Ek het so
lank hierna gesoek, dat ek dit vandag aan die groot klok wil hang.
En waar wil jy nou ‘n
beter dag as juis Erfenisdag kry om so iets te kan doen.
Straks is daar ergens
iemand anders wat ook daarna hunker en kom hierdie na aan dit wat jy soek of onthou.
Ek het so
vyf of ses jaar gelede gedink ek het dit gekry. Dit was in die doktor se spreekkamer.
Die man het twee van die goed en terwyl hy in die een besig is, maak sy
ontvangsdame jou solank sit in die ander. En dan is daar vier of so tydskrifte
in ‘n amperse waaier uitgepak vir jou om in te blaai.
Ek reik
natuurlik altyd eerste na die buitelewe maar dit vat nooit lank nie of ek kwyl
soos ‘n hond met met my neus en oë in die vrouetydskrif se kosafdeling.
Ek het seker
al vier resepte van die einste dokter by die huis aangebring, en ek sal die een
waarna ek hier bo verwys het, ook deel – maar dit was nie die een nie, nie vir my
nie.
Toe spoor ek
die lui huisvrou van die laat jare sewentig se imitasie (laasgenoemde woord in
hierdie geval ‘n gepaster woordkeuse as namaaksel) op.
Ek het dit egter een kyk
gegee en geweet dis nie die real makhoya
nie. Ek het dit nietemin maar afgeskryf en in dieselfde boek kom neerskryf waar
ek die een uit die spreekkamer oorgedra het.
En toe kry
ek vroeër vanjaar die resep wat my so lank ontwyk het by my beste skoolvriend
sedert ek in standerd 1 in sy ma se klas beland het. In sy ma, Tannie Marthie,
se eige handskrif.
Ek het toevallig gister van haar vertel Sy was een van my ander
mammas; hy die maatjie wie se huis nou onherkenbaar in ‘n kleuterskool
verander is.
Suiwer op grond van ‘n boom in die agterplaas dat ek die regte erf
kon eien.
Die huise links en regs het net so verander – in die hele blok van Launcestonstraat
waar hulle destyds gebly het, het ek miskien twee huise vaagweg herken.
Toevallig ook
die maatjie saam met wie ek twee bome geplant het waaraan ek die verskil wat ek
op aarde teweeg gebring het, meet.
Omdat ek
weet dat hy so lief vir die imitasie was en dit gereeld in hulle huis gemaak
het, bel ek hom 'n ruk terug en vra of hy nie die oorspronklike het nie. Toe die twee
gesinne weer saamkuier, toe kom hy met hy met sy ma se kookboek, die een wat sy in
haar eie hand sedert skooldogterdae bygehou het, hier aan.
En ek weet
sommer, net by die kyk en lees, dat die resep wat hy voor my neus indruk, die
een is waarna ek soek, jare nou al.
Toe my
generasie (en ons almal klok nou die een na die ander op 50 in) klein was, baie
klein, het jy by die ou mense ‘n slaaisous oor ertappelslaai gekry wat aan soet
mosterd herinner het.
Later van
tyd, in die sewentigerjare, het die vrouens kortpad begin vat met kondensmelk
en mosterd.
En deesdae,
as jy gelukkig is, spoor jy nog iets daarvan op as iemand vir die snaaksigheid
iets wat daaraan herinner by die gekoopte mayonnaise voeg. (Dis nou ás jy
gelukkig genoeg is om nie ‘n gekoopte Woollies-ertappelslaai voorgesit te kry
nie.)
Maar ek het
na die oer-oorspronklike gesoek, die een wat my oorlede ouma (en tien teen een haar
oumagrootjie) nog gemaak het.
Toe ek
vroeër vanandeesmaand 50 strike en ons voorberei vir die tradisionele
Pilanesberg-verjaarsdagnaweek weg in die bos, besluit ek, deur nostalgie daartoe
gedryf, om dié slaaisous in ‘n fles saam te neem.
Ek het die
resep twee keer aangemaak en my fles was bietjie klein, toe beland daar ‘n
lekseltjie in ‘n tupperbakkie.
En toe ek gisteraand naarstiglik op soek na iets
in die yskas gaan, wonder ek wat in dié betrokke bakkie is, toe is dit die laaste
van Tannie Marthie se slaaisous wat dadelik weg vind na die halfpad klaargemaakte
mengelslaai op die tafel.
Die ganse tafel smul.
In my
handgeskrewe kookboek, in haar seun se eie handskrif, uit die handgeskrewe
kookboek sedert haar hoërskooldae, hier dan:
Tannie Marthie se “Mayonnaise”
·
4 eiers
·
4 eetlepels suiker
·
½ koppie water
·
½ koppie asyn (wit)
·
1 teelepel sout
·
1 eetlepel rou uiesap
·
1 teelepel droë mostert
Metode
Klits eiers
& suiker saam. Gooi water & asyn in kastrol en laat kook. Gooi die
kokende water & asyn oor eier-&-suiker-mengsel terwyl jy dit
vinnig roer. Gooi die mengsel dan terug in die kastrol en plaas eenkant op die
stoof. Roer tot mengsel dik word en kook. (Pasop dat dit nie brand nie.) Haal
van die stoof af en voeg uiesap & sout by. Los die mostert in ‘n bietjie
van die vloeistof op en voeg dit by die mengsel in die kastrol. Klits goed en
laat eenkant in die kastrol om af te koel. Gooi in vrugtefles en kurk toe – gebruik
wanneer nodig.
Dis vir my
duidelik dat hierdie resep vir ‘n koolstoof geskryf is (plaas eenkant op die
stoof). Mosterd is mostert. En Tannie Marthie was ‘n onderwyseres, sy maak nie
spelfoute nie, nie daardie jare se onnies nie. Sy skryf hierdie nie oor uit ‘n
tydskrif nie, maar uit ‘n ouer handgeskrewe kookboek, vermoed ek. Die gebruik
van”en” sowel as “&”. Daar is sprake van ‘n vrugtefles wat toe gekurk moet
word.
Dís mos nou
erfeniskos! Héérlike erfeniskos.
Een wat
daaraan herinner (maar ek het dit nog nooit self gemaak nie) is:
·
6 eetlepels kondensmelk
·
9 eetlepels asyn
·
1 desertlepel Worcestershiresous
·
1 teelepel mosterd
·
1/8 teelepel peper
En dan is
daar die een uit die spreekkamer, wat by
the looks of it heerlik is:
·
125 ml room
·
15 ml suiker
·
klits tot amper styf
·
1 ml sout
·
1 ml mosterdpoeier
·
knippie peper
·
klits geleidelik 45 ml witasyn by.
·
As die asyn by is, moet die room styf wees
Van Tannie
Marthie se sous, behalwe dat dit lekker is, kan ek verder getuig dat dit die
gedagtes om lang en ver paaie terugneem.