sommer goedmoeds en siende blind aangaan nie.
Toe ek nagelees het oor die katte, het ek daarop afgekom dat hulle kan help om jou van jou allergiese reaksies te desensitiseer. Miskien moet ek dit oorweeg.
En dan is dit of die allergiese reaktor in haar, ‘n wil van sy eie het. Eers het hy jaar lank floreer op die kat. Toe raak ons van die kat ontslae. En toe gaan dit goed.
Maar ook net vir ‘n jaar – die jaar wat dit hierdie ingeboude reaktor geneem het om stilweg en op sy eie te muteer in een wat nou nie meer histeries in volle swang spring by die aanskoue van ‘n kat nie, maar ‘n veer, enige veer, veral die veer in my kussing.
Dis regtig asof die kind die afgelope ruk erger reaksies op goed toon as van te vore.
Maar wat as ons nou elke veer uit die huis, en elke voël uit sy hok of kou het – soos ons elke kat van die werf en elke hond uit die huis het, en die monster in haar besluit om homself weer van vooraf aan te herbedraad en voortaan in hoogste versnelling te spring by die aanskoue van iets anders!
As dit nie jou lewenskwaliteit aantas nie, kan ‘n mens seker maar bloot leer om daarmee saam te leef. Maar vir ‘n dogtertjie van 7 om elke nag en dag van haar lewe te moet sukkel met storms wat hulself in haar kop se kanale uitwoed, is nie normaal nie.
Ek is oop vir voorstelle. Die lyne is oop, enige iemand wat wil inbel (of inskryf) is welkom.

Naskrif: 
Kyk net die lieflike paar aanhalings van die Rousseau-man wat ek vanoggend in my soeke na die boek opgespoor het. Enkeles is bekend; ander, vir my, nuut:
  • “People who know little are usually great talkers, while men who know much say little.”
  • “The world of reality has its limits; the world of imagination is boundless.”
  • “I would rather be a man of paradoxes than a man of prejudices.”
  • “Love, known to the person by whom it is inspired, becomes more bearable.”
  • “Civilization is a hopeless race to discover remedies for the evils it produces.”
  • “We must powder our wigs; that is why so many poor people have no bread.”
  • “All my misfortunes come of having thought too well of my fellows.”
  • “Why should we build our happiness on the opinons of others, when we can find it in our own hearts?”
  • “Man was born free, and he is everywhere in chains. Those who think themselves the masters of others are indeed greater slaves than they.”
  • “Man's freedom consists, not in being able to do whatever he wills, but that he should not, by any human power, be forced to do what is against his will.”
  • “Freedom is the power to choose our own chains”
Daar is hopeloos te veel op te spoeg en te plak. Loer gerus hier.

11.2.12

Valentynsdag 2012

My ma en haar suster het jare lank hul eie rokkewinkel besit. Eendag in die laat sewentigs stap daar ‘n aster in op soek na ‘n inklimrok. Nou kyk, rokke was my ma se lewe, letterlik haar figuurlike brood en botter – daar was nie snit of ‘n styl of ‘n tendens, modegier of –neiging nie, of my ma het dit geken nie. Maar van ‘n inklimrok het my ma in haar dag des lewens nog nooit gehoor nie.
Maar hierdie kliënt praat van ‘n inklimrok asof dit ‘n alledaagse ding soos ‘n halternek, empire line, body suit of body skirt (dit wás die sewentigs!) is.
Toe die derde of vierde pakkie wat my ma uithaal en wys, steeds nie eers naastenby aan die regte ding herinner nie, vra sy toe ten einde laas wat vir ‘n rok ‘n inklimrok dan nou is.
 “Dis ‘n rok waar úit my boyfriend my vinnig kan laat klim, maar ek nog vinniger weer ín kan klim, as ons by die drive in vry, tannie.”
Met waarvan ek egter wil vertel, behalwe nou vir die feit dat dit oor die aankoop van klere gaan, hou hierdie herinnering geensins verband nie, ek weet trouens nie eers wanneer en hoekom en op watter punt dit nou vanmiddag skielik weer uit my verlede en onderbewussyn vorentoe gespring het nie. En dan nog só sterk aangemeld het, dat ek daarmee wegval nie.
Annieka hét genoem dat sy en Klaradyn na skool die Valentynsdag-ding gaan doen. Al waarby dít my egter by uitgebring het, is die gedagte dat my kind darem nou groot word – vir vier of vyf jaar het ons van Liefiedag gepraat, maar vandat sy grootskool toe is, het dit sommer oornag Valentynsdag geword.
Toe ek op skool was, was Valentynsdag die minste van al hierdie baie dae in die greep van die geldmag vasgewurg gewees. Al wat ons op laerskool gedoen het, was om kaartjies, wat ons self geteken of saamgeslaan het, te onderteken met woorde soos van jou geheime bewonderaar. Om jou identiteit bekend te maak, is nie oorweeg nie – Valentynsdag gaan dan juis oor daardie meisies waarop jy in die geheim ‘n ogie het, maar daar onder die son niks van sal kom nie omdat hulle tien teen een elkeen vyftien sulke kaartjies uit ‘n klas met sewentien seuns gaan kry.
Later kom CNA toe met gekoopte kaartjies. En toe begin daar Cardies-takke soos kosmos of opslag sonneblomme langs die pad, dwars oor die land en in elke dorp opskiet. En van toe af is dit verby – van die opwinding van ‘n kaartjie maak en skryf in ‘n handskrif wat jy doelbewus wil hê sy moet herken (of een wat jy doelbewus nie wil hê sy moet herken nie), van ‘n kaartjie wat jy onderteken met ‘n ondeursigtige skuilnaam, of een wat die voorletters as jou eie naam en van gebruik, of selfs die letters van jou naam geskommel uitspel, het niks oorgebly nie.
En is ons dan nou vandag waar ons vandag is – tussen einde Desember, begin Januarie se Terug Skool Toe-aanbiedings en promosies, is einde Desember, begin Januarie al skelrooi rakke en uitstallings met Valentine’s Day-crap. Dis om van siek te word.
Ek en Klaradyn is hier in die eerste week van skool winkel toe om brood te koop – en daar sien sy toe iets op die plaaslike Valentynsrak wat sy dan nou so graag vir Mamma wil koop. Eintlik is dit iets wat sy vreeslik graag eerder vir haarself sal wil hê, maar weet daar nie ‘n manier is dat ek dit nou, op daardie punt, vir haar sal koop nie. Toe vry sy maar daarna onder die voorwendsel dat dit vir Mamma is, maar in die hoop dat Mamma dit teen die einde van die veertiende na haar kant toe sal laat val. Nou dít was so lank terug dat ek letterlik nou al van verlede week af nie ‘n idee het waar in hierdie kleine huisie van ons ek en sy daardie aand Mamma se Liefiedag-pakkietjie weg kom steek het nie.
Verlede jaar, in graad 1, het daar prefekte omgekom en allerhande beertjies en ander kitch poef onder die kinders bemark – lankal nie meer bestellings vir rose wat by hulle geplaas word nie. En die heel kleintjies bestel dan mos die goeters vir hulself. Maar Klaradyn het geslaap, en toe sy uiteindelik haar geldjie uit ons het, toe is dit te laat – die prefekte is klaar met hul bestellings. Ons is toe inderdaad Cardies toe en ek het ten duurste ‘n onooglike rooi en wit ding wat iewers in Sjina bedink (gepleeg?) is, moes aankoop.
So toe ek, naïewe Pappa wat ek is, die oggend hoor dat die girls die middag die Valentynsdag-ding gaan doen, dag ek hulle gaan Cardies toe om ‘n geldjie op iets sinneloos te mors. Ek aanvaar toe net voor 14:00 die uitnodiging om saam met hulle winkels toe te gaan.
Maar ek het die pot mis gesit, ek het die pot ver mis gesit. Ek het vergeet dis nie net die klein-, medium- en groothandel wat goue ponde uit Valentynsdag maak nie – dis die skool self ook. Ja, dis lankal nie meer net op Lentedag dat jy ‘n geldjie betaal om in gewone klere skool toe te kan kom nie – die skoolfonds kan nie wag tot September nie; middel Februarie nou al gee die kinders se ouers ‘n arm en ‘n been prys om die kinders tog net in gewone klere by die skool te kry.
Ja, daardie arm en been lê nie in die vyf randjie wat jy skool toe stuur opgesluit nie, dit word opgeslurp in die uitgee van dit wat oor is na die water-en-ligte en versekering af is, en dit vir ‘n piksplinternuwe rooi of pienk uitrustinkie.
Dit voel soos gister dat ons ‘n jaar gelede inkopiesentrum toe is vir ‘n dolle gejaag agter ‘n rokkie aan. Ek verbeel my ons is daar weg met twee pakkies – vir ingeval dit, soos met elke lentedag die geval is, skielik koud of winderig of nat is as die son die oggend van die veertiende Februarie opkom. En hier is dit al weer sulke tyd.
Ek het natuurlik ‘n lewensgroot lewensbeswaarlikheid teen hierdie klas van klere aankoop – ek kry die kind se stomme man van eendag by voorbaat so jammer. Nou word sy opgevoed en grootgemaak met die nosie dat daar vir elke bakatel spesiaal ‘n nuwe rok voor gekoop moet word.
Ons sit hoeka met drie of vier rooi of pienk pakkies wat Desembermaand aangekoop is. Sy het nog nie een van hulle skool toe aangehad nie, maar nee – dis ou klere, ons moet iets nuuts vir Valentynsdag koop. Arme man! Hy gaan ook, soos ek, maar eers later moet uitvind dat hy nie ‘n idee had waarvoor hy hom ingelaat het nie.
Die Valentynsdag-ding waarna Mamma so eufemisties verwys het, word toe die Valentynsdag-draak en –monster wat Pappa soos ‘n wafferse hoofse minnaar van ouds moet onthoof om te bewys dat sy liefde die damsel in distress waardig is.
Ek het genoem dat ek die uitnodiging voor 14:00 aanvaar het – 13:30 toe die skool uitgekom het, om presies te wees? Laat ek dan meld dat ons na 17:30, nader aan 18:00, die parkeergeld by die outomaat betaal het.
Met die uitsondering van Fochini’s, Truworths en Miladies was ons by elke denkbare winkel en kettinggroep wat enige vorm van kleding verkoop. Ek het nie geweet dat ‘n sentrum so baie winkels kan hê wat kinderklere verkoop nie – trouens in kinderklere spesialiseer en suiwer op kinderklere afgestem is nie.
Ons was in net een van hulle nie in nie – dis die een waarvan Mamma gesê het dat dit nie help ons gaan daar in nie – “dis die een waarin jy jou verlede jaar so vererg en sleg gedra het oor die goed se belaglike pryse.”
En ek het my middag hoeka begin om vir ‘n winkelassistente te sê dat haar 50% afslag op ‘n klein boksie kersversierings wat na naeltjies en kaneel ruik steeds belaglik is en dat ek kan verstaan waarom, en geensins verbaas is nie dat hulle Februarie steeds met Desember se Kersfeesvoorraad sit nie. Die boksie goedjies (dennebolletjies en so) wat Desember ‘n belaglike R860-00 gekos het, is twee maande later steeds ‘n ewe belaglike R430-00. Ek sou Desembermaand al hoogstens R50-00 daarvoor betaal het, en dan suiwer ook net omdat ek deur die gees van Kersfees weggevoer is.
Maar dit daar gelaat. Mamma kry by die eerste winkel iets wat volgens haar perfek sal werk, maar die kind nie welgeval nie. Mamma kry in die tweede winkel iets wat net so goed kan werk, maar die kind ruk uit met iets wat gevaarlik baie klink soos “over my dead body”. (Waar sy daaraan kom weet ek nie.)
Iewers, Mamma was missing in action, stuur ek haar agter die gordyne in met ‘n lieflike gestroopte slooprokkie en die opdrag dat sy móét uitkom om my te wys hoe dit lyk. En al wat uitkom is Klaradyn. Net toe ek op die punt is om ‘n vreemde vrou in te stuur om na haar te gaan roep, kom Klaradyn uit – in haar gewone klere. Ek wil sommer raas, maar Klaradyn vertel onderlangs:  “Daar is nie ‘n manier dat ek in daardie rokkie kon uitkom nie, my tieties het uitgesteek toe ek hom aan het.” Ag siestog, die arme kind – ek het haar toe al die tyd op 7 met ‘n 14-jarige se bloes ingestuur, denkende dat wat sy in haar hand het ‘n lieflike gestroopte understatement van ‘n slooprokkie is!
Teen die twaalfde winkel kry nie een van ons iets waarvan een van ons kan hou nie. Die kind is in ‘n stadium amper in ‘n swart spanbroek in wat soos ‘n tweede vel pas, maar daarvan kon ek hulle gelukkig laat afsien. Op pad uit hierdie winkel uit, en dit was ses dagreise te perd na die uitgang toe, tref die oog iets wat ons nog nie aangepas het nie. Ek het gehoop dis iets wat ‘n rok is, maar toe die prinses uit die aanpashokkie kom, is dit duidelik, hierdie is nie ‘n mini nie, dis ‘n bloesie – ons sal iets vir die onderste helfte moet kry. Maar, soos Mamma tereg opgemerk het, “dit help nie eers ons kyk hier nie, hier is nie, ons sal elders moet gaan krap.”
Toe sien ek die prys! Ek betaal nie eers soveel ‘n hele uitrusting (skoene, hoed en handsak ingesluit) nie – nou wil hulle dít vir ‘n lap bloesie hê, daar is nie ‘n manier nie! En al wat Ma sê is dat ons nie nou kleinkoppie kan trek, noudat ons die kind se hart op die ding gesit het  nie.
Ons val in die tou, betaal en gaan soek ‘n onderste helfte.
So stap hulle toe verby ‘n eksklusiewe winkeltjie waar ek my in die verbygaan verbeel ek ‘n iets sien wat lyk of dit miskien net sal kan werk. Ek roep hulle terug – in hierdie stadium is Mamma al vir twee ure bereid om tog net more of oormore terug te kom solank sy net nie nóg verder moet soek nie – en ek was reg, daar ís iets.
Terwyl hulle aanpas, val my oog egter op die pienkste perfekste ander pakkie wat ek deur die deur aangee. En toe is dit verby – die kind raak verlief daarop, Pappa dink klaar dis die mooiste wat daar is, en Mamma moet bieg dat sy saamstem.
Om ‘n baie lang storie kort te maak – Klaradyn gaan Valentynsdag die mooiste dogtertjie in die ganske skool wees.
Dis so ‘n pikante pienk John-Boy-Walton-pretpakkie, soos ‘n Dirndl van bo met lederhosen van onder maar alles in een gesny – te lieflik.
Toe sy dit aanpas sê sy glo vir haar ma:  “Ek hou daarvan Mamma, want dit is so plaserig.”
Nou kyk, ek stuur my kind honderdmaal eerder soos ‘n onopgesmukte plaasmeisie skool toe, as opgetert in ‘n stadspakkie. En ek weet sy gaan lekkerder speel, want dis ‘n broekerigheid en ‘n rokkie nie.
Die bloesie is natuurlik nou nog steeds sonder ‘n onderstel, maar dit maak nie saak nie, almal is gelukkig – die bankbestuurder natuurlik die meeste van ons almal; nou kan hy nóg meer rente uit die Moolmans verdien.

Naskrif:  Daar onthou ek ook nou waar ek aan die inklimrok-herinnering kom. Ek het gewonder wat my kind gaan doen as sy wil gaan kamerverlaat. Gaan sy uit en weer in hierdie eenstukpakkie kom.

8.2.12

Pappa en dogtertjie stap

Nee, daar was geen stap ter sprake nie; wel amper, maar op die ou einde het ons dit nie nodig gehad nie – Oupa het tot sy aangetroude skoonseun en sy kleinkind se redding gekom.
Die matrieks het egter jare gelede ‘n gedig met die titel “Pappa en seuntjie stap” voorgeskryf gehad. Ek onthou ek was nie liries oor die gedig nie, maar ek verbeel my die stem in die gedig was ‘n pa waarvan die hart oorgeloop het nie.
Noudat ek self ‘n pa is, want destyds was ek nog lank nie, kyk ek dalk met ander oë na die gedig. My hart loop ook mos nou van tyd tot oor. Soos gisteraand.
Ons is 17:00 Voortrekkers toe. Voortrekkers is heerlik – ek kan vir ‘n volle uur in die motor sit en wag! Ek gaan maak my toe tuis in die passasiersitplek en slaan die toetse van die skootrekenaar dat hulle so sing. (Ek het dit al vanuit die bestuurdersitplek probeer, maar dan sing die toeter, waarteen die rekenaar leun, meer as die toetse.)
Ons dierbare jongste en oudste en daarom enigste telg, het egter steeds die onhebbelike hebbelikheid om na afloop van haar persoonlike Deborah Retief-speeluur, nie motor toe te hol nie, maar op die skool se grensmuur te gaan klouter.
Ek sien dit nie, ek tik – om die waarheid te sê, ek het nie gedink sy sal dit vanjaar weer doen nie... sy is mos nou in graad 2 en al mooi groot.
Maar ek had dit verkeerd. Ek raak bewus van die spanoffisier wat al na haar motor toe beweeg, ek lei af Klaradyn speel elders, en ek klim uit om die vrou ‘n goeie jaar toe te wens. Maar toe ek op en uit en langs my eie motor is, sien ek my bobbejaan-kind op die muur rond klouter. My aandag is vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde verdeel tussen die offisier en die primaat, en dis mooi in presies daardie breukdeel van ‘n sekonde die motordeur ingedagte toemaak. En nanosekondes later besef, weet, registreer, pynlik daarvan bewus word, dat ek sopas my motorsleutels in die motor toegesluit het.
Nee, die vensters was nie oop nie – die lugversorging was aan terwyl ons gery het, en ek het met ‘n oop deur gesit en werk, had selfs my voete in ‘n stadium in die reën toe daar ‘n kort en vinnige katspoegie uitsak.
Ek doen myself onbeholpe voor, maar is net so onbeholpe soos die twee Mc Guyver’s wat my te hulp snel. Ek leen ‘n selfoon en skakel Oupa. (As jy ‘n televisie-animasieprogram met die naam van “Ouma kom help” kan onthou, is jy middeljarig, of jy dit nou wil erken of nie.)
En daar help die bejaarde oupa toe die middeljarige skoonseun binne twee minute uit die verknorsing uit. (En ook net digitaal en met die kuberruim tussen ons dat hierdie man bejaard sal noem; sê ek dit vir hom in sy gesig, gee hy my so ‘n opstopper dat ek my oorle’ ma as ‘n eenvoël aansien.)
Toe ry Pappa en Dogtertjie, in plaas daarvan om voet in die wind te slaan en te stap.
En die eerste wat Dogtertjie vra is wanneer dit weer Boeremark is? Dat ons vir Oupa ‘n presentjie kan koop om dankie te sê.
Só kan ‘n kind se hart mos maar aangeskroef wees!
En ons gaan nie huis toe nie, ons gaan kuier by tannie Marieta. Ma is by die skool vir ‘n vergadering en vir wat sal ons nou so ‘n vervelige en geroetineerde stap neem soos om huis toe te wil ry.
So much to do, so little time!
Pappa geniet ‘n sondondertjie terwyl Klaarsie haar sundowner uit ‘n vrugtesapverpakking geniet.
Dit grens aan onverantwoordelik laat as ons Marieta groet, maar ons aandete is vanmiddag al gemaak – dis nou net eet en bad en dan bid en bed.
Die badroetine word bykans outonoom en met ongekende samwerking en verantwoordelikheid deur Klaradyn haarself afgehandel en na 'n inspeksie van die voetsole (wat sy met vliegende vaandels slaag) sit ons aan vir ete – die allerlekkerste krummelpap (van growwe meel berei) wat tannie Martha agtermiddag sommer vir die lekker vir ons aanmekaargeslaan het. Ek eet myne met kruie, speserye en gerasperde parmesaankaas, Klaradyn hou by suiker met ‘n lekseltjie botter in die plek van melk.
Maar dis voor ons aansit, dat my hart vermurwe en ek ‘n faset van my kind ontdek wat ek nog nooit van te vore so duidelik uitgespel raakgelees het nie.
Dis voor ons aansit dat ek my verwonder aan hoe my kind se hart aanmekaargeskroef is.
Sy was etlike maande oud, toe kry sy ‘n lieflike vlooimark-handwerkrokkie present waarop vrolik staan:  Hanslammetjie.
‘n Verbeeldingryke vriendin besef dadelik dat so ‘n rokkie ‘n lieflike en emosionele dubbelsinnigheid in die Moolman-gesin se lewens kan geniet en koop dit dadelik aan.
Ons wag so jaar of wat en as Pappa en Dogtertjie ‘n hele ruk lank alleen gaan stap (shop, of fliek, of Boeremark,  of uiteet, of diertjies kyk en voer) dan is dit Hans en sy Lammetjie uitgevat in haar blou rokkie wat dit so mooi uitspel.
Maar dis vanjaar ook al drie of vier jaar gelede, die rok is al selfs te klein om as Empire-line bloes te dra.
Waar die kind pajamas gaan uitkrap het, weet ek nie, maar toe ek die pap warm maak. Kom staan sy agter my met die woorde:  “Kyk net hier, Pappa! Onthou jy?”
En daar skiet haar oë vol trane – en dan praat ek nie van ‘n enkele Tretchikof-traantjie wat eensaam en effekberekend oor haar wang biggel nie; die sagte warmte en mooi herinneringe wat die rokkie omgewe, oorval haar so, dat sy heel ontroer oorloop van emosie.
Toe Mamma teen ons laaste happie van haar vergadering opdaag is dit vir haar dadelik duidelik dat ons ‘n lieflike aandjie geniet het – die kind borrel oor van jeudige lekkerte en en energie.
Maar nee, Pappa moet haar in die bed sit.
En wat kies daardie kind om te lees? Twee kleuterboekies wat ons kleutertyd gereeld saamgelees het, maar in drie jaar seker nog nie een keer nie.
Té lekker!
Gisteraand toe maak ons weer so, maar hierdie keer klim ons in die bed met Opperman se Kleuterverseboek en sing bykans elkeen van die dans- en piekniekliedjies wat hy daarin opgeneem het.
Te goed, in die woorde van Sheila Cussons, is hierdie aande om net aan my te gee.