Pages

29.12.12

Net bietjies-bietjies van al die baie onthou rondom Phlippie/Phlippa/Philippa

Snaaks hoe ‘n mens jou vir jou ouers kan skaam.
My ma het gereeld die volstruis in my na vore gebring – daardie tye wanneer ek nie net my kop soos ‘n wafferse struisvogel  in ‘n gat in die grond wou steek nie, maar sommer geheel en al daarin wou verdamp, verdwyn, om elders, in ‘n ander dimensie of tydsgewrig, weer te voorskyn te kom.
Dis was so as kind, meer nog as tiener en jong volwassene en dis eintlik maar eers die laaste 10 jaar van haar lewe (en my grootword) dat dit al hoe minder geword het, totdat dit uiteindelik, toe dit eintlik lankal reeds hopeloos te laat was, heeltemal verdwyn het.
Wildvreemdelinge was mos nou iets wat Judy nie geken het nie; vreemdelinge wel, maar ook net vir enkele minute, of selfs sekondes, en slegs as sy die persoon net van agter gesien het, of self om moes draai (in ‘n tou of bondel byvoorbeeld) om die vreemdeling  van voor in die oë te kan kyk.
En dan, sodra oogkontak eers gemaak is, het sy haar geselsie aangeknoop, enige plek, enige tyd, enige mens.
Een  so ‘n gesprek wat sy vroeg in Februarie 1983 aangeknoop het (miskien was dit einde Januarie, hoe sal ek weet)  sal my seker lewenslank bybly.
Sy het die vorige dag voor in haar groen Fordjie gery, ek agter in die geel Volksie (CWZ 167 T) wat my broer-hulle vir my einde matriek, einde 1982, gegee het.
(Dit sou eers jare later wees dat Judy aan my erken het hoe sy die volle 144km Potchefstroom toe, en drie dae later weer terug, omgehuil het.)
Net buite die dorp, dit sal my geensins verbaas as dit steeds so is nie, het die plaaslike verkeerspolisie gesit om die ouers wat met hul eerstejaarstudente op die stil dorpie toesak, af te trek en aan te skryf vir die een of ander verkeersoortreding.
En die volgende oggend is al die eerstejaars, en die wat gelukkig genoeg was om hul ouers, of ‘n ouer, by hul te hê, saam met hulle in die ouditorium ingejaag vir die een of ander verwelkomingstoespraak.
Getrou aan Judy se aard was ons ruim betyds en het iewers na agter in die middel rond plek gekry.
Ek sou die Carducci somersbaadjie wat ek en my beste vriend die vorige week in Johannesburg gaan koop het, aangehad het.
Omdat ons vroeg was, het my ma ook reeds hopeloos lank genoeg stil gesit teen die tyd dat daar uiteindelik twee mense in die twee oop stoele links van haar kom sit het. (En met “stil gesit” bedoel ek nie om nie te beweeg nie – dit kon Judy goed doen – ek bedoel om nie te praat nie.)
En dit was ook nie lank nie, hoogstens drie of vier minute, tot die vrou langs haar ordentlik haar sit gekry het, toe leun Judy oor na links en knoop haar gesprekkie aan. En ek laat my nie vertel dat haar seun wat langs haar gesit het, nie die aanknopingspunt was nie. Selfs al sou sy straks eers na die dogter wat langs die vrou sitplek ingeneem het, uitgevra het.
Berge val op my, heuwels bedek my, die aarde sluk my in.
Ek skuif al hoe laer af in my stoel. Later sit-lê ek op my stuitjie met hoogstens net my twee bloedrooi ore wat bo die rugleuning uitsteek.
En toe kom dit:  “Haai, Oubaas, hierdie tannie se dogter kom ook, soos jy, hier op Potch Drama studeer!”
Judy het haar kop en nek en skouers en rug agtertoe in die rugleuning ingedruk sodat ek voor haar verby kon kyk, in die oë in van die vrou, wat sopas vir my ma soos ‘n vriendin geword het. En agter die wildvreemde tannie het, soos ek, ewe verleë en rooi, ‘n jong meisie uitgeloer. Net so halfpad en skugter, met ‘n verlepte glimlaggie en ewe verlepte handjie wat halfmas wuif.
Net soos wat my ma my en my naam sopas vergat het, het haar ma Philippa se naam op haar beurt sopas met ‘n plank geslaan.
Ja, jong tieners is simpel goed. Maar Philippa het daardie oggend presies soos ek gevoel – ons het baie keer daarna daaroor gesels en gelag en daaraan teruggedink, want  dis dáár (kom ons maak dit maar Ry Q van die Sanlam-ouditorium op die PUK se hoofkampus) waar, en wat, en toe,  dit alles, op ‘n maand na, dertig jaar gelede, begin het – ‘n vriendskap wat ek met my sal saamneem graf toe.
Die derde lid van ons driemanskap (maar ek en Philippa was saam in meer as een driemanskap, en viermanskap, selfs ‘n enkele of wat vyf- en sesmanskap ook) SMS gister na die nuus van haar hopeloos voortydige dood vir my:  Ja, ‘n mens wil nou onmiddellik 100 van jou eie stories in jou kop aanmekaar sit.
Nie honderd nie, honderde.
Honderd is op en finish en klaar aanmekaar gesit, en dit net rondom die eerste vier jaar op Potch. Toe kom Bloem en die San du Plessis. Dan nog die Kaap. En uiteindelik, eers toe daar weer, soos op Potch, van ‘n Rivierstraat sprake was om by Philippa uit te kom, en ‘n krom en skewe sirkel op so ‘n manier eindelik voltooi is: Pretoorsdorp.
Ek noem dit ‘n driemanskap want ons drie het vier jaar later, die dag voor ons elkeen sy eie rigting die grootmenswêreld in sou spat, amptelik afskeid geneem – in Philippa-hulle se sitkamer op die bruin sitkamerstel, met ‘n koek en tee.
Weliswaar nie koek en téé nie, eerder koek en mélkskommel.
Koek en melkskommel was waarmee ons daardie eerste keer gegroet het.
Wat is immers beter as wortelkoek en Philippa se hoogs unieke lemmetjiemelkskommel om mee afskeid te neem?
Ek het ‘n foto van daardie middag, einde 1986, in my foto-album.
Maar ek het nie nodig om my album te gaan uitkrap nie, daardie middag, daardie koek, daardie geskommelde bruismelk is my hele kop vol.
Die wortelkoek het sy begin gehad in ‘n koffiehuis op Grahamstad, ‘n jaar of twee te vore.
Dis die jaar wat ek en Philippa saam afgery het Grahamstad-kunstefees toe, en ons teen 06:00 daardie oggend iewers in die Palmpas êrens tussen Tarkastad en Bedford in ‘n botsing met ‘n sandwal betrokke was.
Studente is darem nog onnoseler as matrieks – ek en Philippa het daardie aand agtuur ons laaste vraestel geskryf, en toe, daarna, in die pad geval Grahamstad toe.
Die ongeluk kon baie erger gewees het (soos die een baie jare later waarin haar ma oorlede is) en is ‘n storie op sy eie.
Die fees was al verby en die mense huis toe, toe moet ek en Philippa by die Grahamstown-Hotel inboek vir ‘n nag of wat – hulle wag nog op ‘n part vir my motor wat met die trein al die pad van die Kaap kom en iewers op die spoor verlore geraak het.
Ek het Julie 2011 eers, toe ons studeerkamer reggepak het, die kwitansies, uit 1985, van die paneelkloppers en die hotel op Grahamstad, weggegooi.
Maar waar loop my gedagtes nie, ek was by die wortelkoek wat ons drie op Grahamstad so geniet het.
En toe bak Philippa ons eie wortelkoek toe ons oulaas as studente groet.
Maar die koek was nog warm toe sy die versiersuiker opsit, en die twee lae het van mekaar afgeskuif, en die boonste versiering het ook pad gevat teen die kant af en in die bord in.
So what!  Dit was, o, so spesiaal!
Die melkskommel waarmee ons afskeid geneem het, het sy begin, onder veel gelag, ook reeds die vorige jaar gehad.
Ek het Philippa na ‘n repetisie of optrede huis toe geneem. Ian is saam, en Philippa is met groot fanfare kombuis toe om vir ons melkskommel te maak.
Sy kom toe te voorskyn met drie groot glase groen lemmetjie milkshake.
Maar dit was ook net lemmetjie milkshake tot ons die eerste sluk geneem het.
Want toe ons sluk, toe is dit áárbei – lemmetjiegroen aarbeimelkskommel!
Philippa het gegaan en die aarbeigegeurde melkskommel, lemmetjiegroen met voedselkleursel gekleur.
Dit was die vreemdste ervaring – jou oë vertel jou brein die een storie, en dan kom die tong met heeltemal ‘n ander een.
So, ter herdenking van daardie lieflike aand, neem die drie van ons toe afskeid met Milkshake a’la Philippa ook.
Dan praat ek hier bo egter van ‘n afskeid voor ons elkeen eie rigting grootmenswêreld toe ingeslaan het.
Dis ‘n lieg.
Ek, en Ian, moes elk eers ‘n detour  maak army toe.
Sit jy daardie jare in Die States, soos ons destyds na Suid-Afrika verwys het, dan het jy seker gereeld naweke huis toe kon gaan, of, is dit nie huis toe nie, ten minste dan darem ‘n wegbreek civvie straat toe.
Ek, aan die anderkant, is grensbasis toe gepos.
Daar het jy net jou seven days in jaar een; fourteen days in jaar twee. Dis nou onderskeidelik jou sewe- en veertiendagpas.
Op die eerste een van die twee vlieg ek toe dringend van Johannesburg Bloemfontein toe om by Philippa ‘n draai te kan maak. Sy is pas deur ‘n baie nare ondervinding in haar lewe en ek kan nie anders as om dringend na haar toe af te moet vlieg nie.
In daardie jare, vir ‘n armgat sonder salaris, was dit ‘n vreeslike volwasse, grootmens-ding om te doen.
En toe ek na die naweek terug kom, toe gee ek my motor by die lughawepolisie as gesteel aan.
Toe kry hulle hom drie ure later op vlak 3 van die parkade – ek het hom op vlak 5 gesoek.
Die volgende jaar, toe ek fourteen days het, toe ry ek darem af Bloem toe met die motor.
Hierdie keer nie vir ‘n krisis nie, maar vir Aïda.
Ek onthou nog opgetrek ek met die piksplinternuwe pad was. Net om na ‘n ruk te lees dat ek nou op ‘n tolpad is – dit terwyl ek nie genoeg tolgeld in my beursie het nie. Ek is summier van die nasionale pad af, en omdat ek nie weet waar daar nog hoeveel tolhekkevoor ‘n motorhawe met ‘n kitsbank  is nie, het ek Bloem via vreemde dorpe en paadjies vanuit ‘n onbekende rigting bereik.
En toe mis ek die olifante op die verhoog.
Laat ek 23 jaar later dan maar uiteindelik bieg: Philippa had ‘n pa wat haar Sondagaande lief kon maak vir opera, of dit nou op die platespeler, oor die radio of oor die telvisie was; ek nie.
Ek het ‘n ma gehad wat geselsies met vreemde tannies aangeknoop het.
So toe raak ek hier teen die einde aan die slaap en word eers wakker na die olifante af marsjeer het.
Ek verbeel my ek het hoogstens die punt van die een se stert in die coulisse sien verdwyn, maar dan praat ek ook onder korreksie.
Met Philippa egter self nou finaal in die coulisse in en weg en van die verhoog af, voel ek uiteindelik eintlik nogal vry, bevry, noudat ek dit na al die jare uiteindelik kon erken en bely.
Ek is nie een wat glo Philippa kan terugkyk of omkyk of self net vir ‘n oomblik weer verhoog toe kom om erkenning aan die applous te gee nie.
Maar ek weet as sy kon, sou sy haar in ‘n staande ovasie vasgeloop het.

28.12.12

27 Desember 2012

Snaaks hoe die lewe partykeer inmekaar val as dit uitmekaar val.
My gedagtes is heeldag kort-kort by ‘n vriendin waarvan die vriendskap oor 29 jaar strek; omdat sy vandag verjaar, aan die een kant, maar ook omdat ek ‘n gesels wil aanknoop wat ek streng gesproke nie sonder haar en die boks briewe wat sy my sowat ‘n jaar gelde gegee het, kan aanknoop nie.
Laasgenoemde hou verband met die feit dat ek Facebook en die blog wat ek byhou geensins as verteenwoordigend van die sogenaamde “sosiale media” sien nie; vir my is dit niks anders as massamedia nie.
Maar dan nie massamedia soos wat dit in kommunikasiekunde of joernalistiek bekend staan nie, wel massamedia soos wat ek dit in 1987 en 1988 van iewers in die Caprivi-strook bedryf het.
Hierdie troep het toegang tot ‘n afrolmasjien gehad, en dan praat ek nie van ‘n fotostaatmasjien nie – as ek van ‘n fotostaatmasjien wou gepraat het, sou ek dit ‘n fotostaatmasjien genoem het – hierdie was ‘n outydse Gestetner afrolmasjiene wat met slinger, wasvel en ink gewerk het.
Ek het dan wasvelle van die staat gesteel en skelm my weeklikse briewe afgerol om dit aan ‘n massa vriende en vriendinne te stuur. Elke week het elkeen dan ‘n algemene, generiese brief gekry met ‘n velletjie of wat persoonlike nuus en geselsies daarby ingesluit.
En presies dit wat ek destyds met die afgerolde briewe gedoen het, is wat ek vandag met dit wat ander die sosiale media noem, regkry – ek bereik meer as een mens op ‘n slag met dieselfde boodskap – massamedia en nie sosiale media nie.
My universiteitsvriendin het elkeen van my briewe aan haar getrou bewaar en toe dit mondig word, net mooi een en twintig jaar later, in silwer strikke saamgebind en plegtig aan my terug besorg.
Saam met al die briewe ouerhuis toe, wat ek ook het, is dit hoogtyd dat ek nou beroemd en bekend word, want dan kan my briewe ook soos Van Wyk Louw en van Gogh se briewe gepubliseer word.
En dis hoeka ook hoekom ek die motorhuis wil regpak – ek soek die boks weermagbriewe om weer die kuiers van destyds met my vriendin te kan kuier, te sien hoe my massamedia-korrespondensie destyds daar uitgesien het.
En sal dit nie nou lekker wees om dit vandag, so op haar verjaarsdag, te doen nie.
Bel sal ek haar nie bel nie – ons bel mekaar nooit op mekaar se verjaarsdae nie want die een het dan altyd mense en gaste en besoekers en sosiale verpligtinge en dan kan mens nie jou twee keer ‘n jaar se lekker gesels, uitgesels nie. Ons bel so róndom mekaar se verjaarsdae.
En so is my gedagtes heeldag by Philippa, as dit nie oor die verjaarsdag is nie, dan oor die briewe waarby ek wil uitkom rondom die twakpraat oor my massamedia op Facebook en die blog.
Maar so kom ek nóg by die motorhuis se opruim, nóg by die briewe uit.
Al waarby ek uitkom is die Facebook-boodskap dat my lief en dierbare, baie goeie, hartsvriendin van 29 jaar vandag dood by haar huis gevind is.
Dis ‘n ramp, ‘n terugslag, ‘n tragedie – dis elke byvoeglike en selfstandige naamwoord wat die dood nog ooit beskryf het, of sal beskryf.
Die lewe, anders as die dood, is en bly ook darem maar vreemd: Hier hou ek ‘n mens daglank in my gedagtes springlewendig en gesond, iemand wat na alle waarskynlikheid reeds die 23’ste of 24’ste gesterf het.
Maar waar wil jy nou klinkklaarder bewys hê dat afgestorwe geliefdes lewenslank lewendig is en bly, lewendig gehou word in die gemis na hulle, die onthou van hulle, die geselsies wat ons jare later steeds met hulle aanknoop, die wonderlike herinneringe, die met lag en die met trane?
Ek en Philippa en ons saamkuier vandag het dit bewys.
Ja, ek gaan dit mis om weer tee op Philippa se stoep te drink, saam met haar groente in die tuin te pluk, saam met haar te lag – ek voorsien dat ek dit baie gaan mis, meer as wat ek dit reeds die laaste klompie jare mis – ons moes regtig tyd maak, en inruim, en afknyp om te kon tee en wyn en musiek, te kon olyf en kaas en boek en deel en gee en ruil.
Maar vir Philippa Gloudina mis? Nooit nie.
Sy leef in my tot ek die dag afsterf.
Hopelik kou ek nog eendag ou bene, begin ek ruk en vergeet en verkalk en na piepie ruik; nie Philippa nie, sy sal altyd knap voor vyftig en jeugdig bly.
Wat gaan gebeur, en waar my gedagtes nie orals ‘n draai gaan maak as ek en Klaradyn weer krappie-krappie in bad speel, weet ek nie. Ons vier voete is vier krappe. Hulle knoop oor en weer geselsies aan en duik weg vir wrede albatrosse wat van klein krappies mince meat maak. Klaradyn se voete is onderskeidelik Cleo en Patra, myne is uit die Griekse letterkundeskat en kom uit Elektra – Chrysothymus en Klytemnestra. Nie hieroor of daaroor nie –die motor waarmee Philippa in 1984 rondgery het se naam was Chrysothymus  en die tye, die herinneringe, die naam, die kar, die onthou en die goeie ou dae was so goed en mooi, dat ek, toe ek jare later op twee name vir my krappie-pote moes uitdink, ek by Chrystothymus vasgesteek het.

25.12.12

Kerskosklets


Ons het vandag (agtermiddag laat) my skoonouers oor; die groter ete was gisteraand en by my swaer-hulle aan huis.
So ry ons gisteraand daar weg, Skoonma en –pa saam met ons in die motor, en ek laat val dat ons nie eers nagereg vir Kersdag het nie. En ons het nie.
Ek was op die punt om groot te gaan staan en kook (skaapboud, beesvleis, tong) maar toe gooi ek en Annieka saam handdoek in nog voor ons begin het.
Ons is Saterdag na die Italiaanse Klub hier by ons in Pretoria. Daar is elke Saterdag ‘n Italiaanse kaasmark in een van die lokale. Toe koop ons ‘n spul verskillende kase.
Op pad terug het ek gou by Woolies ingehol vir een van daardie romerige kase met die vye en neute, en iets anders met mango en gemmer.
Gister het ek by die beste bakkery in ons stad sommer twee ciabattas gekoop.
En met die botteltjies en dinge wat die yskas voetstoots kan bydra, is ons gerat en gereed vir gesellig verkeer as die son vanaand sak.
Eintlik oor daar min dinge so lekker soos pekelvis en witbrood is, dat ons by die brood vasgeval het.
Ek het nie ‘n probleem met daardie blikkies kerrievis/pekelvis wat ons so lank ek kan onthou kan koop nie.
Soos wat ander mense in Woolworths konfronteer word met Lindt-sjokolade wat in hul mandjies beland, help ek bakkies van hul pekelvis in my mandjie in en peusel dit, soos sjokolade wat jy bietjie-vir-bietjie snoep en eet en bêre, uit die yskas op tot daar niks van oor is nie.
Maar hierdie tyd van die jaar hou ek daarvan om my eie te maak.
Ek het vanjaar geelstert gekry.
Met ‘n beslag foeter ek nie. As ek geweet het hóé, sou ek miskien, maar by gebrek aan die ervaring met ‘n beslag, stuur ek my vis met botter, sout en peper oond toe. Ek vryf die porsies weliswaar eers in met die fyn gerasperde skil van twee suurlemoene. Dit het ek by Peter Veldman en sy Kos van die Eeu leer doen.
Toe maak ek ‘n sous wat wegtrek met drie koppies asyn (ek het die jaar se asyn klaar gemaak, so dit was die laaste van wit-, rooi-, bruin-, appel- en selfs balsamiese asyn).
Om by ‘n liter vloeistof uit te kom het ek die koppiemaat geneem en hom so min of meer om die helfte met water en olie gevul.
Die laaste van die appelkooskonfyt is ingeroer. Seker so 6 eetlepels, maar ek nou begin leeg maak met die asyn, so toe maak ek die konfyt ook leeg.
Meer as ‘n halwe koppie, nader aan ‘n koppie, bruin suiker. Ek proe maar.
Toe ek klaar borrie bygegooi het, was die botteltjie borrie ook leeg. So ‘n teelepel sal doen, ek het egter meer gedoen omdat die balsamiese asyn my sousie donkerder gekleur het as waaraan ‘n mens gewoond is. Maar ek is seker, het die ou mense balsamiese asyn geken soos ons, dan sou hulle resepte ook donkerder gewees het.
Die kerriepoeier wat ek lief voor is, is Woolworths se Cape Malay, dis heerlik pikant sonder om Annieka en Klaradyn af te skrik met brand.
My brand is die sous in aan die hand van ‘n duim of wat gerasperde gemmerwortel.
Dan het ek ongelukkig ook ‘n hartsding met geskroeide koljander, so die bottel grof gevryfde heel koljander het ook ‘n draai by die pot gemaak en twee of drie teelepels armer daarvan afgekom.
Die suurlemoenblare wat ek by die bure gepluk het, het ek my skielik verbeel is vanjaar darem baie klein en ek het sommer nege ingegooi. Vyf of ses sou seker genoeg kon wees.
Hierby is in ‘n koppie of wat rosyne, drie gesnyde uie en een elk rooi en geel soetrissie opgesny, ingegooi.
Die soetrissie is seker minder tradisioneel, maar as jy al La Petit Ferme buite Franschhoek se pekelvis geproe het, sal jy weet hul idee werk wonderlik.
Ek kan nie onthou of ek die uie en soetrissie vooraf gebraai het of nie; ek het dit goed twintig minute na ‘n halfuur laat prut op die stoof, so vooraf braai is nie nodig nie – die asyn en kerrie sorg in ieder geval dat die smaak en geur wat jy met die vooraf braai wen, weer verloor.
Iewers, toe ek begin proe en die appelkooskonfyt al leeg is, is die laaste van Miesies Balls se blatjang ook in.
Ek stel my voor dat die boeretannies van ouds, of dan nou die slawe en ander bediendes heel in die begin, hierdie sous af sou gekook het tot dit effe dik word. Tyd en geld daarvoor het ek nie, en in elk geval, as La Petit Ferme hulle sous kan aandik met ‘n teelepel of wat mielieblom, waarom kan ek nie ook nie.
Die bietjie sous wat my geelstert en botter in die oond opgelewer het, iets wat ek nooit sal wegdoen nie, is as vloeistof by die mielieblom ingespan.
So die wat vanaand uitgeëet aan die kaas is, daar is pekelvis in die bak daar oorkant, neem gerus.
‘n Lieflike dag word elkeen wat hier lees, al is dit ook nou eers volgende week of maand, toegewens.

24.12.12

Die groot gemene deler tussen Nabucco en Dirty Dancing


So kry ek en ‘n reisgenoot jare gelede kaartjies vir opera in die een of ander operahuis in Boedapest.
Iewers deur die loop van die oggend, klaar met die historiese vismark en oppad museum toe, leen ek, wat van opera maar min weet, my ore aan die musieklike reisgenoot uit; sy is immers die koorjuffrou en daar is omtrent nie ‘n stad in Europa waar sy tot op daardie datum nog nie self gesing het nie.
Sy vertel ‘n hoogsdramatiese storie met iewers ook die aria van die koninging van die nag ingegooi – en onthou, sy hoef nie te vertel nie, sy illustreer en iewers op ‘n klip onder ‘n boom trek sy los en begin sing.
Die Hongaarse program, later die aand, beteken vir my niks nie, maar ek volg die storie met die sinopsis van vroeër die oggend heel goed.
Ongelukkig egter ook net tot op ‘n punt hier knap voor die einde toe die vrou wat ek die hele aand verwag om af te klok, nie self af klok nie, maar trillend ekstaties bystaan as dit die man wat ek gedog het die onsterflike Lucifer is, twintig minute en drie arias verder neem om uiteindelik, oulaas, finaal, die gees met volle oorgawe te gee.
En daar is die storie boonop ook klaar en moet ons huis toe sonder dat ek enigsins die bekende melodie van die nagtelike koningin se befaamde aria hoor.
Dis toe ek op pad tent toe en in ‘n laatnag bus my effense verwarring (oor die dood) en teleurstelling (oor die gemis aan die aria wat ek by die klip onder die boom gehoor het) met haar deel, dat sy klokhelder, luidkeels, soos geen koningin of prinses van die nag, óf dag, haar dit kan nadoen nie, begin lag.
Het ek dan nou regtig daardie lawwe storie van haar geglo, dit was ‘n sameflansing van elke denkbare opera met ‘n vrouehoofkarakter met hier en daar iets na gedagte en verbeelding bygegooi om dit te maak werk.
En daar het ek haar hele storie op die 1994-aanbieding van die Hongaarse staatsopera se Nabucco getransponeer, tot knap voor die einde, toe die verkeerde karakter sterf en die een tannie nié lostrek met die aria van die koningin van die nag nie.
En iets daarvan herinner my aan Klaradyn en wat in die toekoms op haar wag, die ontnugtering, die teleurstelling.
Sy het nou al hierdie jaar die Kersfeesvaderpak onder in haar een grootjie se Chesterfield-set en kis opgespoor. Maar dit het sy gelate aanvaar as die Moolmans se pakkie wat hulle moes aanknoop die eerste jaar wat Pappa en Mamma ingespan is om as Kersfeesvader se helpers op tree, Mamma met die aankoop, en Pappa met die uitdeel van die pakkies.
Vanjaar sal immers die derde Kersfees wees waarop sy net so lekker en hard met ons twee saamspeel om aan Kersfeesvader ‘n illusie van die werklikheid te verleen. (Vanjaar het ons selfs ‘n kontak met die naam “Kersfeesvader” op die selfoon, en al wat ons ligweg bekommer is die skrale moontlikheid dat die nommer wat ons aan die man toegedig het dalk regtig bestaan – elke keer as ons SMS, wil dit voorkom asof ons vorige SMS wél deurgegaan het.)
Ons vermoed ten sterkste dat van die maatjies by die skool rondloop en vertel dat Kersfeesvader en feetjies nie regtig bestaan nie. En gedagtig aan ‘n beste maatjie wat nou die ander dag by haar ouers gekom en uit die bloute gevra het waar babas dan nou regtig vandaan kom, vermoed ons daar is maatjies wat oor allerhande ander dinge ook staan en rondloop.
En dís wat my by Nabucco en die aria van die koningin van die nag het.
Dit het mos alles begin, so vier of vyf jaar gelede, met ABBA se Mama Mia wat ons as gesin gaan kyk het, wat ons as DVD aangekoop het en nog steeds so twee keer ‘n jaar met springmielies in ‘n bak op die skoot in die sitkamer voor die kassie kyk.
Die motoriese moment wat alles in die blyspel aan die gang gesit het, jare te vore, is ‘n hoervakansie van slet en semen wat die ma met een van drie (sover sy kan onthou) moontlike pa’s vir kind gelaat het. Haar eufemisme vir haar stokperdjie om deur elke tweede derde jong man wat sy raakloop gespyker te word (en dan stel ek die harde, lustige werklikheid self ook so sag moontlik) is mos “dot, dot, dot” – die ellips wat sy as jong dogter in haar dagboek ingespan het om elke keer wat sy op en onder en deur en oor die tou gaan trap en spring het, te kommunikeer.
Maar op 8 en amper 5 maande sit Klaradyn met ‘n sugar coated, ‘n heavily sugar coated, weergawe en interpretasie van die gebeure, die een wat Annieka haar drie of vier jaar gelede met ‘n heuningkewas om die mond gesweer het: die dogtertjie kan een van drie pappas hê en sy weet nie watter een nie.
Nou tot op 8 jaar en 5 maande was dit vir haar genoeg.
En wanneer die werklike daglig gaan begin deurskemer, weet ek nie.
Weet ek ook nie met die dirty deel van Dirty Dancing nie.
Kyk, toe die kind destyds, ‘n halfuur elke week gaan ballet het, is ons na al wat ballet is, het ons al wat balletfliek of ballet-Barbie-tekenprent is, uitgeneem.
Na die fondament in die klassieke nou gelê is, beweeg sussie egter nou volgende jaar oor na modern, tap en hip-hop.
En ja, dit was ek wat voorgestel het ons kry kaartjies vir volgende jaar se Tap Dogs by Pieter Toerien in Montecasino. Maar dis toe wat Ma ook so graag hierdie vakansie met die kind Dirty Dancing wil gaan kyk.
Ek onthou dat ek die fliek in 1987 op die grens op video gesien het en daardie jare al nie veel van gehou het nie – hopeloos te veel van ‘n tipies Amerikaanse chick fliek.
Synde die petrolgeld Johannesburg toe, drie koeldranke en drie roomyse (nog lank voor die etegeld en toegang na die voëlpark bygereken is) al ‘n derde nul by die uitgawe se vorige twee nulle voeg, stel ek voor die dames neem net eers die fliek uit dat Klaradyn immers net die storielyn ken as sy in haar R300-00 teatersitplek wegsink.
Dis toe dat, én Moeder én Vader, vyf en twintig jaar later besef dat hulle in vyf en twintig jaar, soos inderdaad ook met Grease het, die storielyn vergeet het, en basies net die twee of drie musikale hoogtepunte nog onthou het.
Met Grease kon Mamma opstaan, die DVD stop, “nee, wat” uitroep en sê dat hierdie nie ‘n fliek vir dogtertjies is nie. Maar hoe gemaak met Dirty Dancing wat ons vanaand gou op die televisie kyk omdat ons dit more lewendig op die planke gaan kyk.
Behalwe dat die storielyn ook maar niks anders as ‘n gehop van kooi tot kooi is, het ons in hierdie storielyn ‘n agterstraataborsie ook ingewerk.
Toe Klaradyn my in ‘n stadium vra wat dan nou gebeur, antwoord ek bloot:  “Vra jou ma.”
En soos haar hele gesin en uitgebreide familie al vir jare weet, weet ek dit ook al vir jare – Annieka moes nie ‘n onderwyseres geword het nie, maar ‘n prokureur. Die oomblik toe ek die bal soos ‘n warm patat in haar hande gooi, spin sy daar ‘n storie en gebeurlikheid wat enige dag anderkant die hemelpoorte ook met geloofwaardigheid sou kon afspeel.
Met hierdie storie is ons toe ook gister Dirty Dancing toe, ek wat my heeltyd daaraan herinner dat ek moes geweet het hulle sou dit eerder iets soos Clean Dancing genoem het as dit nie was dat dit so duidelik dirty dancing was nie.
So doen die kind toe met Dirty Dancing wat ek met Nabucco gedoen het en geniet ‘n lieflike ervaring op die vlak van ‘n onskuldig-naïewe 8 jaar en 5 maande.
Mog sy nie 8 jaar en 5 maande verder weer daarna kyk nie, die skille sal soos lemoenskille van haar oë (én ore) afdop.
Aan die anderkant, eerder dan maar dít, en ‘n Kersfeesvaderpak in die kis, as om met ‘n half jack onder tussen Pappa se onderbroeke, ‘n pakkie sigarette of iets dergeliks tussen Mamma se panties, gekonfronteer te word.

20.12.12

'n Lieflike tydverwyl

Annieka is regtig in die wieg gelê om in winkels rond te loop en geld uit te gee. Ek gaan graag saam, maar onttrek my vinnig in ‘n boekwinkel in met die woorde dat sy my daar moet kry as sy klaar het.
Klaradyn, in belang van haar voete en knieë en bene, gaan dan gewoonlik saam met Pa.
En is ons twee nou eers in die boekwinkel, dan spring ons saam met Ma in daardie selfde wieg wat ek pas aan haar toegedig het.
Egter ook nie net ons wat die springwerk doen nie, eerder die boeke wat ongeskik en vermetel voor ons inspring en hulself in ons hande en mandjies kom tuismaak.
So hardloop (spring?) ons verlede week weer uit die pad van die malle Kersfeesinkopiestadsgedruis en besoek ‘n boekwinkel waar ons nog nooit was nie. (Vreemde plekke en uithoeke waar Ma ons partykeers inkry.)
En daar stap ons uit met twee boeke, twee dieselfde boeke, een vir my en een vir haar.
Die boek is uitgee as ‘n fondsinsamelingspoging vir die een of ander goeie Britse saak. Maar ‘n mens het nie die boek nodig om verryk te word deur die boek se hoofgedagte nie – ek en Klaradyn het al letterlik ure se pret gehad, danksy die boek, maar sonder om eers weer na die boek te kyk.
Laat ek egter van die boek vertel, welwetende dat die hoofgedagte duidelik sal blyk.

Die man het gegaan en ‘n abstrakte vorm aan ‘n spul bekende kunstenaars gestuur. Hier is die vorm:


 Die opdrag was dat hulle daardie vorm as vertrekpunt vir ‘n illustrasie van hul eie moes gebruik. Hulle kan die vorm draai en skuif soos hulle goed dink, jy moet net die vorm as basis kan eien.
Dit was natuurlik hoofsaaklik ‘n spul professionele kunstenaars gewees, en hierdie is waarmee onder andere vorendag gekom is:



Elke deelnemer moes saam met sy voltooide skets, ook ‘n nuwe abstrakte vorm saamstuur, en jy, wat die boek koop, gebruik dan nou hierdie vorm om jou eie verbeeldingryke prent te skets. Soos hier gesien kan word:
Ander, minder bekende, meer gewone outjies, van alle ouderdomme, speel natuurlik ook saam (en hier is nou meer die liga waarin ek en Klaradyn deelneem:
Maar dan het ek en sy aan die boek nog nie geraak nie. Ons het die lang pad Oos-Kaap toe en terug korter gemaak deur vir mekaar abstrakte vorms te skep, wat die ander moes omtower in iets anders.
O, wat ‘n lekkerte.
Vir ons is die uitdaging nie in die netjiese illustrasie wat jy oplewer nie, maar die kreatiewe manier waarop jy jou vorm interpreteer.
Nie een keer het my kind my nie verbaas, stomgeslaan, met hóé verbeeldingryk sy omgaan met dit wat ek haar aangee nie.
Dis ‘n lieflike speletjie vir alle ouderdomme.
Hier is ‘n skakel na ‘n lieflike blog waar dit onder kinders ingespan word.
Geniet dit, of dit nou in die kar, kindergarten of ouetehuis is!













18.12.12

Onbegonne (on-)besonne

Ek weet nie of dit die een is, of dit die ander is, en of dit ‘n gesonde mengsel van al twee is nie, maar ek is van nature aangetrokke tot woorde soos einste aangetrokke en onbesonne, oorwonne, onbeholpe, en gesogte. Die een, maar daar is uitsonderings, is dat hulle bykans almal sterk voltooide deelwoorde is; die ander is dat hulle almal, en daar is seker weer uitsonderings, aan die hand van klinkerwisseling of metamorfeme gevorm is.
Deelwoorde, want die meeste van ons het laas op skool daarmee gewerk, is, vir die doel van hierdie gesprek wat geen taalwetenskaplike gepieker is, of wil wees nie, is daardie woorde wat almal as werkwoorde begin het en nou nie meer die werk van ‘n werkwoord doen nie, maar eerder die skoene van ‘n byvoeglike naamwoord vol staan.
Neem sommer twee van die woorde hier bo – onbesonne en onbeholpe. Beide is afgelei van werk- (of dan nou doenwoorde) soos uit die volgende sinne duidelik blyk:  Ons het nie eers mooi besin voor ons die taak aangepak het nie, Ek kan myself glad nie in ‘n kombuis help nie. Hulle is egter ge-modify en in ander sinne lankal nie meer doenwoorde nie, maar woorde wat my meer van ander woorde vertel:  Dit was ‘n onbesonne daad van ons om sommer so halsoorkop betrokke te wil raak, Ek is heeltemal onbeholpe in die kombuis. (Die eerste sin het natuurlik ook ‘n ander deelwoord in, betrokke, wat van betrek en voor dit, trek, af kom.)
‘n Lieflike voorbeeld in hierdie verband is opgewonde wat lankal as byvoeglike naamwoord bekend staan, maar presies dieselfde pad gestap het. Hy kom van wen af, in die besonder opwen. Nie opwen soos ‘n horlosie nie, maar jyself wat heel up tight of opgewen is oor iets, dan is jy nie letterlik opgewen nie, maar opgewonde (en gedra jy jou, figuurlik, soos ‘n spring wat opgewen was, en nou losgeskiet het.)
Mog het troffe is dan een van die uitsonderings, dit hou nie verband met deelwoorde nie, maar dis een van die ander woorde waarna ek verwys het – woorde wat aan die hand van klinkerverandering of metamorfeme gevorm is. Ons kry mos voor- en agtervoegsels (ook genoem pre- en postmorfeme) om nuwe woorde te vorm:  eet, geëet en eters. Maar dan is daar ook woorde wat nie van een van hierdie twee maniere gebruik maak nie; die nuwigheid is nie aan die begin of einde van die woord nie, maar iewers in die middel, en dan hou dit nie verband met iets wat jy byvoeg nie, maar iets wat jy verander; een van die vokale: drink, drank, dronk, drenkeling. Of soos hier bo:  besin, onbesonne; help, onbeholpe.
Nou, die enkele woordjie wat my tot hierdie lange relaas gelei het, is een waarvoor ek in die besonder lief is, een wat ek gister vir die eerste keer in 48 jaar werklikheid tot volle verstaan het – onbegonne. Hy was jare gelede ‘n werkwoord (begin), een van die vokale daar iewers in die middel het gaan staan en verander (begin > onbegonne) en nou word hy gebruik om ‘n ander woord soos taak te beskryf:  Dit is ‘n onbegonne taak om iets daaraan te wil doen.
Hierdie onbegonne het my in 48 jaar al baie keer besig gehou. Hy dui mos nie suiwer op iets wat nog nie begin is nie, maar iets wat te groot en omvangryk is, om enigsins te oorweeg om te wil begin. Dis ‘n onbegonne taak om orde uit daardie chaos te wil skep, kom ons trek die deur toe, en hoop dit gaan weg of kom vanself reg.
Aan die ander kant, het ek nog altyd, tot gister dan, gereken, kan geen taak mos so hopeloos wees dat jy nie maar net ‘n begin kan maak en met baie gesukkel en moeite wel uiteindelik klaar kan kry nie. Deborah Retief en haar tydgenootlike susters is immer kaalvoet oor die Drakensberge en iets wat aanvanklik onbegonne gelyk het, is been-there-done-that-have-the-T-shirt afgehandel en op ‘n hele paar se Bucket lists afgetiek.
Maar gister (en nou gaan ek vir die eerste keer in die net mooi vyf jaar wat ek my gedagtes agter ‘n rekenaar verwoord, swartgallig raak) het ek vir die eerste keer die ware, werklike betekenis en omvang van die woord onbegonne gesnap.
Kyk, omdat jy in ‘n stad soos Pretoria bly en daagliks tussen jou gemiddelde wit voorstedelike huis en ‘n bogemiddelde hoërskool ry, het jy mos geen benul van hoe sleg dit regtig in hierdie land van ons wat ‘n klompie jare gelede nog ‘n mooi land was, gaan nie. Tussen al die nuwe geboue en nuwe paaie is jy mos net van groei en vooruitgang bewus; die volskaalse agteruitgang en volslae ineenstorting, uit mekaar val en tot niks kom, gaan by jou verby.
Dis nou tot ons gisteroggend in die pad geval het Rhodes toe vir ‘n familietroue. (My skoonma het op ‘n plaas in die omgewing groot geword en een van Annieka se niggies wat trou.)
Selfs ek ry nou al vir jare die pad:  Pretoria – Bloemfontein – Aliwal-Noord – Barkley-Oos – Rhodes. Dis straight foreward, jy klim op die N1 en draai dan af op die N6, verbeel ek my, tot op Aliwal.
Maar toe wil skoonpa en swaer, vir die verandering, ‘n ander pad as verlede jaar en al die vorige jare ry.
Inderdaad ‘n lieflike roete wat ons op nuwe paaie en plekke in die land gaan bring, paaie wat ons nog nie gery het nie, plekke wat ons óf nog nooit (soos die kinders) óf in geen jare (soos die oues) gesien het nie. Excelsior, Hobhouse, Tweespruit, Sterkspruit, Weppener, Verkeerdevlei, Lady Grey.
Hulle het selfs die AA gebel om die toestand van die pad te verneem. Die AA beveel die betrokke roete toe aan, juis vanweë die verbouings op die stuk tussen Smithfield en Rouxville op pad Aliwal-Noord nie.  Hulle werk glo daar aan die N6 en daar kan vertragings van soveel as 30 minute in die geheel wees.
Ek het rede om te vermoed die AA was toe nie die Automobiele Assosiasie nie, maar eerder ‘n dranksugtige wat by die Alkoholiste Anoniem gaan aanmeld het en toe in sy dronkenskap die telefoon beantwoord het.
Maar dis ‘n lang storie, ‘n normale 8-ure storie wat toe ‘n 13-ure storie op die eens mooi land se eens mooi paaie geword het.
Ook nie ‘n storie nie, maar ‘n nagmerrie.
En nee, ons is nie gekaap nie, nie een van die swart karre sonder nommerplate met die donker getinte vensters en flitsende blou en wit liggies wat teen 178 km/uur by ons verby is op pad na die ANC-kongres op Mangaung, het in ons vas, of een van ons doodgery en aangejaag nie; nee, ons het bloot van die N1 afgedraai Verkeerdevlei se kant toe.
Toe ons anderkant Winburg van die N1 afdraai na hierdie Verkeerdevlei waar dit lyk of die water opdraande loop, toe sit ons die lugversorging af, ook die musiek, ons draai die vensters oop en ry selfs stadiger om nuwe te kan waardeer.
En dis toe net daar, op daardie punt dat ons 5½ ure rytyd op die pad toevoeg, nie omdat links en regs van ons kyk en die land indrink nie – omdat ons ons oë nie vir ‘n oomblik van die pad kan afhaal nie. En dan sê ek ook nou pad, maar ek bedoel eintlik dit wat na 18 jaar van bevryding van die pad wat daar was, oorgebly het.
Daar was seker jare gelede slaggate, maar dis nou iets van die verlede, nou is daar plek-plek teer tussen die dongas.
Ek weet wat destyds van die kundigheid geword het wat daar was om na die paaie om te sien en dit in stand te hou toe Klaas die Baas geword het.
Ek weet ook wat van die geld geword het wat daarvoor bestem was, bestem is en bestem word.
En ek kan verstaan dat dit plek-plek (selfs vir die groot trokke wat tradisioneel nie veel gepla is oor die dongas in die pad nie) beter is om, soos ons, eerder op die soom van die pad, op die gras en die grond, te ry.
Daar is van ‘n links en ‘n regs in of op die pad nie meer sprake nie, hou links het ‘n padreël wat in die teorieboeke tuishoort geword, in die praktyk is dit gans iets anders:  kom daar iets van voor tussen die gate deur aangeslinger, hoop jy om betyds ‘n deurgangsroete terug na links voor die aankomende kar, wat ook maar so al oor die pad is, te kry.
Soos krappe, so stadig soos krappe, en so links en regs en slinger-slinger soos dronk krappe, kruie ons Suid-Afrikaners nou oor die paaie.
Ek het een keer in Zambië, wat toe darem al ‘n rapsie langer as ons hier in die suide bevry was, gesien wat word oor ‘n verdere 18 jaar se gods-water-oor-gods-akker-loop van ‘n teerpad.
Dis daarom dan ook gister, vir die eerste keer in 48 jaar, dat die eintlike, die volle betekenis van die woord onbegonne homself aan my openbaar het:  dis ‘n gods onbegonne taak om iets aan die sowat 400 kilometer teerpad wat ons gister gery het, te doen.

En as daar êrens anders in ons land (mag dit deur die genade nie so wees nie) selfs net nog ‘n verdere 15 kilometer of so, soortgelyke teerpad wees, dan is die taak selfs nog meer gods onbegonne as wat dit reeds is.

Kundigheid, ‘n werksmag, geld, salarisse, teer en gruis, niks, net mooi niks om daardie 400 kilometer pad reg te maak, is daar in ons land (meer oor) nie.
Selfs al kry ons die geld geleen uit die buiteland, en die geld word nie opgeslurp deur swart Mercedesse, getinte vensters en donkerbrille op pad kongres toe nie, is daar in Afrika nie genoeg grondstof wat nodig is om die dongas uit die weg te ruim nie.
Dit sal makliker, en goedkoper, en vinniger, wees om ‘n crusher in te stuur en die pad op te breek en die teer na die soom van die pad te stoot en dit weer ‘n grondpad te maak. Die teerpad is immers net ‘n legacy van Apartheid en verdien daarom op afgebreek te word.
Dis presies wat oor ‘n verdere 18 jaar gaan gebeur, ons gaan terugkeer tot grondpad, ek pleit net dat dit nie 18 jaar moet neem nie, ons moet dit nou doen, dat ons dit oor en klaar en verby kan kry.
Maar selfs die dryfkrag en lus en krag en energie om so iets te doen, sit daar nie in die mense wat veronder stel is om voor te loop nie.
Wat nog te sê die wil en dryfkrag om die algehele verval te stop?
Of te dink aan die heropbou en ontwikkeling van dit wat deur (nie wanbestuur nie, maar algehele gebrek aan enige vorm van bestuur en beheer) afgebreek is?

As jy wil weet hoe gaan dit in ‘n skool, kyk na sy geute en dakke en deure – dit sê vir jou alles.
Ek weet dit vir meer as 20 jaar nou al.
As ek die lyn deurtrek na ‘n land toe, en ek kyk na die toestand van sy paaie, die toestand van Suid-Afrika se voormalige paaie, weet ek daar is vir ons land se paaie, net mooi niks, en geen maar geen, hoop, hoegenaamd, en enigsins, nie.
Die agteruitgang en algehele verval  is onoorwonne; niks kan by daardie oorwinning kersvashou nie; briek aandraai, halt en stop (om van omkeer en heropbou nie eens te praat nie) ís, ongelukkig, onbegonne.
Onbegonne in die volle, deeglik besonne sin van die woord.

Sjoe, maar ek wás swartgallig. Gister, toe ons terugkom, het ons op die N’e gebly (aanvanklik N6 en toe N1) en nie oomblik afgedraai nie. ‘n Mens sou inderdaad kon dink dit gaan goed in die land. Soos wat, onder andere, Vicky Leandros, Demis Roussos en Rod Stewart destyds gedink het dit gaan goed in die land toe helikopters hulle na sononder saans Sun City toe geneem het, en hulle nie met die wrede werklikheid van die Suid-Afrikaanse samelewing langs die teerpad soheentoe konfronteer is nie.

Dis vir my jammer dat ons moes ruil, moes prysgee om te kan kry. Kon ons nie die bevryding en geregtigheid, die einde van Apartheid, kry, sonder om die paaie en die res prys te gee nie?

Ek is seker maar naïef. Maar laat my toe om te wees, naïef en swartgallig, more voel ek beter. 

Dit voel of Whites Only/Slegs Blankes-bordjies bloot verhang is met Potholes Ahead, asof daar meer Potholes-bordjies in die land is, as wat daar ooit van die ander onder die ou regime was.

In my kinderdae was potholes by Bourke's Luck, nou is dit al die pad van hier tot in die Kaap en weer terug.



More moet nou gou kom.

.

7.12.12

Vat vyf

As dit soos fietsry is, sal ek dit seker regkry; is dit meer soos ysskaats, is ek nie helemaal so seker nie. (Ek het mos so jaar of wat gelede met Klaradyn gaan skaats, maar dit waarmee ek die omstaanders vermaak het, is nou nie juis iets wat nog as ysskaats kan deurgaan nie.
Daar het so baie gebeur sedert ek laas tyd kon maak om agter die sleutelbord te gaan sit, ek voel nie net verroes nie, ek beleef myself vasgeroes.
 Het ek in ‘n stadium ‘n blog bygehou? Kan nie wees nie.
Ek kan nie eers onthou waarby ek alles nie uitgekom het nie, wou uitkom nie.
Die hittegloed wat my hierdie week by herhaling oorval het, voel ek as het ware nog aan my bas, haut na, en is miskien ‘n goeie begin.
Ek kan mos nie na Rodriguez luister sonder om nie onmiddellik onverbiddelik warm te kry nie. Summier. Elke keer. Ongemaklik warm. Krapperig warm. Vreeslik, baie warm.
Drukkend warm. Selfs neerdrukkend warm.
Die beddens het aanvanklik teen asbesmure moes staan. Daar was nie glas in die ruite nie, maar gaas. En klim jy saans lank na sononder op die bed (ja, op, want in of onder die komberse het jy selfs in die winter nie eers oorweeg nie) dan gloei jou kussing, die krappige kombers én die donkerbruin laken teen jou ewe gloeiende lyf. In die onmiddellike omgewing van die muur kan jy nie kom nie, hy gloei ook. (Smiddaes kan jy aan die einste muur ook nie eers raak nie – dan brand hy vir jou.)
Iewers in my tweede jaar is ons bevorder na hout bungalows. Dit was nog snikkend warm, maar danksy die bome tog marginaal koeler. (Nee, koeler is ‘n te sterk woord, kom ons maak dit eerder marginaal minder drukkend warm.)
Nou, in die houthut, was daar ‘n opvou-ystertafel teen die muur, ‘n ammunisiekis bo die tafel aan die muur  vasgespyker. (Ek soek al van gisteraand na my fotoalbum om te kan illustreer ook, maar kon dit nog nie opspoor nie.) Dit moes dien as boekrak.
Maar ek onthou naas ‘n biografie van Nelson Mandela en ‘n selfs nog meer polities uitdagende boek wat deur die rysmiere opgevreet is, nie enige ander boeke in die rak nie.
Ek onthou wel die kassette wat die boekrak volgestaan het.
Kassette want dit was 1987 en CD’s ‘n relatiewe nuutjie.
Dit was 1987 in die Caprivi-strook, op die walle van die Okavangorivier, en al wat daar was, was musiek.
Van die PF’s het televisie om video’s te kan kyk gehad, maar troepe vleg nie sommer piel met PF’s nie. Ja, ek kon gesê het dat die staandemaglede en nasionale dienspligtiges nie sommer gemeng het nie, maar dan was dit nie 1987, die bosoorlog en versoekprogramme met boodskappies vir die troepies op die grens nie. Dan was dit nie ek wat wag vir my min dae om aan te breek nie, smag om weer op civvie straat te kan beweeg nie.
En, in elkelkgeval, ek het uit respek vir wonderlike PF’s wat ek wel leer ken het, nagelaat om te laat val dat die meeste van die video’s blou movies was wat met flossies van die states opgevlieg is grens toe. Hierdie een stukkie bar moet my daarom ter wille van outentisiteit vergeef word. Wees verseker dar is veel meer bar wat die liggeraakte leser gespaar word.
En al was dit miskien minder warm in die hout rondawel, voor ek vergeet, was dit nog net so krapperig, army-gryskombers-krapperig. Letterlik. Daardie ystertafel het so sonder glas in die vensters vreeslik stof vergader. Ons was ses jong mans, en selfs al was ons ses jong dames (na die SAVLKOL-meisies is daardie jare ewe bar as staatsmatrasse verwys) sou ons waaragtig steeds nie met ‘n tafeldoek uitgeryk gewees het nie.
My kamerbuddy kon nogal netjies wees as hy dag wou, maar vir elke dag se afstof het hy nie kans gesien nie. Gevolglik moes ‘n grys kombers as tafeldoek dien, ‘n tafeldoek suiwer om die stof te absorbeer. En so elke twee of drie weke, of so, as ons altwee hooikoorsaanvalle begin kry het, het ons die kombers gelig en van die ergste stof ontslae geraak. (Waar is my fotoalbum tog!)
En dís hoekom Rodriguez warm én krapperig is.
Percy het ‘n blink ghetto blaster van Windhoek gebring en hierdie ding het op die ystertafel gestaan. Daar het ons gesit en musiek luister. As die kombers nie jou arms gekrap het, dan wel jou bene as jy agteroor op jou stoel gery het, jou pote en bene op die tafel.
Dan onthou ek konflik ook. Want daar was twee ghetto blasters in die bungalow. Agter die tamatiekasplankies van die skeidingsmuur was Peet se blink geraasmaker. O, hemel en Peet was in dit wat as high energy bekend gestaan het, high energy  en boy bands en alles wat gemors en irriterend is.
So van die een kant is dit club music; van ons kant Rodriguez, Tracy Chapman, Koos Kombuis alles wat die buurkamer grensloos sal irriteer. Maar dis nie al nie, uit die bungalow links kom ook twee stelle klanke, en van regs nóg twee. Onder andere Gawie se Smokey en die pastoor se gospel.
Kakofonie in die ergste graad.
Dat ons nie met die vuiste onder mekaar ingeklim het nie, is, in retrospeksie, ‘n wonder.
As dinge te veel geraak het, die mure te eng, die ruimte te knap, die verlange te veel, dan is ek af rivier toe. Van die mees surrealistiese herinneringe wat ek van die Okavangorivier het, is ek op die boot wat teen die wal aangemeer staan. Die son sak prentjiemooi-oranje oor die rivier, die bos en Lala-palms aan die oorkantse oewer swart afgeëts, en in die water die donker silhoeëtte van ‘n hele trop olifante, seekoeie wat op een van die eilande uitbeweeg om te gaan wei. Vivali, oorverdowend in my ore.
Ja, Vivaldi.
En ja, oorverdowend in my ore, in my kop, in my murg en bloed en been, dawerend, sidderend, polsend deur my skedel.
Ja, dit was nie net die dae van tapes  nie, dit was ook die dae van walkmans. Ek is op grens toe met ‘n walkman.
Solet, geseënde vrou wat sy is, geseënd ook tot in die derde en vierde geslag omdat sy dit vir my gedoen het, het vir my ‘n troepiepakkie gestuur met ‘n Vivaldi-musiek op, onder andere sy Gloria. En daar, kruisbeen op die boot, met die son wat oor die Okavango sak, het Barok en Afrika ongelooflik lieflik piel gevleg tot die maan lankal op, en die sterrenaghemel verblindend geskitter het.
Dis miskien hoekom ek nooit nodig had om my weeklikse malariapil fyn te maal en ‘n white pipe van derderangse dagga wat volop was, te maak nie – ek het Solet se Vivaldi gehad om my weg te vat, ver weg te vat.
O, en dan was daar Suster Sakkie wat in alle opsigte ‘n hawe was. Haar deur was altyd oop, of sy by die werk, op Rundu of in Windhoek was. En sy had ‘n platespeler.
Dis 25 jaar later en ek kan steeds nie na ‘n opname van Schubert se Sanctus uit sy Deutsche Messe  luister, of die vertaling sing, sonder om nie aan Sakkie se opname te dink en daarna te verlang nie:  Heilig, heilig, heilig, heilig ist der Herr! Heilig, heilig, heilig, heilig ist nur Er! Er, der nie begonnen, Er, der immer war, ewig ist und waltet, sein wird immerdar. Heilig, heilig, heilig, heilig ist der Herr! Heilig, heilig, heilig, heilig ist nur Er! Allmacht, Wunder, Liebe, alles rings umher!Heilig, heilig, heilig, heilig ist der Herr!
Ja, daar was ander mooi, ander baie mooi, maar die speler se naald is deurgespeel aan daardie betrokke snit. Kruisbeen nie op die dek van die boot nie, maar kruisbeen in Suster Sakkie se stoel.
Die laaste snit wat in my onthou maal, gaan kuier ek in die weermagverlede, is een wat my deesdae so een keer ‘n jaar in trane kry:
Hierdie dag belangrik my lief
Die foto's in my hand 'n ope brief
Hier was jy nog in die gradeklas
Klein haasbekkie met handjies skoongewas
Hier's jou kleinboet hy kon jou so pla
Geduld word mos van ma's gevra
Hier jou matriekafskeidsdans
Jou rok so mooi, o sterreglans
Vandag is jou troudag my meisie
Jy word 'n vrou my kind
Mag vreugde groei deur die jare
Hierdie jou dag
Toekoms wat wag
My liefste, my meisiekind
Destyds het ek dit gehaat, verafsku, daarop neergesien. (Dis so staandemag, so PF.) Maar intussen het ek 25 jaar gehad waarin ek so bietjie groter en ouer kon word.
Twee jaar gelede dryf die heimwee na Buffalo-basis en die wonderlike grepies onthou wat ek daar geöes  het, vriendskappe wat vandag steeds dividende oplewer, my om ‘n dubbel-CD met wyle Janita Claassen se musiek op, aan te knoop.
Die heel eerste snit, toe nie Ballonne in die wind nie, maar die een oor haar dogter se troue. Ons was in die motor op pad terug van Harties af, en ek sien Klaradyn in die truspieël . En daar doen my oë en gemoed wat Hartebeespoortdam se sluise na hewige reën doen – hulle stroom oor.
So vat ek vanaand vyf saam met die onthou, is dit, in geen spesifieke voorkeurvolgorde nie:
Glorias –Vivaldi
I wonder – Rodriguez
Heilig, heilig, heilig is der Herr – Schubert
Vandag is jou troudag my meisie – Janita Claassen
Me, myself, I – Tracy Chapman
Ver van die ou Kalahari – Koos Kombuis
Ek weet dis nie vyf nie maar ses. Moenie kla nie, dit kon maklik vyf en twintig gewees het. Ek wou immers iets oor die fliek Searching Sugarman kwyt geraak het, ook iets oor Laurika Rauch waarna ons Sondag gaan luister het. En toe haak ek vas met my arms op ‘n wollerige army-kombers.